blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die namakers van “ekotoerisme” in Sentraal-Amerika 2006-07-19
Anne Vigna

*Joernalis, president van die vereniging EchoWay (bevordering van solidêre ekotoerisme). Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

In die noorde van Guatemala en die Maya-biosfeerreservaat (MBR), die belangrikste beskermde area in Sentraal-Amerika, was die argeologiese terrein van die Mirador ’n goedbewaarde juweel van die woud. Buiten die plaaslike gemeenskappe en argeoloë was niemand bewus van hierdie 26 Maya-stede wat uit die voorklassieke periode dateer, en wat ander belangrike Maya-terreine (Palenque, Copán, Tikal) met 1 000 tot 1 800 jaar voorafgaan nie.

            Spesialiste beskou die Mirador as die wieg van die Maya-beskawing; dit huisves die hoogste piramides wat ooit in Meso-Amerika opgerig is (147 meter). ’n Amerikaanse argeoloog, mnr. Richard Hansen, het hierdie nalating as ’n nuwe goudmyn beskou: “Ons het hier ’n unieke kombinasie van ’n tropiese woud en ’n argeologiese terrein van onskatbare waarde wat enorme potensiaal vir toerisme in Guatemala skep”.

Volgens hom sal die voorgestelde konstruksie van ’n toerismekompleks ’n inkomste verseker om tegelykertyd die terrein te restoureer, plundering stop te sit en die natuurlike hulpbronne te bewaar. Die El Mirador-projek is dus gebore, met die etiket van “ekotoerisme” daaraan gekoppel, en gesteun deur sowel die president van Guatemala, mnr. Oscar Berger, as ’n lang lys van instansies wat die versekering gee dat hulle uitsluitlik werk vir die beskerming van die reservaat (1). Nietemin, met die verwagte aanloop van 120 000 toeriste per jaar in hierdie ongerepte milieu, verdeel die aangeleentheid gemeenskappe wat tot dusver verenig was; lei dit tot die privatisering van erfgoed onder die dekmantel van duister wetenskaplike en/of toerisme- doelwitte (2).

Selfs nog voordat besonderhede rakende die projek en die ekologiese impak daarvan vasgestel kon word, is El Mirador reeds in die pers aangekondig as uitstekende nuus vir die land se ekonomie en vir die bewaring van die planeet. Die waterkwessie is nie eers genoem nie. En dit terwyl daar nie water by El Mirador is nie; dit word per helikopter aangevlieg vir opgrawingsdoeleindes. En wat gebeur wanneer toeriste begin aankom? Geen antwoord nie. Maar vir mnr. Hansen skyn dit dringend te wees om op te tree (met ander woorde om te onteien): “Die rykdom van die MBR moet bewaar word; die plaaslike gemeenskappe is verantwoordelik vir die aftakeling daarvan.”

‘n Besonder skandalige regverdiging. Die beskuldigde gemeenskap behoort aan die Vereniging van Woudgemeenskappe van Petén (Acofop), wat tydens die Wêreldberaad in Johannesburg in 2002 bekroon is vir “sy bestendige bestuur van 500 000 hektaar in die reservaat”, volgens die beperkings van die FSC-etiket vir woudbestuur (3). “Acofop is hoegenaamd nie verantwoordelik vir die ontbossing van die MBR nie,” rebelleer mev. Ileana Valenzuela, van die Peténse groep Actions and Propositions. “Mnr. Hansen dra spesifieke kennis van die feit dat dit deur die ontginning van brandstof  en dié van die woud [privaat] en deur dwelmroetes vernietig word. Daarteenoor gaan toerisme bykomende beweging en aktiwiteite skep  binne ’n  area van die reservaat wat tot dusver ongerep gebly het, juis danksy Acofop se werk.”

El Mirador moes reeds sy teks hersien vir ’n “groener” voorstel, na afloop van die grootskaalse protes wat sy aanvanklike planne ontlok het: ’n trein en ’n helihawe het die paaie en lughawe vervang wat aanvanklik beplan is. Desnieteenstaande is daar niks wat verhoed dat hierdie area eendag deur busvragte toeriste of vragmotors van woudmaatskappye deurkruis sal word nie indien die “toeristeroetes” van die organisasie Mundo Maya, ’n onderdeel van die Plan Puebla Panamá (4), die lig sou sien. Mundo Maya is ’n groepering van die Inter-Amerikaanse Ontwikkelingsbank (IDB) en die Ministers van Toerisme van Mexiko, Guatemala, Honduras, Salvador en Belize om “groen” toerisme te bevorder wat voordelig sal wees vir plaaslike bevolkings… dit is ten minste die voorneme.

