| ||||
Rassisme is 'n kwessie wat voortdurend in Suid-Afrika se openbare sfeer kop uitsteek. Onlangs weer het President Mbeki gedurende vraetyd in die parlement uitvoerig oor die saak uitgewy. Onder meer het Mbeki verwys na die rassistiese neiging onder sommige witmense om Vigs as 'n “swart” probleem te sien, of verkragters as “swart” voor te stel. Die Vrye Afrikaan wil nie hier in debat tree met Mbeki en sy opponente in die debat oor verkragting nie, maar dit ly geen twyfel nie dat die verbinding van Vigs of verkragting met swartmense inderdaad ook soms onder Afrikaners voorkom. Rassisme, sou sommige sê, is 'n kwessie wat al snuif getrap is. Andere sou weer sê dat nie net witmense hulle aan rassisme skuldig maak nie. Albei hierdie argumente bevat elemente van waarheid, maar die feit bly dat Afrikaners vandag swaar dra aan die nalatenskap van rassistiese praktyke uit die verlede, wat in sommige gevalle nog voortleef. Rassisme word natuurlik dikwels as 'n stok gebruik om Afrikaners mee te slaan, en dikwels word van ons legitieme aansprake – byvoorbeeld op Afrikaanse onderrig – as rassisme afgemaak. Die ANC is ook geneig om rassisme op so 'n manier te misbruik dat Suid-Afrikaners in rasbepaalde steungroepe vasgepen word – in dié sin doen ras vir die ANC by die stembus wat die “swart gevaar” eens vir die NP by die stembus gedoen het. Dan is daar ook nog die algemene gevoel van magteloosheid wat vandag onder Afrikaners vaardig is en wat Afrikaners veral in die openbaar nog minder geneë maak om rassisme in eie geledere te erken en daaroor te praat. Die feit dat Afrikaanse kommentators wat hulle oor rassisme in eie geledere uitlaat dit dikwels op veroordelende, moralistiese wyse doen, bevorder ook nie juis 'n bereidwilligheid onder Afrikaners om die saak eerlik onder oë te sien nie. Maar ten spyte van al hierdie kwalifikasies is dit onteenseglik so dat die droom van wedersyds bevrydende politieke samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan nooit waar sal word solank rassistiese praktyke onder Afrikaners leef nie. Wat is vandag die oorsake van rassisme onder Afrikaners? 'n Mens sou hier kon verwys na minstens drie faktore, naamlik die ongunstige politieke magsbalans in die land, die tegniese gaping tussen Afrikaner en Afrikaan, en wedersydse onkunde. Wat die politieke magsbalans in die land betref, sien ons vandag hoe 'n nuwe Afro-nasionalisme sy absolute greep op die staat en die privaatsektor verstewig. Soos enige nasionalisme is ook hierdie een geensins verdraagsaam teenoor gemeenskappe of idees wat nie by hom wil inval nie. Om sake te vererger, word hierdie nasionalisme bedryf in die naam van demokrasie, nie-rassigheid en grondwetlikheid, terwyl dit nie demokraties, nie-rassig of grondwetlik is nie. Die wagwoord is transformasie wat nie net die ongeregtighede van die verlede handhaaf nie, maar ook nuwes genereer. Afrikaners as groep is uitgelewer aan hierdie nasionalisme en al sy kru stereotipes van hulle as groep, waarop hulle reageer met vrees en, dikwels, rassisme. Wat die tegniese gaping betref, het Afrikaners weens hul moedertaalbeweging daarin geslaag om die ingevoerde tegniese en staatsbestel toe te eien, en in die proses geweldige materiële en intellektuele vooruitgang beleef. In die proses van die geslaagde toeëiening van hierdie bestel, danksy die sleutel wat moedertaal verskaf het, het Afrikaners algaande hul toegeëiende tegniese mag ook as kulturele meerderwaardigheid begin verstaan, wat dan weer manifesteer in 'n beskouing van swartmense as onderontwikkeld en agterlik. Wat wedersydse onkunde betref, is dit die geval dat waar Afrikaner en Afrikaan veral na die Groot Trek tot vroeg in die 20ste eeu dikwels in vennootskap met mekaar gestaan het, hierdie vennootskappe deur die loop van die 20ste eeu geleidelik vernietig is soos wat Afrikaners as gemeenskap verstaatlik is binne die koloniale staatsbestel. Hierdie staatsbestel was destyds net so onverdraagsaam teenoor praktyke en instellings van ware samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan as wat dit vandag is, en so is die bronne van wedersydse kennis van mekaar vernietig. Wat oorbly, is rassistiese stereotipes van mekaar. Wat staan Afrikaners vandag met betrekking tot rassisme te doen? As gemeenskap kan ons met vrug terugkeer na ou praktyke van samewerking met Afrikane in ons geskiedenis, waar samewerking buite-om staatsverband geskied het. Die bevegting van armoede en die bevordering van veeltaligheid gaan hand aan hand, en hierin kan Afrikaner en Afrikaan mekaar van raad en daad bedien. Die bevordering van ons belange behoort op plaaslike en gemeenskapsvlak aan die orde gestel te word, sodat ons nie hierdie sake aan 'n nuwe nasionalistiese staatsorde oorhandig nie. Ook moet Afrikaners vreesloos en eerlik met hulle eie rassisme omgaan, sonder moralisering, maar met die nodige durf om groter as ons vrese of ons politieke opponente se kleinlike opportunisme te wees. Wie homself aan die wanbeeld van sy opponent uitlewer, word uiteindelik daardie wanbeeld en word politiek verlam. |