blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesweek se Kommentaar: Kerkhereniging; Afrika-intellektuele 2004-10-22

Na aanleiding van die kommentaar wat Die Vrye Afrikaan op 8 Oktober oor Afrikaanse universiteite gelewer het, skryf die voormalige rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Andreas van Wyk:

Straatlegendes se nekke moet omgedraai word voordat hulle as waarhede gevestig raak. Dit is wat moet gebeur met die stelling in u aflewering van 8 Oktober 2004 dat president Nelson Mandela tydens sy ampstermyn spesiale maatreëls vir die behoud van Afrikaans as universiteitstaal sou aangebied het, maar dat die rektore van die Afrikaanstalige universiteite “nie gou genoeg Mandela se aanbod van die hand kon wys nie”.

As Rektor van die Universiteit Stellenbosch van 1992 (de facto as waarnemende en aangewese Rektor, de jure vanaf 1993) tot einde 2001 wil ek dit baie duidelik stel dat daar nooit enige sulke aanbiedinge van mnr. Mandela was nie en dat daar dus nooit sulke afwysende reaksies kon gewees het nie. Wat wel gebeur het, is soos volg.

Uit mnr. Mandela se algemene benadering tot die Afrikaanssprekende bevolking was dit duidelik dat hy 'n goeie begrip vir die belangrike rol van die Afrikaanstalige universiteite en ander instellings van hoëronderwys had. Dit het hy uiteindelik ook in die openbaar geformuleer by die seremonie waartydens Stellenbosch in 1996 as eerste Afrikaanse instelling 'n eredoktorsgraad aan hom toegeken het. By dié historiese geleentheid (wat, terloops, niks gemeen het met die angsvallig politiek korrekte eregraadtoekennings van die afgelope paar jaar nie) , het hy die algemene beginsel van die behoud van Afrikaans as universiteitstaal ondersteun en die rol van Afrikaanse universiteite in die ontwikkeling van ons land erken.  Van konkrete voorstelle oor hoe aan hierdie beginsel inhoud gegee kan word, was daar nie sprake nie.

Ten einde die regering se siening oor die praktiese uitvoering van die beginsel te probeer kry – veral gegewe die deurlopende negatiewe geluide uit ander ANC-kringe oor Afrikaans as 'n beweerde struikelblok vir universiteitstoelating - het die rektore van die vyf destydse Afrikaanstalige universiteite 'n onderhoud met president Mandela aangevra. Ons is na adjunkpresident Thabo Mbeki verwys.

Die bykans twee uur lange gesprek een aand in die Uniegebou met mnr. Mbeki was - vir my in elk geval – nie 'n positiewe ervaring nie. Die rektore het vooraf bymekaar gekom om 'n gemeenskaplike benadering te bespreek. By hierdie byeenkoms het ek 'n memorandum oor die toenemende marginalisering van die Afrikaanssprekende mense van ons land, ook met betrekking tot hoëronderwys,  op die tafel geplaas. Reeds tydens die bespreking daarvan met die kollegas was dit vir my duidelik dat daar verskillende agendas was en dat ons moeilik met een stem met Mbeki sou kon praat.

Die adjunkpresident was sy gewone beleefde self en het min gesê, maar aandagtig geluister. Die mees negatiewe uitstraling het gekom van die enigste ander persoon teenwoordig, naamlik Mbeki se regterhand, Essop Pahad, wat kwalik sy genoegdoening dat die “Boere” so onenig was, kon verberg. Want van die begin van die gesprek af was dit duidelik dat veral die kollega van Tukkies sy verhouding met die regering so min moontlik wou bederf. Markkragte moes bepalend wees vir taalbeleid en geen spesiale maatreëls vir die beskerming van Afrikaans was nodig nie. Elke instelling moes sy eie heil soek en Tukkies sou aan die hand van vraag en aanbod besluit oor hulle taalmedium in elke besondere kursus. Die Vrystaatse Universiteit het hom onvoorwaardelik tot parallelmedium op alle vlakke verbind,  vir Afrikaans 'n verstandige benadering in die lig van die demografiese werklikhede tussen Oranje en Vaal. Die kollega van RAU was taamlik stil en het nie juis sy hand gewys nie. Die PU vir CHO se profiel was ook relatief laag, maar met 'n duidelike verbintenis tot Afrikaans op die Potchefstroom-kampus en met baie klem op alles wat hulle in die Vaaldriehoek vir die histories benadeeldes doen. My eie standpunt namens Stellenbosch was welbekend en ek het dit gestel, naamlik 'n inklusiewe Afrikaanstalige instelling met 'n verbintenis tot toeganklikheid vir alle studente wat in Afrikaans wil studeer.