In werklikheid beoog Mundo Maya om “die beweging van toeriste tussen argeologiese Maya-terreine te vergemaklik en om toerisme-infrastrukture te skep (5)”. Anders gestel, om kommunikasieweë tussen die terreine van Palenque en Tulum in Mexiko, Tikal in Guatemala en Copán in Honduras te skep en wat die MBR se area wat nog ongeskonde is, sal deurkruis, baie naby aan die Mirador (6). Amptelik onderneem die streek die ontwikkeling van “’n meer eerbiedige toerisme teenoor kulture en die omgewing, waarvan die wins sal dien om armoede te bestry (7).” In werklikheid kan hierdie beleid baie vinnig die teenoorgestelde uitwerking hê.

In Mexiko word die land se kuslyn toegebou met 142 projekte wat tans aan die gang is (uit 260 wat beplan word) om die “strandaanbod” te verhoog. Met die duidelike uitsondering van Costa Rica, wat ’n bewaringsbeleid implementeer, het Sentraal-Amerika agtergekom dat die natuur goed verkoop. Desnieteenstaande impliseer projekte wat onder “ekotoerisme” geklassifieer word, dikwels dat aktiwiteite in die natuur plaasvind sonder dat die inwoners deelneem – hetsy aan die omskrywing en bestuur van die projek, hetsy aan ekologiese aanpassings om die impak daarvan verminder. Private beleggers is op soek na ongerepte, beskermde terreine, lande verskaf die grondstowwe en, deur die resepte van klassieke toerisme te gebruik, droom elke administrasie daarvan om “’n groot projek” tydens sy mandaat te ontwikkel.

Die Mexikaanse president, Vicente Fox, het net nà sy bewindsoorname in 2001 ’n rampspoedige inisiatief van Fonatur, die federale instansie wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van toerisme, gekies. Dit het te make met die ontginning van die “wêreld se laaste akwarium” in Onder-Kalifornië, ’n streek met ’n unieke marinebiodiversiteit, en voortplantingsgebied van die grys walvis en die walvishaai. Op hierdie 244 eilande (9) wat uiters sensitief is vir klankbesoedeling en chemiese besoedeling, wil die Mer de Cortès-projek Amerikaanse seiljagte lok en 24 marinas bou wat 50 000 private vaartuie kan huisves. Teen 2014 word daar vyf miljoen toeriste verwag.

Private beleggers het vrye teuels: die Paraíso del Mar (Seeparadys) projek het afgeskop sonder dat die nodige magtigings verkry is en sonder ’n volledige impakstudie. Dit voorsien die konstruksie van 1 500 villas, 2 000 hotelkamers, twee gholfbane, ’n winkelsentrum, ’n park met ontspanningsgeriewe en twee privaat hospitale op 500 hektaar vir ’n beleggingsbedrag wat geraam word op 900 miljoen dollar. In reaksie op beleggers se konkelary (konstruksie van paaie sonder magtiging, vernietiging van wortelbome…), het Unesco onlangs die eilande van die Golf van Kalifornië, wat veronderstel is om sedert 1978 deur Mexiko beskerm te word, tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Dit is veelseggend dat nóg die staatsgoewerneur, mnr. Narciso Agundez, nóg die burgemeester van La Paz, mnr.Victor Castro Cosio, Unesco se amptelike seremonie bygewoon het vir die verklaring van die terrein op 23 Augustus 2005, terwyl beide die bouterrrein van Paraíso del Mar sogenaamd ingewy het. “Unesco sal hoegenaamd niks kan reguleer betreffende toerisme nie, dit het nie die vermoë nie”, betreur mnr. Gonzalo Halffter, deskundige van die organisasie wat slegs kan intree as ’n regering hom versoek, en dit is nie die geval met die Staat van Mexiko nie. Andersyds het ’n netwerk van plaaslike verenigings, Ciudadanos Preocupados AC, hierdie projekte in die hof beveg weens “impakstudies wat die teenwoordigheid van walvisse of wortelbome vergeet”. Volgens hierdie netwerk, “word die maatskaplike raamwerk ontken en is plaaslike ontwikkeling allesbehalwe ’n prioriteit”.

