|
|||
Damien Millet en Eric Toussaint
*Onderskeidelik voorsitter van CADTM Frankryk (Komitee vir die afskaffing van derdewêreldse skuld), skrywer van L’Afrique sans dette, Parys: CADTM-Syllepse, 2005; voorsitter van CADTM België, skrywer van La Finance contre les peuples, Parys: CADTM-Syllepse, 2004. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Dit is die jaar 1955. Die Argentynse president, Juan Domingo Perón, is pas deur ’n militêre staatsgreep omvergewerp. Die nuwe regime, gretig om weer op internasionale vlak in pas te kom, poog gou om by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreldbank aan te sluit. Daarvoor moet hy sy skuldprobleem oplos en die belangrikste skuldeiserlande ontmoet. Op 16 Mei 1956 vind die byeenkoms in Parys plaas, op aanbeveling van die Franse Minister van Ekonomie. Die Paryse Klub word gebore. Vyftig jaar later het dit, in die geselskap van die IMF en die Wêreldbank, ’n sleutelinstrument geword in skuldeiserlande se strategie om ’n volslae greep op die wêreldekonomie te handhaaf. Die Klub se doel is om die bilaterale skuld van Suidelike lande wat met terugbetaling sukkel, te herbeding. Die aanvanklike elf lidlande het vandag tot negentien aangegroei (1). Tussen 1956 en einde 1980 is slegs dertig ooreenkomste deur die Klub onderteken. Voor 1976 trek hy selfs by sy vergaderings die neus op vir lande waarvan die skuld te gering geag word: slegs Argentinië, Brasilië, Chili, Indonesië, Peru, Kambodja, Pakistan en Zaïre se aansoeke word ontvang. Na die skuldkrisis (2) vind daar ’n merkbare versnelling plaas. Tussen die begin van 1981 en April 2006 word 368 ooreenkomste met verteenwoordigers van 81 verskillende lande wat in die skuld is, gesluit. Senegal hou die onbenydenswaardige rekord (14 keer sedert 1981), ’n kortkop voor Madagaskar (12 keer), Niger en die Demokratiese Republiek van die Kongo (11 keer). Die somtotaal van skulde waarna gekyk is (hergeskeduleer of gekanselleer), oorskry 500 miljard dollar. Daar is iets ritueels aan die manier waarop die volle sittings, gewoonlik maandeliks, verloop (3). Afvaardigings van die skuldgeteisterde land en sy skuldeisers sit rondom die groot konferensietafel. Multilaterale instellings – IMF, Wêreldbank, die Verenigde Nasies se konferensie vir handel en ontwikkeling (UNCTAD), streeksontwikkelingsbanke, ensovoorts – is ook teenwoordig. Die voorsitter van die Klub – dikwels die direkteur van die Franse Departement van Finansies, of ’n noue medewerker – open die sitting. Die leier van die skuldgeteisterde land se afvaardiging lê op formele wyse die redes vir sy teenwoordigheid uit. Maande lank reeds is die owerhede van sy land in verbinding met die Klub en moes hulle hul aan twee uiters streng voorwaardes onderwerp: die voorlê van ’n toegangsaansoek op grond van sy onvermoë om met die bestaande terugbetalingsreëling voort te gaan, en die sluit van ’n ooreenkoms met die IMF wat verseker dat alles in werking gestel is om te verhoed dat so iets weer gebeur. Wanneer die skuldgeteisterde land se pleidooi aangehoor word, het hy hom dus reeds aan sy skuldeisers se eise onderwerp, sodat hy op die betrokke dag oor feitlik geen speelruimte beskik nie. Vervolgens lê die verteenwoordiger van die IMF die hervormings uit wat die Fonds beoog om die land uit sy verknorsing te red, voordat dié van die Wêreldbank en UNCTAD die prentjie voltooi. Dan begin die vraesessie. Aan die einde daarvan word die land in skuld se afvaardiging gevra om die vertrek te verlaat sodat die lede van die Klub onderling kan “onderhandel”. Wanneer hulle tot ’n vergelyk gekom het, maak die voorsitter dit bekend aan die Suidelike land se delegasie, wat eenkant moes sit en wag terwyl sy lot beklink word. As hy nie daarmee tevrede is nie, kan die besprekings hervat word, maar sy oorredingskrag is minimaal. Nadat die notule onderteken is, kan hy sy vreugde oor die verkrygde ooreenkoms voor die media gaan betuig en die skuldeiserlande bedank. Die lewensomstandighede van arm bevolkings word buite rekening gelaat deur hierdie skuldinwinningsagentskap: “Die Paryse Klub se skuldeiser wil sover moontlik sy uitstaande fondse herwin. Hy vra dus die onmiddellike betaling van die hoogste moontlike bedrag. Bedrae wat nie gedelg kan word nie, word geherskeduleer onder voorwaardes wat toekomstige betalings balanseer, met die oog daarop om te verhoed dat die skuldenaar in die toekoms weer voor die Paryse Klub se skuldeisers te staan kom met ’n verdere versoek.”