blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Hoe ekonome die wetenskap minag 2006-07-19
Jacques Sapir

*Navorsingshoof aan die Ecole des hautes études en sciences sociales (Skool vir hoërstudies in sosiale wetenskappe), skrywer van onder meer Les Economistes contre la démocratie, Parys: Albin Michel, 2002 en La fin de l'euro-libéralisme, Parys: Seuil, 2006. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

 

Politieke gesprekvoering word dikwels ontsier deur sogenaamde ekonomiese “klaarblyklikhede”, aangevoer as gesaghebbende argumente. Die gevolg is dat sekere onderwerpe skoon uit die veld van bespreking gehaal word: proteksionisme, die positiewe rol van openbare maatskappye of staatsbetrokkenheid, ensovoorts. Sulke argumente sou dan kwansuis bo politieke verskille verhewe wees, vanweë hul “objektiewe” aard.

            Indien ekonomiese “klaarblyklikhede” wetenskaplik begrond was, sou niemand hulle kon weerspreek nie. Die gedagte sou by niemand opgekom het om natuurwette aan ’n stemmery te onderwerp nie. Maar sou dié grondslag twyfelagtig blyk, dan sou die status wat hulle in die debat verkry het, nie alleen op bedrog neerkom nie, maar ook op ’n anti-demokratiese toe-eiening: sulke “feite” word in der waarheid deur ’n minderheid (die “deskundiges”) vasgestel, wat boonop nie polities verantwoordingspligtig is nie. Indien hulle op wetenskaplikheid wil aanspraak maak, sou ekonomiese studies aan die reëls van toetsbaarheid en bewysvoering onderwerp moes word (1). Pleks daarvan bly neoliberale ekonomiese denke ongeknelter deur sulke beperkinge (2).

            Die belangrikste kamma-klaarblyklikheid wat voorgehou word, is die grondliggende rol van mededinging  (3), wat die voorrang regverdig wat aan vryhandel in die makro-ekonomie gegee word, en aan buigsaamheid in die mikro-ekonomie. Dit is waarom die neoliberale daarvan ’n kardinale beginsel van die Europese Grondwetlike Verdrag wou maak. Daarin lê een van die oudste debatte in moderne ekonomiese denke. Trouens, die vraag is nie óf – in sekere omstandighede, en om spesifieke resultate te bereik – mededinging kan help om die een en die ander se handelinge te koördineer nie. So gestel, is die vraag in die werklikheid geanker. Vir die liberale is die rol van mededinging ’n dogma. Dit verkry ’n absolute karakter wat verhewe staan bo die vraag hoe dit konkreet toepasbaar kan wees.

            Die oorsprong van hierdie dogma vind ons in die werke van die grondleggers van die klassieke ekonomie in die 18de eeu: David Hume, Bernard Mandeville en Adam Smith. Hulle wou aantoon dat mededinging tussen individuele aktiwiteite, hoewel dit deur selfsugtige oorwegings gedryf word, spontaan tot ’n positiewe resultaat vir die gemeenskap sou lei. Hierdie beginsel lê agter die eerste algemene teorie van vryhandel, saamgestel deur Hume, Mandeville se Fabel van die Bye en Adam Smith se befaamde “onsigbare hand”.

            Maar ondersoek ’n mens dit, hou dié drie skrywers se redenasies nie steek nie. Hume se teorie oor die outomatiese ewewig van internasionale handel, wat feitlik woord vir woord deur die Wêreldhandelorganisasie (WHO) se apologete oorgeneem is, is gebaseer op onrealistiese hipoteses, naamlik dat ekonomiese spelers oor onmiddellike, perfekte inligting beskik, en dat oombliklike, kostelose aanpassings sowel in die verhouding tussen aanbod en vraag as in die aard van die aanbod en aanvraag gemaak word. Daar moet dus aangeneem word dat goedere en dienste totaal met mekaar vervangbaar is, beide uit die aanvraer en die aanbieder se oogpunt. Mandeville se tese – dat private ondeug (selfsug, ambisie) dikwels onwillekeurig in “kollektiewe deugde” omvorm word, ’n bietjie soos ’n by wat ’n korf bou sonder dat hy dit weet of wil hê – is ’n mooi literêre maaksel. Wat Adam Smith betref, het hy nooit die meganisme van die “onsigbare hand” (die mark wat dan spontaan produksie en verbruik doeltreffender sou afpen as enige voorbedagte stelsel) bewys nie; soos die historikus Jean-Claude Perrot uitgewys het, is dit in werklikheid ’n religieuse aporie in ’n poging om wetenskaplike diskoers daar te stel (4).

