|
||||
Ampie Coetzee
*Emeritusprofessor in Afrikaans, Universiteit van Wes-Kaapland en skrywer van ’n Hele os vir ’n ou broodmes, Pretoria: Van Schaik, 2000
Kan ’n mens in dieselfde asem praat van ’n Afrikaanse digter se werk as klassiek, terwyl werke uit die Klassieke Oudheid, soos die Opera van Vergilius en die Carmina van Catullus nog op die rakke van die laaste oorblywende klassici staan? Veral ook as Horatius gesê het: ’n werk wat ’n honderd jaar bestaan nadat dit geskryf is, is dan eers klassiek. Histories is die Klassieke van die oudheid natuurlik anders ten opsigte van ontstaan, taal, beelde, verwysingsvelde en uitdrukkingswyse. Maar is die kanonisering so anders? Toe was een van die norme dulce et utile, vandag is dit grootsheid en uitnemendheid. Soos J.C. Kannemeyer dit gestel het oor Van Wyk Louw: hy is “... as digter en essayis een van die heel grootste persoonlikhede wat die Afrikaanse letterkunde nog geken het” (Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004, 149). Maar buiten dit: waarom sou ’n mens hoegenaamd die term ‘klassiek’ wil betrek? Omdat die woord ’n betekenaar geword het vir ‘uitstekende werke van alle tye in ’n nasie se letterkunde en musiek’ (Verklarende Afrikaanse Woordeboek). Vir ’n lang tyd al onthou ons reëls uit Van Wyk Louw se poësie soos: “Die jaar word ryp in goue akkerblare / in wingerd wat verbruin, en witter lug / wat daglank van die nuwe wind en klare / son deurspoel word...” (Vroegherfs), en:
My land, my dor, verlate land: iets wens olywe groei in jou: dat alles klein, Latyns, gaan word en kalk-wit kerkies bou. (H. Petrus).
Onthou ons gedigte soos Ballade van die Bose, en die epos, Raka. ’n Klein bloemlesing van reëls en beelde bly vandag nog in die poësieleser se geheue.
’n Kort beskouing van die term ‘klassiek’ sal moontlik ander betekenisse kan bybring in die beantwoording van die vraag oor die status van Van Wyk Louw se poësie ten opsigte van die klassiek-wees daarvan. ’n Meer spesifieke betekenis as die algemene gebruik van die konsep, soos byvoorbeeld dat Jochem van Bruggen se Ampie ’n klassieke roman oor die armblanke is! “What is a classic?”, T.S. Eliot se Presidensiële Voordrag vir die ‘Virgil Society’ in 1944, en die kritiek daarop in “What is a classic?” – J.M. Coetzee se lesing in Graz, Oostenryk in 1991 – gee enkele gedagtes ten opsigte van die gemeenskap en die taal wat klassieke werke sou kon voortbring. Eliot praat van die “universele klassieke”, waarvan Vergilius vir hom die groot ikoon is, en dan is daar ook die klassieke werk in vergelyking met ander in die eie letterkunde. Sy gedagtes oor die stand van die maatskappy waarin die klassieke kan voortkom, is van belang vir ons. Hy werk met die konsep “maturity”, wat moeilik vertaal in Afrikaans (sowel as in Nederlands): rypheid, wasdom? Miskien eerder ‘ontwikkeling’. Eliot sê die “maturity” van ’n letterkunde is die weerspieëling van die gemeenskap waarin dit geproduseer is. ’n Ontwikkelde literatuur ontstaan wanneer taal deur ’n geordende, hoewel onbewuste, proses die potensiaal binne die beperkings daarvan bereik het. Dan ook: ‘Maturity of language may naturally be expected to accompany maturity of mind and manners’ (On Poetry and Poets, Londen: Faber & Faber, 55-57). Hoe lyk die “maturity of mind and manners” in die 1920’s en 30’s – die tyd van die onstaan van die Dertigers in ons poësie? Afrikaans word weliswaar “bemagtig” tot een van die landstale (1925); maar daar was depressie, en die ‘armblankes’, die Afrikaner-armes, en daar was die Reddingsdaadbond om die afstammelinge van die Voortrekkers te red “...living in hopeless poverty, sunken materially, morally and spiritually” (aangehaal deur Hermann Giliomee in The Afrikaners, 352). Die arm Afrikaner sou die grootste uitdaging word tot oorlewing – wat later sou lei tot apartheid en die voortbestaan