|
||||
Sampie Terreblanche
*Ekonomiese historikus en skrywer van A history of inequality in South Africa, 1652 – 2002 (Pietermaritzburg: Natal University Press, 2002). Hierdie artikel is ’n verkorte weergawe van ’n opstel wat aanstons verskyn in ’n gedenkbundel onder redaksie van Dirk Hertzog, Etienne Britz en Alister Henderson vir Johan Degenaar op 80.
In Afrikaanse geledere word die Amerikaansoorheerste wêreldtoneel dikwels as ’n gegewe beskou, iets waarby ’n mens eenvoudig moet aanpas as jy “realisties” is. Maar soos alle ryke voor hom is ook die Amerikaanse empire ’n historiese verskynsel. Hoe het die Amerikaanse empire sy magsposisie verwerf? Watter rol speel dit in globale ongeregtigheid? En wat is sy swakplekke? Dit is weliswaar so dat die VSA, anders as wat met die imperialistiese Brittanje die geval was, nie ander lande regstreeks en formeel regeer nie. Tog beskik die VSA oor ’n veelheid van magsinstrumente om sy imperiale heerskappy oor groot dele van die wêreld te laat geld. Daarby het hy ook die vermoë om hierdie mag op sodanige onregstreekse, informele en gesofistikeerde maniere uit te oefen dat die Amerikaanse magsgebaseerde uitbuiting dikwels nie naspeurbaar is nie en trouens selfs so “onsigbaar” is dat diegene wat aan die ontvangskant daarvan is, nie altyd weet wie die maghebbers is nie, en ook nie dat hulle uitgebuit word nie. Daar is myns insiens alle rede om van die Pax Americana in die sin van ’n Amerikaanse empire te praat. In die opbou van die magsposisie waarop die Amerikaanse empire berus, het verskillende faktore ’n rol gespeel. In die kontinentale uitbreiding het die VSA geluk aan sy kant gehad. Ander faktore was die strategiese optrede en gebruik van die Amerikaanse weermag, asook die uitwerking van die Monroe-leer wat reeds in 1823 afgekondig is. Laasgenoemde het die geleenthede vir die VSA geskep om sy imperialistiese aspirasies vir ongeveer 120 jaar in “splendid isolation”, sonder enige inmenging van buite, op die twee Amerikaanse vastelande na te streef. Die sterk opbloei van die Amerikaanse ekonomie sedert 1914, as gevolg van die twee wêreldoorloë en die wyse waarop dit die VSA bo die ontwrigte Europa bevoordeel het, het ’n belangrike verdere pilaar van sy magsposisie geword. Sedert die “uitbreek” van die Koue Oorlog in 1946 kon die VSA sy militêre gesag in die Vrye Weste uitbrei en terselfdertyd ’n “oop ruimte” skep waarbinne die groot getal Amerikaanse transnasionale korporasies vrylik hulle ekonomiese en finansiële hegemonie kon vestig. Om die agteruitgang van sy mag en prestige op die wêreldtoneel te bestry, en om terselfdertyd die binnelandse fiskale krisis te beredder, het die VSA vanaf 1980 ’n nuwe ideologiese raamwerk begin propageer en toepas wat tot niks minder as ’n beleidsrevolusie aanleiding gegee het nie. In die Goue Era was die ekonomiese beleid van die Noorde gebaseer op ’n intervensionistiese sosiaal-demokratiese model waarin die staatsowerheid ’n omvattender en veel sterker rol as dié van waghond gespeel het. Die nuwe beleidsrigting van die VSA was daarenteen gegrond op die ideologie van neoliberalisme en markfundamentalisme en het vérreikende gevolge gehad. Dit het gelei tot die opkoms van die huidige uitbuitende Amerikaanse empire en die huidige fase van globale kapitalisme. Die internetrevolusie het dit vir die VSA moontlik gemaak om die wêreld tot ’n “globale dorp” te reduseer. Die neoliberale beleidsrevolusie van die 1980’s het op ’n drieledige ideologiese en beleidsaanslag berus: eerstens, die verwerping van die intervensionistiese sosiaal-demokratiese model en die aanvaarding van markfundamentalisme om groter vryheid en “ruimte” te skep vir die transnasionalisering van die wêreld; tweedens, die liberalisering en die omsturing van die globale kapitaalvloei om ’n Amerikaanse skuldenaars-empire te vestig; en derdens, die liberalisering van die internasionale handel met behulp van die beskerming wat die skuldenaars-empire aan die VSA bied. ’n Frontale aanval