|
||||
By betragting van die Afrikaner en sy politieke lojaliteite sou dit miskien wys wees om uit die staanspoor te erken dat dié volk vir al sy gedeelde oortuigings, ervaringe, geskiedenis en mylpale – beide dit waaroor hy vandag sy kop saam met dié van landsgenote hoog kan hou, en dit waaroor hy op sy knieë moet gaan – en ten spyte van sy vele pogings, homself nog baie min suksesvol as ‘n politiese monoliet kon voordoen. As sodanig is daar nie te veel wat die Afrikaner van vandag behoort te onderskei van sy landgenote wanneer dit kom by hoe en hoekom hy kies watter politieke party hy wil ondersteun nie. Ja, dit kwel dat dié ooreenkomste steeds nie ver genoeg strek om die sterk apartheidbabalaas by die stembusse te verlig nie. Die feit dat Afrikaners landswyd hulself vereenselwig met ‘n moderne, progressiewe politieke party wat glo dat Suid-Afrika vir ál sy burgers moet werk, dat Afrikaners hulself in steeds talryker massas na die Demokratiese Alliansie wend, is egter skaars kwalifiseerbaar as ‘n “toenemend onontwykende” vraag soos voorgehou deur Carel (iv) Boshoff. Hoekom dié verskynsel in die eerste plek steeds bevraagteken word, gaan meeste van óns breë kerk se mense natuurlik heeltemal verby. Wat sou die alternatiewe dan wees? Moet ons ‘n pad voorstaan waar elke enkele groepering in Suid-Afrika vir die doel van deelname op die primêre politieke vlak – menende die politiek van verkiesings, die wetgewer en die regering – hulself streng laer rondom nougesette kultuur-, kultus- of geloofsbelange? Sal so ‘n benadering vir die gemiddelde individu of belangegroepering in ‘n hoogs belange-gediversifiseerde land soos Suid-Afrika deug? Sal dit dié belangegroepe goed genoeg van toegang kan verseker tot die nodige politieke hefbome om sake van breër gemeenskaplike belang regverdig te beïnvloed tot die redelike voordeel en bevrediging van die gemiddelde Suid-Afrikaner? Is daar hoop vir die Afrikaner wat haar- of homself op primêre politieke vlak – afgerond al dan nie, en so eietyds soos dit enigsins geag kan word – deur ‘n etniese appèl laat verlei? Die antwoord is duidelik nee, nee en weer nee! As ‘n kultuur- en geloofsinklusiewe organisasie wat homself primêr as ‘n politieke party ag is ‘n groot deel van die DA se werk kommunikasie: kommunikasie met ons ondersteuners, kommunikasie met die groter kieserskorps, kommunikasie met ander politieke partye en kommunikasie met die regering. Ons doen dit ook nie net gedurende verkiesings nie. Dus, waar daar deur Boshoff geïmpliseer word dat Tony Leon slegs Afrikaans praat in ruil vir ondersteuning by die stembus moet dit net so belaglik geag word soos om te sê dat Joe Seremane en Motlatjo Thetjeng vir dieselfde rede slegs by geleentheid nie Engels praat nie; dat Helen Zille isiXhosa slegs vlot kan praat omdat sy ‘n obsessie ontwikkel het met mag; of dat Sherry Chen nie die hele tyd Mandaryns praat nie omdat sy bang is dat sy haar werk gaan verloor. |