            Waar hulle voorgee om bykans natuurlike “wette” te formuleer, streef die drie outeurs in werklikheid politieke doelwitte na. Hume wou toon dat vryhandel - in die mate dat dit tot geluk vir almal lei - konflik tussen state onnodig maak (5). Vir Mandeville en Smith bied die spontane organisering wat deur mededinging geskep word, die moontlikheid om van verligte despote en hulle eiemagtigheid ontslae te raak. ’n Mens kan nie anders as om simpatiek teenoor Hume se pasifisme, of teenoor Mandeville en Smith se verwerping van despotisme te staan nie, maar die welmenende gebruik van ’n pseudo-wetenskaplike betoog moet nie met werklike bewysvoering verwar word nie.

            Teen die einde van die 19de en in die 20ste eeu word die teorie van mededinging gediversifiseer. Drie skole tree na vore. Die eerste, wat steeds die grootste invloed het, reken in navolging van Léon Walras (1834-1910) dat dié meganisme lei tot ewewig tussen die vraag by sommiges en die vermoë by ander om daaraan te voldoen. Vilfredo Pareto (1848-1923) voeg by dat hierdie ekonomiese ewewig ook, uiteraard, ’n maatskaplike ewewig is. Daar bestaan dus ’n enkele oplossing vir alle probleme in die werklike ekonomie, en mededinging sou optimaal beide op ekonomiese en maatskaplike vlak wees – saak afgehandel (6).

            ’n Tweede denkrigting ontwikkel tans rondom die vraagstukke wat die Walraso-Paretiaanse teorie opper: dit staan bekend as die “Oostenrykse” skool en sluit skrywers soos Ludwig von Mises en Friederich von Hayek in. Vir hulle is mededinging nie ’n spontane meganisme nie, maar ’n neo-Darwinistiese proses van eliminering van die mins geskikte oplossings.

            Vir ’n derde skool is mededinging bowenal ’n vernuwingsdinamika waarin die aftakeling van ou oplossings versnel word deur die ontstaan van nuwe, meer toepaslikes. Hier is geen sprake meer van die een of ander ewewig nie: mededinging is slegs ’n instrument vir ’n nimmereindigende rewolusie van aktiwiteite, bekend as “skeppende aftakeling”. Joseph Schumpeter (1883-1950), die skrywer wat die meeste tot dié teorie bygedra het, gee blyke van dieselfde ambisies as die diskoers van die 19de-eeuse denkers. Dit gaan oor die depolitisering van die ekonomie en die gedagte dat inherente “wette” plaasvervangers kan wees vir doelbewuste handelinge wat deur individue gesamentlik ooreengekom word (7).

            Hierdie drie skole se denkraamwerke is uiteenlopend en onverenigbaar. Aanvaar ’n mens die hipoteses van die Walraso-Paretiaanse model wat deur Kenneth Arrow en Gérard Debreu, twee van die grondleggers van die moderne vorm van neo-klassisisme in die 1940’s en 1950’s, ontwerp is, kan jy nóg die “Oostenrykse” teorie, nóg die Schumpeteriaanse een van mededinging akkommodeer. Die teendeel is ook waar: plaas ’n mens jou binne die raamwerk van Hayek se hipoteses, is dit onmoontlik om ook van die ewewigsteorie te praat. In plaas van saamloop, skakel hierdie drie teorieë mekaar uit.

