|
||||
Die nuus van professor Chris Brink, Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), se skielike bedanking op Dinsdag 4 Julie het reeds dieselfde aand landwyd versprei voor dit nog in die media bekend was. Een van die redes hiervoor is ongetwyfeld die wyse waarop Brink se verbete najaging van ’n ideologiese posisie hom grootliks van die Afrikaanse wêreld vervreem het, maar die geval Chris Brink wys heen na veel diepliggender kwessies as persoonlike ongewildheid of styl. Hierdie diepliggender kwessies behoort deeglik verreken te word in die voortgaande debat oor die toekoms van Afrikaners as ’n gemeenskap of Afrikaans as universiteitstaal. In die eerste plek was die woorde van me. Olivia Grant, voorsitter van die Raad van die Universiteit van Newcastle in Brittanje – waarvan Brink oor ’n jaar Rektor word – veelseggend: “Chris Brink is ’n uitstaande akademikus met ’n internasionale reputasie as leier op die gebied van hoër opvoeding. Sy aanstelling bevestig ons verbintenis tot internasionale voortreflikheid en diversiteit.” (1) Hierdie woorde kon netsowel regstreeks uit ’n US-mediaverklaring oor die aanstelling van ’n bestuurslid of akademikus gekom het. Om die waarheid te sê, kon hierdie woorde kom van enige universiteit wat hom vandag waar ook al aan die heersende Westerse standaarde meet. Dit is woorde waarmee die neoliberale wêreldwanorde hom vandag met heerlikheid omgeef, en dit versinnebeeld die wyse waarop die huidige diversiteitsvernietigende kapitalisme diversiteit inspan om homself mooi te laat lyk – hier dink ’n mens onwillekeurig aan die berugte “United Colours of Benetton”-advertensies. Terwyl die kapitalisme vandag wêreldwyd dieselfde waardes en standaarde afdwing, biodiversiteit vernietig, eentaligheid bevorder en die liberale demokrasie as die hoogste staatsvorm voorhou, vermom hy sy vernietiging van diversiteit veral deur bemarking. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom is ons daagliks so bewus gemaak van ons kleurrykheid as deur die moderne advertensiewese nie. Maar die diversiteit wat hier ter sprake is, is volledig in diens van die spelreëls van die neoliberale wanorde. Aan die US het Chris Brink hierdie feit op sonderlinge wyse beliggaam: terwyl hoog opgegee is oor gesprek, is besluite uiteindelik deur hom en sy binnekring geneem; terwyl hoog opgegee is oor diversiteit, is geen ideologiese pluraliteit verduur nie; terwyl van komplekse veranderingsmodelle gepraat is, is ’n hoogs eenduidige veranderingsmodel toegepas; terwyl van taaldiversiteit gepraat is, is Afrikaans in ’n toenemend broser posisie teenoor Engels geplaas. En inderdaad: die kleurvolheid waaroor dit hier gaan, is in ’n hoë mate visueel, ’n optiese effek, baie soos die reeks advertensies wat onlangs tydens rustyd in Wêreldsokkerbekerwedstryde uitgestal is – “Football, we all speak one language”. Daardie taalspel is vandag die onverbiddelike eise van die mark en sy taal, Engels. Presies op hierdie punt oorvleuel die eise van die neoliberale ekonomie en die Afronasionalistiese politiek, oftewel van Suid-Afrika se korporatiewe en staatselites. Sowel neoliberalisme as Afronasionalisme munt uit in die vergrote demografiese verskeidenheid van personeel, maar nooit word die heersende kode deur hierdie verskeidenheid bedreig nie. Soos Breyten Breytenbach dit onlangs so treffend gestel het: “Mag maak dom, en dit verduister aanspreeklikheid. Suid-Afrikaanse ‘denkers’ is merendeels nog steeds parogiaal, provinsialisties, en agter die klip. Hulle is tog so gesteld daarop om ‘progressief’ en ‘modern’ te wees; hulle dink dis revolusionêr (want selfontkennend) om in te val by ’n Stalinistiese eensoortigheid en die Eenparty na die mond te praat, en hulle weet nie eens nie dat die snykant van transformerende denke waar ook al in die wêreld deesdae besig is juis met die bevrydende ontginning van die wedersydse en wederkerende skeppingsveld tussen oorkoepelende en saambindende waardestelsels en die lewensnoodsaaklike tekstuur van diversiteit