|
||||
Danie Goosen
*Filosoof en Voorsitter van die FAK
Die FAK was die afgelope maande by verskeie gesprekke met ’n wye verskeidenheid van instansies oor die ganse spektrum van die Afrikaanse kultuurwêreld betrokke oor die saak van groter koördinasie. Die vraag tydens hierdie gesprekke was of daar nie ’n losse ‘forum van forums’ tot stand kan kom waardeur groter vorme van koördinasie tussen die veelheid van stemme onder ons mense bewerkstellig kan word nie. Kan daar te midde van die verskille onder ons as kultuur- en taalgemeenskap ook groter samehang geskep word? Alhoewel daar tydens genoemde gesprekke voorbehoude ten opsigte van die gedagte van groter formele koördinasie uitgespreek is, was die algemene gevoel dat die tyd vir sodanige samewerking inderdaad aangebreek het. Dié vrae kan inderdaad nie meer langer ontwyk word nie. As kultuur- en taalgemeenskap word ons vandag met dinge gekonfronteer wat slegs enkele jare gelede nog ondenkbaar was, soos die marginalisering van Afrikaans in die openbare lewe; die ongekende vloedgolf van geweld wat ’n verwoestende uitwerking op ons maatskaplike weefsel het en reeds duisende van ons mense daarvan oortuig het om hulle Afrika-wortels af te sny; die historiese feit (reg of verkeerd) dat regstellende aksie nog vir ’n onbepaalde tyd ons jongmense uit betrekkings gaan hou; ensovoorts. As gemeenskap kon ons tot relatief onlangs nog met oortuiging aanvoer dat groter samehang "nie nou nodig is nie." Prof. Francois Venter, voormalige voorsitter van die Afrikanerbond, het byvoorbeeld so onlangs as in Mei 2002 dié argument met groot oortuiging voor ’n groot byeenkoms van Afrikaanse organisasies in Bloemfontein gebruik. Intussen het die situasie egter drasties verander en is die rasionaal ten grondslag van dié argument besig om sienderoë voor ons weg te kalwe. Groter samewerking en koördinasie het ’n dwingende noodsaaklikheid geword. Dat ons hier met ’n enorme historiese uitdaging te doen het, spreek bykans vanself. Tot so onlangs as ’n dekade gelede was ons as kultuur- en taalgemeenskap partypolities in (agterna geoordeel) ’n vrugtelose burgertwis betrokke. Reste van dié uitgediende twiste vertroebel nog dikwels ons blik op dit wat nou van ons gevra word. Ons kan egter sowel dié twiste as die voortsetting daarvan vandag in allerlei nuwe vorme nie meer bekostig nie. Daarmee word glad nie gesê dat daar nie ook goeie redes bestaan waarom helder verskille en selfs snydende dialoë tussen ons nie ook dikwels noodsaaklik is nie. As verskille nie na vore kan tree en, bygesê, op demokratiese forums verwoord word nie, versink enige gemeenskap in ’n verstikkende eendersdenkendheid. En dit kan gevaarliker wees as enige van die vrae waarmee ons vandag gekonfronteer word. Nogtans kan die voorspraak vir demokratiese forums waarop ons skerp met mekaar kan verskil, nooit beteken dat daar nie ook tegelyk na wyses van koördinasie gesoek moet word nie. Sonder koördinasie val die noodsaaklike verskille vas in die dryfsand van versplintering en ontbinding. ’n Mens kan met groot oortuiging aanvoer dat ’n sekere minimum van samehang en koördinasie juis die voorwaarde daarvoor is om die verskille tussen ons mense as skeppende verskille te ervaar. Die vraag is egter ‘hoe’? Hoe kan ons as kultuurgemeenskap groter koördinasie met betrekking tot gemeenskaplike sake bewerkstellig? Hoe kan sodanige samewerking tussen die veelheid van forums in ons kultuur- en taalgemeenskap op ’n legitieme grondslag geplaas word? Ter wille van die gesprek oor hierdie belangrike saak, noem ons ’n enkele belangrike oogmerk van sodanige ‘forum van forums’ (of ‘gemeenskapsraad’). Ons verwys ook na die belangrikste voorwaarde waaraan dit behoort te voldoen; na die wyse waarop sodanige forum tot stand gebring kan word; en laastens enkele wyses waarop die forum van forums sy oogmerke kan verwesenlik. Ter wille van die gesprek word slegs in die mees algemene terme na hierdie sake verwys. Die oogmerk van ’n toekomstige ‘forum van forums’ is om met behulp van die uitgangspunte van die demokratiese tradisie en ’n beroep op universeel erkende beginsels in te tree vir die Afrikaanse taal en kultuur. Sonder die voorspraak vir ons taal en kultuur aan die hand van die demokratiese tradisie sal ons saak nie as legitiem ervaar word nie, maar as ’n poging om parogiale belange ten koste van andere in beskerming te neem. Die voorwaarde waaraan ’n ‘forum van forums’ moet voldoen, is dat dit so inklusief as moontlik moet wees. Die volle diversiteit van stemme wat hulself met die saak van Afrikaners as ’n unieke kultuur-historiese gemeenskap vereenselwig, behoort in beginsel daarin verwelkom te word. Sonder die demokratiese tuismaak van die veelheid van stemme in ’n forum van forums sal dit nie die demokratiese stempel van goedkeuring dra, en dus nie legitimiteit onder ons mense geniet nie. Die weg daarheen behoort op ’n neutrale wyse en so onafhanklik as moontlik van die veelheid van bestaande forums gelei te word. Om hierdie rede kan ’n onafhanklike persoon (moontlik ’n regter?) aan die stuur van die proses staan. Vanweë die historiese verdelings onder ons mense sal die totstandkoming van ’n forum van forums nie deur enige bestaande organisasie gelei kan word nie. Indien laasgenoemde inderdaad gebeur, sal die proses by voorbaat nie die nodige legitimiteit geniet nie. Alhoewel ’n moontlike forum van forums op verskillende wyses vir die Afrikaanse taal en kultuur kan intree, kan veral die volgende uitgesonder word: 1. ’n Forum van forums kan op ’n strategies sinvolle wyse vir ons mense by die regering van die dag intree. Vanaf die 1994-oorgang het die Afrikaanse wêreld op ’n veelheid van ongekoördineerde wyses sy saak teenoor die regering verwoord, dikwels sonder noemenswaardige sukses. ’n Toekomstige forum van forums kan op ’n strategies sinvoller wyse inhoud aan dié verhouding gee. 2. ’n Forum van forums kan die saak van die Afrikaanse wêreld internasionaliseer by wyse van bondgenootskappe met ander taal- en kultuurgemeenskappe. 3. ’n Forum van forums kan by die Kommissie vir die Bevordering van die Regte van Taal, Kultuur en Godsdiens registreer met die oog op die oordeelkundige gebruik van die instrumente wat dié Kommissie ingevolge Artikel 185 van die Grondwet aan die veelheid van gemeenskappe beskikbaar stel. |