blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Universiteit Stellenbosch en Bram Fischer: 'n Standpunt deur Johann Rossouw 2004-10-29

Die eredoktorsgraad in die Wysbegeerte wat later vanjaar postuum aan Bram Fischer deur die Universiteit van Stellenbosch toegeken gaan word, het 'n debat ontketen wat die afgelope weke heftig woed, veral in die blaaie van Die Burger. Dit is 'n hoogs emosionele saak en as ons enigsins 'n verantwoorde, saaklike standpunt daaroor wil ontwikkel, is dit goed om eers die feite onder oë te sien, enersyds betreffende die motivering van die toekenning van die eregraad en, andersyds, betreffende Fischer self.

Wat die motivering betref: Fischer is vir die graad genomineer deur Yvonne Malan, doktorale student in die Wysbegeerte aan die Universiteit van Stellenbosch. Die motivering wat Malan vir die toekenning geskryf het, is 'n dokument van 1471 woorde (sowat 4 bladsye), waarvan alles behalwe die laaste paragraaf van 94 woorde hoofsaaklik 'n oorsig en vertolking van Fischer se lewe is, en wat wesenlik nie veel verskil van die artikel oor Fischer wat Malan op Vrydag 24 September 2004 in Die Burger gepubliseer het nie.

Slegs die laaste paragraaf is in feite 'n motivering vir die toekenning, en die argumente wat hier aangevoer word, is dat die Universiteit Stellenbosch in 'n unieke posisie is om as eerste Suid-Afrikaanse universiteit 'n eregraad aan hom toe te ken; dat Fischer baie van die ideale waartoe die Universiteit verbind is vergestalt het, en dat so 'n toekenning uitdrukking sal gee aan die Universiteit se verbintenis tot Fischer se ideale; en dat Fischer se lewe bewys dat 'n mens nie jou identiteit (in dié geval Afrikaner-identiteit) hoef prys te gee om 'n bydrae tot die breër Suid-Afrikaanse samelewing te lewer nie. Daar word nie gesê waarom Stellenbosch so uniek geplaas is om die graad aan hom toe te ken nie, of watter ideale Fischer en die Universiteit gedeel het nie. Dit is ook nie duidelik waarom juis Malan haar hiervoor beywer of identiteit met erns bejeën nie, aangesien sy vroeër vanjaar op Litnet aan Julian Roup gesê het: “We no longer rely on identity politics. This is simply not an issue for my generation.”

Wat Fischer se lewe betref, is dit belangrik om van minstens twee sake kennis te neem, naamlik sy kommunisme en sy politieke bydrae. Wat sy kommunisme betref, toon sy biograaf, Stephen Clingman, deeglik aan dat Fischer se beweging na die kommunisme vanaf die vroeë 1930’s begin by sy ontnugtering met (Afrikaner-)nasionalisme. Baie spesifiek het Fischer tydens sy Britse studieverblyf tussen 1931 en 1934 die geweldige ideologiese stryd tussen kommunisme en fascisme beleef, veral teen die agtergrond van Hitler se bewindsoorname in 1933. Fischer het gevrees dat dit is waarop Afrikaner-nasionalisme ook sou uitloop. Sy beweging na kommunisme was dus aanvanklik veral 'n beweging weg van nasionalisme. Hy het die insig gehad om gemeenskap en nasionalisme te ontkoppel, en meer as een keer gesê hoe belangrik sy Afrikanerskap vir hom is en dat sy eie gemeenskap se heil in 'n nie-nasionalistiese, nie-rassige Suid-Afrika lê.

Ook in sy beroemde verklaring vanuit die beskuldigdebank tydens sy verhoor in 1965 verklaar hy dat die ongeregtigheid in Suid-Afrika, die ideaal van universele menslike broederskap, en die toewyding van Suid-Afrikaanse kommuniste teen hierdie ongeregtigheid hom tot die kommunisme aangetrek het. Clingman se biografie skep ook die indruk dat Fischer nie soseer weens die bestudering van kommunistiese tekste nie, maar eerder weens veral die morele appél van die ideale van kommunisme daartoe aangetrek is. Fischer het dan ook in sy verhoor gesê dat hy hom nie vir 'n diktatuur van die werkers beywer het nie, maar vir 'n “nasionale demokratiese staat” waarin nie-rassigheid 'n sentrale waarde is. Daar is bewerings dat Fischer 'n “bloedige klasserewolusie” voorgestaan het, maar daar is geen aanduiding dat hy hom ooit self aan gewelddadige optrede skuldig gemaak het nie. Clingman wys ook dat Fischer tot 'n gewapende stryd in die vroeë 1960’s geensins geesdriftig omhels het nie, en in ieder geval was Umkhonto se optrede in daardie stadium eksplisiet nie op burgerlike lewensverlies gerig nie.

