blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Sklerose van die Amerikaanse politieke elites 2006-06-12
Anatol Lieven

 *Navorser by die New America Foundation in Washington, D.C. Sy jongste publikasie is America Right or Wrong : An Anatomy of American Nationalism, (Oxford University Press en Londen: Harper Collins, 2004). Uit die Frans vertaal deur Martine Steyn, [email protected]

 

Deesdae is president Bush meer ongewild as Lyndon Johnson na die Têt-offensief in 1968. Dit is duidelik dat die administrasie se optimistiese opmerkings oor die oorlog in Irak, wat al telkemale herhaal en weerspreek is, veragting en bespotting by die meeste Amerikaanse patriotte uitlok, net soos soortgelyke omstrede uitlatings wat destyds tydens die Viëtnam-oorlog gemaak is (1).

      Alhoewel president Bush en sy administrasie dit reggekry het om orkaan Katrina te oorleef sonder dat enige van sy senior amptenare bedank het, kleef die onvaardigheid en dilettantisme waarmee hierdie katastrofe benader is nou soos ’n vuil skaduwee aan die Withuis se mure (2).  Die President se afkeur jeens die Kongres, asook die buitegrondwetlike regte wat hy ewe gemaklik vir homself toe-eien, lok die hewige teenkanting van Kongreslede, Demokrate asook Republikeine, uit.

      Dit is egter binne die staatsinstellings self waar die krisis die sterkste gestalte vind. Mnr. Lewis "Scooter" Libby, die stafhoof van visepresident Richard Cheney,  is daarvan beskuldig dat hy probeer het om die voormalige ambassadeur, Joseph C. Wilson, ’n teenstander van die oorlog in Irak, te diskrediteer deur aan joernalisvriende die naam van sy vrou, ’n koverte offisier van die Central Intelligence Agency (CIA), uit te lap. So ’n onthulling is ’n federale misdaad wat dreig om tot verdere aanklagte aanleiding te gee, waaronder die een wat mnr. Karl Rove, die President se Hoof-Politieke Adviseur, betrek. Hierdie aanklagte verteenwoordig egter nie meer as ’n skrapse gedeelte van die vergrotende gaping tussen die Withuis en die CIA nie en maak terselfdertyd ’n belangrike deel van die militêre hiërargie uit.

      Die tweespalt wat woeker tussen amptenare van die CIA en die Presidensie in verband met die oorlog in Irak is lankal bekend (3). Reeds in 2004, met verwysing na die Wilson-aangeleentheid, veroordeel die Wall Street Journal die lek van inligting vanuit die CIA, wat op sy beurt weer die geloofwaardigheid van die President se stellings ondermyn : “(Die Bush-administrasie) moet twee opstande konfronteer: die een is in Irak en die ander in die CIA" (4). Werknemers van die Agentskap en sekuriteitsorgane veroordeel al jarelank die Presidensiële manipulasie wat poog om die VSA by die Irak-oorlog te betrek. Mnr. Paul Pillar, voormalige intelligensie-agent vir die Midde-Ooste en Suid-Asië en outeur van ’n pessimistiese verslag oor Irak wat uitgelap en openbaar gemaak is in 2004, het byvoorbeeld onlangs herbevestig dat die administrasie ’n “georganiseerde manipulasieveldtog” van stapel gestuur het om vyandigheid te kweek (5).

      Om hierdie onenigheid stop te sit en sterk politieke beheer te vestig, het Bush in 2004 ene mnr. Peter Goss aan die hoof van die CIA aangestel. Die demoralisering en tweespalt wat die intelligensie-agentskap teister, het tot sy gedwonge bedanking gelei. Gedurende die twee jaar van sy diens het verskeie beamptes en analiste bedank, veral dié wat in geheime operasies betrokke was.

      Voorts het die geknor en misnoeë in die weermag aan die lig gekom. Verskeie prominente, afgetrede generaals (6) wat tog hulle menings met ’n klomp aktiewe weermaglede deel, het die Amerikaanse minister van verdediging, mnr. Donald Rumsfeld, en sy hantering van die oorlog in Irak openlik veroordeel. Hierdie ongeëwenaarde aanslae word gedeeltelik gemotiveer deur die opposisie van militariste teen ’n moontlike offensief in Iran - ’n stap waarvan hulle die potensiële gevolge vir die VSA en die Amerikaanse weermag vrees. Inligting wat van binne die weermag aan joernaliste soos Seymour Hersch van die New Yorker (7) uitgelek is, getuig van verskeie offisiere se voornemens om oor nuwe konflik in te lig en daarteen te waarsku.

