blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Die voorgestelde Iranse Oliebeurs 2006-07-18
Krassimir Petrov

* Oostenrykse makro-ekonoom en investeringstrateeg


 

Die Amerikaanse Ryk berus op die Amerikaanse dollar. Die voorgestelde Iranse Oliebeurs sal die val van die Amerikaanse dollar, en dus die val van die Amerikaanse Ryk, versnel.

 

 

I        Die ekonomie van ryke

         ’n Nasiestaat belas sy eie burgers, terwyl ’n ryk ander nasiestate belas. Die geskiedenis van ryke – van die Griekse en die Romeinse Ryk tot die Ottomaanse en die Britse Ryk – leer ons dat die ekonomiese fondament van elke enkele ryk die belasting van ander nasies of van die onderdane van sulke lande is. Die ryk se vermoë om te belas het nog altyd berus op ’n beter en sterker ekonomie, en gevolglik ’n beter en sterker militêre mag wat die belasting vreedsaam of militêr kon afdwing. Een deel van daardie belasting is aangewend om die lewensgehalte van die ryk te verbeter, en die ander deel is aangewend om die militêre oorheersing wat nodig is om die belasting af te dwing, te versterk.

         Histories het die belasting van die ondergeskikte staat verskillende vorme aangeneem; gewoonlik was dit goud en silwer, indien dit as geld beskou is, maar dit kon ook slawe, soldate, gewasse, vee of ander landbou- en natuurlike hulpbronne wees – watter ekonomiese goedere die ryk ook al geëis het en die ondergeskikte staat kon lewer. Die belasting was histories ook altyd direk: die ondergeskikte staat het die geld (goud, silwer) of die ekonomiese goedere regstreeks aan die ryk oorhandig.

         Vir die eerste maal in die geskiedenis het die VSA in die twintigste eeu dit reggekry om die wêreld indirek te belas – nie deur die regstreekse betaling van belasting af te dwing soos al sy voorgangerryke nie, maar deur sy eie geldeenheid, die Amerikaanse dollar, in ander lande te versprei in ruil vir goedere, met die bedoelde gevolg dat die waarde van daardie dollars mettertyd verminder en dat elke dollar later met minder ekonomiese goedere terugbetaal word. Die verskil tussen die waarde van die dollar by die aanvanklike aankoop en dié van die gedevalueerde dollar by terugbetaling maak dan die Amerikaanse imperiale belasting uit. Dit het só gebeur:

         Vroeg in die twintigste eeu het die Amerikaanse ekonomie die wêreldekonomie begin oorheers. Destyds was die Amerikaanse dollar aan goud gekoppel, sodat die dollar in waarde nóg gestyg, nóg gedaal het, want dit kon altyd in dieselfde hoeveelheid goud omgesit word. Die Groot Depressie, met die voorafgaande inflasie van 1921 tot 1929, het die hoeveelheid papiergeld in omloop beduidend vergroot sonder ’n gepaardgaande toename in goudvoorraad. Dit het beteken dat dit effektief onmoontlik was om die Amerikaanse dollar met goud te dek. Gevolglik het pres. Franklin D. Roosevelt in 1932 die dollar van goud ontkoppel. Tot in daardie stadium was dit wel so dat die VSA die wêreldekonomie kon oorheers, maar ekonomies gesproke was hy tegnies nie ’n ryk nie. Die vasgestelde waarde van die dollar met betrekking tot goud het dit nie vir Amerikaners moontlik gemaak om ekonomiese voordeel uit ander lande te put deur hulle te voorsien van dollars wat deur goud gedek is nie.

         Ekonomies het die Amerikaanse ryk tot stand gekom met die instelling van die Bretton Woods-stelsel in 1945. Die dollar kon toe slegs gedeeltelik in goud omgesit word – buitelandse regerings kon dollars in goud omsit, maar private instellings nie. In dié tyd is die Amerikaanse dollar ook gevestig as die internasionale reserwegeldeenheid, want gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die VSA sy bondgenote voorsien van voedsel en militêre voorraad en goud as betaalmiddel aanvaar, waardeur hy ’n beduidende gedeelte van die wêreld se goud geakkumuleer het.

