blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Prof. Koos Pauw reageer op ons kommentaar oor kerkhereniging, met reaksie van ons redakteur 2004-10-29

Ook in reaksie op ons kommentaar oor kerkhereniging, skryf prof. Koos Pauw op Donderdag 28 Oktober 2004:

Die NG Kerk is net soos die Springbokrugbyspan. Elkeen voel hom vry om iets daaroor te sê te hê, al weet hy niks van rugby nie. Die NG Kerk is ook soos die Bybel. Elkeen voel haar vry om haar vir enige argument of saak in te span, al het sy dit nog nie regtig gelees nie.

Die Vrye Afrikaan se kommentaar van verlede week oor kerkhereniging spreek gelukkig van insig oor die NG Kerk en die pasafgelope Algemene Sinode. Die gees en intensies van die kerkleierskap word oor die algemeen goed verwoord. Julle klink positief oor godsdiens - wat goed is vir die werksvooruitsigte van godsdienswerkers soos dominees en teologiese professore. Die trant is ook taamlik kerklik. Julle gebruik woorde soos ‘weg’ (dis nou pad); ‘kerkwees’; ‘uiters (sic!) sinvol’; ‘erbarming’; ‘sowel die vertroostende as die profetiese’. Dit is ook ‘n riem onder die hart dat julle die wil van die moderator tot kerkeenheid raaksien. Julle bekommernis oor kerkskeuring is aandoenlik.

Ongelukkig is die analise oppervlakkig. Die hoofrede is dat julle taboe-onderwerpe wat spesifiek op kerkeenheid betrekking het, nie in spel bring nie. God en die Bybel word nie genoem nie.

Ek wil egter eers begin met die bewering oor politieke inmenging. Om te sê dat Afrikaners hulle tot dusver sonder politieke inmenging in die NG Kerk kon uitleef, sou dui op ‘n radikale bekering na 1994. Ek dink nie dit het gebeur nie. Daar is tans weer druk vanuit sekere kringe in die kerk om nie bloot die huidige magsbestel te aanvaar nie, maar om dit tewens intiem te omhels. Die tegnieke bly gedeeltelik dieselfde: a) die oprakeling van skuldgevoelens en ander emosies, en b) die fundamentalistiese aanwending van Bybelgedeeltes (byvoorbeeld Jeremia 29 en Eksodus 3). Daar is egter ‘n nuwe moment wat ons nie so baie in die tyd van die Apartheidsteologie gehad het nie, naamlik, c) plegtige oomblikke en liturgiese handelinge. (Kultureel strook dit met die Kerk wat haar aanpas in die videosfeer. Dit strook nie met die ou gereformeerde afkeer van seremonie nie. Gereformeerdes hou nie van te veel seremonie nie, omdat dit ‘n grens stel tussen sakraal en profaan waaraan ons nie glo nie. Gereformeerdes sien die alledaagse as speelveld van die geloof en wantrou die skep van ‘n sakrale ruimte as turf van godsdienswerkers; want die skep van ‘n grens hou nie net die profane uit die sakrale nie, maar hou ook die sakrale uit die alledaagse. Dit net terloops.)

Die teologiese basis van politieke beïnvloeding bly presies dieselfde: God het ons hier met ‘n doel geplaas; ons het ‘n spesiale roeping in Afrika. Hierdie teologie is goed en reg. Maar in ‘n mengeldrankie met die NG Kerk as middelklasinstelling se inherente sosiale konformisme, tradisionele verliefdheid op maghebbers en respek vir ryk mense, kan dit ‘n bewelmende konkoksie word, die opium vir die Afrikanerbourgeoisie wat sy taak so eng binne die bestaande orde sien dat enige weerstand of kritiek vir hom verraad word. Dan word die NG Kerk ‘n gemeenskapsinstelling wat teen die belange van sy gemeenskap werk. As Die Vrye Afrikaan dan die NG Kerk wil misbruik vir die politieke bemagtiging van Afrikaners, sal dit dalk beter wees as julle die andersdenkende mosterdsaad in die geledere van die kerk stimuleer, eerder as om die konformistiese meerderheid met hulle gleichgeschaltete leierskorps ‘n write-up te gee.

Julle laat die NG Kerk ook verstaan dat sy soos enige kerk as gemeenskapsinstelling ‘n funksie van haar gemeenskap is. As veralgemening kan dit ook nie waar wees nie, want die kerk onstaan oorspronklik onder gemarginaliseerdes: onder Galiliërs, slawe, geringes en lede van ‘n diaspora. Moltmann wys daarop dat Jesus deur die godsdienstige leiers van sy tyd veroordeel en deur die politieke leiers tereggestel is. Aanvanklik is Sy Kerk ook vervolg deur die bestaande orde, die wêreldheersers van daardie eeu. Hoe reageer die kerk? Deur gemeenskapsprojekte te loods? Deur nuttig in die samelewing te wees? Deur hulle plek as gemarginaliseerdes te ken? Ja wragtag, hulle plek reg in die sentrum van kosmos. Deur die bladsye van die Nuwe Testament word Jesus en Sy Kerk met kosmologiese betekenis beklee. Jesus was nie ‘n nice ou wat miskien soos Dozi gelyk het soos Koos Kombuis hom in die jongste Kerkbode noem nie. Jesus is Heer van die kosmos en Hoof van sy Kerk, en dit is dieselfde ding. Sy opstanding word deur die vroeë kerk as ‘n versoenende daad van God met kosmologiese betekenis gesien. Die werk van die kerk is om dit te bemiddel - miskien iets meer ambisieus as wat die NG Kerk in gedagte het. Ek weet ons kan hierdie goed nie regtig meer binne ‘n natuurwetenskaplik gedomineerde kosmologie glo nie; ek hoop nogtans van harte dat dit alles waar is.