in ongeregtigheid. ’n Mens sou dus kwalik van ’n rypheid van gees en handelinge in die Afrikanergemeenskap kon praat toe digters soos N.P. van Wyk Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers gedebuteer het. Óf Eliot se veralgemening is verkeerd, óf dit was ’n manifestasie van individuele talent. In sy lesing oor die lotgevalle van Bach se musiek na sy dood, en hoe dit gered is van die vergetelheid, wys Coetzee in sy lesing daarop dat die ‘ontdekking’ van sy musiek te danke was aan die professionele belangstelling van die spesialis. Van Wyk Louw was die eerste digter in Afrikaans wat die poësie beskou het as taak, as ’n professie en nie ’n tydverdryf nie. Sy literêre artikels en die ars-poetica-gedigte in die verskeie bundels lewer bewys van sy erns en toegewydheid. Kernreëls uit die kunsteoretiese gedigte in elke bundel spreek vanself: “My naakte siel wil sonder skrome / in alle eenvoud tot jou gaan ... gaan met al sy donker wense / en die heilige, nooit-gehoorde / dinge sê, waarvoor die mense / huiwer, en wat om die grense / flikker van my duister woorde” (“Grense”, Alleenspraak, 1935). “Toe moes ek nuwe woorde vind ... neem dié vir jou; maar ek wat gaan / waar hoër, kouer paaie lê, / wil weinig troos en geen gebed / en min, maar suiwer woorde hê” (“Opdrag”, Die halwe kring, 1937). “O Woord, / smal swaard en blink, my wapen in die vlug .../ O Woord, geslote kamer vir die skoonheid klaar – / gaan oop vir my dat ek my in jou red / met hierdie vrag van aardse sekerheid en pyn” (“Vooraf gespeel”, Gestaltes en diere, 1942).
Nog eenmaal wil ek in die skemeraand weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan, weer met my rek op in die donker skiet, en luister, en al word ek seer en dof, hoe die klein klippie ver weg in die riet uit donker in die donker water plof (Nuwe verse, 1954).
Dan in die laaste bundel, Tristia, (1962), waarin sy “kunstenaarskap” ’n “hoogtepunt” bereik (Kannemeyer, 161) – op die toppunt van sy professionaliteit:
VOORSPEL 1950
Miskien sal ek die wingerd prys en nooit meer van hom drink en net in ’n verbeelde glas die koel gedagte skink:
dié wat in jare donkerte sy wynsteen kon laat sak en niks wat somers is meer het nie pit nie dop of rank:
miskien nog van Gods weë weet: – Sy paaie en Sy pyn: maar ingewikkeld alles ken en mens wil wees én rein.
Hierdie bundel eindig met die klassieke “Groot ode”, wat ’n professionele kritikus se spesialiskennis van metafoor en woord vra om te ontleed – soos in E. Lindenberg se Groot ode, ’n Leesverslag, 1993. Van die poësie van Van Wyk Louw en van die talle ontledings van sy werk kan ’n mens bevestig wat J.M. Coetzee aan die einde van sy lesing sê: “... the function of criticism is defined by the classic: criticism is that which is duty-bound to interrogate the classic ... rather than being the foe of the classic, criticism and indeed criticism of the most sceptical kind, may be what the classic uses to define itself and ensure its survival.” Omdat kritici vandag nog weet van die mooi daarvan en uitgedaag word deur die kompleksiteit sal Van Wyk Louw se verse voortbestaan – soos die klassieke. Kompleks soos die laaste strofe van H. Petrus – dit wat volg op “my land, my dor, verlate land...”: – die simultaneïteit verwoord van die mooie en die ingewikkelde, die lokale en die ewige, waarvoor die professionele kritikus te staan kom:
Die jakkals grawe in die son, hy skop ’n bietjie nugter wit rondom sy agterboudjies uit. En Dowe-Peet hou aan met spit.
Dit wat teenoor die klassieke staan, volgens die Poolse digter Zbigniew Herbert, is die barbarisme. Maar “...what survives the worst of barbarism, surviving because generations of people cannot afford to let go of it and therefore hold on to it at all costs – that is the classic” (Coetzee). Barbaar kan ook metafoor wees vir diegene wat taalregte verontagsaam. |