|
||||
Colette Braeckman
*Joernalis, Le Soir (Brussel). Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Maer, die gesigte wit van die stof, sing die mynwerkers uit volle bors “hierdie is die grond van ons voorvaders, sy koper is ons s’n”. Skreeuende mans en kinders omsingel die afvaardigings wat die een na die ander by die Ruashi-myngebied naby Lubumbashi in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) opdaag. Mwambe Kataki, Remy Ilunga en Pierre Kalume, voormalige werknemers van die magtige Gecamines (1) wat nou geskoolde delwers geword het, maak in die naam van hul kamerade seker dat hulle nie verdryf sal word nie. Hulle is van plan om versperrings op te rig teen groot maatskappye wat ná jare van oorlog na Katanga terugkeer danksy die privatisering wat deur Joseph Kabila se regering aangemoedig word. Voormalige Kamituga-diensnemers in Kivu dreig om die Kanadese maatskappy Banro te verhoed om sy produksie te hervat, en onrus teister die Kilo Moto-myn in Ituri. Die groot maatskappye neem in werklikheid net ’n handjie vol geskoolde werkers in diens, en die nuwe beleggingsvoorwaardes skeld hulle van alle maatskaplike verpligtings kwyt. Wat die Kongolese staat betref, sal hy ongetwyfeld nie die vermoëns hê om dié wat aan hulle lot oorgelaat word, te vergoed nie. Terwyl daar gewag word dat die Suid-Afrikaanse maatskappy Ruashi Mining sy penne op die Ruashi-terrein kom inslaan en dit met wagte en doringdraad afsper, lyk die dagboumyn na ’n maanlandskap vol gate en kraters. Met ’n pik as enigste werktuig kap die mans tonnels waardeur die kinders kruip; party grawe, ander haal die kopererts uit en stop dit in sakke. ’n Entjie verder maak lorries gereed om die Zambiese grens oor te steek met hulle vragte ru-erts. ’n Gedeelte van die heterogeniet, ’n kombinasie van koper en kobalt, word ter plaatse deur klein maatskappytjies in meganiese oonde verwerk. Ná ’n eerste affinering word die kobalt en koper, steeds per vragmotor, na Suid-Afrika of die hawe van Dar es Salaam (Tanzanië) gekarwei, waar Sjinese vragskepe dit inwag ... Die burgemeester van Lubumbashi, Floribert Kaseba, wys daarop dat ’n mens hier, anders as in die hoofstad Kinshasa, geen bedelaars of kinders op straat sien nie. Almal werk – vir seker, maar in watter omstandighede! Die meeste van die 70 000 delwers in Katanga verdien minder as ’n dollar per dag. En hoewel die mynbouers hul eie versekeringsgroep, die Emak (Entreprise minière artisanale du Katanga) gevorm het, is dit hoofsaaklik om hulle begrafniskoste te dra, want die grondstortings eis talle slagoffers. Mynbou verteenwoordig 74% van die DRK se uitvoere en verskaf op informele wyse werk aan 950 000 mense teenoor slegs 35 000 in die formele sektor. Om die Kongolese mynwerkers se huidige vrese te verstaan, moet ’n mens onthou dat die Zaïre van maarskalk Joseph Mobutu koloniale strukture oorgehou het waardeur groot regeringsmaatskappye soos Gecamines of die Minière de Bakwanga (MIBA) in Kasai die grootste deel van die land se inkomste gegenereer het. Maar in die ná-koloniale Zaïre het hierdie groot maatskappye ook ’n paternalistiese tradisie geërf: hulle was verplig om huisvesting en gratis toegang tot mediese sorg aan hulle werkers en dié se gesinne te verseker – voordele wat laasgenoemde deel van die maatskappy laat voel het. Privatisering het ’n einde hieraan gemaak: die groot staatsbeheerde maatskappye is ontbind, en hulle opvolgers wil van die verlede en sy verpligtings ontslae raak. Dit wat as die “mynkarnaval” van die Kongo bekend staan, is oor verskeie fases voltrek, en die laaste sal waarskynlik nie die mins wrede wees nie. In die 1990’s, reeds teen die