blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Louw se held: Transendent gerig, weerloos 2006-07-19
Lina Spies

*Digter, jongste bundel Duskant die einders (Kaapstad: Human & Rousseau, 2004). Hierdie artikel is ´n verkorte weergawe van ´n lesing getiteld “Die transendente gerigtheid van N. P. van Wyk Louw se weerlose held” gehou tydens die FAK, De Kat en Die Vrye Afrikaan se NP Van Wyk Louw-gedenkaande op 9 en 10 Junie 2006 in Pretoria

Die opvatting dat die held ’n man is wat dinge ken van hoër waarde as die lewe, het by Van Wyk Louw bly steek. Die vraag na wat ’n held is, sou hom’n leeftyd lank besig hou.

            In sy soeke na ’n antwoord het dit uitdrukking gevind in sy poësie, veral in sy dramatiese monoloë waarin die profetefiguur die woord voer, en in sy dramatiese werk: in die persoon van Koki in sy epos Raka, in die persoon van die Romeinse veldheer Germanicus in sy gelyknamige drama en in die persoon van die Vrystaatse president Steyn in sy epiese drama Die pluimsaad waai ver.

            Van Wyk Louw se opvatting oor wat ’n held is, het na die vroegste konsipiëring daarvan in sy werk nie staties gebly nie. As kreatiewe denker het hy sy standpunte oor alles wat hom intellektueel en emosioneel beroer het, altyd weer getoets aan nuwe omstandighede wat noodwendig gevra het om herbesinning. Dit het hy gedoen in sy essays wat in sy bundel Liberale nasionalisme van 1958 die vorm aanneem van ’n gesprek met ’n kritiese vriend - Pieter - binne ’n briefwisseling rondom die begrippe nasionaal, tradisie, helde en kultuur. In sy betoog is hierdie begrippe onlosmaaklik met mekaar verbonde en sien ’n mens die neerslag daarvan in sy dramas; in die persoon van sy helde en die omstandighede waarbinne hulle hul bevind en waarop hulle reageer.

            Uiteraard wys Van Wyk Louw ’n kritieklose vashou aan die verlede en ’n daarmee gepaard gaande miskenning van die hede af; ’n digter staan immers met albei voete in die werklikheid van sy dag, hoeseer hy ook geboei en gevoed word deur die geskiedenis. Maar dan beskryf hy vir Pieter die mens wat “van geen tradisie en geen verlede weet nie”: “Sy waardeoordeel staan gans verward onder die veelvuldigheid waarmee die wêreld oor hom stort. Hoe sal hy weet wat en wie werklik groot is - hy het geen voorbeelde waaraan hy grootheid kan meet nie. Boksers, filmsterre, rampokkers- almal oor wie die hele wêreld praat (die hele wêreldjie wat hy ken!) lyk vir hom groot”. ’n Mens kan jou skaars voorstel dat Louw hierdie woorde in die vroeë 1950’s, voor televisie in Suid-Afrika, geskryf het. Die enigste media waardeur by Louw se skrywe van hulle kennisgeneem kon word, was die koerant en die tydskrif. Vandag paradeer filmsterre, popsangers en koninklikes in hulle tientalle nie net op die televisieskerm voor ons verby nie, hulle besoek ook ons land. Hulle is die helde in ons land en met die versugting wat Van Wyk Louw hom tussen twee hakies laat ontval, kan ek my volkome identifiseer : “(Moet so ’n land nie gedwing word om ook van heiliges van die armoede en die nederigheid te hoor nie?)”

            Dit gaan in die Nuwe Suid- Afrika nie om slegs die miskenning van die Afrikaner se verlede nie maar om die demonisering daarvan: hy word uit geskiedenishandboeke uitgeskryf en hy skryf homself uit die geskiedenis uit. As ons ons afsny van ons geskiedenis, ignoreer ons uiteraard ook die helde van daardie geskiedenis; diegene wat ons eerbied verdien, want ons verlede sluit meer in as net ’n apartheidsbestel van veertig jaar. En as ons nie meer weet wat ’n held is nie, hoe kan ons helde in die hede herken? Die uitwissing van ons verlde is die uitwissing van ons kulturele geheue.