is teen die intervensionistiese sosiaal-demokratiese model geloods met die slagspreuk dat die staat “teruggerol” moet word. Die eintlike doel van die neoliberale ideoloë se pleidooi vir antistatisme en markfundamentalisme was om soveel vryheid en “ruimte” as moontlik vir die ± 35 000 Amerikaanse transnasionale korporasies te skep sodat hulle – ter wille van die herstel van die Amerikaanse mag en prestige – die wêreldekonomie kan herstruktureer om hulle eie belange beter te kan pas en wêreldwyd groter winste te akkumuleer. Gedurende die afgelope kwarteeu het daar nie alleen meer Amerikaanse transnasionale korporasies na vore getree nie, maar het grootskeepse samesmeltings plaasgevind en het die mag van globale korporatisme dramaties vergroot. Miljarde mense is sedert 1980 wêreldwyd – meer as wat voorheen die geval was – die slagoffers van die genadelose (en selfs gewelddadige) optrede van die winsbehepte transnasionale korporasies, terwyl die markfundamentalisme waarop globale kapitalisme berus, nie tussen goed en kwaad kan onderskei nie en daarom wêreldwyd 3 miljard mense se lewens daagliks verontmenslik. In ooreenstemming met die neo-klassieke ideologie van markfundamentalisme is markpryse die enigste en die finale faktor wat waarde bepaal, insluitend menslike waarde. Die waarde wat mense het, hang volgens hierdié ideologie af van die markpryse wat hulle as eienaars van produksiefaktore op faktormarkte kan verdien, of van die markpryse wat hulle as verbruikers op goederemarkte kan betaal. Aangesien 3 miljard mense bykans geen markpryse in globale markte kan behaal of betaal nie, is hulle volgens die neoliberale markfundamentalistiese ideologie waardeloos, en kan hulle gevolglik ook sistemies uitgesluit, verwaarloos en verontmenslik word. Die harde werklikheid in die Amerikaansbeheerde globale kapitalisme is dat een-vyfde van die wêreldbevolking (1,2 miljard mense) baie waardevol is, want hulle verdien 85% van die wêreldinkome wat hulle na willekeur op allerhande luukse goedere kan bestee, terwyl die helfte van die wêreldbevolking (3 miljard mense), met ’n daaglikse individuele koopkrag van hoogstens $2, so min in die globale markte ontvang (of verdien) dat hulle waardeloos is – altans in die oë van die markfundamentaliste. Van 1950 tot 1980 was die VSA die hoofbron van wêreldlikiditeit en die voorsiener van buitelandse beleggings aan die res van die wêreld. Na die stigting van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (OPUL,1973) het die oliemaatskappye oor reusagtige bedrae “olie-dollars” beskik, wat kapitaal so volop gemaak het dat dit byna verniet geword het. In hierdie situasie kon lande in Europa en in die Suide lenings teen gunstige terme aangaan, en is industriële aktiwiteite vanaf die Noorde na die Suide gereallokeer teen terme wat veral vir die VSA ongunstig was. Die geleentheid om die neoliberale beleidsrevolusie as volledige pakket deur te voer en die VSA se magsverlies te stuit, het na vore getree toe President Reagan die Sowjet-Unie as ’n “evil empire” beskryf, en met sy verskerpte militêre opbou begin het. Die skerp toename in militêre besteding is met massiewe buitelandse lenings gefinansier. Dit het ’n totale ommekeer in die vloei van internasionale fondse bewerkstellig en aan die VSA ’n finansiële magsinstrument verskaf om nie alleen die mag van die Sowjet-Unie te breek nie, maar om ook die ontwikkelde Suide onderdanig en gedienstig aan die belang van die VSA te maak. Om die groter militêre bestedings te finansier, is die sogenaamde “aanbodkant-ekonomie” van stapel gestuur, die internasionale handel en kapitaalmarkte is geliberaliseer, die aanbod van geld is drasties verminder, rentekoerse is skerp verhoog, belasting op die rykes en op korporatiewe kapitaal is verminder en groter vryheid is deur deregulering aan die transnasionale korporasies toegestaan. Die beleidspakket was daarop bereken om ’n diep resessie in die VSA en in die res van die wêreld te bewerkstellig en is verdedig