|
|||
Jean-Arnault Dérens en Laurent Geslin
*Jean-Arnault Dérens het pas Kosovo, année zéro by Paris Méditerranée gepubliseer. Laurent Geslin is ´n joernalis by Courrier des Balkans. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Op 5 Junie het die Serwiese parlement sy afstigting van Montenegro “waargeneem”. So word Serwië een van die min lande ter wêreld wat sy onafhanklikheid terugkry sonder dat hy dit verlang het. Die referendum wat op 21 Mei in Montenegro gehou is, maak op hierdie wyse ’n einde aan die eenheid wat tussen die twee republieke bestaan het, en Serwië word verplig om sy grense, sy identiteit en die aard van sy politieke bestel te herdefinieer. Onmiddellik ná die stemmery doen Vuk Draskovic, Minister van Buitelandse Sake in die verdwene Unie van Serwië-Montenegro, ’n beroep vir die herstel van die Serwiese monargie. Enkele dae later verklaar prins Aleksandar Karadjordjevic hom tot aanspraakmaker op die troon.
2006 begin as ’n “swart jaar” vir Serwië. Die referendum in Montenegro kom enkele weke na die staking van onderhandelings tussen Serwië en die Europese Unie: generaal Ratko Mladic (’n Serwiër van Bosnië), aangekla deur die Internasionale Strafhof vir die voormalige Joego-Slawië (ISVJ), skuil klaarblyklik steeds in Serwië. 2006 sou ook die jaar wees waarin die status van Kosovo beslis word: Belgrado berei hom voor op die verlies van dié provinsie wat sedert Junie 1999 onder die VN se voorlopige bestuur geplaas is, en wat kan lei tot ’n nuwe uittog van die 100 000 Serwiërs wat nog daar woon. Hoewel die oorloë van die 1990’s ter wille van ’n “Groot Serwië” gevoer is – of ten minste ter wille van die begeerte om “alle Serwiërs in een staat” te herenig – moet die werklike Serwië telkens toekyk hoe sy grondgebied kleiner word en sy bevolking tussen ’n groeiende aantal state versprei word (1). In vele opsigte is die afstigting van Montenegro ’n niegebeurtenis. Die afgelope klompie jare het daar nie veel van sy betrekkinge met Serwië oorgebly nie. Die Unie wat in 2003 tot stand gebring is in die plek van die Federale Republiek van Joego-Slawië, was net ’n leë dop: elkeen van die twee republieke het sy eie belastingstelsel, doeane en selfs geldeenheid gehad – in Montenegro die Duitse mark, gevolg deur die euro. Nietemin, in weerwil van die onlangse herontdekking van Montenegro se oorspronklike identiteit, bly daar belangrike kulturele en menslike bande tussen die twee lande. Tydens die sensus in 2003 verklaar 30% van Montenegro se burgers dat hulle nasionaliteit Serwies is (2). Woonagtig in veral die landelike gebiede in die noorde van die klein landjie, moet hulle maar – hoewel hulle duidelik teen onafhanklikheid gekant is – die nuwe situasie aanvaar. ’n Mens kan inderdaad praat van ’n Montenegriese “uitsondering”. In Cetinje, voormalige koninklike hoofstad van Montenegro en ’n bastion vir onafhanklikheidsgesindes, beklemtoon Petar Martinovic, ’n pensioenaris, ’n belangrike feit: “Die drie stede wat die onafhanklikheid bewerkstellig het, is Cetinje, Rozaje en Ulcinj.” In Ulcinj, met sy oorgrote meerderheid Albanese, en in Rozaje, waar “Bosniese” Slawiese Moslems die grootste persentasie van die bevolking uitmaak, het die minderhede bankvas (tussen 88% en 91%) die projek vir onafhanklikheid gesteun. Dit is die eerste keer in die streek se onlangse geskiedenis dat ’n land se nasionale minderhede rondom ’n politieke projek met die hoofgemeenskap saamstaan. Kroasiese onafhanklikheid het berus op die uitsluiting van die Serwiërs uit die land; die Masedoniese Albaniërs het nooit die planne vir ’n Masedoniese staat onderskryf nie; en slegs die Albaniese Kosovare wil onafhanklikheid hê. Voorstanders van die onafhanklikheid van Montenegro verdedig die plan vir ’n multiëtniese, burgerlike staat wat nie sonder die deelname van