      Die militariste glo in der waarheid dat ’n Amerikaanse aanval geloods op Iranse kerngebiede ’n kettingreaksie van konfrontasies en teenoptredes mag ontlok wat waarskynlik op ’n grootskaalse konflagrasie sal uitloop. Hulle vrees nie net die verwoesting gesaai deur Amerikaanse magte nie, maar ook die vooruitsig van nóg ’n groot oorlog wat die herinstelling van diensplig vir die VSA mag inhou. Desnieteenstaande herinner Viëtnam ons daaraan dat ’n weermag van opgekommandeerde soldate meer geneig is tot gevoelens van wanhoop en renons. Massa-opstande op Amerikaanse grond teen Washington se internasionale ondernemings is dus daartoe in staat om die einde van die “Amerikaanse Ryk” in die Midde-Ooste in te lei. 

      Die President van die VSA het die vermoë van instellings soos die weermag en intelligensie-agentskappe om die politiek van die Withuis te dwarsboom, onderskat. Hulle invloed word nie by wyse van openlike opstand of rebellie uitgeoefen nie, maar deur gereelde afdankings en die uitlek van inligting - ’n taktiek wat verder indirek aangemoedig word deur die onbeholpe pogings van mnr. Goss om “dissipline” te herstel. Hierdie taktiek, waarop laasgenoemde konserwatiewe instellings al telkemale teruggeval het as weerstand teen die demokratiese regering, word vandag aangewend teen ’n span wat nog nooit sekuriteit minder as sy hoogste priorieit geag het nie. Die paradoks in die verhaal is egter die feit dat die administrasie die publiek  aangemoedig het om die weermag te vereer, en as gevolg daarvan is die ontevrede stemme van afgetrede generaals wat nou uit hierdie instelling opklink moeilik om  deur belediging en afrokkeling te smoor.  

      Vir die demokrasie is die ingryping van die weermag en die intelligensie nie a priori gerusstellend nie, maar as hierdie dienste die doeltreffendste teenstand teen mag verteenwoordig, is dit bloot as gevolg van ’n dubbele onbevoegdheid: enersyds die onvermoë van die Kongres om sy grondwetlike funksies van toesig en kontrole uit te voer, en andersyds dié van die Demokratiese Party om die Withuis te opponeer in verband met die aangeleenthede van verdediging en buitelandse beleid. ’n Potensiële oorwinning van die Demokrate by November 2006 se wetgewende verkiesings sal hulle miskien aanspoor om die Bush-administrasie te laat verantwoordelikheid aanvaar vir die fiasko in Irak, en om ’n reeks parlementêre ondersoeke te loods wat tot ’n dieper bestudering van die ernstige aanklagte en afdankings sal lei. Nietemin sal die internasionale optrede van die VSA nie noodwendig hierdeur geraak word nie. 

      Dit is duidelik dat sekere demokratiese amptenare hoop vir groter pragmatisme en selfbeheersing aan die kant van die Bush-regering as wat tot dusver geopenbaar is. Dit lyk egter of die leiers nie weet hoe om die Amerikaanse benadering teenoor die res van die wêreld fundamenteel te heroorweeg nie. Die Demokratiese leierskap vorm nes dié van die Republikeine deel van die moderne sekuriteitsestablishment wat deur eersgenoemde leierskap self ontwikkel is met die hulp van veral Harry Truman (1945-1955), John Kennedy en Lyndon Johnson (1961-1969). 

      Die model van wêreldhegemonie waarvoor President Clinton geveg het, was minder gewaagd as die een wat die Republikeine voorgestaan het. Clinton se weergawe het ’n alliansie onder Amerikaanse leiding aangemoedig bo ’n unilaterale diktatorskap. Maar sy ambisie was dieselfde, want die twee hoofpartye deel die visie van ’n “besonderse” nasionalisme waarvan die goedgesindheid van die Amerikaanse mag en die legitimiteit van sy leierskap in die wêreld die onomstrede geloofsartikel uitmaak. Die ooreenkomste tussen hierdie twee partye is veral sterk dáár waar sake die gewigtigste staan: naamlik die kwessie rondom die Midde-Ooste. Soos mnr. Clinton tereg uitgewys het: Demokrate en Republikeine wil die Amerikaanse beheer in die gebied waarborg via die oppermag van Israel, selfs al sou so ’n oogmerk die waarskynlikheid van voortslepende oorlogvoering verdubbel. Beide weier ook enige kompromis met die state wat hulle as “lummels” beskou. 

      Die Bush-administrasie word gereeld en met goeie rede daarvoor veroordeel dat hulle die Iranse voorstel om ’n ooreenkoms te bereik by twee geleenthede, in 2001 en 2003, verwerp het. Maar in 1997 reeds het die Clinton-administrasie nie geweet hoe om die verkiesing van die Iranse hervormingsgesinde Mohammed Khatami aan die presidentskap van die Islamitiese Republiek van Iran tot sy voordeel te gebruik deur direkte onderhandelinge met hom aan te knoop nie. Die administrasie was ook nie in staat daartoe om ’n vredesooreenkoms tussen Israel en Sirië te bewerkstellig nie. Wat huidige gesprekke oor Iran betref, verskil die menings van demokratiese senatore soos me. Hilary Clinton en mnr. Evan Bayh nouliks van die inhoud van dié gesprekke binne die mure van die Withuis (8). 