         ’n Ekonomiese ryk sou nie moontlik gewees het as die dollar volledig deur goud gedek is nie, dit wil sê, as die dollarvoorraad beperk en binne die beskikbaarheid van goud gehou is sodat dollars teen die vooraf ooreengekome koers vir goud teruggeruil kon word. In werklikheid is die dollarvoorraad egter tot ver verby sy gouddekking vergroot en aan buitelanders oorhandig in ruil vir ekonomiese goedere. Daar was geen vooruitsig dat dié dollars teen dieselfde waarde teruggekoop sou kon word nie – die goudvoorraad was nie voldoende om daardie dollars terug te koop nie; terselfdertyd is die hoeveelheid dollars voortdurend vergroot, waardeur daardie dollars se waarde deurlopend gedaal het. Die deurlopende daling in die waarde van buitelanders se dollarbesit as gevolg van aanhoudende Amerikaanse handelstekorte het neergekom op ’n belasting – ’n inflasiebelasting.

         Toe buitelanders in 1971 aangedring het op betaling vir hulle dollars in goud, het die regering van die VSA op 15 Augustus in gebreke gebly om te betaal. Die populêre beeldpoetsstorie oor hierdie wanbetaling was dat die “band tussen die dollar en goud verbreek is”. Die eintlike vertolking is dat die VSA-regering insolvent was, net soos enige handelsbank insolvent kan word.

         Deur dit te doen, het die VSA hom egter tot ’n ryk verklaar. Hy het ’n enorme hoeveelheid ekonomiese goedere uit die res van die wêreld gehaal sonder enige voorneme of vermoë om daardie goedere terug te besorg. Die wêreld is effektief belas en kon daar niks aan doen nie: hy kon die VSA nie in ’n insolvensiegeding betrek en op sy goud- en ander bates beslag lê as betaling nie, en kon ook nie met geweld neem wat verskuldig was deur oorlog te verklaar en dit te wen nie. Wesenlik het die VSA die wêreld ’n inflasiebelasting opgelê en ’n imperiale muntloon ingevorder!

         Van toe af moes die VSA, ten einde die Amerikaanse Ryk in stand te hou en steeds deur inflasie die wêreld belasting op te lê, die wêreld dwing om dollars waarvan die waarde voortdurend gedaal het, te aanvaar in ruil vir ekonomiese goedere en moes hy die wêreld al hoe meer van daardie dollars laat besit terwyl daardie dollars gedepresieer het. Hy moes aan die wêreld ’n ekonomiese rede gee om dollars te besit, en daardie rede was olie.

         In 1971 het die Amerikaanse regering, namate dit duidelik geword het dat die VSA nie in staat sou wees om sy dollars met goud terug te koop nie, ’n alternatiewe reëling getref om die wêreld met sy fiat-dollar gyselaar te hou: in 1972-73 het hy ’n waterdigte akkoord met Saoedi-Arabië aangegaan, naamlik om die bewind van die Huis van Saoed te ondersteun in ruil vir die aanvaarding van slegs dollars as betaling vir Saoediese olie. Deur die dollar op die leier van OPUL (die Organisasie van Petroleumuitvoerlande) af te dwing, is die dollar effektief op alle OPUL-lede afgedwing. Omdat die wêreld olie van die Arabiese olielande moes aankoop, moes hy ook dollars besit om die olie mee te betaal. Omdat die wêreld steeds toenemende hoeveelhede olie nodig gehad het, moes die wêreld se vraag na dollars noodwendig toeneem. Hoewel dollars nie meer vir goud verruil kon word nie, kon dit nou vir olie verruil word.