al die gemeenskappe kan bestaan nie. Die Onafhanklikheidsverklaring wat op 3 Junie 2006 aanvaar word, bevestig dus “Montenegro as ’n burgerlike, multinasionale, multiëtniese, multikulturele, multigodsdienstige gemeenskap, gefundeer op respek vir en die beskerming van mense se regte en vryhede, en die regte van minderhede (3).” Meer as 200 000 Montenegriane woon in Serwië: hulle loop gevaar om staatloos te word indien Montenegro hulle nie burgerskap gee nie. Baie van hulle, wat oornag vreemdelinge geword het in die land waarin hulle woon, loop boonop gevaar om hulle werk te verloor – talle werk in die staatsdiens, die regstelsel of die polisie, poste wat voortaan vir Serwiese burgers opsygesit word. Vir hulle sal die breuk dus brutaal wees: net soos ’n groot gedeelte van die Serwiese gemeenskap sien hulle die afstigting van Montenegro as die begin van ’n nuwe “Serwiese grondgebied”. Hierdie afstigting hou die gevaar in dat dit die gevoel van “verontregting” waaraan heelwat Serwiërs ly, kan versterk – iets wat die verregses uitbuit deur teen die onophoudelike “verskeuring” van die nasionale grondgebied uit te vaar. Tragieser skeurings lê in Kosovo voor. In die Serwiese enklawes berei talle hulle reeds op die vertrek voor. “Ek sal tot die einde toe hier bly, ek sal die laaste een wees”: die stem klink hees. Dimitrije Vucic, een van die 700 inwoners van die Serwiese dorpie Velika Hoca – in die suidooste van Kosovo, wat die Serwiërs Metohija noem – was die afgelope sewe jaar nog nie uit hierdie enklawe nie. Die Duitse bataljon van die KFOR, NAVO se sending in Kosovo, het op die hoogtes stelling ingeneem, agter ’n netwerk van doringdraad, ten einde die dorpie, een van die laaste Serwiese enklawes in die suide van Kosovo, te beskerm. Elders in die streek is die enigste oorblywende Serwiërs die ongeveer 500 inwoners van die stedelike “ghetto” van Orahovac. Niemand hier koester enige illusie nie: “Die jonges is reeds weg, hier bly twee hubare meisies oor vir sewentig jongmans. Selfs my vrou wil hier weg, maar daar is niks van ons in Serwië nie,” beklemtoon mnr. Vucic. Soos baie van die inwoners in die enklawe verval die voormalige “voorsitter” van die dorpie stadigaan in alkoholisme. Daar is nie werk in Velika Hoca nie, net landerye en ’n paar wingerde van die beroemde klooster van Visoki Decani. Die inwoners moet egter tevrede wees om die wingerde binne die KFOR se veiligheidsgebied te bewerk. Enkele kilometer verder het die Middeleeuse klooster van Zociste in 1999 totaal afgebrand. Twee jaar gelede het drie monnike weer daar kom bly, onder beskerming van NAVO. Hulle bou stuksgewys weer die kloostermure op. Een van hulle klink realisties: “Die Serwiërs van Orahovac is gedoem om te vlug. Dié van Velika Hoca kan bly as die KFOR vir hulle voldoende beskerming kan bied. Ons monnike sal hier bly solank dit fisiek moontlik is, om die teenwoordigheid van getuies in die Kosovo-landstreek te verseker.” Terwyl die Serwiese noorde van Kosovo, aangrensend aan die “moederland”, steeds drome koester van ’n verdeling wat kategories deur die internasionale gemeenskap verwerp word, word al die Serwiese enklawes suid van die Ibarrivier direk bedreig: in dié wat in die middel van die provinsie lê (sowat vyftien dorpies rondom die Gracanica-klooster), neem eiendomsverkope vinnig toe. Regstreekse samesprekings tussen Belgrado en Pristina, wat in die herfs van 2005 in Wene onder beskerming van die VN se spesiale gesant, Martti Ahtisaari, begin is, het tot dusver geen resultate opgelewer nie. Geen terrein vir ’n kompromis lyk moontlik nie: die Albaniërs wil van niks anders as onafhanklikheid hoor nie, terwyl Belgrado bereid is om enige moontlikheid te oorweeg ... behalwe onafhanklikheid. Die desentralisering van Kosovo behoort nietemin een van die kernpunte van