blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
“Nostalgia” (1992), deur Keith Alexander 2006-06-12
Stefan Louw

*Leraar, NG-gemeente Melville. Met dank aan Alexander se eksekuteurs vir toestemming om “Nostalgia” hier te reproduseer. Skakel Candace Douwes by 082-870-7067 vir oorspronklike werke van Alexander, of gaan na www.desertart.co.za om afdrukke van sy werk te bekom.

 

Die enigmatiese Suid-Afrikaanse skilder, Keith Alexander, sterf in 1998 in sy fleur in die ouderdom van 52. Is daar ’n beter manier om hom te gedenk as met ’n bespreking van sy skildery “Nostalgia”?

Dis ’n wildernistoneel – ’n meer teen die agtergrond van sneeubedekte berge – oorsee êrens, dalk Europa of Kanada. Vanuit die boonste linkerhoek tuimel ’n majestieuse piek in ’n afwaartse lyn tot dit ongeveer vier-vyfdes in die skildery in weer begin klim na ’n volgende sneeubedekte piek wat regs uit die skildery verdwyn. ’n Poort in die berge, of dalk die kronkelende vallei waaruit die breë, stil waters van die meer in die voorgrond gevoed word. Bo die piekbelynde horison reik ’n grysblou hemel na bo. Die gevoel van diepte, van ’n ruimte wat vervloei in die niet word versterk deur drie elemente. Die eerste is die suggestie van ’n terugwykende vallei, geskep deur die konkawe buiging in die lyn van die horison, die tweede is die vyf denne in die voorgrond wat soos telefoonpale op die langpad die oog intrek na die donker vallei agter in die verte. Die derde is die lumier van ’n dagbreek, of dalk ’n sonsondergang, wat die dieptepunt van hierdie donker, terugskuiwende vallei ets in bande lig wat toeneem van bo af en ’n dowwe gloed vorm bo die vallei.

Op die horisontale vlak trek die skildery die oog dieper in die toneel in van onder na bo. In die voorgrond lê die stil waters van die meer, beklemtoon deur die ononderbroke weerkaatsing van die denne. Die lae perspektief op die meer lei die oog waterlangs om ’n wig land wat van regs af insny in die meer, wat weer verder na agter regs swenk ten einde die dalende, denbegroeide hellings te volg wat afsak na die waters uit die linkerkant van die skildery. In die middel van die skildery, een-derde van onder af, verdwyn die meer uit die sigveld. Die verskuiwing in diepteperspektief word op dié wyse horisontaal versterk in die afwisseling van water, land, water, hellings, berge, lug. Die weerspieëling van die pieke, die hellings en die denne in die water gee saam met die gesigseinder ’n verdere gevoel van transendensie aan die landskap. Hierdie kosmiese skoonheid gaan aan – verder, dieper, anderkant.

Die geheelindruk is van ’n bykans volmaakde landskapskildery wat die romantiek van die ongerepte wildernis in die noordelike halfrond besing. Die natuur, onaangeraak deur mensehande: majestieus, ewig, ontsagwekkend en tog vredevol, ’n kosmiese harmonie van kragte in balans. Die dennebome in die voorgrond vorm ’n emosionele fokuspunt van rus en meditasie. Somber en vredevol rys hulle uit die aarde soos gebede wat opstyg en aan die gesigseinder raak.

Hierdie is egter ’n skildery binne-in ’n skildery. In die groter skildery hang hierdie skildery – geraam, afgegrens, selfingeslote – teen die muur van ’n slaapkamer, bo die koppenent van ’n bed, en regs van ’n wit skuifraamvenster. Waarmee die groter konteks ons konfronteer, is erg steurend. Die skildery hang in ’n bouvallige huis wat deur die kragte van ’n meedoënlose woestyn oorgeneem is. Die bed is toegewaai deur ’n stygende duin woestynsand wat die kamer deur die gebreekte ruite binnegewaai en skuins teen die regterkantste hoek opgewal het, so hoog dat net die katels aan die kop- en voetenent van die bed nog uitsteek. Hoewel die venster toe is, is die ruite gebreek en hang die toiings van wit kantgordyn in slierte van ’n slap gordyndraad. Langs die kant van die vensterraam het die pleister begin afskilfer en loop daar barste teen die muur uit. Die ingewaaide duin het al die hoogte van die vensterbank bereik, en ’n ononderbroke strook sand verbind die duin binne met ’n duin wat van buite af teen die muur opgewaai het.

Die vensterraam vorm as’t ware ’n tweede skildery, in jukstaposisie met die eerste. Hier word ons egter gekonfronteer met ’n wildernis in skrille kontras met die eerste. Die wildernis buite strek uit oor ’n barre, vormlose vlakte na lae grys rante wat in die verte teen die horison bewe, en ’n blinde, wolklose lug wat opreik na die hemel. Dat ’n verblindende son oor hierdie landskap brand, is sigbaar in die bykans tekstuurlose wit van die duin aan die onmiddellike buitekant. Geen harmonie, balans of sinvolle komposisie is hier sigbaar nie.

Die son skyn skuins links van bo af by die venster in, sodat ’n helder ligstrook deur die venster na binne val en die vensterraam met sy hortjies teen die duinsand af-ets in riffelende sonpanele. Dit het die verdere effek dat die skadugehulde kamer met die koel rustigheid van die skildery betree of liewer binnegedring word deur ’n ligstrook wat die oog onwillekeurig na buite trek, na die harde genadelose wildernis aan die buitekant.