         Die ekonomiese essensie van hierdie reëling was dat die dollar nou deur olie gedek is. Solank dit die geval was, moes die wêreld al hoe meer dollars akkumuleer, want die dollars was nodig om olie mee aan te koop. Solank die dollar die enigste betaling vir olie was, was sy heerskappy in die wêreld verseker en kon die Amerikaanse Ryk voortgaan om die res van die wêreld belasting op te lê. Indien die dollar om watter rede ook al nie meer deur olie gedek word nie, sal die Amerikaanse Ryk ophou bestaan, want die VSA sal nie meer van die wêreld belasting kan hef deur hom te dwing om al hoe meer dollars te vergaar nie. Die oorlewing van die Ryk het dus bepaal dat olie slegs vir dollars verkoop kon word. Dit het ook geïmpliseer dat oliereserwes versprei was oor verskillende soewereine state wat nie een ekonomies of militêr sterk genoeg was om aan te dring op betaling vir olie met iets anders as dollars nie. Indien iemand aangedring het op ’n ander vorm van betaling, moes hy op politieke of militêre wyse oorreed word om van plan te verander.

         Die man wat wel op euro’s vir sy olie aangedring het, was Saddam Hoessein, laat in 2000. Aanvanklik is sy aandrang bespot, en toe verontagsaam, maar na gelang dit duidelik geword het dat hy bedoel wat hy sê en selfs sy reserwefonds van $10 miljard by die VN in euro’s omgeskakel het, is politieke druk uitgeoefen om hom van mening te laat verander. Ander lande, soos Iran, wou ook betaling in ander geldeenhede hê, veral euro en jen. Die bedreiging van die dollar was duidelik en wesenlik, en dus was strafoptrede aangewese. Bush se oorlog in Irak het nie gegaan oor die bestaan van wapens van grootskaalse vernietiging, of oor die beskerming van menseregte, of oor die verbreiding van die demokrasie of selfs oor die verowering van olievelde nie. Dit het gegaan oor die beskerming van die dollar – dus die Amerikaanse Ryk; dit moes die boodskap tuisbring dat enigiemand wat aandring op betaling in ander geldeenhede as die Amerikaanse dollar, insgelyks gestraf sal word.

         Baie mense het Bush gekritiseer deur te sê dat hy die oorlog in Irak gevoer het ten einde die Irakse olievelde te verower. Dié kritici kan egter nie verduidelik waarom Bush dit nodig sou vind om daardie olievelde te verower nie, want hy kan eenvoudig dollars kosteloos laat druk en dit gebruik om al die olie wat hy nodig het, aan te koop. Daar moes ’n ander rede gewees het om Irak binne te val.

         Die geskiedenis leer ons dat ’n ryk om een van twee redes oorlog maak, naamlik (1) om hom te verdedig of (2) om voordeel te put uit die oorlog. Die voordele van ’n oorlog moet, ekonomies gesproke, swaarder weeg as die militêre en maatskaplike koste daarvan, anders sal ’n ryk nie ’n oorlog begin en voer nie. Die voordele wat die Irakse olievelde sal oplewer, is beswaarlik die langtermyn militêre koste werd wat oor meer as een jaar opgeloop word. Bush het Irak binnegeval om die Amerikaanse Ryk te verdedig. Dit was inderdaad die geval: Twee maande nadat die VSA Irak binnegeval het, is die Olie-vir-Voedsel-program gestaak, is die land se rekeninge teruggeswaai na dollars en is olie weer slegs vir Amerikaanse dollars verkoop. Die wêreld sou nie meer olie van Irak aankoop met euro’s nie. Die wêreldwye dollarheerskappy is herstel. Bush het uit ’n vegvliegtuig geklim en homself as die oorwinnaar bestempel: die doel is inderdaad bereik – Bush het immers die Amerikaanse dollar, en dus die Amerikaanse Ryk, met sukses verdedig.

 

II      Iranse Oliebeurs

         Die Iranse regering het onlangs voorgestel dat ’n Iranse Oliebeurs in Maart 2006 ingestel word wat op ’n euro-gebaseerde olieverhandelingsmeganisme sal berus, wat uiteraard impliseer dat betaling vir olie in euro sal geskied. Ekonomies gesproke verteenwoordig dit ’n baie groter bedreiging vir die hegemonie van die dollar as wat dié van Saddam ingehou het, want dit sal enigiemand wat bereid is om olie vir euro’s te koop of te verkoop, in staat stel om die transaksies op dié beurs te doen. So sal die dollar heeltemal gepypkan word. Indien dit gebeur, is dit baie waarskynlik dat ’n groot deel van die wêreld hierdie euro-oorheerste oliestelsel gretig sal aanvaar:

 

·          Die Europeërs sal nie dollars hoef te koop en te besit om vir olie te betaal nie, maar sal in plaas daarvan hulle eie geldeenheid gebruik.