dié besprekings te wees. Om die behoud van die Serwiërs te waarborg, aanvaarbare lewenstoestande te verseker vir dié wat in die gebied woon, en die ontworteldes wat wil terugkeer, toe te laat om dit te doen, sal daar inderwaarheid nuwe, lewensvatbare Serwiese gemeenskappe geskep moet word wat oor aansienlike selfbestuur beskik. Teenoor die maksimalistiese eise van die Belgrado-afvaardiging, wat op meer as twintig nuwe kommunes aandring, haal die Albaniërs afwateringsmaneuvers uit en probeer hulle om die gebiede wat aan dié kommunes afgestaan moet word, soveel moontlik te verbrokkel (4). As die internasionale gemeenskap die teenwoordigheid van nie-Albanese gemeenskappe in Kosovo wil verseker, sal hy hierdie desentralisering moet afdwing, al moet hy dit dan ook aan die Albanese verteenwoordigers voorhou as die prys wat vir onafhanklikheid betaal moet word. Indien nie, sal die verklaarde doelwit van ’n “multi-etniese Kosovo” niks meer as ’n hol frase wees nie. Maar daar is aanduidings dat die VN se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge (VNHKV) hom reeds op die ontvangs van ’n verdere 50 000 tot 70 000 nie-Albanese ontworteldes uit Kosovo in Serwië voorberei (5). ’n Mens sien reeds heelwat ontworteldes uit Kosovo in die suide van Serwië, soos in die omgewing van Vranje. So het 277 gesinne uit Lipjan toevlug by die klein mineraalbron Vranjska Banja gevind. Langs hulle opslaanhuisies is ’n projek van stapel gestuur om groot kweekhuise te bou waarin hulle kan werk: hier verbou hulle slaaie en uie vir… McDonald’s-restourante. “Ons is trots daarop dat ons teen die Amerikaners en NAVO, die sterkste militêre magte ter wêreld, kon baklei. Eendag sal ons terugkom en die Albaniërs verjaag,” benadruk Zorica Peric, verteenwoordiger van die “munisipaliteit in ballingskap” van Lipljan en lid van die oorlede Slobodan Milosevic se Sosialistiese Party (SPS). Te oordeel aan die gelate blikke van die ander vlugtelinge, word haar sekerheid nie gedeel nie. Hoofsaaklik afkomstig uit landelike milieus en met min opleiding, lyk die ontheemdes uit Kosovo se kanse skraal om by Serwië in te skakel waar een-derde van die aktiewe bevolking deur werkloosheid geteister word. “Indien die 120 000 Serwiërs wat nog in Kosovo woon as gevolg van die onafhanklikwording vlug, sal ons dit nóg maatskaplik, nóg polities gesproke kan behartig,” verduidelik Radomir Diklic, voormalige raadgewer van die Presidensie in die (ontbinde) Unie van Serwië-en-Montenegro, wat aan die onderhandelings in Wene deelneem. “Ons veg om die Serwiese teenwoordigheid in Kosovo te behou, maar die Albaniërs wil nie onderhandel nie, en die internasionale gemeenskap probeer net om so gou moontlik van die saak ontslae te raak. Maar ’n Serwië wat steier onder die gewig van nuwe vlugtelinge, wat verskeur word deur die ekonomiese krisis, en waarin die verregses hoogty vier, sal allermins in staat wees om sy eie verlede met nugterheid te bejeën, óf om tot die stabilisering van die streek by te dra.” Die spook van die verregses doem inderdaad al groter op in Serwië. Volgens onlangse meningspeilings kan die Radikale Serwiese Party (SRS), wat steeds deur Vojislav Seselj uit sy sel in Den Haag beheer word (6), hoop op byna 40% van die stemme. Voeg daarby die 7-8% wat aan die Sosialistiese Party toegeskryf word, en die houers van die eertydse diktatoriale regime sou ’n parlementêre meerderheid kon behaal indien die verkiesing vervroeg word. Wat waarskynlik lyk: volgens sekere bronne sou die Eerste Minister, Vojislav Kostunica, verkies om te bedank en nuwe verkiesings uit te lok eerder as om persoonlik Kosovo se ondergang te onderteken. In ieder geval berus sy regering op ’n uiters wankele meerderheid wat van die steun, sonder deelname, van die sosialistiese parlementslede afhanklik is. Indien die