|
||||
Carel Boshoff
*Gemeenskapsaktivis van Orania
Oor NP van Wyk Louw en sy plek in ons politieke bewussyn skryf ek in die eerste persoon om ’n onderskeid tussen sy gedagtes en my gedagtes te probeer maak. Nie omdat ek skaam is vir die oorheersende invloed wat Louw se prosa sedert my studentedae op denke uitoefen nie, maar omdat ons era méér as ’n herhaling van Louw van ons vra. En omdat ek sy werk so heelhartig my eie gemaak het dat ek myself telkens betrap waar ek eerder namens Louw as oor hom probeer skryf. Feit is dat om Louw se prosa vandag te lees, steeds een van die salwendste ervarings is waaraan enige politiek bewuste Afrikaner hom/haar kan oorgee. Nie alleen was hy ’n fyn formuleerder nie, hy het ook ’n ruim beeld van wat vandag kultuurpolitiek genoem word, gehad en hom nie deur klein politieke oorwegings van stryk laat bring nie. Daarby toon sy werk geen teken van die self-minagting (of minstens geringskatting) wat sedert die afloop van apartheid deel van Afrikanerintellektuele se mondering geword het nie. Verder is die wêreld wat hy bewoon het op die oog af vir iemand met ’n historiese bewussyn nie ontoeganklik vreemd nie - tot die mate dat ’n leser hom/haar dikwels kan verbeel dat daar geen groot kloof is wat oorbrug moet word nie. Nuwe lesers getuig dikwels dat opstelle uit Lojale Verset of Liberale Nasionalisme lees asof dit nou en vir ons tyd geskryf is en wanneer ek my in die plesierige besonderhede van sy polemiese opstelle verlustig, kry ek dikwels weer die verleidelike gevoel dat daar ná Louw niks wesenlik oorgebly het om te sê nie. En tog, buiten dat dit nie waar is nie, is dit vals om so ’n laaste woord aan Louw toe te dig. Dit is ’n valse denkbeeld wat in sy uiterste vorm van onverrekende nostalgie spreek, omdat die wêreld wat Louw vir ons oopgeskryf het, intussen weer toegegaan het en opnuut deur ons verower sal moet word as ons dit weer wil hê. So aantreklik as wat die politieke moraal wat Louw beskryf en beoefen het ookal mag wees, het die werklikhede en magsverhoudinge wat dit onderlê het, onomkeerbaar verbygegaan en aangesien hy geen politieke moralis was nie, sou dit ’n onreg wees om hom daartoe te beperk. Met ander woorde, wat deur die populêre oordeel en ingevolge die heersende kodes van politieke korrektheid vandag by Louw as “tydloos” gereken sou word, laat nog geen reg aan sy werk geskied nie. Slegs die herowering van ’n Afrikaanse wêreld waarin Afrikaners ’n ryk en vol bestaan kan voer, kan sy hoogste prestasie waardig wees. Louw moet as’t ware vergeet word om onthou te kan word - maar daarmee loop ek die argument vooruit. Wat is dan die argument? Dat Louw se poging om Afrikanernasionalisme van sy selfvernietigende trajek te red, misluk het. Verder, dat Louw se poging ’n belangrike bydrae tot die selfvernietiging van Afrikanernasionalisme gelewer het, nie omdat die saad van vernietiging wat in ’n geslote, konserwatiewe nasionalisme opgesluit was, onvoldoende deur liberale nasionalisme teengewerk is nie, maar omdat liberale nasionalisme juis op dieselfde selfvernietiging afgestuur het. In kort kan dit selfs lui dat daar geen liberale nasionalisme is nie. Maar dit alles vereis natuurlik verdere verduideliking. Dit wil ek doen deur twee stellings oor nasionalisme toe te lig: die eerste is dat nasionalisme ten diepste ’n moderniseringsideologie is en die tweede is dat Afrikanernasionalisme iets van ’n onbedoelde, dog noodwendige ontwikkelingsgang gevolg het wat uit die staanspoor op sy eie einde afgestem was. In die derde plek wil ek Louw dan binne die verhaal van Afrikanernasionalisme plaas en ten slotte aanvoer wat ons moet onthou as ons Louw vergeet. 