| ||||
Hans Pienaar
*Joernalis verbonde aan die Independent-groep en skrywer van die drama Ching Chong Che
Vir die jaar 2000 het die Amerikaanse tydskrif Time 'n lys van die tien top ikone van die eeu opgestel. Saam met Marilyn Monroe en Elvis Presley, was daar net twee buitelanders: Bruce Lee en Che Guevara. 'n Mens kon die godsdienstige fundamentaliste onder die Amerikaners van ver af sien smeul. George Bush het in sy graf omgedraai, al was hy nog nie daarin nie. Die feit is dat Che se beroemde gesig op elke tweede T-hemp was tydens die rebelse 1960’s en nog lank daarna. Trouens, na die val van die Berlynse Muur is hy die een figuur uit die Kommunistiese era wat nog met bewondering en groot ontsag onthou word. Vyftien jaar sonder die kommunisme het gesorg dat baie mense sy naam vergeet het, maar almal herken die beeld van die beroemde langhaar met die baret en die rooi ster, wat so onwrikbaar die toekoms inkyk. Die laaste paar jaar het die kultus van Che Guevara 'n herlewing ondergaan. 'n Paar dokumentêre is oor aspekte van sy lewe gemaak. Daar was die rolprent deur Robert Redford, The Motorcycle Diaries, wat handel oor Che se reise deur Suid-Amerika as jong dokter, waarin sy wrewel jeens Amerikaanse imperialisme gewortel is. Onlangs het 'n boek verskyn deur 'n skrywer wat op die spore van sy motorfiets - eintlik 'n help-my-trap - gegaan het. Die alterglobaliseringsbeweging het vele gedaantes en subgroepe, maar die een mite wat hulle almal aanhang is dié van Che. Geen optog of byeenkoms is volledig sonder 'n paar Viva Che!s of 'n toespraak deur sy dogter Hilda nie. Talle webwerwe word aan hom gewy; tieners wat sy storie vir die eerste keer teëkom, raak in druk gesprekke oor hom ingetrek. In Suid-Afrika, het ek al agtergekom, luister mense wat in die verlede as ver-regs beskryf sou kon word, met groot aandag wanneer ek uitwy oor Guevara se amper fanatieke haat vir die neo-kolonialisme van die Westerse verbruikerskultuur. Dan is daar die ander sy. In die Derde Wêreld is hy die held van bendes vol dwelms wat gewere rondswaai, van kindersoldate wat ewe maklik Rambo soos gespeel deur Sylvester Stallone aanhang. Che die rewolusionêre cowboy, wat geweld as die "bottom line" gepredik het, is byvoorbeeld die legitimasie vir moordtogte in Haiti, waar die tienergeneraals mekaar name soos Ironpants, Blang Blang en Ben Laden gee... Tussen hierdie uiterstes is dit soos gewoonlik die geldmakers wat die laaste lag. In Suid-Afrika is daar 'n vlaag van Che-gesigte in die mode, miskien omdat Madonna enkele jare gelede met die uitreiking van 'n album in klere verskyn het wat gebaseer is op Che se olyfgroen kamoefleerdrag, wat hy van die môre tot die aand gedra het - en verskeie môrens en aande daarna ook. In die globalisering van die media in die laat 1990’s is Che se naam en gesig gebruik in advertensieveldtogte deur 'n sneesdoekiemaker, Sniff. Die Russe het Che-horlosies uitgevoer na Suid-Amerika. Smirnoff het hom in 'n vodka-advertensie gebruik, en selfs Doritos, om 'n nuwe soort mielieskyfie te adverteer. Oor laasgenoemde het Kubaanse anti-kommunistiese uitgewekenes in Florida luid geprotesteer. Hulle kon glad nie insien dat deur Che as 'n chihuahua voor te stel, die boodskap van rewolusie ondermyn sou word nie. Alexander Korda, wie se foto van Che by 'n landboukongres die bron van soveel bemarkingsdollars was, het die gebruik van sy foto in advertensies probeer stop met 'n hofsaak, maar verniet. Che se dogter is filosofies oor alles. As kind van haar tyd voel sy al word Che se gesig op 'n toiletrol gesit, versprei dit