Honduras pas ook “ekotoerisme” toe op een van die pragtigste dele van die Karibiese kus by die ingang van die nasionale Jeanette Kawas-park, land van die Garifunas, ’n Afro-Kreoolse bevolking wat sedert 1880 hier gesetel is. Langs die kus het die land reeds sy eilande aan die Amerikaners “verkoop” vir die duikbedryf – rondom Roatán waar daar Engels gepraat word en in dollar betaal word – en sy landbougrond vir pynappels van die Amerikaanse maatskappy United Fruit (wat in 1990 die Chiquita Brands Company geword het). Die regering van Tegucigalpa het tot nou toe vergeet van hierdie palmomsoomde kusgebied.

In die praktiese naam van “nasionale belang”, het die Instituut van Toerisme van Honduras eenvoudig ’n kusgebied van 300 hektaar onteien, sonder om die Garifunas te vergoed. In 2004 het dit hierdie landstrook vir 19 miljoen dollar aan ’n private maatskappy verkoop wat saamgestel is om die groot Micos Beach & Golf Resort te realiseer. Hierdie naam het bowendien emosie ontlok by  meer as een Garifuna. “In ons taal beteken micos aap en hier was nog ooit ape nie. Vir hulle is ons, die Garifunas, die enigste ape op die strand!”, verduidelik die jong Alex Podilla, president van Pelican Café, ´n vereniging vir die bevordering van die Garifuna-kultuur. Dus geen ape nie, maar ’n gholfbaan van 25 hektaar, 2 000 hotelkamers, 170 villas, ’n konferensiesentrum, ’n marina, ens. Al is die nasionale park wel die hoofaantrekkingskrag waar “verskeie aktiwiteite” sal plaasvind, het “die Garifunas se danse en musiek ook ’n groot aantrekkingskrag” volgens die promotors. Word die boerplek vir seksuele toerisme (“table dance” in Sentraal-Amerika) ook reeds beplan?

In hierdie drie groot projekte – El Mirador, Mar de Cortès et Micos Beach – word die natuur uitgebuit en verkoop, net soos die manjifieke baai van Acapulco 40 jaar gelede. Die metodes wat aangewend word, het kwalik verander: korrupsie van die owerhede, beperkte inligting, belaglike of geen skadevergoeding nie vir grond, deurlopende ontkenning van die ekologiese en maatskaplike gevolge. ’n Mens vind deurentyd dieselfde promotors en beleggers (ook genoem die “prêriewolwe van toerisme” vir die aankoop van grond teen ’n lae prys) op soek na die laaste ongerepte juwele van die planeet.

Dit is baie ver van die verbintenisse wat die Wêreldorganisasie vir Toerisme en state onderneem met sy Wêreldkode vir Toerisme-Etiek en met die Verklaring van Quebec rakende ekotoerisme (10). En dit is ligjare verwyder van die ware definisie van ekotoerisme. Onder die dekmantel van bewaring (eg of nie) lei hierdie benaming tot vinniger privatisering van natuurlike hulpbronne as wat klassieke toerisme toegelaat het. Projekte vertoon soms ekologiese beplanning en ontwikkeling, maar almal vereis waarborge vir die eienaarskap van grond en stoot plaaslike inwoners weg.

Die plaaslike gemeenskap verloor sy grond, sy visvanggebied of sy waterbron, dit wil sê, alles wat dit vir hom moontlik maak om te oorleef. Soms beland federale gebiede (strande, rivieroewers, woude) in private besit deur middel van kommerwekkende, onwettige truuks. Om die waarheid te sê, hierdie programme reserveer die laaste walvisse, die oorblywende ceibas (embleem-boom van Guatemala) of die meer van die Garifunas vir die rykstes, hulle wat juis die meeste tot die vernietiging daarvan bygedra het. Dit word dus normaal om te betaal, en om toenemend meer te betaal, om ’n bewaarde natuurskoon te geniet. El Mirador steun op Europese toerisme (meer beskaaf), terwyl Mar de Cortès en Micos Beach “pasgemaak” is vir Amerikaners.