Om Fischer dus sonder meer as doktrinêre Marxis af te maak en met die vergrype van die kommunisme elders te verbind, is te maklik, want die feit van die saak is dat Fischer geneig was om die morele bo die politieke te stel (wat miskien verklaar waarom hy polities naïef was en byvoorbeeld nie Stalin en die kommunisme elders se foute kon raaksien nie). Verder het hy dwarsdeur sy lewe demokraties gehandel, en hom vir die vestiging van 'n nie-rassige demokrasie beywer. Wat 'n mens se ideologie ook al is, behoort jou politieke statuus uiteindelik aan jou politieke handelinge gemeet te word, en hierin het Fischer hom onderskei.

Met hierdie feite onder oë, bly die vraag egter of dit gepas is dat die Universiteit Stellenbosch aan Fischer 'n eredoktorsgraad toeken. Kenmerkend van die debat wat tot dusver veral in die briewekolomme van Die Burger gevoer is, is dat dit bly by die verlede en die kommunisme, dikwels sonder die nodige nuanses, maar niemand praat oor die huidige politieke konteks waarbinne die toekenning gemaak word nie. Hierdie konteks is een waarin niks minder nie as 'n al hoe harder Afro-nasionalisme in die naam van nie-rassigheid beoefen word. Hoewel hierdie Afro-nasionalisme in die naam van die Grondwet beoefen word, is dit allesbehalwe getrou aan die nie-rassigheid van die Grondwet. Enkele voorbeelde is hoe gepoog word om arbeidsongeregtigheid reg te stel met 'n beleid soos regstellende aksie (wat nêrens ter wêreld sodanige ongeregtigheid reggestel het nie); die herskrywing van ons geskiedenis in Afro-nasionalistiese terme, kompleet met die romantisering van 'n pre-koloniale idille wat gewoon nie bestaan het nie; die kitsverryking van 'n klein elite in die naam van swart bemagting; en die rassifikasie van nasionale kwessies (soos onlangs weer verkragting).

Kortom, een nasionalisme is besig om 'n ander te vervang, dié keer in die naam van demokrasie en nie-rassigheid. Dit is niks anders nie as 'n volskaalse miskenning en minagting van presies die ideale waarvoor Bram Fischer as nie-nasionalis 'n baie hoë prys betaal het.

Intussen is die einste koloniale tegniese en staatsbestel wat deur die Britte opgerig is, en uiteindelik doelmatig deur die Afrikaners aangewend is vir eiebelang, nog netjies in plek en vandag baie nuttig vir Afro-nasionalistiese eiebelang.

'n Universiteit soos Stellenbosch het hom inderdaad in die verlede laat insleep by die vergrype van 'n vorige nasionalisme. As juis Stellenbosch vandag aan Fischer 'n graad gee terwyl Fischer se ideale deur die huidige elite vertrap word, sal dit nie net 'n verdere legitimering van hierdie elite se nasionalistiese vergrype wees nie, en Fischer se ideale juis misken nie, maar Stellenbosch ook opnuut aan die vergrype van 'n nasionalisme verbind.

Fischer is wel in my persoonlike galery van Afrikaner-helde, omdat hy vir ideale gestaan het, waaronder die vennootskap van Afrikaner en Afrikaan, wat beslis nie onder die huidige Afro-nasionalistiese koloniale staatsbestel verwesenlik gaan word nie. Maar die verering waarom dit met hierdie graad gaan, is 'n ontering – tensy hy vereer word vir sy bydrae tot die ware, nie-rassige demokrasie wat nog moet kom.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=45
Artikel nagegaan:
    -