|
||||
James Blignaut
*Deeltydse professor in ekonomie aan die Universiteit van Pretoria, direkteur van Jabenzi & Beatus, en geaffilieer by GreenGrowth Strategies, drie maatskappye wat daarna streef om landelike ontwikkeling in Suider-Afrika ’n werklikheid te maak.
Ek skryf hierdie opstel in Asawa, hoofstad van die streek Suidelike Nasies, Nasionaliteite en Volke, Ethiopië. Dit is ’n werksverwante reis. Baie werk en min pret – die gewone ou storie – maar dit is ’n ervaring wat herinneringe skep en wat gewis die moeite, tyd en koste werd is. Die doel van die besoek is om die beste manier te ondersoek om gelyktydig in sowel mense as die natuur te investeer, of, anders gestel, om in sowel mense- as natuurkapitaal te investeer. Ek is hier op uitnodiging van een van die projekleiers van ’n span van die Universiteit van Vermont in die VSA, en ons is die gaste van die Groen Awasa-projek, wat begin is en georganiseer word deur die Awasa-kindersentrum (’n MIV/vigs-weeshuis) en die Awasa-kinderkampus (wat gasheer vir ’n uitvoerendekunste-groep is). Die projek is die geesteskind van ’n teaterregisseur in die VSA, wat daarvan oortuig is dat kuns die beste manier is om ’n boodskap oor te dra en mense oor ’n vraagstuk op te voed. Die afgelope ses jaar het die sirkus vertonings saamgestel en aangebied wat hoofsaaklik op vigsbewustheid fokus. Nou het die tyd gekom om die omgewing en omgewingsagteruitgang aan te pak. Iets moet verander. Dit is nie goed genoeg om net te praat oor omgewingsdegradasie nie – iets moet gedoen word om ’n alternatief voor te hou. Maar is so ’n ingryping nodig? Awasa lê in die Groot Skeurvallei, omtrent 300 kilometer suid van Addis Abeba. Die reis van Addis af duur omtrent vyf uur. Hierdie hoofpad na Kenia is, in teenstelling met talle ander paaie in Afrika, nie vol slaggate nie. Dit is egter dig bevolk met en het ’n hoë konsentrasie van elke denkbare vervoermiddel van elke denkbare vorm en grootte, en dit is bitter moeilik om, behalwe vir kort entjies, ’n spoed van meer as 80 km/h te handhaaf. Slegs een generasie gelede sou ’n mens meestal deur ’n woud gery het, maar vandag is daar beswaarlik enige plantegroei oor, buiten enkele uitheemse bome soos Australiese bloekoms hier en daar. Veranderde grondgebruik, en dus omskakeling van woude na droëland-gewasproduksie, is aan die orde van die dag. Die grond is meestal baie sanderig en arm – die klein en halfverbleikte mielieplante met bykans blaarlose stamme verraai dié feit. Na gelang die grondproduktiwiteit afgeneem en bevolkingsdruk toegeneem het, is al hoe meer grond oorgeskakel na gewasverbouing, wat weer die ideale toestande skep vir ’n waaistofgebied. Groot stukke kaal en verskroeide grond, omring deur verarmde mense wie se grootste behoefte is om die volgende vis of voël te vang, ongeag hoe groot of klein dit is, begroet die reisiger – ’n sosio-ekologiese ramp. Al is ek net ’n toevallige waarnemer, het ek reeds Suider-Afrika deeglik deurkruis, en ek het nog nooit die negatiewe wisselwerking (of siklus) tussen armoede en omgewingsdegradasie so sterk gesien nie. Hierdie twee elemente versterk mekaar wedersyds – ’n bose, kwade kringloop – ’n vloek waarvan die uitwerking duidelik sigbaar is op die gesigte en in die lewensomstandighede van dié wat daardeur geraak word. Nog ’n toevallige waarneming, soortgelyk aan dié wat in verskeie Afrika-stede soos Maputo, Kampala, Lusaka en Lilongwe gemaak is, is die onvoltooide projekte wat laat vaar is: geboue wat begin, maar nie klaargemaak is nie; paaie wat gebou, maar nie voltooi is of in stand gehou word nie; projekte wat begin, maar gestaak is