2. Nasionalisme word op verskillende maniere verstaan en beskryf, vanaf ’n romantiese verheerliking van “die volk in opmars” tot ’n demonisering as sou dit niks anders as chauvinisme en xenofobie inhou nie. Êrens tussen-in lê die populêre gedagte dat nasionalisme eintlik net op lojaliteit aan die eie neerkom en die teorie dat die moderne stategemeenskap sy stabiliteit aan nasiestate en hulle geordende bevolkings te danke het. Terwyl hierin ook elke ketter sy letter sal hê, is ek van mening dat nasionalisme sleg verstaan sal word solank dit nie in die konteks van modernisering verstaan word nie. Dit geld veral vir “moderne” nasionalisme, oftewel gevalle waar die moderniteit nie ontdek hoef te word nie, maar deur opkomende bevolkings verower moet word. Die oorgang van die tradisionele na die moderne wêreld word, veral ten opsigte van ekonomiese en politieke aktiwiteit en bygevolg ten opsigte van ekonomiese en politieke instellings, deur ’n oorgang van klein na groot skaal gekenmerk. In die wêreld van oorvloedswelvaart, oftewel industriële produksie en verbruik, oftewel goedkoop fossielenergie, wat ook die wêreld van die nasiestaat is, kan bevolkings hulleself slegs handhaaf in soverre hulle in staat is om tot bo die drumpelwaarde van ontsluiting te unifiseer, óf as taal- en kultuurgemeenskappe op soek na staatkundige gesag, óf as staatsgemeenskappe op soek na genoegsame en volhoubare onderlinge binding. Dit bring mee dat bestaanspatrone onder meer verander vanaf landelik na stedelik; vanaf bestaansproduksie en gedeeltelike ruil-, gedeeltelike geldhandel na bemarkingsproduksie en die monetarisering van handel en alle ander ekonomiese aktiwiteit; vanaf opleiding met die oog op lewensvaardigheid en kosmologiese oriëntering na opleiding met die oog op ekonomies bruikbare vaardighede; vanaf mondelinge oordrag van tradisie en basiese en beperkte geletterdheid na skriftelike oordrag van tradisie en gespesialiseerde geletterdheid; vanaf gemeenskapsgebaseerde kultuur en omgang na massakultuur en -vermaak en die beklemtoning van individualiteit. Waar staatsnasionalisme bevolkings byeenbring rondom beelde en verwagtings van gesamentlike welvaart en moeilik ’n vaste basis vir byvoorbeeld die herverdeling van rykdom tussen streke en bevolkingsgroepe vind, het etniese nasionalisme ’n sterker eksistensiële grondslag, rig dit ’n sterker appél tot onderlinge solidariteit en offervaardigheid en bring dit ’n duideliker samehang tussen die tradisionele verlede en die verwagte toekoms tot stand. Offervaardigheid en uitgestelde beloning maak in die geval van etniese nasionalisme veel meer sin as in die geval van staatsnasionalisme. In soverre die grootskalige gemeenskap wat deur nasionalisme daargestel word as abstrak en imaginêr beskryf kan word, maak gedeelde historiese en taalverwysings dit makliker en word gemeenskaplike oorsprongsverhale oortuigender saamgevoeg. Etniese nasionalisme is dikwels die belangrikste denkbeeld aan die hand waarvan nuwe toetreders die moderne wêreld met al sy ontwrigtings en opwinding toe-eien terwyl staatsnasionalisme dikwels sukkel om die gaping tussen plaaslike kosmologieë en funksionele rasionalisme te oorbrug. Dit verklaar ook waarom veeletniese state dikwels óf deur een etniese groep oorheers word, óf tot ’n ander vorm van elite-modernisering beperk bly, óf glad nie daarin slaag om ’n vaste grondslag vir modernisering te vind nie. Om dus te sê dat nasionalisme ’n moderniseringsideologie is, is om te sê dat dit ’n oorgangsideologie is. Dit hou weer in dat ’n spesifieke nasionalisme se bestaan of aard na afloop van die oorgang, as’t ware heroorweeg word. Waar etniese en staatsnasionalisme saamval, soos in die klassieke Europese nasiestate, is dit nuttig om die ideologie, dikwels in afgeskaalde intensiteit, in stand te hou. Waar dit egter nie saamval nie, val so ’n nasionalisme maklik ’n verskeidenheid etniese en ander kompeterende aansprake ten prooi en kan nóg etniese, nóg staatsnasionalisme teen dié aanslae standhou. 