einde van Joseph Mobutu se bewind en in sy gretigheid om aan die Wêreldbank se voorskrifte te voldoen, het die Eerste Minister, Kengo wa Dondo, begin om veral mynmaatskappye te privatiseer ten einde die staatskas terug op die been te kry en hom in staat te stel om sy skuld te vereffen. In Mei 1995, toe daar begin is met die ontbinding van Gecamines en die privatisering van ander regeringsmaatskappye, het groot mynmaatskappye die veld betree: die Kanadese Lundin, Banro, Mindev, die Belgies-Kanadese Barrick Gold, die Australiese Anvil Mining, die Suid-Afrikaanse Gencor en Iscor. Maar, gesien die land se onstabiliteit, het dié “grotes” verkies om hulle skaars te hou: toe die oorlog in 1996 uitbreek – en, sewe maande later, die Mobutu-regime tot ’n val bring – het die “juniors” die veld ingeneem, direk met die rebellebewegings saamgewerk en die opsie oopgehou om later hulle bates te kan verkoop. Dit is só dat Laurent Désiré Kabila by die Amerikaanse Mineral Fields, die Australiese firma Russel Resources en die Zimbabwiese Ridgepoint Overseas die fondse kon kry om sy oorlog te finansier en daarna die polities-administratiewe masjien terug op die spoor te kry, in ruil vir ooreenkomste rakende die drie persele van Gecamines, die mineraalafsettings van Mongwalu (2) in die Ituri-streek, en die diamantsindikate van Kisangani. Die euforie was van korte duur: kort na sy bewindsoorname in Mei 1997 distansieer Laurent Désiré Kabila hom nie net van sy Ugandese en Rwandese bondgenote wat hulle buit kom opeis in ruil vir hul vroeëre hulp nie, hy spreek ook sy begeerte uit om die mynkontrakte in heroorweging te neem, en – soos in die verlede – die nuwe aankomelinge maatskaplik verantwoordelik vir hulle werkers te maak. Saam met die veiligheidsfaktore gee dié houding wat as ondankbaar en radikaal gesien word, aanleiding tot die “tweede oorlog”, wat in 1998 uitbreek. Onder goedkeuring van die Westerse lande onderneem Rwanda en Uganda dus om hulle eertydse bondgenoot te verjaag en kom hulle nie net te staan voor die bevolking se weerstand nie, maar ook die ingryping van Angola en Zimbabwe, wie se weermagte Laurent Kabila verdedig. Die Kongolese grondgebied word in drie outonome gebiede verdeel, wat beheer word deur die sentrale regering en drie rebellegroepe, onder meer die RCD-Goma (Rassemblement congolais pour la démocratie, ondersteun deur Rwanda) en die Kongolese vryheidsbeweging (MLC), tot stand gebring met die steun van die Ugandese weermag. Die sentrale regering en die rebelle moet hulle militêre operasies finansier en hul bondgenote vir hulle hulp betaal. Die vier streke, nou van mekaar geskei, word in “selfdiens”-areas omskep waar Mafia-agtige netwerke uit alle oorde goud, koper, colombo tantaliet (coltan), hout en diamante ontgin (3). Hierdie plunderaars is geneë om hulle fooie te betaal aan die krygshere wat in werklikheid in beheer is, en indien nodig, hulle van wapens te voorsien. Hierdie skandaal, ’n humanitêre (3,5 miljoen burgerlike slagoffers) asook politieke ramp wat aanvanklik nie veel belangstelling lok nie, is ook ’n finansiële verkwisting. Sedert die begin van die jare 2000, toe die vraag na colombo tantaliet (wat in die vervaardiging van selfone gebruik word) begin afneem en die naspeurbaarheid van diamante geleidelik al meer afgedwing word, begin die wêreldvraag na koper, kobalt en uranium toeneem, met pryse wat opgejaag word deur Sjina se groei en Indië se toenemende behoeftes. Die ontginning van dié minerale verg egter groot en langtermynbeleggings, wat ’n betreklik stabiele politieke omgewing veronderstel. Kortom, die tyd van vrybuitery kom tot ’n einde en die Suid-Afrikaanse mynbedryf (met heelwat nuwe swart kapitaliste) reken op sy beurt dat Wes-Afrika, en in die besonder die Katanga koperstreek, vir hom ’n natuurlike uitbreidingsgebied is. Internasionale drukgroepe fokus hulle aandag op die Kongolese oorloglustiges en hulle onderskeie bondgenote, en kom uiteindelik byeen in Sun City in Suid-Afrika waar hulle in 2003 ooreenkomste onderteken rakende die terugtrek van buitelandse weermagte, die land se hereniging en ’n oorgangstydperk van twee jaar, wat uiteindelik verleng word tot drie jaar om op 30 Junie 2006 tot ’n einde te kom. Vir die “internasionale gemeenskap” (met ander woorde die groot Westerse lande plus Suid-Afrika), sterk teenwoordig, gaan dit veral om die legitimering en stabilisering van die bewind ten einde die ekonomie en heropbou van die land aan die gang te kry. Vir die Kongolese bevolking, wat vir die eerste keer in 46 jaar die kans gegun word om in ’n werklik vrye verkiesing te stem, gaan dit veral daarom om weg te breek uit ’n stelsel wat die elite koöpteer ... Hoewel die wetgewende verkiesing en die eerste ronde van die presidentsverkiesing vir middel somer 2006 aangekondig word, begin die oorgang die land duur te staan kom. Talle verslae deur internasionale organisasies beklemtoon in watter mate die plundering van hulpbronne voortgesit is nadat vyandelikhede amptelik in 2003 tot ’n einde gekom het (5). Hierdie waarneming, hoewel dit toepaslik is, sien ’n ooglopende feit oor die hoof: ten spyte van die beginsels wat beaam is, was die Sun City-verdrae se grootste oogmerk nie om die bestuur van hulpbronne te demokratiseer nie, maar om ’n einde aan die oorlog te maak, buitelandse troepe aan te spoor om die gebied te verlaat, en dit moontlik te maak om die Mafia-agtige kringe wat oor die kort termyn werksaam is, met ekonomiese operateurs te vervang wat stabieler is, indien dan nie noodwendig minder kranig nie. Politieke logika moet nie met morele logika verwar word nie, en die Sun City-verdrag gee derhalwe voorrang aan die krygshere bo die “burgerlike gemeenskap” en die voormalige politieke klas. Tot die misnoeë van die bevolking, wat dit sien as ’n beloning vir dié wat skotvry daarvan afkom, word die formule “een plus vier” aanvaar: president Joseph Kabila, wat sy vader opvolg nadat dié in Januarie 2001 om die lewe gebring is, stem in om die mag te deel met vier visepresidente afkomstig uit rebellefaksies, die politieke opposisie en die burgerlike gemeenskap. So sien ’n mens dan hoe die visepresident Jean-Pierre Bemba, ’n voormalige sakeman wat deur VN-deskundiges daarvan beskuldig is dat hy die banke en die koffie-oeste van die Ewenaarstreek geplunder het, voorsitter word van die sogenaamde Ekonomie- en Finansieskommissie, terwyl die ander voormalige rebel, Azarias Ruberwa, wie se troepe in samewerking met die Rwandese weermag in die ooste van die land grootskaalse slagtings gepleeg het, aangestel word oor Verdediging en Veiligheid ... Die spoedige hereniging van die land toon hoeseer die oorlog van buite aangehits is en in hoeverre die gevoel van nasionale samehorigheid ’n werklikheid gebly het. Die sukses mag egter dalk net oppervlakkig wees. Elkeen hou sy beste magte in reserwe en die nuwe nasionale weermag se troepe, wat min of selde betaal word - aangesien die geld verduister word - buit dikwels die bevolking uit vir ’n bestaan. Om moontlike uitbarstings te voorkom, het die VN gevra en daarna toestemming gegee dat ’n Europese mag van 1 250 man die 17 500 VN-vredestroepe wat reeds ontplooi is, kom bystaan. Na die hereniging is die staat, wat weer terug op sy voete geplaas is, nou daarvoor verantwoordelik om ’n minimum fisieke en regsveiligheid