·          Veral die Chinese en Japannese sal baie gretig wees om die nuwe beurs te aanvaar. Dit sal hulle in staat stel om hulle enorme dollarreserwes drasties te verklein en met euro’s te diversifiseer. Hulle sal steeds ’n deel van hulle dollars wil hou; van ’n ander deel sal hulle miskien direk ontslae wil raak; nog ’n deel van hulle opgehoopte voorraad sal hulle gebruik vir toekomstige betalings sonder om daarna hulle dollarbesit aan te vul, terwyl hulle eerder hulle euro-reserwes sal opbou.

·          Die Russe het ’n ekonomiese belang daarby om die euro te aanvaar, want die grootste deel van hulle handel is met Europese lande, olie-uitvoerlande, Sjina en Japan. Die aanvaarding van die euro sal dadelik by die eerste twee blokke inpas, en met verloop van tyd sal dit handel met Sjina en Japan vergemaklik. Voorts lyk dit ook of die Russe dit verpes om depresiërende dollars te besit, want hulle het hulle onlangs opnuut tot goud bekeer: hulle sentrale bank diversifiseer tans ten koste van dollars en begin goud akkumuleer. Die Russe het ook hulle nasionalisme laat herleef, en as die aanvaarding van die euro die Amerikaners ’n steek kan gee, sal hulle dit met genoeë doen en dan selfvoldaan toekyk hoe die Amerikaners bloei.

·          Die Arabiese olie-uitvoerlande sal die euro gretig aanvaar as ’n middel tot diversifikasie as teenvoeter vir die groeiende hope depresiërende dollars. Net soos die Russe dryf hulle meestal met Europese lande handel, en hulle sal dus die Europese geldeenheid verkies – sowel vir die stabiliteit daarvan as vir die vermyding van valutarisiko.

 

Slegs die Britte sal hulle tussen die hamer en die aambeeld bevind. Hulle het al baie lank ’n strategiese vennootskap met die VSA, maar daar is ook die natuurlike aantrekkingskrag van Europa. Tot dusver het hulle baie redes gehad om hulle by die wenner te skaar. Sal hulle egter, as hulle hul eeue oue vennoot sien val, nog steeds by hom bly staan, of sal hulle die doodsteek gee? Nietemin, ’n mens moet onthou dat die twee voorste oliebeurse tans die New Yorkse Nymex en die Londense International Petroleum Exchange (IPE) is, hoewel albei effektief deur Amerikaners besit word. Dit lyk waarskynliker dat die Britte saam met die sinkende skip sal moet ondergaan, want hulle sal hulself immers net in die voet skiet as hulle hul eie Londense IPE skade berokken. Hier kan miskien daarop gelet word dat, ondanks al die retoriek oor die voortbestaan van die Britse pond, die waarskynlikste rede waarom Brittanje nie die euro aanvaar het nie, druk van Amerika was om dit nie te doen nie: indien hulle dit wel gedoen het, sou die IPE na euro moes oorskakel, en dit sou die dollar en hulle strategiese vennoot dodelik verwond het.

         Hoe dit ook al sy, ongeag wat Brittanje besluit, sal die belange wat regtig saak maak – dié van die Europeërs, die Chinese, die Japannese, die Russe en die Arabiere – die euro gretig aanvaar indien die Iranse Oliebeurs momentum opbou en versnel. En dit sal die lot van die dollar verseël. Die VSA kan nie toelaat dat dit gebeur nie en kan, indien nodig, ’n hele reeks strategieë volg om die werksaamhede van die beurs stop te sit of te belemmer:

 

·            Saboteer die Beurs. Dit kan gedoen word deur ’n rekenaarvirus, ’n aanval op die netwerk, kommunikasie of bediener, verskillende skendings van bedienersekuriteit, of ’n 9/11-tipe aanval op die hoof- en rugsteunfasiliteite.