Die oorheersende gevoel is van skending en oorname: skending en oorname van die intieme, private ruimte van die mens se mees weerlose toestand, naamlik sy slaapruimte, die plek van drome, versinnebeeld deur die landskapskildery bo die bed, oorgeneem deur ’n werklikheid in skrille kontras met die droom. ’n Werklikheidsvreemde droom van water, koelte, lewe en harmonie is verdring, oorwin deur ’n werklikheid waarin hierdie elemente presies afwesig is, waar son en wind en sand en hitte oor ’n doodse vlakte heers.

Die emosionele krisis geskep deur die spanning tussen droom en werklikheid is die krisis van ontkenning, ontnugtering en uiteindelik – nostalgie. Wat ons hier mee te doen het, is die laaste van die drie. Die proses van oorname van die werklikheid deur die droom het sigself reeds voltrek. Dat die finale slag geslaan is, is veral sigbaar in die ononderbroke stook sand wat die wêreld buite met die wêreld binne verbind. Die stryd is gewonne, en daarom is die oorheersende emosionele lading hier een van nostalgie. Dis ’n hartseer terugblik op die uiteinde van ’n konfrontasie uit die verlede waarin ’n menslike habitat eens weerstand gebied het teen die elemente van die woestyn. Vandaar dan ook die naam van die skildery: “Nostalgia”.

Die verslane weerstand lê op twee vlakke, naamlik die fisieke en die emosionele. Die fisieke weerstand was die weerstand om die binne-buite-grense te handhaaf: die muur, die venster, die ruite en die gordyn is hier sigbaar as simbole van vervloë verset, verslaan deur die elemente eksplisiet en implisiet aanwesig in die skildery: die sand, die son, die wind en die hitte.

Dis egter die verslane emosionele weerstand wat die nostalgie opwek: ’n sagter, vriendeliker, geïnsuleerde lewensruimte is deur die kamerinwoner probeer handhaaf met die fyner kulturele produkte van kantjiesgordyn, katelbed en die skildery met die patroontjiesraam. Die nostalgie word versterk deurdat hierdie proses van oorname nog nie volledig voltrek is nie. Die kantjiesgordyn hang reeds aan flarde, wit vlae gehys in kapitulasie, die bed, intieme ruimte van drome en sorgelose vergetelheid is bykans toegewaai, maar die skildery bied steeds weerstand, tot op hede nog onaangeraak deur die elemente. Dit hang steeds reguit, onversteurd, met die patroontjiesraam steeds wakend oor die droom. Selfingeslote. Intakt. Dis ’n nodelose weerstand, dit weet ons, en ons word hier ingelaat in ’n laaste blik op ’n vervloë droom van ’n vriendeliker landskap, ’n mensliker wêreld.

Die breër filosofiese problematiek waarmee die skildery ons konfronteer, en ’n deurlopende tema reg deur Alexander se oeuvre, is die ommekering van die magsverhouding tussen kultuur en natuur. In ’n moderne wêreld waarin die natuur oorwin is deur tegnologie en instrumentele rasionaliteit, gedienstig gemaak is aan die mens en sy behoeftes, waar woude, diere, water, lug, grond, strande en see nie meer die magtige kosmos is waarvoor die mens sidderend sy offers bring nie, maar bloot funksionele waarde oorhou, ’n kosmos ontdaan van heiligheid, ontgogel, verslaan en verslaaf tot nuwe arme tussen die armes, hierdie wêreld word in ons skildery weer in perspektief gestel. Nie as ’n seëvierende wêreld nie, maar as wêreld in verval, ’n wêreld wat hom gaan stuit teen die elementêre kragte van ’n ekologies gestroopte natuur.

Hierdie natuur is nie oorwin nie. Ons is bloot besig om haar van haar menslikheid en skoonheid te stroop, en sy sal haarself wreek wanneer haar lewensonderhoudende gedaante haar ontneem is en die onsterfbare gestalte van haar elementêre woede uit die aarde rys. Die uiteinde van die moderne mens se tegnologiese opmars teen die aarde is die ontdekking dat sy argelose miskenning van die natuur die miskenning was van die diepste voorwaarde vir sy eie voortbestaan.

In dié sin is ons skildery ’n tydskapsule waarin die “voor” en “na” van die moderne mens en sy verhouding tot die aarde uitgebeeld word: ’n aarde voor die koms van die moderne mens, en ’n aarde na die tot-niet-gaan van die moderne mens. Alhoewel geen mens in die skildery sigbaar is nie, is hierdie ’n versoberende selfportret. Ons sien onsself in die spanningsveld van twee ingesteldhede tot die natuur – as verslane en verdryfde skeppers van ’n lewelose woesteny, en as ademlose aanbidders van haar majesteit. Droom en werklikheid, of werklikheid en droom?

Maar ons weet reeds wat die antwoord hierop is. Die skildery hang bo die bed. Kon dinge anders gewees het? Hierin lê nostalgie, in die terugblik op ’n droom van ’n aarde soos sy eens was, en soos ons haar ook eens kon sien en besing.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=614
Artikel nagegaan:
    -