voordat hulle hul visie of potensiaal kon verwesenlik; sakeondernemings wat geopen is net om weer gesluit te word; en, baie droewig maar nogtans baie waar, gesinne wat begin is, maar aan hulle lot oorgelaat word. Ontwikkeling, lyk dit, is kwessie van begin-stop-begin, en mense is gevolglik besig – in werklikheid is hulle BAIE besig (die middedorp is telkens ’n miernes van bedrywigheid) – maar die mense bly arm, baie arm. Die les van die verhaal: Moenie begin wat jy nie kan klaarmaak nie. Maar hoe weet ’n mens wat jy sal kan klaarmaak en wat nie? Hoe dikwels is dit ’n geval van rondgewaai word deur die winde van verandering sonder enige weerstandsvermoë? Of is dit dat die mense so kwesbaar, so blootgestel, so desperaat is dat vasberadenheid voor opportunisme swig? En namate elke persoon maar weer ’n onderneming of projek begin wat maar weer onvoltooid en eenkant gelaat gaan word, word die kumulatiewe omgewings-, sielkundige, ekonomiese en estetiese uitwerking (die “voetspoor”) van die onvoltooide besighede al hoe groter, en word dit al hoe moeiliker vir die volgende persoon om met sy/haar projek te begin, wat weer die waarskynlikheid vergroot dat ook dié een nie voltooi nie en dus laat vaar gaan word. Die bose kringloop word al hoe erger. Die hindernisse in die pad van ontwikkeling word al hoe groter, en dit nogal terwyl die handelswêreld doodgelukkig elke dag al hoe meer verbruik. Sentraal te midde van dit alles staan die mense van Afrika egter. Ek wil graag die verhaal vertel van een van die mense wat ek hier ontmoet het. Kom ons noem hom sommer Jack. Jack se pa was Soedannees en sy ma Keniaans. In sy jongdae het hulle in Suid-Soedan gewoon. Sy pa, ’n boer, is gedwing om teen die regeringsmagte uit die noorde te gaan veg. Hy het sy pa nooit weer gesien nie. Hy was toe vyf. Vanweë die bomaanvalle deur die regeringsmagte moes hy en sy ma saam met sy broers, susters en ander mense na ’n vlugtelingkamp in Ethiopië vlug (1988); talle is op pad dood. Tydens die Ethiopiese burgeroorlog (1991) het die Ethiopiese leër die Soedannese vlugtelinge aangeval, en Jack moes weer vlug. Sy ma het na Uganda gevlug, maar hy het in Kenia beland. Daar het hy skool toe gegaan – ’n vlugteling en funksioneel ’n weeskind. Maar toe het daar hulp gekom. Hy en ’n paar duisend ander Soedannese vlugteling het ’n aanbod gekry om na die VSA te gaan (2001) om te studeer en so ’n nuwe lewe te begin. Tans is hy besig met ’n graad in omgewingstudie, en nou het hy saam met die span na die provinsie waar hy meer as 15 jaar gelede ’n vlugteling was, teruggekeer om te help om oplossings te vind vir die probleme waarvoor sy voormalige gasheer op die oomblik staan. Hoog op sy agenda is om ná 15 jaar van skeiding weer sy ma op te spoor. In die VSA het hy uitgevind waar sy haar bevind, maar nou is dit tyd om haar weer op te soek, en binne enkele weke sal hy dit hopelik regkry. Maar Jack is een van die “gelukkiges”. Hy hét nog ’n ma, hy het ’n uitstekende opvoeding gekry en oor twee maande sal hy ’n burger van die VSA wees. Daar is miljoene van sy portuurgroep wat hoegenaamd geen hoop op ’n beter toekoms het nie: ekonomiese en ekologiese vlugtelinge in hulle eie land. Dit bring my dan by my slot: Ontwikkeling is hoop. Sonder hoop is alle werk en inspanning tevergeefs. Hoop bring die vasberadenheid om jou te verset, om uit te hou en die taak ter hand te voltooi. Dit is die hoop op môre wat ons in staat sal stel om die onafgehandelde kwessie van Afrika se ontwikkeling af te handel. Al wat ons in Awasa kan doen, is om hoop te bring – en mag ons dit regkry om minstens hierdie een taak te voltooi. |