| ||||
Op 7 Oktober 2003 het die eerste uitgawe van die Engelse dagblad ThisDay verskyn. Dit is die enigste onafhanklike dagblad wat Suid-Afrika in baie jare sien, en het nogmaals bewys waarom onafhanklikheid so gunstig vir goeie joernalistiek is: vreeslose kritiek is op ondemokratiese praktyke deur politici en die staat gelewer; 'n verantwoorde,Afrika-inslag is gehandhaaf; oop gesprek is in debatte bevorder; en, miskien die belangrikste van alles, die koerant het 'n lesersgehoor van oor die hele Suid-Afrikaanse spektrum. In feite het hulle daarin geslaag om daardie moeilikste van ideale, 'n inklusiewe Suid-Afrikanisme, by tye te verwesenlik. Die koerant het ook reeds per geleentheid Die Vrye Afrikaan goedgunstiglik toegelaat om een van sy artikels te publiseer. En nou is ThisDay se voortbestaan ernstig in die gedrang. Miskien het 'n berig wat op die voorblad van Business Day van 26/10/2004 verskyn het, die krisis die beste saamgevat in die volgende woorde: “ThisDay se redakteurs en skrywers het wyd respek gewen, maar is deur hul bestuurders in die steek gelaat, terwyl die projek vanuit die staanspoor onderbefonds is.” Maar hiermee is die laaste woord oor ThisDay se krisis en die wyer koeranttoneel in Suid-Afrika nog nie gespreek nie. In die eerste plek is daar die hegemonie van 'n nuwe politieke über-kode van transformasie wat ten alle tye deur koerante gerespekteer moet word. Joernaliste wat hierdie kode bevraagteken, of koeranteienaars wat hulle daarteen verset, moet weet dat hulle hulle die volle gramskap van die staat op die hals kan haal, om nie te praat van die dodelike beskuldiging van regsheid of apologie vir apartheid nie. Dit is, om die minste te sê, 'n infantiele en intellektueelgestremde toedrag van sake wat met die nodige waagmoed getakel moet word. In die tweede plek is daar die kwessie van die groeiende korporatisering van die Suid-Afrikaanse koerantwese. Koerante moet vandag in die videosfeer meeding met 'n hele reeks visuele mediavorme, wat alreeds druk op hul winste plaas. Dan is daar ook nog die druk op die eienaars van koerante om nie in onguns by die regering te verval nie, of die probleem van buitelandse eienaars wat meer in dividende as in gehaltejoernalistiek belangstel, soos mnr. Ton Vosloo in 'n onlangse toespraak voor die Kaapse Persklub uitgewys het. In die derde plek is daar die voortslepende probleem van beperkte geletterdheid in Suid-Afrika, wat met ons sal wees solank as wat alle Suid-Afrikaners nie in hul moedertale onderrig kan word nie. Die kognitiewe ontwikkeling, waaronder leesvaardighede, wat saam met moedertaalonderrig kom, is ook wat uiteindelik van mense goeie, geesdriftige en kritiese koerantlesers maak, asook demokratiese landsburgers. In die lig van al hierdie probleme is dit vandag baie moeilik om 'n dagblad van gehalte in Suid-Afrika uit te gee. Wat ThisDay betref, spreek Die Vrye Afrikaan graag sy goeie wense en solidariteit uit met 'n ander publikasie wat onwrikbaar in 'n vrye Afrika glo, en hoop ons van harte dat hulle daarin sal slaag om die huidige krisis te bowe te kom. Afrika en demokrasie het elke moontlike kritiese stem nodig. |