            Hy wy ’n volle brief aan Pieter oor die onderwerp “Helde”. Sy vertrekpunt is Pieter se vraag na waar die tradisie van die Afrikanervolk moet begin en sy veronderstelling dat ons dit “so teen 1800” ’n aanvang kan laat neem. Vir Van Wyk Louw maak dit ons geskiedenis te kort; laat dit te weinig ruimte vir groot figure uit die verlede om hulle te laat identifiseer as grotes wat ook tot ons tradisie behoort. Sonder dat hy presies uitspel wie en wat die helde is wat hy in gedagte het, gaan dit vir Louw om diegene aan wie se prestasies jongmense - maar ook die “gerypte mens” - hulle prestasies kan meet. Die “heel-grootstes”, sê Van Wyk Louw, “het hul altyd bly voel as mededingers in die wedstryd van die eeue” en dan stel hy die kernvraag, naamlik wat van jongmense, in wie se aard heldeverering lê, word as hulle “nie eers weet dat daar so ’n wedstryd is om aan deel te neem nie”; as hulle “nie eers besef teen wie hulle moet meeding nie?”

            Juis die kortheid van ons geskiedenis is vir Van Wyk Louw die rede van die kortsigtigheid waarmee ons op die praktiese - en dus die politiek - konsentreer by die vasstelling van wat helde is. Die vraag wat daaruit voortvloei, is vandag aktueler as ooit, naamlik of ons Afrikanerkinders durf toelaat om te glo “dat al wat werklik groot is in die lewe van die gees, aan ander behoort”. “Sou dit”, vra Louw, “nie byna die ergste wees wat ons aan ons volk kan doen nie? Want hulle, ons bestes, sal hom verlaat om iets beters te volg”.

            Daar is baie geskryf oor Van Wyk Louw se Raka as die eerste belangrike moderne heldedig in Afrikaans na die voorbeeld van die groot Griekse eposse van Homeros, die Ilias en die Odusseia. Raka is deel van die kollektiewe onderbewuste van die Afrikaanssprekende soos onder meer blyk uit die feit dat daar nog gereeld oor die betekenis van die gedig en oor die karakter van sy protagonis Koki en sy antagonis Raka gedebatteer en gepolemiseer word.

            Ons ontmoet Koki in die eerste afdeling waar hy hom van sy stamgenote se gesprekke oor Raka distansieer. In die tweede afdeling wat ook sy naam dra, leer ons hom van naby ken. Hy is ten diepste geskok oor die tekens van Raka se vernietiging van diere en plantegroei wat hy oral aantref. Raka het die vroue en die kinders van die stam waarby hy wil indring, benader deur ’n aanspraak te maak op hul mees primitiewe drifte: hy het hulle seksuele verlangens gewek en die kinders bekoor deur sy spel. Die manne het hy veel subtieler benader, naamlik nie deur direkte toenadering nie, maar deur vir hulle, deur die diere wat hy gedood het, tekens van sy krag agter te laat. Terwyl dit Koki ontstig, het dit sy manlike stamgenote beïndruk.

            In die derde gedeelte “Die dans” versteur Koki die vrolikheid by die vure as hy “skielik” in die “geel gloed” gaan staan en sy stamgenote konfronteer met die gevaar wat Raka verteenwoordig. Hy sal nie net buite die kraal bly nie, maar inkom om nie weer weg te gaan nie. Koki het Raka deurskou en stel die vraag wat die sentrale motief is in Van Wyk Louw se epos:

“Moet hy hier wees? Ken, Raka, hy,

die sterk dier ons fyn, fyn net

van die woord, waarmee ons blink en vet

visse uit baie waters haal?”

 

Koki se woorde is ’n terugspeling op die vis wat Raka, om die kinders te beïndruk, vir hulle gevang en op die sand uitgegooi het. So opponeer Louw die fisieke daad met die geestelike daad; impulsiewe handeling met oorwoë kreatiwiteit.