met die slagspreuk: “there is no alternative" (TINA). Die wêreldwye resessie is so meedoënloos afgedwing dat TINA ’n selfvervullende profesie geblyk het. In die genadelose mededinging om mobiele kapitaal het die VSA nie alleen as oorwinnaar na vore getree nie, maar ook daarin geslaag om ’n (skynbaar) permanente omsturing in die vloei van kapitaal te bewerkstellig wat aan hom die onaantasbare magsposisie van imperiale skuldenaar besorg het. Vanweë die VSA se groot skuldlas het die buitelandse geldskieters ’n gevestigde belang in die welstand van die Amerikaanse ekonomie verkry. Die VSA word deur hierdie geldskieters as die ingenieur van die wêreldekonomie beskou, en hulle wil hulle aandeel daarin behou en selfs vergroot. Die groot bedrae wat die res van die wêreld in dollars hou, stel die VSA boonop in staat om ’n spesiale belasting of muntloon (“seigniorage”) daaruit te verdien. Dit gebeur wanneer die waarde van die dollar periodiek effens afwaarts aangepas word en die skuldlas van die VSA dienooreenkomstig in dollarterme kleiner word. Sedert 1980 speel die liberalisering van die handel ’n sleutelrol in die neoliberale strategie van die VSA. Gedurende die diep resessie van die 1980’s het die VSA tariefbeperkings op die invoer van Japanse motors afgeskaf om die weerstand van die vakbonde in die Amerikaanse motorbedryf te breek. Sedertdien word handelsliberalisering wêreldwyd gebruik om die magsposisie wat arbeid na die WOII bekom het, ongedaan te maak. Die gedeelte van die volksinkome wat na arbeid gaan, het sedert 1980 gevolglik redelik skerp gedaal. Die rigtinggewende beginsels van die sosiaal-demokratiese model tydens die Goue Era was volle indiensneming en die opbou van die welvaartstaat om ’n ewewigter verdeling van inkomste en groter maatskaplike regverdigheid te bewerkstellig. Daarenteen is die leidinggewende beginsels van die neoliberale model om die arbeidsproduktiwiteit van daardie arbeiders wat steeds in diens is, te verhoog sodat goedere teen die laags moontlike koste vervaardig kan word ter wille van mededingendheid in globale markte. In die ontwikkelende Suide, wat nie oor die onderwyspeile en die moderne tegnologie van die Noorde beskik nie en wat met groot buitelandse skuld opgesaal sit, veroorsaak die klem op arbeidsproduktiwiteit en globale mededingendheid dat werkloosheid tot minstens 35% gestyg het. Dit gaan in die toekoms waarskynlik nog verder toeneem, wat dit vir hierdie lande (insluitende Suid-Afrika) haas onmoontlik maak om die reeds hoë vlakke van werkloosheid en armoede na wense teen te werk, ook al sou daardie dele van die ekonomieë van lande in die Suide wat by globale kapitalisme inskakel, ’n hoë groeikoers handhaaf. Alhoewel die VSA ’n buitengewoon groot invoer en ’n ongunstige handelsbalans het, beskerm die VSA se reusagtige buitelandse skuld – en die res van die wêreld se bereidwilligheid dat hierdie skuld jaarliks met sowat ’n triljoen dollars vergroot kan word – die relatief hoë waarde van die dollar en sorg dat dit gehandhaaf bly. Dit stel die VSA in staat om voort te gaan om steeds groter hoeveelhede goedkoop verbruiksgoedere van die res van die wêreld (en veral vanaf Sjina) in te voer. Die feit dat groot hoeveelhede van hierdie goedkoop verbruikersgoedere in lande in die Suide (en veral in Sjina) geproduseer word met behulp van arbeiders (waaronder kinderarbeiders) aan wie uitbuitingslone betaal word en wie se menseregte ook nie beskerm word nie, verskaf die Amerikaners oënskynlik geen gewetenswroeging nie. Die liberalisering van globale handel en die klem wat op arbeidsproduktiwiteit geplaas word, sou meriete gehad het as die globale speelveld tussen die lande van die wêreld – en veral tussen die lande in die Noorde en die Suide – minder ongelyk was en die grootste speler nie deur ’n skuldenaar-empire beskerm was nie. Die ontwikkelde lande in die Suide is, op enkele uitsonderings na, baie nadelig getref deur die neoliberale beleidsrevolusie. Baie lande in die Suide – en