nog steeds sy rewolusionêre boodskap. Sy wys daarop dat toe Colombiaanse rebelle met hul Japannese 4x4s opdaag vir onderhandelinge met die regering, het hulle almal Che-horlosies, gemaak in Rusland, gedra. Maar saam met dit alles, het daar ook herbesinning oor Che se lewe gekom. Die mite is eintlik geskep deur daardie foto, in 'n tyd toe lang hare in die VSA nog lekker taboe was, en die vrystelling van die dagboek wat hy gehou het op sy laaste rewolusionêre sending, in Bolivië in 1967. Met die anti-Vietnamkoors wat begin opbou het in die VSA, was die verhaal van die gewese kabinetsminister en wêreldpolitikus wat sy lewe opgeoffer het in die naam van onbekende kleinboere in een van die armste lande, net die regte materiaal. In die proses het sekere feite omtrent Che in die slag gebly, soos met alle mites gebeur. Tydens die missielkrisis in 1961, toe president John F. Kennedy 'n ultimatum aan Rusland gerig het om sy missiele van Kuba te onttrek, het Che se aanbeveling dat Moskou dit doen deur hulle op die VSA te laat reën, groot konsternasie veroorsaak - ook onder sy makkers. Daar was 'n onwrikbare, dissiplinêre streep in hom. Hy het die teregstelling van 55 staatsamptenare na die Kubaanse rewolusie persoonlik waargeneem, in 'n soort eenmanwaarheidkommissie waarin hy soms binne 'n dag besluit het oor die lot van 'n aangeklaagde. Onder sy eie kamerade het hy en die Castro-broers, Fidel en Raul, van die begin af 'n ysere dissipline gehandhaaf. Terwyl hulle hulself vir die Kubaanse rewolusie opgelei het met strawwe oefeninge, het 'n Kubaan - vol wrewel om so rondgeorder te word deur Guevara, 'n Argentyn - geweier om verder gedryf te word. Hy is aangekla van sedisie en net Che se stem het hom van 'n teregstelling gered. Ander was minder gelukkig. Wat die saak moeiliker gemaak het, was dat Che nie dieselfde standaarde toegepas het wanneer dit by gedragsreëls en persoonlike netheid gekom het nie. Trouens, hy het met minagting gepraat van die Kubaanse gewoonte om daagliks te bad en skoon klere aan te trek. Later sou hy bekend raak onder diplomate vir die sweetreuk wat hom vergesel het in sy reise oor die wêreld. Hy het eenmaal 'n soldaat tereg gewys wat sy stewels vir hom wou poets, en die arme man beveel om hulle self te dra, al was hulle te groot vir hom. Hy het nooit sy broek in sy stewels gesteek nie, en altyd sy hemp met die boonste knope oop gedra - wat natuurlik bygedra het tot sy sex appeal in die VSA. Die mislukking van elkeen van sy pogings om die wêreldrewolusie aan te stig, word geredelik erken, maar daar word nie werklik na die oorsake daarvan gekyk nie. Veral een ekspedisie, dié na die Kongo om teen Mike Hoare se huursoldate te gaan veg, kry glad nie die aandag wat dit verdien en wat dit vandag nog erg relevant maak nie. Die rede is eenvoudig. Che Guevara was so gebelg deur wat hy die "Kongolese werklikheid" genoem het, dat Castro en Che se weduwee Aleida March nie kans gesien het om sy dagboek en verslag oor die ekspedisie te laat publiseer nie - nie voor 1998 en dan net in Spaans. In Engels het dit eers in 2000 verskyn. In vandag se polities-korrekte konformisme in Afrika, sou Che se oordele maklik as dié van 'n rassis beskryf kon word, hoewel hy dit allermins was - inteendeel, die vryheid van Kubaanse swartmense en die nie-rassigheid onder Kubane van alle kleure is grootliks te danke aan sy aandrang om tydens die rewolusie omring te word deur swart Kubane. Maar wanneer dit kom by Afrika, het hy geskryf oor die "meer intelligente" koloniale lande en het sy minagting vir die rewolusionêre klasse geen