            Koki kom die aand by die vure, in die kortstondige meeleef van die manne met hom, agter dat hulle sy krag prys en nie sy woorde begryp nie as hy sê dat Raka doodgemaak moet word omdat hy andersins in sal kom om oor hulle te heers. Die besef daag by hom “dat hy altyd eensaam met sy vrees/ om kosbare dinge tussen hulle sou wees”.

            ’n Gedig wat op soveel vlakke beweeg as Raka leen hom nie tot een lesing nie en in plaas van om die Raka-figuur op eensydige wyse gelyk te stel aan die dierlike , kies ek vir die een interpretasie van Opperman waarvolgens hy Raka sien as die massamens. Hierdie massamens - Opperman praat ook van die “oermens” - is die een wat los raak van “alle tradisies, kultuur en godsdiens”; hy ken hoofsaaklik “sekse, spel en spier”. Opperman besluit: “Raka is die verskyning voor die Westerse beskawing van hierdie mens: honderde tonne wellustige, vernielsugtige, spierkragtige, vlees – die opstand van die horde wat die ondergang van die Weste meebring.”

            Koki offer hom vir die waardes waarvan sy stamgenote, onder die bose bekoring van Raka, losgeraak het. Hierdie waardes is ten diepste transendente waardes; waardes van die gees wat vir die mens uitsig gee op wat duskant die einders lê van sy alledaagse, fisiese bestaan.

            By Van Wyk Louw se versdrama Germanicus gaan ek nie so lank stilstaan as by Raka nie, omdat dit as drama binne sy oeuvre nie die hoogtepunt verteenwoordig wat Raka as epos verteenwoordig nie. In Germanicus het Van Wyk Louw die intellektueel verpersoonlik; die denker, die oorwoë besluitnemer wat nooit impulsief of intuïtief optree nie.

            In haar doktorale proefskrif Die begrip intellektueel by Van Wyk Louw vat Réna Pretorius die moontlikhede wat met Augustus se sterwe vir die toekoms van die Romeinse Ryk beslissend sou wees kernagtig saam; dié moontlikhede het terselfdertyd vir Germanicus keuses geïmpliseer: “nog ’n dierlike magsheerser, en dus die voortsetting van ’n haatlike diktatorskap; die herstel van die Romeinse aristokrasie se magsposisie in die Republiek …wat sou beteken absolute en wrede baasskap; ’n menslike heerser met ’n geestelike leierskap”.

            So ’n menslike heerser met geestesadel sou Germanicus kon gewees het. Hy het tot die keiserlike huis behoort en was uiters geliefd onder sy manskappe en by die mense van Rome. Maar hy word egter verlam deur ’n daadloosheid waarvoor daar meerdere redes is.

            Daar is van baie vorme van waansin sprake in Germanicus: die waansin van oorlog, van die durende politieke magspel, van eensaamheid, van haat, van religie. Germanicus weier om van enige vorm van die waansin wat hom omring, deel te word. Hy wil skoon bly in die vuil en ook dít kan ’n vorm van waansin word soos wat Tiberius, naas Piso Germanicus se belangrikste teenspeler, ook aan hom sê as hy vra om “bloot as mens” erêns in ’n uithoek van die ryk te gaan woon:

 

“Waar almal dronk is, self wil nugter bly…

dìt word die waansin. En kuis wees, my Germanicus,

-         een vrou se man in hierdie spulse stad

se beestelikheid …

-         dit word die nag waar hart en brein hoereer.”

 

Germanicus se sterwe is nie ’n vrye sterwe nie; hy word waarskynlik op instignasie van Livia,Tiberius se moeder, deur Plancina, Piso se vrou, langsamerhand vergiftig, maar hy weet self nie presies waarvan en waarom hy sterf nie. Deur sy daadloosheid bewaar hy weliswaar sy integriteit tot aan die bittere einde, maar laat hy almal wat na aan hom staan saam dra aan die tragiese las en bly die moontlikheid dat sy passiwiteit meegewerk het aan die ondergang van sy familie en die Romeinse Ryk.