veral in Latyns-Amerika en in Afrika - het in die 1970’s groot bedrae “olie-dollars” by internasionale banke teen lae rentekoerse geleen. Hierdie lande het die geld benodig vanweë die hoë prys van olie en vanweë skerp dalings in die vraag na hulle grondstowwe gedurende die stagnasie van die 1970’s. ’n Groot deel van die lenings is egter deur “loan-pushing” van internasionale banke op die lande van die Suide afgelaai. Toe dit ná die olieskok van 1979 blyk dat die lande in die Suide nie hulle lenings sal kan terugbetaal nie, is daar besluit dat die IMF die lenings sal oorneem teen baie hoër rentekoerse en met dien verstande dat die betrokke lande voortaan die streng voorwaardes van die strukturele aanpassingsprogramme van die WBI moet nakom. Op hierdie manier het ’n groot deel van die Suide in die Washington Konsensus se finansiële valstrik beland waaruit die meeste lande ná 25 jaar nog nie kon ontsnap nie – en waarskynlik ook nie sal kan ontsnap nie. Die strukturele aanpassingsprogramme verwag van die skuldenaarlande in die Suide om streng fiskale en monetêre maatreëls toe te pas, om hulle handel te liberaliseer, om hulle owerheidsondernemings te privatiseer en om owerheidsdeelname aan die ekonomie te staak. Die Suide word sedert 1980 gedwing om markfundamentalisme te omarm en om hulle intervensionistiese ontwikkelingsprogramme te beëindig. Maar baie lande in die Suide – en veral in Afrika – beskik eenvoudig nie oor die institusionele voorwaardes en persoonlike kwaliteite en kapasiteite vir ’n markekonomie nie: eiendomsreg is nog nie na wense ingestel nie, die nodige regsinstellings om eiendomsreg te definieer en te beskerm bestaan nie, die bank- en finansiële instellings is onderontwikkel, terwyl onderwys, kommunikasie en infrastruktuurfasiliteite ontoereikend is. Boonop beskik baie ontwikkelingslande nie oor die vermoë tot ondernemerskap en risikoneming nie, en handhaaf hulle nog nie daardie rasionele mentaliteit wat kenmerkend van die kapitalisme is nie. Toe die oktrooi van die Nuwe Internasionale Ekonomiese Orde in 1975 deur die VN aanvaar is, het die VSA hom saam met ander lande in die Noorde vrywillig daartoe verbind om jaarliks 0,7% van hulle Bruto Nasionale Produk (BNP) as amptelike ontwikkelingshulp (AOH) aan die Suide te skenk. Oor die afgelope 30 jaar het die VSA gemiddeld slegs 0,11% van sy BNP geskenk, terwyl die Skandinawiese en Benelux-lande gemiddeld ongeveer 0,7% van hulle BNP geskenk het. Die VSA se bydrae was in 2003 $16 miljard, terwyl dit $77 miljard moes geweet het! Intussen bestee die VSA sedert 2003 bykans $100 miljard per jaar aan die Irakese oorlog. ’n Finansialisering van die ekonomie het plaasgevind wat die internasionale finansiële instelling in so ’n strategiese magsposisie geplaas het dat hulle in staat gestel is om sedert die 1980’s die globale vloei van kapitaal na willekeur so te manipuleer dat hierdie vloei deurgaans tot die voordele van die Noorde (en veral van die VSA) en tot die nadeel van die Suide strek. Die globale ekonomie word dan ook deur die finansiële en professionele dienstesektore vanuit die VSA gedryf, en die industriële sektor speel deesdae ’n ondergeskikte rol. Vanweë tegnologiese vernuwing – in veral produksiemetodes, kommunikasie en vervoer – én vanweë ’n “vennootskap” tussen die Noorde en die Suide, word industriële produkte tans in groot hoeveelhede en verspot goedkoop in hoofsaaklik die Suide geproduseer. Volgens hierdie “vennootskap” verskaf die Noorde (en veral die VSA) die ondernemerskap, die professionele dienste en die nuwe tegnologie (en die “nuwe eiendomsregte” waarop dit berus), terwyl die Suide goedkoop grondstowwe en goedkoop arbeid verskaf, asook die besparings om die beleggings in die Suide te finansier. Maar hierdie “vennootskap” tussen die Noorde en die Suide is ’n asimmetriese en ’n immorele “vennootskap”. Die keersy van die armlastigheid en die groeiende strukturele afhanklikheid van die Suide is die oorvloed van goedkoop verbruiksgoedere