      Die twee partye, albei ewe sterk beïnvloed deur die “Israel-drukgroep”, het getuig van dieselfde gebrek aan wilskrag om vasberade aksie te neem en sodoende stellig die voortslepende Israeli-Palestynse konflik op te los. Die demokratiese amptenare, waaronder mes. Hilary Clinton en Nancy Belosi, is geensins van voorneme om die huidige administrasie aan te moedig om vredespogings aan te wend nie, maar probeer selfs om mnr. Clinton te oortref deur hulleself as meer onvoorwaardelik pro-Israel as hy te bewys (9).

      Dit het mnr. Clinton 7 jaar geneem om die bates van die Oslo-ooreenkoms te verkwansel, sonder dat hy homself behoorlik kon toewy aan die bereiking van ’n skikking voor die einde van sy tweede termyn, toe dit te laat was om op enigiets uit te loop. Wat Bush betref, blyk hy die aanneming van ’n Israeliese, unilaterale “skikking” te oorweeg wat onaanvaarbaar vir die Palestyne, die Moslem-wêreld en die meerderheid Europeërs sou wees. As dit so is dat die Demokrate wat aandring op onttrekking uit Irak aan die toeneem is, word die effek van hulle uitroepe meteens swakker namate hulle onbevoeg is om met ’n ander strategie vir die Midde-Ooste vorendag te kom as dié van mnr. Bush. Internasionale politiek elders in die wêreld blyk nie minder ambisieus as dié van die Withuis te wees nie, veral nie wanneer dit kom by die dwarsboming van Rusland in die invloedsfeer van die voormalige Sowjet-Unie nie.

      Sou hy besluit om Iran aan te val, kan mnr. Bush hom daarop voorberei dat baie Amerikaners, en sommige Demokratiese leiers, sy besluit sal uittart terwyl ander Demokrate dubbelsinnig, stil of eenvoudig opportunisties sal voorkom. So ’n offensief kan dus vir Republikeine lyk na ’n goeie strategie wat binnelandse sake betref. 

      ’n Groot aantal militariste is dit eens dat ’n nuwe konflik verhoed moet word. Hulle weerstand het egter nog nie gestalte gevind in die vorm van ’n politieke uitlating nie. Die “realiste” sluit ’n groot aantal openbare persoonlikhede in, maar behels veral akademici of afgetrede politieke amptenare soos Brent Scowcroft (sekuriteitsraadgewer van president Gerald Ford en George Herbert Walker Bush), Gary Hart (wat ’n genomineerde demokratiese kandidaat was in die presidensiële verkiesing van 1984 en 1988), en Zbigniew Brzezinski (Pres. Carter se veiligheidsraadgewer tussen 1972 en 1981). 

      Die afwesigheid in beide kampe van ’n redelike sterk opposisie teen die militêre en diplomatieke oriëntasie van die Withuis laat gevolglik spekulasie in verband met die noodsaaklikheid van ’n nuwe mag op die politieke skaakbord van die VSA herleef. 

 

_________

(1) Vir ’n vergelyking van die oorloë van Vietnam en Irak, lees Gabriel Kolko, “Gister Viëtnam, vandag Irak”, Die Vrye Afrikaan, 19 April 2006, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=528

(2) Lees Mike Davis, “Skandaal in New Orleans: Die kapitalisme van ’n ramp”, Die Vrye Afrikaan, 19 Oktober 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=357

(3) Lees Philip S. Golub, « Du consensus au doute », Le Monde diplomatique, Junie 2004.

(4) The Wall Street Journal, 29 September 2004

(5) Onderhoud gepubliseer in El Pais, Madrid, 4 Mei 2006

(6) Waaronder Generale Anthony Zinni, Wesley Clark en Paul D. Eaton

(7) Seymour Hersh, « The Iran Plans », The New Yorker, 17 April 2006

(8) Kyk Flynt Leverett, voormalige Direkteur van Midde-Oosterse Sake by die National Security Council : « The Gulf Between Us », The New York Times, 24 Januarie 2006.

(9) Kyk Hilary Clinton, « Challenges for US Foreign Policy in the Middle East »,  toespraak by Princeton Universiteit, 19 Januarie 2006 (http://www.votehillary.org/CMS/node/108) ; en Evan Bayh, « A New Approach to the National Security Debate », www.csis.org,  2 Februarie 2006

(10) Kyk Serge Halimi, « Aux Etats-Unis, M. Sharon n’a que des amis » en Joël Beinin, « Un ‘think tank’ au service du Likud », Le Monde diplomatique, Julie 2003.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=605
Artikel nagegaan:
    -