            Nog ’n kopkrapper: die hipoteses wat as uitgangspunt dien. Dié van volledige, onfeilbare inligting waaroor ekonomiese agente moet beskik en waarop die teorie van algemene ewewig berus, is absurd, behalwe as ’n mens reken dat hulle alwetend is. Tog bly dit sentraal. As ’n mens onvolmaaktheid en asimmetrie in die agente se inligting sou invoer, hou die markte op om doeltreffend te wees, mededinging word destabiliserend en openbare ingryping word ’n direkte noodsaaklikheid. Dit weet teoretici lank reeds (8).

            Ander hipoteses wat onontbeerlik is vir die onderskeie teorieë, moet ook met voorbehoud bejeën word. Arrow en Debreu se model veronderstel dat individue se voorkeurhiërargie los staan van persoonlike kontekste en omstandighede. Dus, as ons ding A bo ding B verkies en ding B bo ding C, dan sal dit in alle omstandighede so wees en sal ons antwoord as ons voor ’n identiese keuse te staan kom, nooit verskil nie. Die seleksieproses wat Hayek hom voorstel, impliseer dat voorkeure onveranderd bly in die loop van tyd. Om ’n keuse te kan maak, moet ons ervarings geheel en al vergelykbaar wees en mag ons nie tussen twee ervarings van plan verander oor wat ons verkies nie. Verder moet al ons ervarings ook identiese herinneringe by ons laat, of hulle nou in die verlede lê of onlangs is. In wiskundige terme kan ’n mens reken dat ons volgens die gemiddelde van ons ervarings in die verlede optree, en nie op ’n spesifieke hoogte- of laagtepunt nie.

            Schumpeter se model vereis weer dat die skokke wat innovering bring, ook geen uitwerking op die struktuur van ons voorkeure sal hê nie. Ons verkies gewin bo sekuriteit, of omgekeerd. Ons verhouding tussen die grade van tevredenheid wissel nie, selfs as die verskeidenheid dienste wat deur innoverende produkte gelewer word, ver verskil van wat die ou produkte gelewer het.

            Hierdie hipoteses oor individue se gedrag het sedert die 1970’s onder die loep begin kom (9).  En elkeen van hulle het in die stof gebyt in herhaalbare toetse wat volgens protokol opgestel is, met ander woorde onderwerp aan toestande van ’n wetenskaplike eksperiment. So verander ons keuse tussen twee mediese behandelings totaal na gelang daarvan of die resultate uitgedruk word as hoop op oorlewing nà ’n operasie, of inteendeel in terme van sterfterisiko. Insgelyks is die prys wat ons bereid is om vir ’n artikel te betaal, nie noodwendig dieselfde as wat ons sal aanvaar om daarvan afstand te doen nie. Ons voorkeur vir gewin of inteendeel vir sekuriteit kan soos handomkeer verander. Wanneer hulle te staan kom voor loteryspeletjies wat identies is maar waarvan die uitslag soms in geld en soms in goedere aangedui word, verander die proefkonyne gereeld van strategie waar hulle reaksies veronderstel is om stabiel te wees. Daarbenewens word ’n pyn wat intens maar van korte duur was, gouer vergeet as matige maar langdurige pyn tydens ’n mediese ondersoek. Hierdie resultate vermorsel die hipoteses van die neo-klassieke model (onveranderlikheid van voorkeure en strategieë), maar ook die modelle van Hayek en Schumpeter.

            In werklikheid word ons voorkeure bepaal deur die keuseraamwerk (“framing effect”), of ons materiële welstand (“endowment effect”). Ons kognitiewe stelsel reageer sterker op spitsoomblikke as op progressiewe verwikkelings, en die inbring van nuwe elemente maak dat ons keusemodelle deurgaans hersien word.