perke geken nie. Sit hulle almal teen die muur, was min of meer sy raad aan Castro. Alleen deur vryheidsvegters van voor af te werf, sal daar enige rewolusie in Afrika kan kom. Al waarin hulle belangstel, is die goeie lewe en 'n kultuur van "beregtiging". Dit was in 1965; toe al het hy voorspel dat "entitlement" die groot oproep van die toekoms sou wees. Hy kon nie sien waarom Kuba Afrika se vryheidsvegters moet help nie, want hulp aan hulle was gelyk aan hulp aan die vyand, wat net 'n klomp geld onder hulle hoef te gooi om hulle oor te haal. Onder die vryheidsvegters wat hy in Dar es Salaam raakgeloop en veroordeel het, moes daar etlike Suid-Afrikaners gewees het. Castro het na 1965 nie Che se raad gevolg om Afrika af te skryf nie, en voortgegaan om allerlei pogings te steun - maar wel met 'n baie lae profiel. Che se raad oor aandag aan stamverbande het hy gevolg deur dikwels verskeie stamleiers op ‘n slag met geskenke aan sy kant te hou in verskeie konflikte. Die groot uitsondering - en hoe groot was dit nie - was natuurlik die massiewe lugbrug van 'n groot soldatemag na Angola in 1974 nadat Suid-Afrika die land binnegeval het. Castro se generaals se vernuf en die lugmag se oorheersing van die lugruim is reeds deel van die geskiedenis, maar daar bly een of twee prikkelende vrae om te beantwoord: Wat presies het Castro besiel om so 'n ongehoorde sending te loods? Selfs die Angolese rebelleleier Augostinho Neto was onkant gevang deur die massiewe aantal Kubane, en het gedink Castro gaan heeltemal te ver. Ten spyte van hul verskille, het Castro en Che boesemvriende gebly. Hulle het konstant gekorrespondeer met 'n stelsel van persoonlike koeriers en 'n eenvoudige kode om briewe tussen hulle geheim te laat bly. Onlangs nog het Castro gesê die ergste terugslae in sy lewe was die dood van sy ma en van Che Guevara. Che se algemene riglyn vir Afrika was om nie weer die leiding aan Afrikane te gee nie wanneer Kuba aan 'n sending deelneem nie. 'n Mens kan die hipotese stel dat toe Kuba van sy uitstekende intelligensiediens die eerste keer hoor van die SA inval, Castro besluit het om hom tog maar op Guevara se advies te beroep. Castro en sy luitenante moes baie goed geweet het dat Angola se vryheidsvegters uit dieselfde bodem gegroei het as dié van Dar es Salaam. Dis glad nie onmoontlik dat hulle Neto en sy MPLA so bekyk het, en gou gesien het dat hulle nie opgewasse sou wees teen Suid-Afrika en sy swart troepe onder leiding van Jonas Savimbi nie - vandaar die onverwagse besluit om 'n Kubaanse mag van Havana te laat invlieg. Dis dalk om dieselfde rede dat die Kubane nie agtergebly het nie. Angola se magte het bekend geraak vir hul gebrek aan dissipline, en die regerende elite is van die ergste uitbuiters van hulpbronne in Afrika. Trouens, alleen deur 'n verband te neem op Angola se toekomstige olieproduksie en 'n oormag aan wapens te koop, en deur 'n genadelose "scorched earth" beleid te volg soos in die Anglo-Boereoorlog, kon die Angolese regering Unita uiteindelik verslaan. Wat Kuba natuurlik wel bereik het, was om die Suid-Afrikaanse magte so die skrik op die lyf te jaag dat die era van hervorming en uiteindelike oorgawe aan 'n demokratiese regering begin het. Verskeie geskiedskrywers meen die slag van Cuito Cuanavale, wie dit nou ook al gewen het, was die keerpunt in die Suid-Afrikaanse magsomwentelling. Indien dit so is, is dit moontlik dat Che Guevara die ongeëerde held van die Suid-Afrikaanse vryheidstryd is. Hy was die enigste vegter met genoeg eerlikheid om wat hy voor hom gesien het, op die naam te noem. |