|
||||
In reaksie op prof. Van Wyk se brief, skryf dr. Johan van Zyl, voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria: Ek stem saam met prof. Andreas van Wyk se stelling in sy onlangse skrywe aan Die Vrye Afrikaan oor Afrikaanse universiteite dat straatlegendes se nekke omgedraai moet word, voor hulle as waarhede gevestig raak. Dit is egter ook wat moet gebeur met dele van die professor se skrywe, en ook met dele van die redakteur van Die Vrye Afrikaan se kommentaar daarop. Ek vind prof. Van Wyk se siening oor Tukkies se standpunte eensydig en ‘ n verdraaiing van die feite. Al vyf Afrikaanstalige universiteite het verskillende benaderings gehad om die werklikhede te bestuur. Prof. van Wyk se standpunt namens Stellenbosch is volgens hom welbekend en dit is dus nie nodig om daarop uit te brei nie. Ek dink egter dat die ander se destydse benaderings, gegewe hulle besondere omstandighede, verdere toeligting verdien en ek gee graag die posisie van Tukkies hieronder. Tukkies se siening was dat markkragte (as die woord “ markkragte ” vir u ‘ n steen des aanstoots is, kan u die woord “ realiteit ” gebruik) vereis dat Tukkies beide Afrikaans en Engels as onderrigtale gebruik. Dit was verder die standpunt van die Raad en Senaat van die Universiteit dat Afrikaans en Engels gelyke status op die kampus behoort te geniet en dat die Universiteit meertaligheid en studente se algemene taalvaardigheid aktief wou bevorder. Die universiteitsgemeenskap was nie daarvoor te vinde dat enige groep studente ontuis moes voel op die kampus op grond van die taal wat hulle praat nie. (In dié verband is dit nie moontlik om die taaldebat los te maak van die geskiedenis van ons land nie.) Dit was verder die Raad en Senaat se siening dat die produk wat Tukkies bied vir alle Suid-Afrikaners toeganklik moes wees. Daarvoor maak ek geen verskoning nie. Ander universiteite het ander strategieë gevolg. Die onvoorwaardelike verbintenis van die Vrystaatse Universiteit tot parallelmediumonderrig op alle vlakke was nie vir Tukkies ‘ n opsie nie (alhoewel ons dit graag sou wou doen as ons kon). Die Fakulteit Veeartsenykunde, die enigste in die land, het reeds Engels as voertaal gehad. Van die ongeveer 6 000 modules wat by Tukkies aangebied word, het meer as 2 000 tien en minder studente per module gehad. (Dit het die aanbieding van alle vakke in beide Engels en Afrikaans net nie moontlik gemaak nie.) Verskillende strategieë moes dus gebruik word vir verskillende programme: In sommiges kon parallelle onderrig gebruik word, in ander weer dubbelmediumonderrig, in sommiges net Engels, in ander net Afrikaans, ens.) Netso was die benadering van die PU vir CHO, wat verbind was tot Afrikaans op die Potchefstroom-kampus, met groter klem op diversiteit in die Vaaldriehoek, ook nie haalbaar op die Tukkie-kampus nie. Die benadering van die RAU om Engelstalige studente veral na-ure te akkommodeer was vir Tukkies problematies. Die punt is dat elke Afrikaanstalige universiteit, gegewe die besondere omstandighede, ‘ n strategie in plek gehad het om Afrikaans te beskerm en te koester. En anders as wat prof. Van Wyk wil beweer, was daar eenstemmigheid onder die rektore by die gesprek waarna hy verwys, naamlik dat niemand bereid was om Afrikaans prys te gee nie en dat almal hulle verbind het om Afrikaans as voertaal te beskerm. Die verskille in opinies het daaroor gegaan dat elkeen dit op ‘ n wyse wou doen wat die beste by die besondere omstandighede van die betrokke instelling sou inpas. Nie een van die benaderings, insluitende dié van Stellenbosch, was natuurlik sonder probleme nie. Juis hierin lê die onenigheid. Maar almal wou