·            Staatsgreep. Dit is verreweg die beste langtermynstrategie wat vir die VSA beskikbaar is.

·            Bedinging van aanvaarbare voorwaardes en beperkings. Dit is nog ’n uitstekende oplossing vir die VSA. ’n Staatsgreep is klaarblyklik die voorkeurstrategie, want dit sal verseker dat die Beurs glad nie sake doen nie en glad nie die VSA se belange bedreig nie. Indien ’n gepoogde staatsgreep of sabotasie egter misluk, is onderhandeling vanselfsprekend die tweede beste opsie.

·            Gesamentlike VN-oorlogsresolusie. Dit sal ongetwyfeld moeilik wees om te bewerkstellig, gegee die belange van al die ander lede van die Veiligheidsraad. Onlangse retoriek oor Iran wat besig sou wees om kernwapens te ontwikkel, dien ongetwyfeld as voorbereiding vir hierdie handelwyse.

·            Eensydige kernaanval. Dit is ’n skrikwekkende strategiese keuse om al die redes wat geassosieer word met die volgende strategie – eensydige totale oorlog. Die VSA sal Israel waarskynlik gebruik om sy kern-vuilwerk vir hom te doen.

·            Eensydige totale oorlog. Uiteraard is dit strategies die slegste keuse. Eerstens is die VSA se militêre hulpbronne reeds uitgeput deur twee oorloë. Tweedens sal die VSA ander sterk moondhede vervreem. Derdens kan lande met groot reserwes besluit om stil-stil terug te slaan deur hulle berge dollars te stort en so die VSA te verhoed om sy militante ambisies verder te finansier. Laastens het Iran strategiese alliansies met ander moondhede, wat hulle dalk tot ’n oorlog kan laat toetree; Iran het na bewering so ’n alliansie met Sjina, Indië en Rusland, bekend as die Sjanghai Koöperatiewe Groep of die Sjanghai-koöp.

 

Watter strategiese keuse ook al gemaak word, sal die Iranse Oliebeurs, indien dit momentum kry, vanuit ’n suiwer ekonomiese oogpunt gretig deur groot ekonomiese moondhede omarm word en die ondergang van die dollar aan die gang sit.

 

III     Die ondergang van die dollar

         Die ondergang van die dollar sal inflasie in die VSA dramaties versnel en korttermyn- en langtermynrentekoerse baie hoër opdruk. Op daardie punt sal die Fed hom voor twee ewe rampspoedige opsies bevind: deflasie of hiperinflasie. Die eerste opsie, deflasie, wat in die internasionale finansiesliteratuur as die “klassieke geneesmiddel” bekend staan, vereis dat monetêre uitbreiding gestaak en rentekoerse verhoog word. Dit sal ’n groot ekonomiese depressie, die ineenstorting van eiendomspryse en ’n inploffing in die effekte-, aandele- en afgeleide-instrumentemark teweegbring, wat weer na alle waarskynlikheid ’n algehele finansiële ineenstorting aan die gang sal sit. Die alternatiewe opsie is om die maklike uitweg te kies, naamlik dat die Fed die langtermyneffekteopbrengs vaspen, “die helikopters laat opstyg” en die finansiële stelsel laat toegooi onder likiditeit om so talle verskansingsfondse uit die verknorsing te red en die ekonomie te hiperinfleer.

         Volgens die Oostenrykse teorie van geld, krediet en die konjunktuursiklus is daar op stuk van sake geen middeweg tussen die mitologiese Skilla en Charibdis nie – tussen deflasie en hiperinflasie nie. Vroeër of later, namate die druk toeneem en inflasie sy aaklige kop begin lig, moet die monetêre stelsel na die een of die ander kant swaai sodat die Fed gedwing sal word om ’n keuse uit te oefen. Dit ly geen twyfel nie dat die pas aangestelde Opperhoof van die Federale Reserweraad, Ben Bernanke, ’n vermaarde kenner van die Groot Depressie en ’n bedrewe helikoptervlieënier, laasgenoemde weg sal kies – hiperinflasie. Bernanke het die lesse van die Groot Depressie en die destruktiwiteit van deflasie goed geleer. Hy het by die Maestro ook baie geleer van die wondermiddel vir elke finansiële probleem: om jou pad daaruit te infleer, buig of bars. Hy het selfs vernuftige onkonvensionele maniere bedink om die slagyster van deflasionêre likiditeit te vermy, en nou leer hy die Japannese hoe om dit toe te pas. Om deflasie te vermy, het hy in die openbaar verklaar, sal hy die drukperse versnel en “geld uit helikopters gooi”. Indien nodig sal hy alles wat voorkom, monetiseer. Uiteindelik sal hy die Amerikaanse geldeenheid in hiperinflasie vernietig.

