|
||||
Jaap Steyn
* Skrywer van Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal (Kaapstad: Tafelberg, 1998)
Dit gee baie mense ’n bietjie onheilige plesier om te lees van die vergissings van die grotes. So ’n vergissing was Winston Churchill se aanvanklike oordeel oor die Fascistiese leier, Benito Mussolini, wat hy aanvanklik as ’n “Romeinse genie” beskou het. Hy het Italiaanse joernaliste in 1927 verseker dat, as hy ’n Italianer was, hy Mussolini van ganser harte sou gevolg het in sy stryd teen die Leninisme. Mahatma Gandhi, die Indiese vryheidstryder, het hom geprys as die redder van Italië. Oor die mistastings van skrywers en ander intellektuele kan ’n mens boeke skryf – trouens, ís daar al boeke geskryf. Dit lyk soms of die meeste grotes van die twintigste eeu die een of ander tyd ’n flirtasie met die Fascisme gehad het: W.B. Yeats, T.S. Eliot, Charles Maurras, Louis-Ferdinand Céline, Ezra Pound … Die Amerikaans-gebore Pound, een van die belangrikste digters van die twintigste eeu, is in 1945 in Rapallo, Italië, deur die Geallieerdes gevange geneem vanweë sy anti-Amerikaanse radio-uitsendings gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Hy is wel nie verhoor nie, maar moes baie jare in ’n psigiatriese inrigting deurbring. En dan praat ’n mens nog nie van die oordeelsfoute van die geesdriftige ondersteuners van die Sowjet-Unie nie. Die goedgelowige George Bernard Shaw het in 1932 ná ’n toer deur die Sowjet-Unie in The Times van Londen geskryf dat hy in dié land nie ’n enkele ondervoede persoon, jonk of oud, gesien het nie. Dit was in die tyd toe Stalin se kollektiviseringsprogram al sy tol aan menselewens begin eis het. Tussen 20% en 25% van die mense in die Oekraïne is van honger dood. Dit is goed om dit alles in gedagte te hou wanneer ’n mens N.P. van Wyk Louw wil veroordeel oor wat hy ’n paar keer in die 1930’s en 1940’s kwytgeraak het. Sy uitsprake oor die Nazi’s en die Jode in persoonlike briewe het die afgelope jaar of wat weer aandag gekry ná die verskyning van J.C. Kannemeyer en ander se Ek ken jou goed genoeg … Die briefwisseling tusen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw 1936-1939 (Pretoria: Protea, 2005). Daar is twee berugte Louw-uitlatings – een oor die Jode, die ander oor die Nazi’s – wat vir ’n Louw-leser moeilik is om te begryp . Die eerste is ’n opmerking op 18 November 1936 wanneer hy aan sy broer Gladstone skryf oor ’n protesvergadering teen die immigrasie van Jode. Die sprekers, skryf hy, was “lam en bourgeois”. Een van die soort uitsprake wat hom geïrriteer het, is dat die protesteerders “nie anti-Joods is nie, net teen immigrasie”. Hy vrees die Nasionale Party gaan die saak nie prinsipieel aanpak nie. “Hulle wil graag die opgewondenheid gebruik, maar teen die 100,000 Jode binne in die land wil hulle nog nie roer nie.” Vir die 21ste-eeuse leser klink hierdie woorde onheilspellend. Ons lees dit vandag met ’n kennis van wat in Auschwitz en elders gebeur het. Kon Louw dalk die uitwissing van die Jode in gedagte gehad het? Minstens een vooraanstaande kritikus het al so half en half gesuggereer dat Louw so iets kon bedoel het. Maar ’n pleidooi met dié strekking sou heeltemal in stryd met Louw se persoonlikheid gewees het. Daar is ook eksterne getuienis daarteen. In 1936 was daar nog geen sprake van gaskamers en vernietigingskampe nie. Dit blyk onder meer uit die Nederlandse historikus, Chris van der Heijden, se Grijs verleden. Hy skryf ewewigtig oor die besetting van Nederland en wys