Die bedrieglike gebruik van die benaming ekotoerisme word nietemin nouliks veroordeel. Ekotoerisme geniet oor die algemeen ’n positiewe beeld, en die ontwikkeling daarvan is ter sake. Dit wil voorkom of dit selfs ’n wondermiddel geword het vir internasionale ontwikkelingsagentskappe. In Sentraal-Amerika en in Mexiko het agentskappe van die VNO (11), finansieringsorganisasies (IDB, Wêreldbank, United States Agency for International Development [USAID] en die Europese Unie) verskeie projekte wat vir plaaslike gemeenskappe beplan word. Hulle regverdig die voordele van hierdie beleid in die naam van die skepping van ’n plaaslike ekonomie, van professionele opleiding en van inwoners se bewuswording van hulle natuurlike en kulturele erfenis. ’n Formule wat in sy geheel byna perfek is en wat voldoen aan die noodsaaklikheid om die waarde van ’n erfenis te erken en die bewaring daarvan terselfdertyd te verseker.

Organisasies soos die nieregeringsorganisasie (NRO) International Conservation en die IDB, wat desondanks skerp gekritiseer is vir die beleide wat hulle in die streek deurgevoer het, het nietemin klein toerismeprojekte in die 1990’s geloods wat 100 % gerig is op gemeenskappe en waarby inwoners die ware behoud van die milieu verseker, gefinansier deur wins wat uit toerisme verkry word.



In die projekte van die Verenigde Nasies se Program vir die Omgewing (UNEP), verduidelik mnr. Diego Masera, ampsdraer binne hierdie organisasie vir toerisme in die VSA, “is die deelname van die gemeenskap die dryfkrag van die bewaringsproses en geen toerisme-aktiwiteit vind plaas sonder die bevolking nie”. Daarteenoor, aan state se kant, skep die begrip van “gemeenskap”, dit wil sê die skepping en bestuur van die projek deur die inwoners, ’n nuwe probleem. ’n Georganiseerde gemeenskap wat juis bewus is van die waarde van sy natuurlike hulpbronne, is minder geneig om sy grond teen ’n lae prys te verkoop of sy waterbron of waterval te privatiseer.

In die Chiapas is die ekotoerismeprojekte wat deur die regerings (plaaslik en federaal) op tou gesit is, nie op die gemeenskapsmodel gebaseer nie, maar geneig om private, familiegerigte toerisme te bevorder. Die plaaslike regering loof ekotoerisme sonder ophou as “die oplossing vir die Chiapas se ekonomiese probleme” maar finansier reeds jare lank die swakste ekotoerismeprojekte in Mexiko. Volgens mnr. Maxime Kieffer, konsultant in hierdie sektor en wat pas in die Chiapas ondersoek ingestel het, “is die inwoners nie geraadpleeg in die voorbereidingsfase nie, die aktiwiteite en klaargemaakte betonhutte word aan hulle bekendgestel, sonder enige ekologiese aanpassings, ten einde besoedeling te beperk. Ampsdraers word nie opgelei nie, daar is geen kollektiewe bestuur nie, geen projek vir plaaslike ontwikkeling nie en geen besinning oor rommel nie.” Erger nog: wanneer gemeenskappe ’n projek op hulle grond weier, voorspel die metodes wat gebruik word om hulle te oorreed, ’n somber toekoms vir die streek. Die outonome Raad van die Roberto Barrios Zapatiste-gemeenskap het daarom die intimidasie deur staatsamptenare en private beleggers wat ’n ekotoerismeprojek naby aan hulle watervalle tot stand wil bring, herhaaldelik veroordeel. Die vernaamste reg van ’n gemeenskap is die vermoë om die aankoms van besoekers op sy grond te mag weier – en dat projekte dus nie op hulle afgedwing mag word nie, selfs “al is hulle uitstekend”, soos die ampsdraer vir toerisme in die Chiapas voortdurend aan die pers herhaal.

Hierdie projekte word ook deur die Europese Unie gefinansier deur middel van die Prodesis-program. Met so ’n vennoot – die regering van mnr. Pablo Salazar (PRI) wat nie juis aanbevelenswaardig is nie – steun die Unie toerismeprojekte wat met die ekologie niks te make het nie en wat op sekere punte selfs die basiese reëls van ekotoerisme oortree. In Lacanjá Chansayab se gemeenskap in Lacandon bestuur die families elkeen private projekte, sonder onderlinge samewerking met mekaar. Hulle erken dat hulle steeds hul tradisionele tuniek (13) dra, omdat die opleiers wat deur Sectur (die departement van toerisme) gestuur is, hulle verseker het dat toeriste hulle graag so wil sien.