            Die grootskaalse, onomkeerbare vernietiging van die model van ’n “individuele agent” wie se reaksies voorspelbaar sou wees ongeag die konteks en sy omstandighede – ’n hipotese wat aan die wortel van al hierdie teorieë lê – is beslis een van die grootste tekens van vooruitgang op die gebied van sosiale wetenskappe die afgelope dertig jaar. ’n Mens merk dat die meerderheid ekonome in ’n ontkenningstrategie gewikkel is jeens hierdie resultate wat radikaal die fondamente van hulle modelle skud. Deur dit te doen, doen hulle afstand van hulle wetenskaplike geloofwaardigheid (10). Die grondliggende rol van wedywering in die organisering van ekonomiese aktiwiteite blyk uiteindelik nie ’n hipotese te wees nie, maar ’n soort religieuse (by)geloof.

            Ons keer dus, hier aan die begin van die 21ste eeu, terug na ’n einde-18de-eeuse soort situasie. ’n Wetenskaplik legitieme projek – die studie van die manier waarop menslike samelewings produseer, verander en verbruik – is om suiwer ideologiese beweegredes van koers gedwing. Voeg daarby, in die lig van diverse skandale waarin “kundiges” betrokke was tydens privatiserings in Rusland (11), of die Enron-, WorldCom en Parmalat-aangeleenthede (12), ensovoorts, dat hierdie doelwitte minder edel lyk as dié wat Hume, Mandeville en Smith nagestreef het ...

            Deur so hulle vakgebied te verkoop, hetsy vir magsgewin of vir gewin op sigself, maak sekere ekonome hulle aan ’n dubbele morele oortreding skuldig. Eerstens teenoor demokrasie, deur ’n mite met verwoestende maatskaplike gevolge as ’n wetenskaplike waarheid, ’n onbetwisbare “feit” voor te hou. En tweedens teenoor die gedagte van navorsing self, deurdat hulle vir baie toeskouers die moontlikheid van ware wetenskaplike ekonomiese studie na ’n feëverhaal laat lyk.

_________

(1) Bruce J. Caldwell, “Economic methodology: rationale, foundations, prospects”, in Uskali Mäki, Bo Gustafsson en Christian Knudsen, Rationality, Institutions & Economic Methodology, Londen en New York: Routledge, 1993.

(2) Lees Daniel M. Hausman, The Inexact and Separate Science of Economics, Cambridge (Verenigde Koninkryk): Cambridge University Press, 1994, in besonder hoofstuk 13, “On dogmatism in ectoproctes: the case of preference reversals”.

(3) Lees Frédéric Lordon, “Et les lendemains n’ont pas chanté”, Le Monde diplomatique, Mei 2005.

(4) Jean-Claude Perrot, Une histoire intellectuelle de l'économie politique, Parys: Editions de l'EHESS, 1992, pp. 141-142.

(5) David Hume, Discours politiques, in Frans vertaal deur ab Le Blanc, Dresden, 1755. Lees Jean-Claude Perrot se analise van die gesprek tussen Hume en Turgot in Une histoire intellectuelle de l'économie politique, op.cit., pp. 237-255.

(6) Lees Les Trous noirs de la science économique, Parys: Albin Michel, 2000.

(7) Lees Jacques Généreux, Les Vraies Lois de l’économie, Parys: Seuil, 2002.

(8) Lees Sandford J. Grossman en Joseph Stiglitz, “On the impossibility of informationally efficient markets”, in American Economic Review, Pittsburg, vol. 44, no2/1980, pp. 451-463.

(9) Daniel Kahneman, “New challenges to the rationality assumption” en Amos Tversky, “Rational Theory and Constructive Choice”, in Kenneth J. Arrow, Enrico Colombatto, Mark Perlman en Christian Schmidt (onder leiding van), The Rational Foundations of Economic Behaviour, New York: Saint Martin's Press, 1996.

(10) Daniel M. Hausman, The Inexact and Separate Science of Economics, op.cit., hoofstuk 13. Lees ook Hazel Henderson, “Prix Nobel, l’imposture”, Le Monde diplomatique, Februarie 2005.

(11) Lees Nina Bachkatov, “Le Kremlin contre les oligarques”, Le Monde diplomatique, Desember 2003.

(12) Lees Thomas Frank, “Enron aux mille escroqueries”, Le Monde diplomatique, Februarie 2002.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=633
Artikel nagegaan:
    -