die maklike indeling tussen goed en “fout”, swart en wit af. Daarom die titel grys verlede, grys as die gebied tussen swart en wit. Van der Heijden beskryf hoe die Jode hulle sonder verset in 1942 laat wegvoer het uit Nederland. Hulle het oproepe van die besettingsmag gekry om hulle op ’n gegewe tyd aan te meld vir werk in die Duitse arbeidskampe en hulle het, op enkele uitsonderinge na, gegaan. Baie mense is vandag verbaas hieroor, skryf Van der Heijden. Hulle meen dat dit baie beter vir die Jode sou gewees het as hulle hulle op die plek sou doodgeveg het in plaas daarvan om hulle soos skape na die slagplek te laat lei. Wie so iets dink, gaan egter verby aan één fundamentele feit, en dis dat die mense nie geweet het wat daar in Duitsland met hulle gaan gebeur nie. Mense wat iets vermoed het, het die gedagtes uit hul kop gesit; hulle kon hulle so iets nie voorstel nie. Party het hulle laat mislei, of gehoop op die beste. Die na-oorlogse generasies kon nie begryp dat mense in 1942 nie van die gaskamers geweet het nie. Maar ook Lou de Jong, skrywer van Het Koninkrijk der Nederlanden in de Tweede Wereldoorlog (14 dele), gee toe dat die mense in die buiteland en in Nederland daardie tyd nie van die uitwissingskampe geweet het nie. Hoe kon Louw dit al in 1936 geweet, of hom so iets selfs voorgestel het? In ’n brief op 16 Junie 1936 vergelyk hy Duitsland en die Sowjet-Unie, en meld dat die “Duit. Rev.” (“Duitse Revolusie”) minder as ’n duisend lewens gekos het teenoor die “±2 miljoen” in Rusland. Duidelik ervaar hy die kleiner verlies aan menselewens as positief teenoor Duitsland. In dieselfde brief sê hy dat daar in Suid-Afrika van ’n “militante nasionalisme” geen sprake kan wees nie. Waaraan Louw op 18 November 1936 gedink het, is onmoontlik om te sê. Heel waarskynlik was dit ’n versugting in die trant waarin mense deesdae kla oor allerlei euwels en dan byvoeg: “en die regering doen niks daaraan nie”. ’n Tweede uitlating wat vandag moeilik is om te verstaan, is dié in ’n gesprek met die Nederlandse digter Jan Greshoff, wat toe in Suid-Afrika gewoon het en met wie Louw goed bevriend was. Op die aand van 31 Julie 1940 het Louw se broer, Gladstone, asook Greshoff en sy vrou Aty by Louw gekuier. Blykbaar sonder enige aanleiding het Louw skielik begin praat oor sy gevoelens jeens Duitsland, terwyl Gladstone protesteer en Greshoff verslae swyg. Hy sou die Duitsers met genoeë aan die Kaap verwelkom en ’n Suid-Afrikaanse republiek uit die hande van Hitler ontvang. Die verhale oor Duitse wreedhede is propaganda. Wat tot die uitbarsting gelei het, is onduidelik. In Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal het ek oor moontlike redes bespiegel. Een daarvan was Louw se wrewel wanneer hy in sy werk gesteur word – en die Greshoffs was nogal lastig met hulle baie besoeke; hulle was ontdaan oor alles wat sedert die Duitse inval in Nederland gebeur het. Ten tweede het Greshoff en Louw mekaar gedurig geïrriteer deur die ander se benadering tot die oorlog. ’n Derde rede kon spanning oor die komende egskeiding van sy eerste vrou, Joan, gewees het. Ten slotte was daar die anti-Engelse stemming onder Afrikaners ná die nederlaag van Frankryk in Junie 1940 – meer anti-Engels as pro-Duits. Ná die lees van die Nederlandse joernalis-historikus, Geert Mak, se omvangryke werk In Europa. Reizen door de twintigste eeuw dink ek dat dié vierde rede nog belangriker is as wat ek vermoed het, en dat die gevoel onder Afrikaners sterk aangesluit het by ’n algemene