As ’n mens die brosjures glo, is die Chiapas die koninkryk van die natuur en van vreedsaamheid. Die groen van ekotoerisme sou dus die kakie van soldate laat verdwyn, wat nooit die streek verlaat het sedert 1994 nie, datum van die Zapatistiese opstand. Kommunikasie is inderdaad uitgeslape en skyn te werk. In die plaaslike kantoor van Sectur in Tuxtla Gutierrez word daar erken dat die projekte wat op die been gebring word, nie die sleutelbeginsels van ekotoerisme respekteer nie, maar dat die konsep gebruik word in al die regering se promosiemateriaal.

Tydens sy medepresidentskap van die Tweede Internasionale Forum vir Solidêre Toerisme (IFST) in die Chiapas in Maart 2006, het Frankryk nietemin hierdie vals beeld ondersteun. Mnr. Fox, dieselfde persoon wat die vernietiging van Onder-Kalifornië voorstel, is deur mnr. Salazar ontvang as “die groot stigter van solidêre toerisme”. Die ywer van die Chiapas in hierdie verband is met lofspraak van mnr. Jean-Louis Dieux, Visepresident van die Provence Alpes Cote d’Azur-streek beskryf as sou die Chiapas ’n pionier en binnekort ’n model vir solidêre toerisme wees… Terselfdertyd het die deelnemers aan die Forum wat van Afrika en Asië afkomstig is, in ’n ope brief protes uitgespreek teen die organiseerders “wat met geen gemeenskap gesprek gevoer het tydens hulle veldbesoeke nie”. ’n Bykomende bewys dat die visie wat deur die plaaslike regering versterk word, nie heeltemal dieselfde is as dié van deelnemers aan hierdie Forum nie.

Binne die IFST, net soos elders, het die redding van die benaming “ekotoerisme” ’n prioriteit geword vir netwerke, verenigings en akademici wat die konsep verdedig. Die etiket, in besonder vir solidêre toerisme, het aanvanklik voorgekom as die duidelikste oplossing.

’n Etiket vir solidêre toerisme wat verder die besorgdheid oor die beskerming van ’n milieu waarborg, die bestuur daarvan deur die inwoners van die toerisme-projek en die herbelegging van ’n gedeelte van die wins in gemeenskaplike dienste. In Frankryk het solidêre toeroperateurs wat deesdae gegroepeer is in die Vereniging vir Regverdige en Solidêre Toerisme (ATES) die Fair Trade Labelling Organisation, Flo (14), wat werksaam is om die ketting van regverdige handel te monitor, uitgenooi om aan hierdie tema te werk. Dit is inderdaad in belang van hierdie verenigings, wat toeroperateurs geword het, om oop kaarte te speel en om hulle aksies van solidariteit en hulle etiek op die voorgrond te stel, terwyl ander agenskappe hulleself beperk tot ’n stel gedragsreëls, maar aanloklike terme soos “verantwoordelike toerisme” in hulle kommunikasie gebruik.

Sertifisering bly nietemin ’n lang, ingewikkelde en duur proses. Vir mnr. Ernest Cañada, bestuurder van die Spaanse NGO, Aksie vir Verantwoordelike Toerisme (ATR), “word kleiner projekte uitgelaat weens die koste verbonde aan sertifikasie vir die etiket.” In Mexiko, byvoorbeeld, bedra die sertifikasiekoste vir die etiket van regverdige toerisme sowat 2 000 euro per jaar vir ’n organisasie van koffieprodusente. “Verder” gaan mnr. Cañada voort, “deur die koffie van multinasionale maatskapye soos Nestlé, McDonald’s of Carrefour te etiketteer, het Flo ’n nuwe weg ingeslaan. Die sertifisering van ekotoerisme-aktiwiteite wat kort daarna tot kettinghotelle gaan lei, en wat in elk geval sal voortgaan om hulle werknemers se regte te skend, maak vir ons geen sin nie”.

Ten einde te verhoed dat die foute in die etikettering van regverdige handel herhaal word, behoort die sertifikasiekoste nie van die projek verhaal te word nie, sodat die kleineres – die meerderheid – ook toegang tot hierdie netwerk kan hê. Maar bowenal behoort ’n etiket van solidêre, standhoudende of verantwoordelike toerisme in beginsel groot toerismegroepe buite kompetisie te laat.