Afrikaans koester, elkeen op sy manier. Enige ander motief wat prof. Van Wyk hier aan my of aan enige ander persoon wil toedig, is gebaseer op sy eie afleidings of moedswilligheid. Dit is nie op enige feite gegrond nie. Spesifiek die opmerkings van prof. Van Wyk waarna die redakteur van Die Vrye Afrikaan in sy kommentaar verwys as “ politieke dienstigheid, is prof. Van Wyk se eie versinsel. Ek sou graag wil voorstel dat Die Vrye Afrikaan die taalbeleid van Tukkies, goedgekeur deur beide die Raad en Senaat, (en waarmee ek heelhartig saamgestem het) verder ontleed. Afrikaans is saam met Engels as voertaal erken, terwyl die beskerming, ontwikkeling en uitbou van albei tale ‘ n sentrale plek ingeneem het. Om hierdie rede kon ekself, namens Tukkies, nie vir lief neem met die voorstelle van die Gerwel-komitee nie. Tukkies was nie bereid om Afrikaans prys te gee nie – ook nie weens die sogenaamde “ realiteite ” noord van die Oranje waarna die professor verwys nie. En hieroor is prof. Van Wyk klaarblyklik ontsteld, om redes wat hy liefs verswyg. Terloops, daar was nie net twee persone by hierdie gesprekke betrokke nie. Dit mag tog loon om die sienings van die ander drie voormalige rektore hieroor te kry. Dit is dalk al manier om die straatlegendes wat nog deurentyd geskep word, behoorlik en vinnig nek om te draai. Met die aftredes en uittredes van die vyf rektore waarna verwys word, was daar weer eenstemmigheid oor Afrikaans se plek in die die vyf Afrikaanstalige universiteite. Dit word duidelik in hul verklaring van 28 September 2002 uitgespel, naamlik dat al vyf Afrikaanse universiteite hulle individueel en gesamentlik verbind om Afrikaans as universiteitstaal te behou en te bevorder. Dit kan nie net die verantwoordelikheid van ‘ n enkele instelling wees nie. Dalk kan ek net een en ander oor die huidige posisie van Afrikaans aan ons universiteite sê. Om ‘ n universiteit in meerdere tale te bedryf is ‘ n baie duur onderneming. Of u dit nou wil weet of nie: Universiteite kan net doen wat hulle kan bekostig. Daarom is dit belangrik dat die staat sal moet aandui hoe ons die bevordering van meertaligheid in ons skole en universiteite gaan befonds. Ek is verder van mening dat daar meriete is in die standpunte van prof. Chris Brink wat hy in sy openingstoespraak gestel het tydens die afgelope Taalberaad in Stellenbosch – spesifiek die idees rondom die “ koalisie van gewilliges (kyk http://www.litnet.co.za). Ek glo steeds dat Tukkies se strategie die korrekte strategie is. In die jare wat kom, sal die land die vrugte van hierdie beleid pluk as swart en wit, Afrikaans- en Engelssprekende studente van die Universiteit saam hulle plek in die Suid-Afrikaanse samelewing inneem as alumni van ‘ n universiteit wat dit reggekry het om die oorgang van die oue na die nuwe met groot sukses te bewerkstellig. Ek is trots om deel hiervan te kon wees, veral omdat Afrikaans steeds ‘ n sentrale plek hier het. Ons redakteur antwoord: 1. Soos prof. Van Wyk se brief, verwelkom Die Vrye Afrikaan ook dr. Van Zyl se brief en die bydrae wat dit probeer lewer om “straatlegendes” nek om te draai, straatlegendes waartoe die destydse gebrek aan kommunikasie met die Afrikaanse wêreld in verband met gesprekke tussen die regering, die Gerwel-komitee en die Afrikaanse universiteitsbesture ongetwyfeld ruimskoots bygedra het. As die betrokke rolspelers destyds die deursigtigheid en verantwoordbaarheid waaroor so hoog in ons demokrasie opgegee word, beoefen het – veral teenoor hulle eie gemeenskap – was heelwat onnodige spanning en verskille ongetwyfeld voorkom. 