|
||||
Kleinjan Schietekat
Dierbare lesers van Die Vrypostige Afrikaan wat hulle in die verre vreemde bevind, nader ons gereeld om nuusbrokkies uit die vaderland. Ons gee vandag graag gehoor aan hierdie versoek met ’n keur uit onlangse opspraakwekkende nuusgebeure. Gedagtig aan hoe moeilik dit miskien vir ons verafgeleë lesers mag wees om hierdie gebeure te begryp, het ons spesiaal verduidelikende kommentaar met elke gebeurtenis ingewin. Ons hoop dat die skyn van absurditeit daarmee telkens verbreek sal word. Eerstens het die Minister van Veiligheid en Sekuriteit (sic), mnr. Charles Nqakula, onlangs verklaar dat mense wat kla oor misdaad maar eerder in ander lande moet gaan woon. Nqakula het dié uitspraak gemaak in die parlement toe hy deur opposisielede vrae oor misdaad gevra is nà die onlangse toename in geweldsmisdade in voorstede, waaronder die bloedige moord op ’n 78-jarige dame. ’n Voorspelbare storm van protes is hierdeur ontketen, en op Sondag 25 Junie het die Minister soort van jammer gesê in ’n onderhoud met Rapport. Die Vrypostige Afrikaan kan vandag onthul dat die Minister heeltemal verkeerd verstaan is, indien nie verkeerd aangehaal of vertaal nie, soos wat altyd met Suid-Afrikaanse politici gebeur. ’n Woordvoerder van die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit, wat uit vrees vir sy lewe verkies om anoniem te bly, sê dat dit net wittes is wat oor misdaad kla omdat net wittes daardeur geraak word. “Ons weet van geen misdaad in die townships nie, en ons weet ook van geen kabinetslid wat die teiken van misdaad was nie. Altans nie in maande nie. Daar is eintlik geen misdaad nie en ons weet van niks.” Tweedens is daar onlangs in ’n studie van die Noordwes-Universiteit bevind dat 98% van alle wildjagters in Suid-Afrika wit, manlik en Afrikaanssprekend is (oftewel Afrikanermans). Die navorsers wat die studie onderneem het, het nie net gewys op die groot ekonomiese bydrae wat die jagbedryf tot die land maak nie, maar ook gevra dat daar gekyk word na maniere om die jagbedryf ook onder ander geslags- en kultuurgroepe te vestig. In sy reaksie sê dr. Petrus de Beer van die Nasionale Bemarkingsinstituut dat dit oorweeg moet word om jagtrofeë “polities meer betekenisvol” te maak.“ ’n Mens moet na maniere soek om die jagbedryf in lyn met die oogmerke van die Nasionale Demokratiese Rewolusie te bring.” Dr. de Beer wou nie verder uitbrei nie, maar ’n sosioloog wat verkies om anoniem te bly, meen dat die onlangse insident waartydens ’n wit vrouejoernalis doodgeskiet is dalk ’n poging kan wees om aan die praktyk van jag nuwe inhoud te gee. “Die snelweg is nou die jagveld van jaagduiwels wat hulle motors soos wapens inspan,” sê sy. ’n Derde interessante brokkie nuus uit die vaderland is nie meer so vars nie, maar het nog niks van sy aktualiteit verloor nie. Gekonfronteer deur ’n buitelandse joernalis met die statistiek dat daar elke 30 sekondes in Suid-Afrika ’n vrou verkrag word, het ’n Suid-Afrikaanse minister verklaar dat dit nie waar kan wees nie “omdat niemand dit gesien het nie”. Dit herinner sterk aan die President, wat ’n tyd gelede Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfers bevraagteken het “omdat daar nie soveel werklose mense op straat gesien kan word nie” (effens geparafraseer). ’n Hooggeplaaste lid van die Nasionale Intelligensiediens wat om professionele redes nie sy naam genoem wil hê nie, sê dit is duidelik dat “’n sinistere Derde Mag die Sentrale Statistiekdiens geïnfiltreer het” en dat “die saak aandag op die hoogste vlak geniet – hier is mense aan die werk wat alles sal doen om transformasie te dwarsboom!” Nader aan die Afrikaanse wêreld is geskiedenis onlangs gemaak toe ’n student vir studentepret met ’n deurtrekker in ’n filosofieprofessor se klas tot 150 uur gemeenskapsdiens gestraf is. In die volksmond staan dié voorval nou as die “Slurpie-episode” bekend, en ’n diepgaande debat is weke lank oor die fyner nuanses van die saak deur die publiek gevoer. Hoewel die openbare mening tot ’n groot mate dit wou hê dat die professor en die betrokke tugkomitee se humorsin hulle in die steek gelaat het, sê prof. Nols Niemand, ’n kenner van dramateorie, dat die professor en die tugkomitee eintlik maar net die grap terugbetaal het met rente. Niemand sê daar steek geen waarheid in die aanname dat die Universiteit Stellenbosch, waar die ongelukkige voorval plaasgevind het, “alle humor in die huidige progressiewe, moderne en internasionaal voortreflike transformasieproses verloor het nie; die feit van die saak is dat ons nou sit met ’n geslag studente wat nie hulle Kafka ken nie – die studente is eenvoudig te agterlik, barbaars en van kultuur wars om te weet dat ook Josef K. se vervolgers ’n humorsin gehad het.” Laastens met die ter perse gaan van Die Vrypostige Afrikaan is berig ontvang dat die Rektor van die Universiteit Stellenbosch, prof. Chris Brink, rektor gaan word van die Universiteit van Newcastle. Prof. Brink het gesê dat die “skip by die US nou gedraai is” en per implikasie kan iemand anders dit nou verder bestuur. Mnr. Paul Mofokeng, ´n diversiteitskenner, sê: “Dis dapper van die Rektor - want as Newcastle in Kwazulu-Natal is, kan hy nou weer die skip omdraai en die Zoeloes dan toelaat om dit verder te stuur - na 'n Zoeloe-universiteit.” Blykbaar steek daar geen waarheid in gerugte dat prof. Brink se jarelange stereotipering van sy opponente en hul gevolglike weerstand teen hom so suksesvol was dat hy nou maar die handdoek gaan internasionaliseer eerder as om dit in te gooi nie. |