            In 1938 was die herdenking van die Groot Trek die geleentheid wat Van Wyk Louw aangegryp het om Die dieper reg, ’n koorspel, te skryf . In dié “mistieke ideëdrama” word die reg van die Voortrekkers om weg te getrek het uit die Kaapkolonie - en dus onder die Engelse regering uit - en die voortbestaan van die Afrikanervolk betwis en verdedig. Die eerste Republiekfees van 1966 was weer eens vir Van Wyk Louw ’n geleentheid om oor volkwees te besin. Hy het besluit op die Anglo-Boereoorlog as materiaal vir ’n feesdrama en op die Vrystaatse president Steyn as die hoofkarakter binne dié krisisperiode. Dit word Die pluimsaad waai ver wat gedurende die feesjaar in die Klein Teater in Pretoria opgevoer is en in 1972 postuum gepubliseer is.

            As verteller bind grootmoeder Visser die verskillende episodes wat hulle tafereelmatig voor die toeskouer afspeel aan mekaar en haar vertelling sentreer om Marthinus Theunis Steyn, die president van die Vrystaat, wat sentraal staan binne die gebeure. In sy leierskapsposisie besef Steyn dat niks eenvoudig en enkelvoudig is nie.

            Watter gestalte van die held laat Van Wyk Louw Steyn aanneem naas die ander helde wat hy in sy dramatiese werk ten tonele voer? Pieter is Louw se spreekbuis as hy op Anna se opmerking dat hy tog nie ’n “Vrystater of republikein” is nie, antwoord dat hy deur Steyn in die Vrystaat ’n Afrikaner geword het, omdat hy begin voel het: “hier is ’n nuwe soort Afrikaner. Nie net plat Boer, soos ons sê nie…waarom moet ’n Boer plat wees,waarom? Nie net eenvoudig, gelowig, sterk, aartsvaderlik nie…Ek het gevoel: hier het die Afrikaner wysheid geword en intellek; gelyk of bo die Engelse se bestes; beskaafd;…”.

            Steyn is soos Koki en Germanicus ’n eensame enkeling en dat hy dit besef blyk uit die wete van sy roeping soos wat hy dit vir homself formuleer:

 

“Ek moet bind, ek moet my mense bind –

 eers aanmekaar, dan aan iets hoërs,

 en dit is ’n eensaam iets, dié bind,

 dié probeer bind.”

 

Voordat die Afrikaners nie aanmekaar gebind is nie, glo Steyn, kan hulle nie aan iets hoërs gebind word nie in teenstelling met grootvader Visser wat aan hom sê: “Julle praat altyd van volk, Theunis…Wat is ’n volk? Ons kan ook deel van die Engelse volk wees. Ons praat tog al baie Engels. En hoe gaan ons die volk red as ons ménse uitgeroei word?” Teenoor die kwelling van Visser staan Steyn allermins onverskillig. Hy voel hom voor die regbank van die geskiedenis gedaag as hy met God worstel oor sy reg om mense na die slagveld te stuur om te veg vir die behoud van die “siel” van die Afrikanervolk:

 

Hoe durf ek

- dalk met politieke slinterslae -

mense aanhits tot stryd?

oproep tot offers?

sélf-opoffering

tot in die dood?

Waarom roep U my net om te offer?

Waarom roep U my nie

om offerdier te wees?”

 

Dis presies wat Steyn aan die einde van die drama is: die weerlose held; die offerdier. Hy behou sy insig en gaan nie onder aan die verwardheid nie. Aan die volk wat hy wou bevry het tot selfstandige volkwees;wat hy wou gebind het tot eenheid laat hy uiteindelik die keuse oor om te besluit of hulle die wapen gaan neerlê. Op hierdie beslissende moment is hy die vereensaamde wat ondergaan aan sy eie integriteit as hy by voorbaat weier om die Vrede van Vereeniging te teken. Hy voel hom so gebind aan sy uitgesproke eed aan twee jong burgers en aan sy onuitgesproke eed aan “al die dooies onder die aarde” dat sy “hand nooit ’n vrede sal onderteken wat die onafhanklikheid van die Vrystaat weggee nie”.