verregse nasionaliste, wat amptelik die “besetting” van Kosovo kritiseer en aan die hand doen dat dié gebied “bevry” word, aan bewind kom, sou dit enige vooruitsig op ’n ooreenkoms met Belgrado rakende Kosovo in die wiele ry, wat dan summier ’n nuwe, direkte konfrontasie tussen Serwië en die internasionale gemeenskap tot gevolg sal hê. In Banja Luka, hoofstad van die Srpska Republiek (RS) van Bosnië-Herzegovina, is die vlugtelinge ook legio. Hulle kom uit Kroasië, sentraal-Bosnië, Herzegovina of Kosovo, en het elkeen ’n tragiese verhaal te vertel. Sommiges het amptelik staatloses geword wat van hulle nasionaliteit gestroop is, en baie voel bloot dat hulle Serwiërs is. “Almal hier rig die oë op Serwië. En as daar ’n sokkerwedstryd tussen Serwië en Bosnië is, ondersteun ons almal die Serwiese span,” verduidelik Milodrag Pavic, lid van die RS se vereniging vir jong joernaliste. “Ek is nie vyandig teenoor enigeen nie, maar ek voel nie soos ’n Bosniër nie: vir my bestaan daar nie so ’n land nie.” Vir talle Serwiërs wat daar woon, bly Bosnië-Herzegovina ’n kunsmatige bousel, ’n leë dop. Sedert 26 Mei 2006 dring Milorad Dodik, eerste minister van die RS, aan op die reg om ’n referendum te hou in die “eenheid” wat hy bestuur, met die Montenegro-referendum as model. Christian Schwarz-Schilling, Hoë Verteenwoordiger van die Europese Unie, het onmiddellik ’n spervuur ontketen deur te beklemtoon dat ’n moontlike referendum in RS sou indruis teen die Dayton-vredesooreenkomste van 1995 wat die eenheid van die staat van Bosnië-Herzegovina waarborg – selfs al bestaan laasgenoemde uit twee “eenhede”, die Republika Srpska en die Kroasies-Bosniese Federasie van Bosnië-Herzegovina (7). Tydens ’n openbare vergadering in Novi Sad in Voïvodine, op 6 Junie vanjaar, dring Dodik weereens aan op die argumente ten gunste van ’n referendum. Volgens hom sou 90% van die RS se burgers ’n afstigting steun. En geen regsbeginsel sou hulle hierdie moontlikheid kon ontneem as dit aan die Kosovare toegestaan word nie (8). Die belang van hierdie stellinginname lê daarin dat dit van ’n politikus kom wat, as leier van die onafhanklike sosiaal-demokrate, vir lank die RS se nasionalistiese leiers teengestaan het en as “gematig” beskou is. Daar word alom saamgestem dat die huidige Bosniese staat nie werk nie, maar enige pogings om die ingewikkelde institusionele meganisme wat daargestel is deur die Dayton-ooreenkomste te hervorm, het misluk. In hierdie omstandighede loop die veldtog vir die algemene verkiesing op 1 Oktober vanjaar gevaar om slegs rondom een kwessie te draai: die afstigting van die Republika Srpska of die uitwissing van dié entiteit, soos wat die voorstanders van ’n herenigde Bosnië vra. Soos Senad Pecanin, redakteur van die tydskrif Dani in Sarajevo dit uitdruk, het Bosnië teruggeval in die soort politieke debat wat in 1996, of voor die oorlog, gevoer is (9). Die moontlikheid van so ’n afskeiding, wat enkele jare gelede nog ondenkbaar was, lyk al meer geloofwaardig. Dié van Montenegro het beslis geen direkte regsgevolge nie: dit het gegaan om ’n voormalige federale republiek met ’n erkende reg op afstigting. Daarenteen sou onafhanklikheid vir Kosovo ’n presedent skep. Sommige diplomatieke kringe sou ook die argument van “meerderhede” kon aanvoer: indien 90% van Kosovo se huidige inwoners Albanees is en onafhanklikheid wil hê, is die geval dieselfde in RS, waar bykans 90% van die inwoners Serwiërs is ... So ’n denkwyse sou vinnig daartoe kon lei dat feitlik al die Balkan-grense in twyfel getrek word, met onberekenbare gevolge vir sowel Bosnië-Herzegovina as die streek in sy geheel. Die opsie van ’n “ruilery” – Kosovo se onafhanklikheid vir die oorhandiging van die Republika Srpska aan Belgrado as ’n soort troosprys – sou dus opnuut ’n krisis in die streek kon laat