|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]
’n Handomkeer. Die nuwe houding van die Verenigde State teenoor Iran met betrekking tot die kerntwis, is ’n skouspelagtige ommekeer. Daar moet onthou word dat Amerikaanse hooggeplaastes skaars twee maande gelede nog daaraan gedink het om, as “moontlike opsie” (1), tot selektiewe aanvalle oor te gaan om vir Teheran – “een van die dryfkragte van wêreldwye terrorisme” volgens mnr. Donald Rumsfeld, Minister van Verdediging – te dwing om af te sien van sy kernprogram. Hierdie aanvalle het die aanwending van B61-11 anti-bunker-bomme met ’n kernplofkop veronderstel, en het veral die Natanz-kompleks bedreig wat 250 kilometer van Teheran geleë is en waar daar ’n uraanverrykingsaanleg bestaan. Volgens ’n hooggeplaaste by die Pentagon was die Withuis van mening dat “die enigste manier om die probleem op te los, gesetel is in ’n verandering in die Iranse gesagstruktuur. En dit beteken oorlog (2).” Dit was dus die situasie totdat dinge ewe skielik radikaal verander het. Tydens ’n vergadering op 1 Junie in Wene het die Ministers van Buitelandse sake van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad se vyf permanente lede (Verenigde State, Sjina, Frankryk, Verenigde Koninkryk, Rusland), sowel as Duitsland ’n dokument opgestel, met ’n versoenende aanslag en sonder dreigemente, wat met nuwe voorstelle vorendag kom om hierdie twis finaal te besleg. Voorstelle wat mnr. Javier Solana, hoë verteenwoordiger van die Europese Unie se buitelandse beleid, op 6 Junie in Teheran aan mnr. Ali Larijani, Sekretaris van die Opperste Raad vir Nasionale Sekuriteit en hoofonderhandelaar van Iran rakende hierdie kwessie, oorhandig het. Alhoewel die inhoud van die dokument nie openbaar gemaak is nie, is dit bekend dat die Ses hiermee Iran, wat die Nie-proliferasieverdrag vir Kernwapens (NPV) onderteken het, se reg op toegang tot burgerlike kernenergie erken en dat hulle hulself daartoe verbind om hom by te staan om ligte waterreaktors te bekom. Hulle bied ook aan om ’n einde te bring aan die ekonomiese embargo, om hom te voorsien van onderdele wat sy burgerlike lugvaart benodig, en hulle belowe om sy lidmaatskapsaansoek by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), wat Washington reeds negentien keer met sy veto teengestaan het, te ondersteun. Die ware toegewing is elders te vinde: die Amerikaanse regering, wat dusver geheel en al geweier het, stem in om by die onderhandelingstafel te kom aansit, langs die vyf ander groot moondhede, om direk met die Iraniërs te onderhandel. Die enigste voorwaarde: die opskorting van die uraanverrykingsprogram. Dit wil voorkom of Teheran op sy beurt ook staatmaak op die paaibeleid en hy het homself die tyd gegun om na te dink voordat hy ’n antwoord gee. Die eerste aanduidings is bemoedigend. Mnr. Ali Larijani het erken dat “daar positiewe stappe in hierdie voorstelle is”. En die Iranse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Manucher Mottari, wat nietemin erken dat sy land hom moet beywer om internasionale besorgdheid te verdryf, het ook op ’n optimistiese toon verklaar: “Dit is ’n stap vooruit. Verlede jaar het die Europeërs aan ons gesê: ‘Hier is ons plan, vat dit of los dit.’ Terwyl daar nou vir ons gesê word: ‘Hier is ’n voorstel, ons kan daaroor praat, dit bestudeer en daaroor onderhandel deur diplomatieke kanale.’ Dit is positief. Hulle erken dat dit onderhandelbaar is nadat ons dit bestudeer het. Die Verenigde State het ingestem om aan die onderhandelings deel te neem, en ons het hierdie besluit met genoeë ontvang (3).” Hoe kan hierdie Amerikaanse handomkeer verklaar word? Eerstens is dit Iran se onbetwisbare reg – ’n streeksmoondheid met 76 miljoen inwoners en belangrike verskaffer van olie wat daarvan bewus is dat die afname in olieproduksie onvermydelik is – om besorg te wees oor die toekoms van sy energie. En om op die tegnologie van burgerlike kernkrag staat te maak. Ten spyte van meer as 2 000 inspeksies sedert 2003 was die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA) nog nooit in staat om enige bewys te lewer dat die Islamitiese Republiek ’n militêre kernprogram volg nie – die enigste wat deur die NPV verbied word. Rusland en Sjina erken dat die Iraniërs ’n poging moet aanwend om ’n klimaat van vertroue te skep, maar verdedig Teheran se reg om oor burgerlike kernkrag te beskik. Hierdie twee state sou enige sanksies teen Iran teenstaan as hierdie vraag by die VN onder bespreking sou kom. Hulle het onlangs weer hulle solidariteit hernu tydens samesprekings van die Sjanghai Koöperatiewe Organisasie (SCO) wat in middel Junie in hierdie Sjinese stad gehou is. Ander oorwegings het sonder twyfel ook ’n rol gespeel. Byvoorbeeld, die mislukking van die besetting in Irak waar die pro-Iranse Sjiïete op paradoksale wyse Washington se beste bondgenote is; die Iranse dreigement om, sou hy aangeval word, die Straat van Ormuz, waardeur 20% van die wêreldproduksie van ru-olie vervoer word, met seemyne te bestrooi; Iran se voorneme om die betaling van olie- en gasuitvoere in Europese geld te vereis (lees Krassimir Petrov se voorbladartikel), nadat die grootste gedeelte van geldreserwes reeds in euro omgesit is, want Teheran is daarvan bewus dat die dollar tans die Verenigde State se Achilles-hiel is … Hoe dit ook al sy, voor die G-8 spitsberaad in Sint-Petersburg van 15 tot 17 Julie is dit in beide partye se belang om ’n kompromis te bereik. _________ 1. The Washington Post, 9 April 2006. 2. Seymour M. Hersh, “The Iran Plans”, The New Yorker, 17 April 2006. 3. El Pais, Madrid, 15 Junie 2006. |