  Mbeki het dit in sy slotopmerkings duidelik laat blyk dat hy deeglik van hierdie verdeeldheid kennis geneem het, en het dié boodskap daarna ook in ANC-kringe versprei, wat natuurlik die druk op Stellenbosch verhoog het. Dié druk het veral begin toeneem met die aanstelling van die aktivistiese en beterweterige Kader Asmal as minister van Onderwys in die eerste Mbeki-kabinet.

Die hoogtepunt van die druk was Asmal se aanstelling van Naledi Pandor, wat nie 'n enkele woord Afrikaans magtig was nie, in die Stellenbosse universiteitsraad. Deur haar vroeër in die Raad van die Kaapse Technikon aan te stel, het hy dit bewerkstellig dat die administratiewe voertaal by dié instelling oornag van Afrikaans na Engels omgeswaai is. Stellenbosch het vasgeskop en 'n persoonlike tolk vir mev. Pandor tydens Raadsvergaderings voorsien, sowel as Engelse samevattings van agendastukke.  Sommige raadslede het dit beslis as irriterend ervaar en sou waarskynlik maklik na Engels oorgeskakel het, maar gelukkig was hulle in die minderheid. Na slegs 'n jaar se aktiewe lidmaatskap het mev. Pandor bedank, maar waarskynlik sonder 'n warm gevoel oor Stellenbosch in haar hart. (Laat ek dadelik byvoeg dat sy myns insiens 'n veel verstandiger persoon as haar voorganger is, hoewel daar by haar, soos by die ander ANC-“exiles” min intuïtiewe begrip vir Afrikaans is).

  U chronologie van die daaropvolgende gebeure in u kommentaar van 8 Oktober is ongelukkig nie heeltemal korrek nie. Omdat die waters oor hierdie kwessie maar net nie wou gaan lê nie, het Kader Asmal in opdrag van president Mbeki die Gerwel-komitee aangestel om 'n deurdagte aanbeveling aan die Kabinet te maak. Die rektore van die Afrikaanse universiteite het verskeie gesprekke, individueel sowel as gesamentlik, met Jakes Gerwel as voorsitter gehad en op die ou end 'n lang vergadering met die byna voltallige komitee self op die Kaapstadse lughawe. Die tema by die laasgenoemde geleentheid was die gedagte van Gerwel, ondersteun deur die meeste van sy komiteelede, dat elke universiteit in die land die besondere verantwoordelikheid vir die handhawing en uitbou van twee landstale op tersiêre vlak moes aanvaar en gereeld oor die uitvoer van hierdie opdrag aan die Departement van Onderwys moes verslag doen. Natal sou bv. benewens Engels moes help om Zoeloe uit te bou. Wat Afrikaans betref, sou Stellenbosch en Potchefstroom die verantwoordelikheid aanvaar, met ondersteuning ook vir Xhosa en Tswana onderskeidelik. Vir Gerwel was dit polities 'n moedige voorstel, maar hy het duidelik gesê dat Afrikaans sonder twee sulke akademiese pilare op die duur nie staande sou kon bly nie. Die onuitgesproke subteks was dat die drie ander Afrikaanse universiteite, net soos Port Elizabeth, mettertyd sou verengels, al sou hulle nie onmiddellik ophou om ook Afrikaans te gebruik nie.

Net daar het die voorstelle in die spreekwoordelike waaier beland. Al was dit hoe moeilik ook al om die kollegiale solidariteit met die ander drie instellings te verbreek, het Stellenbosch en Potchefstroom die voorstel ondersteun. Die reaksie van veral Pretoria en Vrystaat was heftig afwysend, met Vrystaat wat hom op sy konsekwente parallelmedium beroep het, ook al is daar in privaat gesprekke toegegee dat dit miskien nie op die lang termyn houdbaar kan wees nie. Vir Pretoria het dit gegaan om die behoud van sy Afrikaanstalige studente: hulle was die beste en ook bes betalende studente aan Tukkies en sonder hulle sou die instelling finansieel en akademies ten gronde gaan. Selfs 'n sterk pleidooi deur Antjie Krog, 'n lid van die komitee, kon nie aan hierdie standpunte verander nie.