opvlam. Sou ’n mens jou ’n grootskaalse heromskrywing van die hele streek se grense kon voorstel, gebaseer op die skep van “etniese” state? Dit sou nie rekening hou met die feit dat Serwië steeds een van die mees multiëtniese state in die Balkan is nie. Nie-Serwiese minderhede verteenwoordig ongeveer 45% van die bevolking in die noordelike provinsie van Voïvodine, wat tot in 1990 groot outonomie geniet het voordat dit onder die regering van Slobodan Milosevic erg teruggesnoei is. Net so is daar ongeveer 100 000 Albanese burgers in die Presevo-vallei, aangrensend aan Kosovo, terwyl die bevolking van Sandjak in Novi Pazar halfpad uit Slawiese Moslems bestaan wat hulself vandag “Boshniak” noem (10). Hierby moet ’n mens dan nog die klein Roemeense, Bulgaarse en Aromse gemeenskappies in die ooste van Serwië reken, asook die talle sigeuners. Die Radikale Serwiese Party het nie van sy doelwit van ’n “Groot Serwië” afstand gedoen nie – dit is ook die naam van die party se koerant – en sy eise om hereniging van Serwiese gebiede gaan hand aan hand met ’n rassistiese vyandigheid jeens nasionale minderhede in Serwië, wat as ’n “vyfde kolonne” beskryf word. Die ware uitdaging is in werklikheid die heropbou van ’n Serwiese identiteit, wat twee aspekte moet insluit: die multiëtniese aard van die Serwiese samelewing, en die bestaan van ’n nasionale Serwiese kwessie wat oor grense heen strek. En slegs een van twee alternatiewe is moontlik: óf nuwe grense, nuwe verdelings, nuwe volksverskuiwings, nuwe geweld en selfs, gewis, nuwe oorloë; óf die vinnigste moontlike inlywing van die hele streek in die Europese Unie, met al die gevolge – positief maar ook negatief – vir die bevolkings. So ’n inlywing sou dit moontlik maak om die grense tussen die state te relativeer en om nuwe verhoudings en nuwe vennootskappe tussen die verskeie Serwiese gebiede in die Balkan te skep. Uit ’n Brusselse oogpunt gesien lyk ’n spoedige inlywing onwaarskynlik, maar, soos in 1991 met die uitmekaarspat van die sosialistiese Joego-Slawië, kan politieke oorversigtigheid dramatiese gevolge hê. Een feit staan in elk geval soos ’n paal bo water: die Serwiese vraagstuk kan slegs binne Europa opgelos word. __________ (1) Lees “Lendemain amers pour les orphelins de la Grande Serbie”, Le Monde diplomatique, November 1997. (2) Lees “Recensement : les Monténégrins minoritaires dans leur pays ? ”, Le Courrier des Balkans, 8 Desember 2003, http://balkans.courriers.info/article3892.html (3) Lees “Le Parlement du Monténégro proclame l’indépendance”, Le Courrier des Balkans, 4 Junie 2006, http://balkans.courriers.info/article6801.html (4) Lees “Décentralisation du Kosovo : nouvelles propositions albanaises”, Le Courrier des Balkans, 25 April 2006, http://balkans.courriers.info/article6637.html (5) Lees die dagblad Politika, 1 Junie 2006. (6) Seselj is in Januarie 2003 deur die ISJS (TPYI) van oorlogsmisdade en misdade teenoor die mensdom aangekla. Hy is steeds verhoorafwagtend. (7) Lees “Bosnie : l’exemple monténégrin ne vaut pas pour la Republika Srpska”, Le Courrier des Balkans, 31 Mei 2006, http://balkans.courriers.info/article6785.html (8) Lees “Bosnie : la Republika Srpska réclame son référendum”, Le Courrier des Balkans, 7 Junie 2006, http://balkans.courriers.info/article6808.html (9) Lees “Débats sur un référendum en Republika Srpska : la Bosnie régresse de dix ans”, Le Courrier des Balkans, 6 Junie 2006, http://balkans.courriers.info/article6805.html (10) In die tyd van die sosialistiese Joego-Slawië is ’n “Moslem”-nasionaliteit in Bosnië-Herzegovina erken, net soos in Sandjak. Vandag beskryf die lede van dié gemeenskap hulself as “Boshniak” (Bosnjaci), terwyl “Bosniak” of “Bosniër” (Bosanci) verwys na die inwoners van Bosnië-Herzegovina, ongeag die gemeenskap waartoe hulle behoort. |