blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Kerkvereniging 2006-07-19

In weerwil van Suid-Afrika se veelgeroemde versoeningsmodel is die groeiende gaping tussen arm en ryk en die hernude vlaag van geweldsmisdaad waaronder die land tans gebuk gaan maar net twee van die tekens dat die versoening waarvan hoofsaaklik die laaste dekade of wat sprake was, een van elites is. Een van die redes hiervoor is dat die staatskorporatiewe bestel waarmee Suid-Afrika se gemeenskappe al vir die beste deel van twee eeue teen mekaar afgespeel word, dieselfde een is waarin versoening die afgelope jare geïnstitusionaliseer is. Die logika hiervan is ongeveer dieselfde as om vir vrede te veg met ’n AK-47.

            Hierdie prentjie bevestig die allernoodsaaklikheid van instellings in die lewens van gemeenskappe, maar ook in die soeke na versoening. Eliteversoening is ten beste ’n siniese spel, soos ook vandag sigbaar in die enorme magstryd wat hom tussen die neoliberale nasionaliste en die sosialiste binne die Drieparty-alliansie afspeel, of in die gebrek aan geesdrif by korporatiewe Suid-Afrika om ’n duik in armoede te maak.

            As dit by gemeenskapsgebaseerde instellings kom, is Suid-Afrika betreklik gelukkig dat sy heelwat hiervan het. Die probleem is dat hierdie instellings eenvoudig nie oor die mag van die staatskorporatiewe bestel beskik nie. Nietemin bly hierdie instellings – waarvan die kerk miskien die belangrikste is – op die voorpunt van die soeke na versoening, maar ook na die beliggaming van die diversiteit waarvoor Suid-Afrika so beroemd is, maar waarvan so min vandag in instellings beliggaam word.

            Dit is teen hierdie agtergrond dat die onlangse tree nader aan kerkvereniging deur die NG Kerk en die VGK so betekenisvol is. Die histories verdeelde NG-kerkfamilie dra in haarself meer taal- en kulturele diversiteit as enige ander instelling met sy wortels in die Afrikaanse wêreld. Die tree nader aan kerkvereniging maak die groter uitlewing van hierdie diversiteit ’n wesenlike moontlikheid.

            Dié stap het nie gekom sonder die allernoodsaaklike wedersydse erkenning van die twee partye se legitimiteit en die ewe belangrike afstanddoening van wat by tye aan historiese moralisme gegrens het, of dit nou oor die Belydenis van Belhar of die NG kerk se verlede gegaan het. Hier verdien dr. Allan Boesak, wat die VGK oorreed het om sy houding oor die NG Kerk se aanvaarding van Belhar te versag, spesiale vermelding. Wedersydse erkenning en oordeelkundige politiek bly die basis van enige versoening, want daarsonder kan die twee partye wat mekaar moet vind dit nie as gelykes doen nie.

            Kenmerkend van soveel Afrikaanse debatte die afgelope jare oor taal, die kerk en die media is dat die verdeeldheid dikwels langs wit en bruin lyne geloop het. Dit is hoopgewend dat op elk van hierdie terreine die gaping tussen wit en bruin geleidelik aan die verklein is, ofskoon dit nog nie agtergelaat is nie, en die spanning tussen die twee kante ook nie noodwendig onkreatief hoef te wees of weggewens te word nie. Nietemin mag dit wees dat die Afrikaanse wêreld in later jare op hierdie tydvak sal terugkyk en sê, “Ons het nie agtergekom hoeveel ons wel gevorder het nie.”

            Die groot belofte wat in die vereniging van die NG Kerk en die VGK skuil, is dié van nuwe praktyke, van nuwe maniere van ontmoeting. In ’n samelewing wat besig is om sy siel te verloor, kom hierdie belofte nie ’n oomblik te vroeg nie. Dit sal inderdaad ook goed wees as hierdie nuwe kerk van die toekoms hom weer soos die oudste kerke kan besig hou met die volle spektrum van menswees op die openbare terrein, eerder as net die maatskaplike: dit bly ironies dat die huidige regering geen kans verby laat gaan nie om kerke om hulp met maatskaplike vraagstukke te vra wat ’n regstreekse gevolg is van die neoliberale ideologie wat hulle self aanhang.

            Maar saam met die groot belofte lê ’n jaar of drie van oordeelkundige omgang met die gewone lidmate vir die onderskeie kerkleiers voor. Hermann Giliomee het al dikwels gewys op die teenstrydigheid in Suid-Afrika van leiers sonder volgelinge en volgelinge sonder leiers. Talle gewone lidmate (en predikante) van die NG Kerk-familie is vandag in die grootste simboliese of materiële ellende gedompel: eetversteurings en dwelmverslawing is die stalmaat van hongerlone en bendegeweld. In hierdie situasie is die gemeentepredikant vandag nie die statusfiguur van ouds nie, maar eerder die seuntjie wat sy arm in die groeiende gat in die dyk van gemeenskapsverwering moet hou – ’n eensame, uitmergelende en soms ondankbare taak.

            Daar kan geen twyfel wees nie dat juis gewone lidmate en predikante te midde van die groot psigiese en materiële druk waaronder hulle verkeer, met groot geduld en respek gehanteer moet word as kerkvereniging nie moet sneuwel by gebrek aan geesdrif of konsensus op voetsoolvlak nie.

            ’n Vroeë teken, soos die belofte van dr. Allan Boesak dat plaaslike gemeentes of tale van aanbidding gerespekteer sal word, versinnebeeld die gees waarmee die kerkleiding hopelik gewone lidmate en predikante sal ontmoet. As hierdie gees vaardig bly, kan ’n nuwe instelling met nuwe praktyke vir ’n ander Afrikaanse wêreld gebore word – en kan versoening uit die hande van die elites terug na die gemeenskap geneem word.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=617
Artikel nagegaan:
    -