(4) Is dit dus pure toeval as daar ’n pad tussen die Klub en die groot banke oopgetrap word? Jean-Pierre Jouyet tree in Julie 2005 uit die voorsitterstoel om Nie-uitvoerende President van Barclays bank se Franse filiaal te word. Die vorige Sekretaris-generaal van die Klub, Emmanuel Moulin, neem in Januarie 2006 die leisels oor van Citibank, die grootste bankgroep ter wêreld. Die Paryse Klub self hou hom voor as ’n informele groepering, ’n “nie-instelling”. Dit het nóg regstatus, nóg Grondwet. Teoreties lei sy besprekings slegs tot aanbevelings. Dit tree in werking slegs wanneer die krediteurlande elk onafhanklik besluit om dit deur bilaterale ooreenkomste toe te pas. Slegs laasgenoemdes het enige regskrag. Maar lidstate van die Klub volg noukeurig hierdie aanbevelings, aangesien hulle daartoe verbind word deur die eensgesindheidsbeginsel wat hulle saamsnoer. ’n Vernuftige manier om aanspreeklikheid af te water: die Paryse Klub dra geen aanspreeklikheid nie, aangesien hy op geen wyse die lande bind nie, maar terselfdertyd pas hierdie lande slegs aanbevelings toe wat die Klub gemaak het. Daarby speel laasgenoemde ’n sleutelrol, omdat hy ’n verenigde front daarstel vir die inwin van bilaterale skuld. Die Suidelike land daarenteen staan vingeralleen. Sy situasie word individueel bestudeer op die basis van gegewens wat die IMF verskaf, wat trouens duidelik is as ’n mens na die oordrewe optimistiese vooruitskouings kyk (5). Altyd gereed om die waarde van “goeie bestuur” by ander te besing, voel die Klub nie genoop om dit self toe te pas nie. Die agenda vir sittings word nooit vooraf openbaar gemaak nie; die inhoud van interne besprekings en die verskillende lede se standpunte word nooit bekend nie; vergaderings vind agter geslote deure plaas, sonder die geringste waarnemer. Die Klub, wat vertroulikheid op prys stel, betree slegs teësinnig die mediaverhoog. Nogtans was dit die afgelope klompie jare by drie geleenthede nóú by nuusgebeure betrokke. In November 2004 was Irak se skuld die onderwerp van buitengewoon langdurige samesprekings. Die VSA en sy bondgenote in die militêre inval van Maart 2003 het aangedring op die afskryf van 95% van die Klub se lidlande se krediet aan Irak. Frankryk, Rusland en Duitsland wou nie tot meer as 50% instem nie. Daar is ooreengekom op 80% in drie dele, oftewel 31 miljard dollar uit die 39 miljard wat aan die Klublande geskuld is (6). Die afskryf van skuld is dus moontlik wanneer daar sterk geostrategiese belange op die spel is. Dit is reeds in April 1991 vir Egipte gedoen, toe dié land Washington tydens die eerste Golfoorlog gesteun het, in Mei 1991 vir Pole toe dié uit die Warskouverdrag getree het, en in Desember 2001 vir Pakistan toe hy ingestem het om die VSA met sy inval in Afganistan te help. In Januarie 2005, ná die tsoenami aan die Indonesiese kus – met meer as 220 000 sterftes – het verskeie verenigings gemobiliseer om te eis dat die geteisterde lande se skuld afgeskryf word. Met die media-ophef wat dié versoek ontlok het, besluit die Paryse Klub op ’n jaarlange moratorium op Indonesië en Sri Lanka se skuldvereffening. Dié twee lande sal tussen 2007 en 2010 moet betaal wat hulle in 2005 sou vereffen het. Nie alleen is die skuld nie afgeskryf nie, maar aangesien die afbetaling nie op die vasgestelde datum geskied het nie, kan daar in die geval van ’n moratorium bykomende rente deur die skuldeiserlande gehef word. In Oktober 2005 stem die Paryse Klub in om twee-derdes van Nigerië, die voorste olieproduserende land in Afrika, se skuld aan hom uit te wis (18 miljard uit ’n totaal van 30 miljard dollar). Dit is ’n tipiese voorbeeld van ’n reëling wat nie so goed is as wat dit klink nie. Nigerië moet binne ses maande sy agterstallige skuld aan die Klub se lande betaal om een-derde van die totaal gekanselleer te kry. Vir die ander derde moet hy ’n betuiging van goedkeuring van die IMF verkry en met ander terugbetalings voortgaan. Nigerië moet dus nog verder voor die IMF se eise swig en 12,4 miljard dollar in enkele maande opdok, terwyl die agterstallige bedrae dateer uit die militêre diktatuur in die 1990's en dus ’n onaanvaarbare skuld (“odious debt”) is (met ander woorde wat