2. Dr. van Zyl skryf: “Tukkies se siening was dat markkragte (as die woord “ markkragte ” vir u ‘ n steen des aanstoots is, kan u die woord “ realiteit ” gebruik) vereis dat Tukkies beide Afrikaans en Engels as onderrigtale gebruik.” Daar kan geen twyfel wees oor die dilemma waarvoor die markkragte waarna dr. Van Zyl verwys histories Afrikaanse universiteite vandag plaas nie. Die woord ‘markkragte’ is gewis nie vir ons ‘n “steen des aanstoots” nie, maar wat wel ‘n steen des aanstoots is, is wanneer markkragte sonder meer met “realiteit” gelykgestel word, of wanneer ander kragte, soos byvoorbeeld politieke sentralisme, as markkragte of realiteit voorgehou word. Om die waarheid te sê, kan dit aangevoer word dat die praktiese voorkeur vir Engels as onderrigtaal in kombinasie met die huidige staatsentralistiese neiging om universiteite se outonomie weg te kalwe (soos prof. Jonathan Jansen onlangs aangetoon het in die T.B. Davie-gedenklesing) nie net die grootste bedreiging vir Afrikaans in die universiteitswese is nie, maar ook vir universiteite as instellings wat kritiese burgers opvoed (kyk prof. Bert Olivier van UPE se artikel hieroor in Die Vrye Afrikaan van 1 Oktober 2004) 3. Wat Tukkies se huidige of vorige bestuur se verbintenis tot Afrikaans betref, is die vraag nie of die verbintenis daar is of was nie, maar of Afrikaans wel gehandhaaf word. Na die beste van ons wete is geen behoorlike ondersoek hieroor tot dusver onder die vorige of die huidige rektor van Tukkies gedoen nie, en tot dit nie gedoen is nie, kan daar kwalik geoordeel word of die verbintenis tot Afrikaans ook in die werklikheid neerslag vind. Intussen is die tekens waarop ‘n mens jou moet verlaat geensins bemoedigend nie. Hierdie tekens sluit in dr. Van Zyl se eie verwysing na die verengelsing van kursusse en ‘n fakulteit aan Tukkies; die alombekende styging in die getal studente wat Engelse onderrig verkies of eis; die onlangse versoekskrif oor Afrikaans deur Afrikaanse Tukkiestudente; en, les bes, die huidige registrateur van Tukkies, prof. Niek Grové, se stelling dat “ te veel van die huidige beleidsdokumente én wette soos die Grondwet en Skolewet se uitgangspunt oor taal en die bevordering van die amptelike inheemse tale (dit sluit Afrikaans in), statutêre mooipratery is.” (Kampus-Beeld, 18/8/2004). In ‘n berig van Rapport (3/10/2004) verklaar prof. Grové: "Die staat en die onderwysgemeenskap sal baie dringend aandag moet gee aan die wyse waarop die bevordering van meertaligheid in die onderwyskonteks gefinansier gaan word. Suid-Afrika het elf amptelike tale. As ons dit só beskou, dan moet ons erns daarmee maak, veral op onderwysvlak." Waar daar ‘n rokie trek, is daar ‘n vuurtjie, en prof. Grové se uitspraak kom bykans neer op ‘n erkenning dat Tukkies se taalbeleid nie volhoubaar is sonder staatsondersteuning nie, wat ons weer terugbring by die politiek van die dag, wat net so deel van die “realiteit” is as markkragte. 4. Dit is goed dat die debat oor Afrikaanse universiteite met nuwe openheid gevoer word, en dit is te verstane dat skerp verskille ook sal voorkom. As alles met Afrikaans aan ons universiteite voor die wind gegaan het, sou die debat ook nie weer kop uitgesteek het nie. By vorige geleenthede het minstens Afrikaanse intellektuele en universiteitsbesture mekaar dikwels eerder die stryd aangesê as om saam na ‘n volhoubare oplossing te soek en met ‘n verenigde front na die regering te gaan. Juis dít is wat nou nodiger as ooit is: in prof. Chris Brink van die Universiteit Stellenbosch se woorde “’n koalisie van gewilliges”, maar dan ook met die nodige politieke insig en wil om die regering as gelyke vennote te ontmoet ten einde ‘n gepaste skikking te bereik. |