Met 'n merkwaardige bereidwilligheid om sy nek uit te steek, het Jakes Gerwel tog met die voorstel deurgedruk in die komitee se uiteindelike verslag aan Asmal. Maar net daar het alles in die sand geloop. ANC-lede met begrip vir Afrikaans is oortuig dat Asmal te onseker was oor sy eie posisie in die party om 'n onpopulêre standpunt ten gunste van twee Afrikaanse instellings in te neem, 'n vrees wat reg bewys is deur sy daaropvolgende weglating uit die tweede Mbeki-kabinet. Daar was ook nooit enige geesdrif vir die voorstel by die Engelstalige universiteite, wat geen noodsaak vir die bevordering van die inheemse tale  kon sien nie en eintlik nooit by die proses betrek is nie. Afgesien van vae geluide oor die belang van Afrikaans, mits dit “nie toegang tot universiteite belemmer nie”, is daar nooit weer iets oor die Gerwel-verslag van Asmal gehoor nie.

U analise van die twee moontlike sienings van Suid-Afrika en die gevolge daarvan spesifiek vir Afrikaanstalige onderwys in ons land, is myns insiens korrek. Ek wonder egter of u positiewe reaksie op minister Pandor se skrywe aan die beswaarmakende Tukkie-studente geregverdig is. Weliswaar wil sy 'n strategie bevorder wat in die behoeftes van  Afrikaanssprekendes voorsien, maar dan volg weer die bekende voorbehoud wat nooit ten opsigte van Engels geopper word nie: “en wat verseker dat die onderrigtaal nie 'n hindernis vir groter toeganklikheid en die sukses van studente is nie”. Dit laat my onwillekeurig aan die Franse spreukwoord dink: Plus ça change, plus ça reste la même chose – Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

Ons redakteur antwoord:

1. Prof. van Wyk se verheldering ten opsigte van die presiese feite waarna ons in ons kommentaar van 8 Oktober verwys het, word met dank aanvaar. Ewe waardevol is die feit dat prof. Van Wyk in sy skrywe nie huiwer nie om die sluier te lig oor 'n stuk geskiedenis wat van die grootste belang vir die Afrikaanse wêreld is, maar wat tot dusver eerder deur geheimhouding as deursigtigheid gekenmerk is, so asof die besture van Afrikaanse universiteite en staatsfunksionarisse met die bates van 'n gemeenskap kan omgaan asof dit hul persoonlike eiendom is.

2. Wat veral skokkend van prof. Van Wyk se relaas is, is die instrumentele en sektariese wyse waarmee universiteitsbesture tot minstens heel onlangs met Afrikaans as universiteitstaal omgegaan het. Veral die wyse waarop die voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria die rookskerm van “markkragte” gebruik het om politieke dienstigheid aan die regering van die dag te legitimeer en Afrikaanse studente beskou het as suiwer syfers om die boeke te laat klop, is verregaande. Dit vertoon 'n arrogansie wat ongelukkig tipies is van die swak leierskap waaronder Afrikaners nou reeds die afgelope dekade alte dikwels gebuk gegaan het, en hoe gouer hierdie neiging deur demokratiese Afrikaners getakel word, hoe beter. Betrokkenheid by die kwessie van Afrikaanse universiteite is die ideale plek om te begin.

3. Prof. van Wyk se skepsis oor mev. Pandor se reaksie op die petisie van Tukkie-studente is heeltemal gegrond, maar ten minste het sy tot dusver veel groter bereidheid as haar voorganger vertoon om oor taal in onderrig in gesprek te tree. Afrikaanse demokrate behoort haar bereidwilligheid by wyse van gesprek te toets om te sien of dit op konkrete dade sal uitloop, veral gesien in die lig van die retoriese heuning wat ons nou al so dikwels deur regeringswoordvoerders oor die openbare posisie van Afrikaans in die besonder en veeltaligheid in die algemeen om die mond gesmeer is.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=42
Artikel nagegaan:
    -