3. Afrikanernasionalisme is ’n goeie voorbeeld van moderne, etniese nasionalisme waar die moderne bestaan volgens die koloniale patroon algemeen sigbaar en individueel toeganklik is vir wie aan die vereistes vir assimilasie met die elite voldoen. Leidinggewende Afrikaners antwoord egter op die uitsluiting van groot getalle volksgenote wat aan gedwonge verstedeliking en proletarisering uitgelewer is met ’n gemeenskapsgebaseerde breëbasisbemagtiging aan die hand van kulturele identiteit en met behulp van doelgerigte taalontwikkeling en vaardigheidsopleiding. Daarvoor moet politieke beheer en selfstandigheid verkry word en die nodige organisasies en instellings word in werking gestel. Selfs onder gunstige demografiese en politieke omstandighede (‘n meerderheid Afrikaners in ’n blanke politieke bestel) is dit nie net ’n kwessie van steun wat gemobiliseer moet word nie, ’n ideële raamwerk vir die mobilisering van steun moet eers geskep word. Nasionalisme kan nie net as ’n onverfynde sentiment aan sy lot oorgelaat word nie, maar moet geformuleer, geprogrammeer en versprei word. Hierdie skeppende proses maak dan ook die eerste fase van die nasionale beweging uit, ’n beweging wat inklusief te werk gaan en alle beskikbare bates probeer ontgin. Wanneer die eerste fase, naamlik die verwerwing van mag en selfstandigheid suksesvol deurgevoer word (eerder ’n proses as ’n gebeurtenis, in hierdie geval êrens tussen 1948 en 1961), kom die eerste oorgang aan die orde. Met politieke beheer verseker en nasionale doelwitte bereik of binne bereik, ondergaan nasionalisme ’n gedaanteverwisseling. Dit word toenemend deur ’n binnegroep bedryf, hulle raak toenemend jaloers op die magsmiddele waaroor hulle beskik en gerig op gevestigde en eie belange - ’n onvriendelike verwikkeling wat met ’n verlies aan kreatiwiteit en ondersteuning uit die skeppende geledere gepaardgaan. In die mono-etniese nasionale staat vorm hierdie gegewe eenvoudig die dekor vir verdere politieke mededinging om beheer en hulpbronne, maar in die Afrikaner se geval is dit ook die stadium waarop die onweerlegbare aansprake op politieke deelname van swartmense, wat Afrikanerbeheer tot niet sal maak, al moeiliker word om te ontwyk. Ten spyte van, en deels dalk danksy die poging om ’n makro-politieke herskikking in die vorm van etniese tuislande op dreef te kry, kan Afrikaners hulleself nie oor ’n breë front sover bring om die voordele van ’n geïntegreerde Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing ten gunste van ´n veraf politieke ideaal af te sweer nie. Die gevolg was ’n eenvoudige keuse tussen toenemende afsluiting en magsbehoud in die vorm van minderheidsbeheer aan die een kant en ont-sluiting en ontbinding van eksklusiewe strukture aan die ander kant, met die oog op nuwe strukture waarbinne Afrikaners hulle danksy ’n ontwikkelingsvoorsprong op individuele grondslag kan handhaaf. Aangesien dit dan ook die weg is wat ontwikkeling gevolg het, is hier van ’n tweede oorgang in Afrikanernasionalisme sprake, een waar die etniese gemeenskap hom van sy politieke manifestering losmaak en sy lede aan die liberale demokrasie in ’n regstaat oorlaat. Dit is boonop nie blote toeval nie dat hierdie verwikkeling ook met die derde vlaag van globalisering (ná kolonialisme en vryhandel binne die Britse Empire) saamgeval het nie. Volgens hierdie beskrywing het nasionalisme Afrikaners dus nie net vanaf ’n tradisionele, landelike gemeenskapslewe tot by individuele deelname aan die moderne ekonomie en samelewing gevoer nie, maar ook na die groter uitweg van hipermobiele, globale burgerskap vir vryswewende individue wat danksy hulle nasionale ontwikkeling vir assimilasie in aanmerking kom. Hoe ookal, nasionalisme het die oorgang wat homself oorbodig gemaak het, bemiddel, veral gesien teen die agtergrond van Suid-Afrika se latere demografiese en politieke situasie (‘n krimpende Afrikanerbevolking in ’n oop politieke bestel). 