en spesifisiteit – uitgedra in tale, gelowe, gebruike, geslagte, streeksverskille ... Maar dis mos ongemaklik om so te wil dink, dit beteken dan ‘permanente revolusie’, dit impliseer immers dat jy die nuwe selftevrede en selfversorgende elite aanvat wat gelegitimiseer is deur vergeet-en-vreet (swart en wit, met ’n paar bruines hinkepink agterna).” (2) Oftewel, watter van die nuut “bemagtigdes” wat die orde divers laat lyk, sal dit ooit waag om sy fundamentele uitgangspunte uit te daag? Soos dinge tans in Suid-Afrika staan, word dié enkele dapperes eerder op swartlyste geplaas en die mond gesnoer. ’n Tweede kwessie kom ook ter sprake in Die Burger se voorbladberig oor Brink se skuif na Newcastle: “Die stad Newcastle is verlede jaar deur die Britse regering benoem as een van ses ‘wetenskapstede’ waar die wetenskapgebaseerde ontwikkeling van die kennis-ekonomie bevorder sal word” (3). As daar ooit ’n netjiese samevatting was van die manier waarop kennis vandag verskraal en misbruik word deur die heersende wanorde, is dit hierdie woorde. Onder vele ander denkers wys Bernard Stiegler in band 3 van sy reeks Tegniek en Tyd (4) watter belangrike ommeswaai in die verhouding tussen wetenskap en tegniek nà die Nywerheidsomwenteling in die middel van die 19de eeu plaasgevind het: waar die tegniek tot dan nog in diens van die wetenskap was, was die wetenskap sedertdien toenemend ’n verlenging van die tegniek, en wel in die vorm van die tegnowetenskap. Die tegnowetenskap is vandag ’n enorm belangrike sektor van die magsbasis van die heersende kapitalisme, en die onderliggende aanname is dat kennis slegs kennis is as dit verrekenbaar en “toepaslik” is. Die reuse skade wat hierdie benadering reeds wêreldwyd aan die geesteswetenskappe aanrig, was ook die afgelope jare in die Suid-Afrikaanse akademie daar vir almal om te sien. Gesluite taal- en filosofiedepartemente lê vandag soos lyke op die slagveld van akademiese “transformasie”, waarvan die uiteinde die oppermag van “swart Afrikane” en “die mark” is. Vir sy voortreflike najaag van hierdie doelwitte word Chris Brink nou ook deur sy geliefde internasionale orde beloon, baie soos Charlize Theron wat ’n Oscar in Hollywood gewen het. Waarna talle deelnemers aan die debat oor die toekoms van Afrikaans aan die US nie verwys nie, is dat Afrikaans maar een van die slagoffers van hierdie benadering is. Net iemand wat die beeldpoetsers van die US glo, kan vandag dink dat dié instelling in terme van ’n gedeelde visie en interne harmonie in ’n goeie toestand is, om maar te swyg oor die huidige afstand tussen die US en sy vernaamste voedingsgemeenskappe. Miskien die heel grootste ironie van Chris Brink se stormagtige rektorskap – waarvan moontlik nog ’n jaar oor is – is dat die waardes van vriendelikheid, goeie bestuur en gesprek waarop hy hom so dikwels beroep het, eers onlangs moontlik begin seëvier het onder enorme openbare en burgerlike druk. Dit was dan ook veelseggend dat Brink dit nodig geag het om te verklaar “niks dryf my hier weg nie”. “The lady doth protest too much” wil ’n mens sê. Brink se komende afskeid en vertrek na die hoër hoogtes van internasionale voortreflikheid het die Afrikaanse wêreld in aanloop tot die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se kongres op 1 en 2 September in Stellenbosch oor ’n plan van aksie vir Afrikaans op universiteit meer as ooit voor die vraag te staan gebring: Hoe sal ware diversiteit en voortreflikheid vandag universeel in Afrikaans aan die universiteit beliggaam kan word?
_________ (1) Die Burger, Woensdag 5 Julie, 2006. Hierdie aanhaling is woordeliks oorgeneem, soos trouens groot dele van Die Burger se berigte oor Brink se bedanking uit die US se mediavrystelling oor Brink se bedanking, waarin hy deur van sy nouste bondgenote besonder hoog aangeprys word. (2) Breyten Breytenbach in Die Burger, Saterdag 18 Maart, 2006 (3) Ibid. (4) Bernard Stiegler, La technique et le temps: 3. Le temps du cinéma et la question du mal-être, Parys: Galilée, 2001. |