Wat die NG Kerk in haar besluite in ag moet neem, is dat dit hierdie soort hoop en die belewenis van die transendente is wat mense kerk toe laat gaan. Die kerk en die premoderne/moderne idee van die Absolute gaan hand aan hand. Die bloed van die martelare is die saad van die kerk. As die kerk haar nie besig hou met dit waarvoor jy bereid is om te sterf nie, moet sy verstaan as haar lidmate haar as ‘n klub beskou wat die wense van sy lede moet uitvoer. Die idee van kerk as ‘n organisasie van godsdienswerkers en hulle borge (die lidmate) wat gelei moet word binne die grense van dit wat haalbaar is, het die debat oor kerkhereniging by die Sinode gestuur: Politics, the art of the possible. Hierteenoor sou ‘n mens wou sê: Faith, the art of the impossible.

Wat mense juis by die charismatiese kerke kry, is getuienisse van God se ingrepe in mense se lewens. (Kyk Johann Rossouw se artikel in Die Vrye Afrikaan van 1 Oktober 2004.) Dit maak dit maklik om God se ingryp in die kosmos te aanvaar. As julle die NG Kerk tot ‘n blote gemeenskapsinstelling wil reduseer en julle word geglo, is dit juis die dood in die pot, gegewe die swak magsposisie van haar gemeenskap. My punt is dat kerkwees met geloof in die Onsienlike te doen het. Of daar nou rede is om in God te glo of nie, en of julle in God glo of nie, doen geen afbreuk aan hierdie stelling nie.

Dit bring my by kerkhereniging. Kerkhereniging is nie ‘n organisatoriese (so dink die Sinode) of politieke (so dink Die Vrye Afrikaan) aangeleentheid nie. Dit is ‘n transendente of ten minste kosmologiese aangeleentheid. Die basis van kerkhereniging kan nooit die NG Kerk se taak in hierdie stupid ou plekkie wees nie. Die basis van kerkhereniging is die uitverkiesing van swart en wit lidmate tot broers en susters voor die grondlegging van die wêreld.

Oeps! Nog ‘n onwelvoeglikheid is die wêreld ingestuur.

Ons redakteur antwoord:

1. Prof. Pauw beskuldig Die Vrye Afrikaan dat ons “God en die Bybel” as “taboe-onderwerpe” hanteer in ons kommentaar. Dit staan prof. Pauw vry om aanspraak op insig in Die Vrye Afrikaan se motiewe oor onderwerpe soos God en die Bybel te maak, maar die eintlike rede waarom ons hierdie onderwerpe buite die gesprek laat, is ietwat meer prosaïes as ‘n nuwe taboeskepping, naamlik dat ons ons nie aanmatig om namens God te praat nie, en dat ons ons ook nie as teoloë uitgee nie. Dit is bloot ‘n geval van skoenmaker hou jou by jou lees. Hiermee is God en die Bybel beslis nie onwelkome onderwerpe in Die Vrye Afrikaan nie, inteendeel: ons verkies net om dit aan gelowiges of teoloë van watter geloofsverband ook al oor te laat om hulle daaroor uit te spreek.

2. Prof. Pauw lê ons dit in die mond dat ons sou gesê het “ dat Afrikaners hulle tot dusver sonder politieke inmenging in die NG Kerk kon uitleef”. Dit staan nêrens in ons kommentaar en is ook nie geïmpliseer nie. Wat ons wel gesê het, is dat die druk tot kerkhereniging veral toe te skryf is aan die heersende politieke klimaat in die land, waar kerkhereniging in sommige gevalle gelykgestel kan word aan die kerklike weergawe van die politieke eis om transformasie, en dat wanneer kerkhereniging tot ‘n banale politieke aangeleentheid verval dit nie noodwendig meer oor die kerk self gaan nie (om van die transendente maar te swyg). Juis daarom het ons ook gesê dat kerkhereniging beslis nie die lakmoestoets van kerkwees is nie. Om dan nog ons kommentaar as ‘n “write-up” vir die huidige kerkleierskap te vertolk, is, op die meeste, kleurryk en, op die minste, kostelik. Ook hier staan dit prof. Pauw vry om kerkhereniging met die transendente te verbind, maar uitsprake oor die transendente lê nie in hierdie sin op die weg van Die Vrye Afrikaan nie.

3. Dieselfde kleurryke vertolking word deur prof. Pauw gehandhaaf wanneer hy ons daarvan beskuldig dat ons die kerk tot gemeenskapsinstelling reduseer. Ons het in werklikheid daarop gesinspeel dat die kerk ook (maar nie uitsluitlik nie) ‘n gemeenskapsinstelling is, aangesien Die Vrye Afrikaan instellings soos die kerk se relevansie juis en veral in hul gemeenskapsinstitusionele kwaliteit sien. Dit staan hoegenaamd nie in spanning met die transendente, kosmiese, teologiese, ekonomiese of watter ander kwaliteite ook al van die kerk nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=47
Artikel nagegaan:
    -