| ||||
“Die man wat die Afrikaner leer dink het”: so het André P. Brink Van Wyk Louw enkele jare gelede in ’n huldigingsartikel beskryf. Inderdaad. Kyk ’n mens vandag terug na die rol wat Van Wyk Louw (geb. 11 Junie, 1906) en enkele ander gespreksgenote – “alleen maar die fyndink…” – vanaf die 1930’s gespeel het om Afrikaners as gemeenskap anders te verbeel, kan sy voorbeeld vandag nie anders nie as om in ons tyd, wat weer so ’n herverbeelding vra, te begeester nie. Vandeesmaand se dossier word geopen deur een van Louw se oudstudente, FIJ van Rensburg, wat Louw se nasionalisme ontruk aan die verwording van apartheid. Nóg ’n oudstudent en –kollega van Louw, Ampie Coetzee, kyk terug op Louw as klassieke digter. Uit ’n jonger geslag gee Carel (iv) Boshoff eerste treë in die rigting van ’n besinning oor Louw se politieke konsepte vandag. Die dossier word afgesluit deur Louw se biograaf, Jaap Steyn, wat terugkyk op die onlangse polemiek oor Louw en sy broer, W.E.G. (Gladstone), se briefwisseling uit die 1930’s. |