4. Louw se biografie is eintlik eksemplaries van wat met die skema van modernisering beskryf is en sy besondere talente bring mee dat hy ’n sentrale rol daarin speel. In sy vroeë polemiese opstelle sien mens die oorgang van ’n parochiale bevordering van eiebelang na ’n respektabele nasionale beweging wat Afrikaners in staat moet stel om in enige geselskap ter wêreld kers vas te hou. In die skeppende fase van Afrikanernasionalisme speel hy ’n bepalende rol en geniet erkenning daarvoor, as wyd gepubliseerde en gelese denker, lid van die Afrikanerbroederbond en veral as uitnemende digter. Sy digterskap plaas hom inderdaad in die posisie van iemand met ’n familiefortuin wat sy (in hierdie geval intellektuele) status en onafhanklikheid verseker. In soverre hy as digter nie misken kon word nie, kon hy as politieke denker ook nie geïgnoreer word nie. Aangesien Louw hom nie op politieke bestuur inlaat nie en ’n skerp kritiese houding koester, neem hy in die tweede, toenemend eksklusiewe fase van Afrikanernasionalisme nie dieselfde sentrale plek in nie en bevind hy hom op ’n kritiese afstand van, hoewel nie in regstreekse konfrontasie met die heersende magsorde nie. In werklikheid sit hy sy lojale kritiek juis voort in sy herontwerp van Afrikanernasionalisme in die vorm van liberale nasionalisme. Dit behels nie net dat hy die twee op-die-oog-af strydige begrippe met mekaar verbind en aan Afrikanernasionalisme ’n respektabele gesig probeer gee in die wêreld wat hy bewoon nie. Dit beteken ook dat hy ’n sekere seël van goedkeuring op die liberalisme, daardie ander en kompeterende moderniseringsideologie, plaas. Dit vergelyk inderdaad met Verwoerd se noue, dog minder erkende aansluiting by die doyen van vroeë liberale denke in Suid-Afrika, Alfred Hoernlé en stuur dalk op dieselfde gevolg af. Teenoor ’n geslote nasionalisme wat nie voldoende met die beperkings en eise wat makro-politieke kultuur en strukture stel, rekening hou nie, selfvernietigend sou wees omdat dit op ’n onwenbare konfrontasie sou afstuur, stel Louw die selfvernietiging hoogstens uit met die proses van elite individualisering wat in sy sagter, vriendeliker en meer aanvaarbare liberale nasionalisme opgesluit lê. Bygesê dat Louw ’n ondersteuner van die Verwoerdiaanse beeld van etniese tuislande in ’n supra-nasionale Suid-Afrikaanse gemenebes van state was, met ander woorde nie die makro-politieke eise van sy nasionalisme misgekyk het nie, maar buite-om sy eie wil die slagoffer geword het van die Afrikaner-elite se onwilligheid om die prys vir hulle behoud te betaal. Vandaar dat Louw gewis nie die banale latere etiket van verlig (teenoor verkramp) verdien nie, maar tot ’n diskoers behoort wat op ’n aansienlike betekenisvoller vlak gevoer is. 5. Wat om te onthou as Van Wyk Louw vergeet word? Louw was ’n nasionalis wat nie uit die moderniteit geneem kan word nie soos ’n vis nie uit water geneem kan word sonder om te verstik nie. Daarom is daar ’n enorme gaping wat by die lees van haas elke opstel verreken moet word as mens nie in goedkoop moralisering wil verval nie. Maar wat dit elke keer weer die moeite werd maak om na Louw se prosa terug te keer, is dat hy in die oorgang tussen tydperke gewoon het en as uitnemende rolmodel vir Afrikaners wat hulle nou weer in oorgang bevind en ’n toekoms moet oopdink. In soverre die huidige oorgang vir Afrikaners wat individuele assimilasie met die globale verbruikerselite weerstaan, ook nie uit ’n regressie of nostalgie na pre-moderne bestaansvorme bestaan nie, is Louw se pleidooie vir tradisie, selfstandigheid, praktiese geregtigheid en transendente skoonheid dinge waarsonder ons dit nie tegemoet kan gaan nie. Wanneer ons hom as twintigste eeuse nasionalis vergeet, kan ons Louw as bepalende deel van ons tradisie onthou.
|