            Toe Van Wyk Louw in die 1950’s met sy kritiese vriend Pieter gekorrespondeer het, het hy al geglo dat om die Afrikaner se tradisie by die negentiende eeu te laat begin, ons arm sou laat aan helde en dus aan groot figure wat die jeug sou kon inspireer.Vandag is die geskiedenis van die Afrikaner nog korter: Ons verlede is so gedemoniseer dat ons min of meer moet glo dat dit net die veertig jaar van ons apartheidsbestel insluit. Die skandvlek van apartheid het die helde wat daarbuite gestaan het, uitgewis; helde van die gees van wie Van Wyk Louw self en D. J. Opperman seerseker twee was.

            Ek gaan nie probeer om ’n lys op te stel van heldefigure nie en ek weet ook nie hoe die verlede weer in perspektief gestel kan word om ook dit wat goed en mooi was daarin te belig nie. Waar kry mens die besielers om aan die jongmense van vandag ideale te stel wat hulle die moeite werd sal ag om na te streef? Dit bring my by die kernvraag wat Pieter aan Van Wyk Louw gestel het, naamlik, “Deur wat is die stroom of die web van ons Afrikaner-tradisie gemaak?” Louw vat die vraag saam as, ”Wat het in ons ingevloei om voort te vloei?” Ek glo dat as kritiese jongmense aan ons op hierdie tydstip van die geskiedenis dieselfde vraag sou stel - en hulle behoort dit te stel - ons dit met miskien enkele nuanserings net soos Van Wyk Louw behoort te beantwoord.

            Sy antwoord was: “ Vier dinge. 1. Die gemeenskaplike Wes-Europese kultuur—die wat ons saam met die hele Weste vanaf Italië en Spanje tot Skandinawië besit. 2. Die spesifiek Nederlandse – Hollandse en Vlaamse—deur ons taal. 3. Die spesifiek Engelse, deur in saamwoon van 150 jaar in hierdie land. 4. Afrika: ons ervaring hier, en die primitiewe kultuur van Afrika”.

            As ons dié vier antwoorde gee, sal ons dit uiteraard moet kwalifiseer. Ons woon nou langer as 150 jaar saam met die Engelse in dié land en wie die belangrikheid van Engels misken, is nie reg wys nie: Ons ken Engels baie goed; ons is gedrenk in die Engelse kultuur. Aan die “primitiewe” het Van Wyk Louw geen negatiewe assosiasies verbind nie, inteendeel, ons kan sy omskrywing daarvan volledig beaam. Dis juis die “kontak met Afrika”, sê hy, wat die Afrikaner “tot individu gemaak het”, en hy voeg daaraan toe: “Hy het sy taal laat verander en vorm deur hierdie land sodat dit in elke vou kan pas; sodat dit hierdie land die volledigste van al ons tale kan uitsê. Hy het in sy kontak met primitiewe mense iets van ’n primitiewe of natuurlike siening van die wêreld ontvang waarna ’n Europese intellektueel vandag tevergeefs strewe…”. Dis hierdie siening waaruit Raka ontstaan het.

            Wat het ons van hierdie vier dinge waaruit die web van ons tradisie gevorm is, behou? Ek wil my verstout om te sê hoofsaaklik die Engelse. My artikel gaan oor drie van Van Wyk Louw se helde van die gees, wat in hul weerloosheid teenoor magte wat sterker was as hulle, hul oë gerig gehou het op ’n ster. Ondanks my bewussyn van alles wat ons verloor het en nog steeds verloor, wil ek bly glo dat ons tog nie net die een draad in die web van ons tradisie sal behou nie; dat ons dus nie sal swig voor die hedendaagse eensydige bewondering vir Engels en alles wat Engels is nie. As ons dit doen, sal gebeur wat Van Wyk Louw gevrees het: Ons jongmense sal glo dat “wat werklik groot is in die lewe van die gees, aan ander behoort” en “hulle, ons bestes, sal ons verlaat om iets beters te volg”.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=640
Artikel nagegaan:
    -