aangegaan is deur ’n nie-demokratiese regime). Volgens die voorsitter van die Kommissie van Finansies van die Kamer van Verteenwoordigers, Faroek Lawan, is dit “ondenkbaar dat Nigerië die afgelope twee jaar 5,4 miljard dollar ter delging van sy skuld betaal het, maar dat die totaal van dié skuld terselfdertyd met 5,73 miljard dollar gegroei het sonder dat enige verdere lening aangegaan is. Dit kan nie voortduur nie. Ons moet dié skuld afskryf.” (7) Die afgelope tyd neem versoeke om vooruitbetaling aan die Paryse Klub toe. In die somer van 2005 delg Rusland 15 miljard dollar (uit die totaal van 40 miljard dollar wat hy skuld). Hy probeer die maneuver herhaal in 2006, die jaar wat hy die G-8 spitsberaad huisves, deur aan te bied om 12 miljard dollar in te betaal. In Desember 2005 kondig Brasilië ’n vroegtydige terugbetaling van sy totale skuld (2,6 miljard dollar) aan. In Maart 2006 vra Algerië ook om 8 miljard dollar te kan terugbetaal. Brasilië en Argentinië het onlangs dieselfde teenoor die IMF gedoen, toe hulle onderskeidelik 15,5 en 9,8 miljard dollar op een slag terugbetaal het. Oorwegend bly hulle afhanklik van skuld, aangesien dié transaksie (in Argentinië se geval) slegs moontlik gemaak is deur die aangaan van nuwe lenings by ander skuldeisers. Maar dit stel hulle in staat om hulle afhanklikheid teenoor die IMF en die Klub te verbreek en te ontsnap aan laasgenoemdes se voorskrifte rakende hulle ekonomiese (en dus maatskaplike) beleid. Die situasie lyk gunstig. Die kombinasie van betreklik lae rentekoerse, afwaarts neigende risikopremies en stygende pryse van grondstowwe het vir ontwikkelende lande heelwat groter geldreserwes meegebring: bykans 1 600 miljard dollar aan die einde van 2004 (8), net soveel soos hulle openbare buitelandse skuld. Die argument dat hierdie lande skuld moet aangaan om hulle ontwikkeling te befonds, hou nie steek nie. Lenings word hoofsaaklik aangevra om met terugbetalings te kan voortgaan. Hierdie doodloopstraat het die gedagte laat ontstaan dat ontwikkelende lande ’n deel van hulle reserwes bymekaar moet sit om hulle eie ontwikkelingsbanke en monetêre fondse op die been te bring. In Maart 2006 in Caracas was die stigting van ’n Suidelike Bank op die agenda van ’n byeenkoms van die presidente van die sentrale banke van Venezuela, Brasilië en Argentinië, onder die wakende oog van ander Suid-Amerikaanse lande. Daarbenewens het Venezuela Argentynse skuldbriewe ter waarde van oor die twee miljard dollar gekoop. Indien dié land binnekort die onderwerp van ’n sitting van die Paryse Klub sal wees, sal die skuldeisers Venezuela moet saamnooi... As skuldgeteisterde lande begin saamstaan om onderling hulp aan mekaar te verleen, kan dit die hele beginsel wat die Paryse Klub voorstaan, in duie laat stort.
_________ (1) Australië, België, Denemarke, Duitsland, Finland, Frankryk, Ierland, Italië, Japan, Kanada, Nederland, Noorweë, Oostenryk, Spanje, Swede, Switserland, die Verenigde Koninkryk, die VSA. (2) In Augustus 1982 kondig Mexiko ’n moratorium af op die betaal van rente op sy skuld; ander Latyns-Amerikaanse lande doen dieselfde, maar na ’n paar maande keer sake weer terug na normaal.
(3) David Lawson, Le Club de Paris. Sortir de l’engrenage de la dette, Parys: L’Harmattan, 2004. (4) www.clubdeparis.org/fr/presentation/presentation.php?BATCH=B01WP06 (5) ’n Verslag in Augustus 1997 deur die IMF en die Wêreldbank oor Burkina Faso, neem byvoorbeeld as basis vir die tydperk 2000-2019 ’n groeikoers van 8% per jaar vir alle uitvoere. Nadat katoenpryse in 2001 met 35% geval het, het die totaal van uitvoere tussen 1998 en 2002 in werklikheid met 14% gedaal. Lees Damien Millet, L’Afrique sans dette, Liège-Paris: CADTM-Syllepse, p. 175. (6) ’n Mens moet bewondering vir die skuldeisers se vernuftigheid by dié geleentheid hê. Die helfte van die uitstaande 39 miljard dollar was afkomstig uit agterstallige paaiemente sedert die eerste Golfoorlog, toe ’n finansiële embargo Saddam Hoessein verhoed het om terug te betaal. (7) Courrier international, 27 April 2005. (8) Wêreldbank, Global Development Finance 2005, Washington, April 2005, p. 165. Sjina, Maleisië, Thailand, Indië, Suid-Korea, het almal geldreserwes wat hoër as hulle openbare buitelandse skuld is, net soos sommige lande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. |