stemming in Europa. Die Franse nederlaag was totaal onverwags; ook die Duitsers het nie kon dink dat dit so gou sou kom nie. In die hele Wes-Europa het daar ’n blinde arrogansie geheers, wat een van die oorsake van die Franse nederlaag was. Dit word vandag algemeen beskou as een van die grootste militêre katastrofes uit die wêreldgeskiedenis. In die Europese somer van 1940 was dié kontinent opreg onder die indruk van die ongekende Duitse vitaliteit. Dit was asof hulle gesê het: “Hitler was ’n slim jonge, onaangenaam, maar slim. Hy was al ’n hele end op weg om sy land sterk te maak. Waarom sou ’n mens dit nie op sý manier probeer nie?” Dit was die stemming by baie Europeane. In Frankryk is gepraat van ’n Pax Hitlérica soos daar eenmaal ’n Pax Romana was. In die beste kringe was dit gou ’n mode om jong SS- en weermagsoffisiere te nooi vir ete. In Nederland het die stoere Hendrik Colijn, ’n gewese eerste minister, in Junie 1940 geskryf: “Tensy daar werklik wondere gebeur, sal die vasteland gelei word deur Duitsland. Dit is gesonde en dus geoorloofde Realpolitik om die feite te aanvaar soos hulle voor ons lê.” Hy het gehoop op ’n nuwe handelsisteem onder Duitse leiding. In België het die sosialistiese leier, Hendrik de Man, ’n soortgelyke manifes gepubliseer. Hy het die ineenstorting van die sogenaamd verrotte demokrasieë as ’n “bevryding” beskryf. In Brittanje het ’n konserwatiewe laerhuislid, Robert Boothby, ’n aanhanger van Churchill, Hitler-Duitsland beskryf as “’n beweging – jonk, viriel, dinamies en gewelddadig – wat onweerstaanbaar voortskry en die ontbinde ou wêreld omverwerp”. Die hertog van Windsor, die voormalige koning Edward VIII, was in 1937 selfs in Berchtesgaden op besoek by Hitler. Lord Halifax, minister van buitelandse sake onder Neville Chamberlain, het die nuwe Duitsland begroet as ’n vesting teen die Bolsjewisme. Halifax was ten gunste van ’n kompromis: Brittanje moet sy ryk en die oppermag ter see behou, terwyl Hitler ’n vrye hand kry in die besette Europa. Hitler sou so ’n voorstel waarskynlik aanvaar het. Veral een man was teen so ’n kompromis, en dis Churchill. Hy het gesê: “Nasies wat vegtend ondergaan, herrys opnuut, maar met nasies wat hulle braaf oorgee, is dit afgelope.” Baie Britte, ook koning George VI, het Churchill egter in die somerdae van 1940 beskou as ’n oorlogsaanhitser en ’n gevaarlike avonturier (In Europa, 453-466). Vandag is daardie stemming onbegryplik. Van wat die Afrikaners gedink het, weet ons betreklik min. Maar dit sou nie vreemd gewees het as hulle soos so baie Britte en Europeane gevoel het nie: ’n nuwe tyd het aangebreek; Nazi-Duitsland is nie werklik so erg nie. Maar Nazi-Duitsland wás erg, en ná ’n paar jaar was daar versetbewegings in die besette lande. Die oorlog het Louw se insigte grondig verander. Hy het besef dat hy hom oor verskeie sake misgis het. In 1954 skryf hy na aanleiding van ’n boek oor die Nazi-leiers dat ’n mens ’n vreemde beeld kry van hul verwaandheid, fanatisme en sinisme. “En ’n mens dink ook aan jou eie houding teenoor hulle in vroeër jare … O human bondage!” En nog daarvóór, in 1946, skryf die man wat tien jaar tevore so negatief was teenoor die Jode, in die nuwe intellektuele tydskrif Standpunte dat, as die Afrikaanse volk ’n politieke minderheid word, “hy weet dat hy so hulpeloos soos die Jood in Duitsland sal wees”. Tot so ’n vereenselwiging van die moontlike lot van sy eie volk met dié van die Jode sou ’n werklik anti-Semitiese skrywer nie kon kom nie. |