vir beleggers in die mynsektor te verseker. Maar die staat, pas klaar met ’n oorlog en boonop deurspek met teenstrydighede, is ook aansienlik verswak en was tydens die oorgang nie sterk genoeg om die eensydige klousules wat deur die firmas afgedwing is, teen te staan nie. Die verkwanseling van natuurlike hulpbronne het dus nie saam met die oorlog tot ’n einde gekom nie; dit het bloot van gedaante verwissel. Lede van die Nasionale Vergadering – onverkose - is aangesê om ’n kode vir die mynbou op te stel, asook ’n bosboukode waarvan die uiters liberale bepalings deur die Wêreldbank voorgeskryf is, en wat wye speelruimte vir privaat belange laat en tegelyk die verpligtinge van laasgenoemde tot die minimum beperk. Dit is byvoorbeeld so dat die Wêreldbank die heropbou van Gecamines geloods het. Voordat die maatskappy broksgewys verkoop is, is 10 500 werkers afgedank teen ’n skadevergoeding van 1 900 tot 30 000 dollar. Maar hierdie bedrae is gebruik vir die afbetaling van skulde of deur korttermyn-uitgawes geabsorbeer. Hierdie werkers, voortaan ontneem van enige vorm van welsynsversekering, werk nou in die informele sektor waar die firmas beoog om hulle mettertyd met masjiene te vervang en slegs die minimum geskoolde werkers aan te stel. Die Kongolese staat het aansienlike belastingkortings aan verskeie semi-openbare maatskappye toegestaan, vir tydperke van 15 tot 30 jaar. Die meeste van hulle het in 2004 slegs 0,4 miljoen dollar aan belasting betaal... In die diamantsektor lyk sake nie veel beter nie: die MIBA is van 45% van sy bates ontneem ten bate van Sengamines, ’n Kongolees-Zimbabwiese semi-openbare maatskappy. Daarbenewens, hoewel die goedkeuring van die nuwe Grondwet in November 2005 deur 85% van die kiesers ’n prestasie was in hierdie land met sy gebrekkige paaie en kommunikasiemiddele, is dit ook ’n oorwinning vir al diesulkes wat die staat se bevoegdhede wil inkort: dit verdeel die land in 26 provinsies, en hulpbronne in ’n verhouding van 60% vir die owerhede in Kinshasa en 40% vir provinsiale owerhede. Dit beoog om hulpbronne te desentraliseer, maar die outonomie wat aan provinsiale regerings gegee is, hou die gevaar in dat dit korrupsie op plaaslike vlak kan laat toeneem. Sal die nuwe gesag, nou gelegitimeer en gerugsteun deur die volk se stem, die moed hê om van die duistere elemente in sy midde ontslae te raak en hom van die “internasionale gemeenskap” se raadgewery-in-eie-belang los te maak? Sal hy die durf hê om die mynooreenkomste te herbeding sodat die Kongolese volk, nadat hy sy stem op politieke terrein teruggekry het, uiteindelik – vir die eerste keer in sy geskiedenis – ook beheer oor sy rykdomme kan verkry?
_________ (1) Lees Françosi Misser en Olivier Vallée, “Les nouveaux acteurs du secteur minier africain”, Le Monde diplomatique, Mei 1998. (2) Lees Stefano Liberti, “Nasleep van die oorlog in Ituri: Strome van goud in die Kongo en Uganda”, Die Vrye Afrikaan, 16 Januarie 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=439 (3) VN deskundige verslag oor die onwettige ontginning van natuurlike bronne en ander rykdomme in die Demokratiese Republiek van die Kongo, no S2003/1027 van 23 Oktober 2003. (4) Lees VN Menseregtekomitee, “Waarnemings oor die toestand in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)”, 27 Maart 2006. www.fidh.org/article.php3?id_article=3230 (5) Lees byvoorbeeld die verslag The State vs. the People: governance, mining and the transitional regime in the DRC = L'Etat contre le Peuple: La gouvernance, l’exploitation minière et le régime transitoire en RDC, Nederlandse Instituut vir Suidelike Afrika (NIZA), Amsterdam, 2006, www.niza.nl |