blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Oor Neville Alexander se “Afrikaans in ´n veeltalige, multikulturele en nierassige konteks” (Die Vrye Afrikaan, 19 Mei, 2006) skryf Buks van Rensburg uit Toronto, Kanada 2006-07-19

Ek het Neville Alexander se bydrae as ingelig en interessant ervaar. Ek het veral die koue logika wat hy op die universiteitstaaldebat in die Wes-Kaap giet, baie geniet. Dit is in dié konteks jammer dat die “vanselfsprekende” waarna hy verwys, skynbaar ook hopeloos is. Die interessantste maatskaplike ontwikkeling in Suid-Afrika na 1994 is myns insiens die vinnige en voortgesette ondermyning van Afrikaans as ´n openbare, intellektuele, en onderwystaal. Die vraag wat dus ontleed moet word, is waarom die agteruitgang van Afrikaans in skole, in universiteite, en in die besigheidswêreld, en selfs op radio en televisie, skynbaar so onvermydelik en snel plaasvind. In dié opsig kan ´n antwoord gesoek word deur die situasie rakende tale en kulture in die Nuwe Suid-Afrika te vergelyk met ervaring elders. Daar bestaan lande waarin twee of meer tale floreer as amptelike tale, maar die algemene tendens in eenheidstate is die onverstoorde agteruitgang van die tale van minderheidsgroepe. Dit is net in state waar minderheidstale op federale wyse ondersteun word of was, dat agteruitgang nie plaasgevind het nie. In dié opsig kan mens verwys na die sukses van Frans in Kanada, of Vlaams in België, en in ´n breër konteks na die multikulturele en veeltalige voormalige kommunistiese state, onder meer die Sowjet-Unie en Joegoeslawië, wat federaal op linguistiese en etniese lyne georganiseerd was (dit was natuurlik nie apartheid nie!). In teenstelling met die bogenoemde, het minderheidstale in demokratiese eenheidstate ten gronde gegaan, of is hulle ten minste erg verwaarloos. Dit is veral die geval in die voormalige kolonies van Europese moonthede, maar ook in volwasse demokrasieë in Europa en in Asië. Dit is selfs die geval in Groot-Brittanje en in Spanje. Die Nuwe Suid-Afrika is georganiseer as ´n sterk eenheidstaat met minder grondwetlike regte vir minderhede as wat die Skotte of Baske geniet, wat ten minste geografies gekonsentreerd is in hulle lande. Die onvermydelike gevolg van dié feit is dat Afrikaans, ten spyte van die waarborge wat die huidige regeerders gee, waarskynlik dieselfde afskaling en aftakeling ervaar as wat Gallies en Wallies in Brittanje oorgekom het. Dit is moeilik om die slotsom verkeerd te bewys. Dit is waarskynlik onpopulêr om te beweer dat Afrikaans die slagoffer is van die soort grondwetlike bedeling wat die ANC en die Nasionale Party in 1994 onderhandel het. Maar myns insiens is dit ook die korrekte en grondliggende rede vir Afrikaans se ondergang. ´n Federale grondwet, wat die bestaan van diverse populasies binne Suid-Afrika se grense sou erken, sou waarskynlik, soos die voormalige Joegoeslawië, ´n meer bestendige omgewing geskep het vir die behoud van taal en kultuur onder Afrikaners, Zoeloes, en dies meer. So ´n staat sou waarskynlik ook minder “gelyk” wees, omdat dit kultuurverskille dan tot op regeringsvlak verhef, wat in die konteks van die voormalige apartheidsbeleid dan ook onaanvaarbaar vir die ANC sou wees (dit is egter aanvaarbaar in België en was aanvaarbaar in Joegoeslawië). Wat is die gevolgtrekkings? Eerstens, dat die organisasie van Suid Afrika as ´n eenheidstaat met ´n sterk sentrale regering skynbaar onvermydelik was gegewe die geskiedenis van die land sedert 1910. (Die geskiedenis van Suid-Afrika tot in 1910 rasionaliseer egter ‘n federale stelsel as die mees geskikte regeringsvorm vir die land). Tweedens, dat regerings in eenheidstate nog nêrens die kultuur en veral tale van minderhede gerespekteer het nie. Trouens, dit is die geval dat selfs federale state soos Australië en die VSA nie minderheidstale erken of bevorder nie (selfs nie in die huidige betreklik gunstige ekonomiese toestande nie). Net in spesiale soorte federale state is minderheidstale en -kulture bevorder, en dan weens spesiale geografiese of historiese omstandighede, soos byvoorbeeld Frans in Kanada of die tale van die voormalige Joegoeslawië. Derdens, dat die “nasiebou”-projek in Suid-Afrika ten doel het die langtermynversmelting van Suid-Afrika se verskeidenheid mense om ´n Nuwe Suid-Afrikaner te definieer. Dit verg die onvermydelike verandering van Afrikaner, Zoeloe, en dies meer, in ´n universele Suid-Afrikaner wat waarskynlik Engelssprekend gaan wees. Dit is ongelukkig ´n feit dat ´n geïntegreerde ekonomie en sosiale kultuur altyd eentalig is, behalwe as regeringsregulasies dit anders verg. In dié opsig kan mens Suid-Afrika met die historiese VSA vergelyk, waar menige eens wydverspreide tale (Duits, Spaans, Frans, inheemse tale) die slagoffers is van die ontwikkeling van ´n “etniese Amerikaner” wat eentalig Engels praat. Vierdens en laastens wil ek opmerk dat die behoud van die enkele minderheidstale in demokrasieë net gebeur het as gevolg van die radikale en soms ongeskikte houding van taalaktiviste. Frans-Kanadese en Vlaminge is byvoorbeeld bekend vir hulle radikale politiek van selfbehoud, en hulle het nooit geskroom om op tone te trap nie. Gegewe die toestande en organisasie van Suid-Afrika sedert 1994, is dit vir my vanselfsprekend dat Afrikaans net tot in die volgende geslag gaan oorleef as ten beste ´n kombuistaal. Daarna sal die taal waarskynlik vinnig kwyn, as Suid-Afrika bly voortbestaan as ´n eenheidstaat. Mens kan die feit verstaan deur die demografie van Afrikaans se sprekers te ondersoek. Die demografie van die taal is nie net erg deur emigrasie geknou nie, maar ook deur die volgehoue politieke druk op Afrikaanse instellings. Die druk het die kultuurspasie van die taal se sprekers vernietig, en die taal erg in die openbare sfeer geknou. Dit is trouens duidelik dat net ´n radikale verandering in hierdie feite en toestande Afrikaans van sy ondergang sal red. Laastens moet ek van Alexander se finale sin verskil. Hy skryf naamlik dat “’n regverdige saak kan nooit verslaan word nie.” Dit is ongelukkig nie waar nie. Maar daar is mos altyd hoop, dan nie?

 

­- Inderdaad is daar. Gelukkig is die geskiedenis die terrein van die onverwagse eerder as die voorspelbare, ten spyte van wat die bestuurders van ons era beweer – Red. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=623
Artikel nagegaan:
    -