Met of sonder etiket, ekotoerisme moet ophou om sy kliënte te bedrieg. Die aktiwiteit is nie ’n universele oplossing wat oral toegepas kan word nie: dit is nie moontlik om alle volke wat naby argeologiese terreine of ’n reënwoud woon, in “gidse” te omskep onder die voorwendsel van bewaring of maatskaplike ontwikkeling nie. Die regering van die Chiapas beplan op gevaarlike wyse vir die toekoms deur so vinnig en so swak op “ekotoerisme” te vertrou. En net soos wat regverdige handel nie die koffiekrisis in die streek opgelos het nie, gaan ’n “verbasterde” ekotoerisme nie veel doen om armoede te beveg nie.

 

__________

1. Die Universiteit van Kalifornië, die National Geography Society, Counterpart International, en ook The Global Heritage Fund.

2. In die Chiapas het die organisasie Maderas del Pueblo meermale programme van bio-rowery onder die dekmantel van ekotoerisme veroordeel. Hierdie aanklagte is nie bewys nie, maar geen ernstige ondersoek is deur die owerhede onderneem nie.

3. Forest Stewardship Council (FSC) is ’n NRO wat sedert 1993 eienaars van woude saamgroepeer, maatskappye betrokke by die houtbedryf, maatskaplike groepe en ekologiese verenigings. Die FSC-etiket is gebaseer op 10 beginsels en 56 kriteria, met ’n kontrole wat deur onafhanklike sertifiseringsmaatskappye gedoen word.

4. Die Puebla Panama Plan is ’n “ontwikkelingsplan” wat veronderstel is om infrastrukture te skep (paaie, hawens, damwalle, ens.) vir die vestiging van ekonomiese aktiwiteite (fabrieke, myne, ens.) vanaf Panama tot by die staat van Puebla in Mexiko.  Lees Braulio Moro, “Une recolonisation nommée Plan Puebla Panama”, Le Monde diplomatique, Desember 2002.

5. Dokumente van die BID, projekte Tourisme, Plan Puebla Panama. http://www.iadb.org/ppp

6. Lees die dossier van die Guatemaalse NRO, Tropico verde, op sy webwerf (Qué es el proyecto Mundo Maya ?), http://www.tropicoverde.org

7. Verklaring van die Galapagos-eilande (2002), Iberiese Amerikaanse en Karibiese spitsberaad van 20 Ministers van Toerisme en Omgewingsake (Ecuador). Verbintenisse wat deur dieselfde amptenare teruggetrek is in September 2004 tydens die tweede spitsberaad van Rio Amazonas (Brasilië).

8. Die ander sektore bestaan uit kulturele toerisme, saketoerisme, plesiervaarte, avontuur-aktiwiteite en Ekotoerisme. Bron: Sectur (Mexikaanse Departement van Toerisme), Mexiko: Proyectos en desarrollo, 2005.

9. Volgens Unesco huisves hierdie eilande die rykste marinebiodiversiteit: 891 vissoorte, 695 waterplantspesies en een-derde van Setaseë.

10. Die Verklaring van Quebec, aangeneem in Mei 2002, na afloop van die Internasionale Jaar vir ekotoerisme in 2001.

11. Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO), Ontwikkelingsprogram van die Verenigde Nasies (UNDP), Omgewingsprogram van die Verenigde Nasies (UNEP), Wêreld Toerismeorganisasie (WTO).

12. Die meerderheid projekte raak landelike gemeenskappe, waar inheemse inwoners gevestig is in beskermde omgewings wat deur nasionale of internasionale wetgewing beskerm word (die reserwes van Unesco se Biosfeer, die Meso-Amerikaanse biologiese korridor…).

13. Die Lacandonas is nie die oorspronklike volk van die Lacandona-woud nie, selfs al “verkoop” die regering hierdie vals identiteit. Hierdie Maya-bevolking kom oorspronklik van die Yucatan-skiereiland.

14. Die Fair Trade Labelling Organisasie het in 1997 tot stand gekom om sowat twintig verenigings vir regverdige handel regoor die wêreld te groepeer (waaronder Max Havelaar). In 2004 het Flo-Cert 548 koöperasies gesertifiseer, www.fairtrade.net.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=634
Artikel nagegaan:
    -