         Hiperinflasie geskied egter nie in ’n kits nie. Dit duur gewoonlik jare voordat die finale val kom. Die hiperinflasie van Weimar het omstreeks 1920 begin en in 1923 geëindig met die algehele vernietiging van die geldeenheid. Dit was ook die lot van ’n paar postkommunistiese lande: dit het Rusland en Bulgarye sewe tot agt jaar gekos om hulle geldeenhede te hiperinfleer voordat hulle dit uiteindelik vernietig het.

         Omdat die dollar egter die reserwegeldeenheid van die wêreld is, sal die hiperinflasie van die dollar op twee maniere fundamenteel verskil van alle ander gevalle van hiperinflasie in die geskiedenis. Enersyds is daar dollaroorheerste skuld van miljoene der miljoene en tien keer soveel dollaroorheerste afgeleide instrumente. Gegee dat die verhouding van geldeenheid tot skuld en afgeleide instrumente baie klein is, moet die komende hiperinflasie noodwendig van epiese afmetings wees. Andersyds sal sentrale banke oor die hele wêreld met hand en tand veg om die dollar te ondersteun, sodat die wêreld se finansiële stelsel nie in duie stort en hulle reserwes in die niet verdwyn nie. Talle sentrale banke sal teen wil en dank kies om die dollar te ondersteun deur hulle eie geldeenhede te infleer. Twee sterk magte sal dus die dollar in teenoorgestelde rigtings dryf. Die onvermydelike ondergang van die dollar kan derhalwe vinnig en skielik kom, of dit kan uitgerek en pynlik wees.

         Wat die tempo van hiperinflasie ook al is, gewone Amerikaners sal min opsies tot hulle beskikking hê om hulself te beskerm – in tye van krisis is mense se eerste instink om hulle te wend tot meer “stabiele” fiat-valuta van buurlande, soos die Kanadese dollar of die Mexikaanse peso. Die beskikbaarheid daarvan sal egter beperk en kompleks wees, want mense sal waarskynlik te doen hê met kapitaalbeheermaatreëls wat deur die regering ingestel is. Voorts sit mense instinktief die gehiperinfleerde betaalmiddel om in bates soos grond en eiendom, maar verkopers wil nie so ’n betaalmiddel aanvaar nie en verdwyn vinnig uit die mark. As hulle dan geen ander sinvolle opsies het om hulself te beskerm nie, sal die gewone mense min ander keuse hê as om hulle dollars om te sit in harde valuta soos goud en silwer, waardeur dié se pryse opgejaag word. Daarenteen het sentrale banke geen ander opsie as goud nie. Eerstens vrees sentrale banke tydens krisisse die risiko wat inherent in alle fiat-geldeenhede is. Bowendien sal nie eens die grootste fiat-geldeenhede voldoen aan hulle behoefte om hul reserwes om te skakel nie. Dit is ook nie prakties vir sentrale banke om eiendom en grond te besit nie. Sentrale banke sal derhalwe geen ander alternatief hê nie as om inderhaas hulle reserwes om te sit in die enigste harde valuta wat aan die mens bekend is: goud. Histories was goud in krisistye nog altyd die veiligste toevlugsoord. Wanneer mense en sentrale banke hulle en masse tot goud wend, het die waarde daarvan nog altyd die hoogte ingeskiet.

         Dié keer sal dit ook nie anders wees nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=616
Artikel nagegaan:
    -