wat na die Noorde (en veral na die VSA) uitgevoer word vanaf "werkplase" in die Suide. Al hierdie goedere uit die Suide saal die Noorde met die eienaardige taak op om hierdie goedkoop vervaardigde goedere met allerhande bemarkingstruuks en konsumeristiese verleidelikhede aan die ryk (en oorversadigde) verbruikers in die Noorde te verkoop, terwyl miljarde mense in die Suide van ellende krepeer. Gedurende die 19de en vroeg 20ste eeue het die nou ontwikkelde lande intervensionistiese maatreëls en handelstariewe gebruik om hul suigelingsindustrieë teen internasionale mededinging te beskerm. Hierdie voorreg word die Suide nou ontsê. Die gedrag van die Noorde (en veral die VSA) in die huidige globale stelsel is vergelykbaar met dié van ’n persoon wat reeds na ’n hoë vlak geklim het, maar nou die “leer wegskop” waarmee hy/sy die hoogtes bereik het. Die Amerikaanse weermag en behendige ideologiese propaganda het sleutelrolle gespeel in die opbou van die Amerikaanse empire en word steeds gebruik om die empire teen werklike en vermeende aanslae te verskans. Die VSA se militêre bestedings is byna net soveel as die gesamentlike militêre bestedings van die res van die wêreld. Voordat troepe in Irak ontplooi is, het die VSA se weermag 752 militêre instellings in meer as 130 lande gehad. Reusagtige bedrae word ook aan militêre navorsing bestee om die paraatheid van die Amerikaanse militêre empire bo alle twyfel te stel. Om sy wil en die reëls van die huidige fase van globale kapitalisme op die res van die wêreld af te dwing, maak die VSA hom dikwels skuldig aan militêre operasies wat hoogs twyfelagtig is. Afgesien van die huidige oorlog in Irak het die VSA reeds in die 1980’s bisarre operasies van stapel gestuur. Om die Sowjet-Unie se mag in die finale fase van die Koue Oorlog te breek, het die VSA in die 1980’s in verskeie wêrelddele volmag-oorloë ("proxy-wars") teen kommunistiese groeperings gevoer deur sy ondersteuning van terroristegroepe. Aangesien die Amerikaanse Kongres nie bereid was om hierdie Amerikaansgesteunde terroristegroepe te finansier nie, is hulle in die geheim aan die gang gehou met behulp van die winste wat gemaak is uit CIA-geassosieerde dwelmsmokkelary. Voorbeelde hiervan is die VSA se teenrevolusionêre offensiewe in Afghanistan, Angola, Mosambiek, Kambodja, Ethiopië, Iran, Laos, Libië en Nicaragua. Op dié manier was die VSA in die eindfase van die Koue Oorlog – volgens Mahmood Mamdani – verantwoordelik vir die skep van ideologiesgedrewe terroristiese groepe wat die taak gehad het om die Amerikaanse invloedsfeer in bykans alle wêrelddele verder uit te bou. Dit is ’n magtige ironie dat die VSA in die jongste verlede die teiken geword het van Moslem-geïnspireerde terrorisme, terwyl die VSA eintlik die "skepper" van terroristegroepe in die eindfase van die Koue Oorlog was. Die Amerikaanse empire sou waarskynlik nie so invloedryk en allesomvattend gewees het as dit nie so uiters suksesvol was in sy ideologiese propagering van die beweerde verdienste van die Amerikaanse lewenswyse en manier van doen nie. Die VSA is oorweldigend suksesvol in die “uitvoer” en die “bemarking” van sy beskawing, sý waardes, sý verbruiksgoedere. Die VSA is waarskynlik die suksesvolste propaganda-empire wat die wêreld ooit geken het. Die vraag ontstaan of die Amerikaanse neoliberale empire wat, net soos die Britse liberale empire, op die mite van die Onsigbare Hand en die vermeende heilsame en ordeskeppende werking van breidellose markkragte berus, ook soos sy Britse teenhanger in duie gaan stort. Faktore wat die ineenstorting van die Amerikaanse empire waarskynlik maak, is die volgende: eerstens, die oplaaiende ideologiese en/of godsdienstige spanning tussen die kapitalistiese en Christelik-georiënteerde Weste en die fundamentalistiese, anti-kapitalistiese Moslem-wêreld kan breekpunt bereik; tweedens, die opkoms van die ekonomieë van Indië en Sjina en die skerp en ondraaglike ongelykhede wat deur ’n hoë ekonomiese groeikoers in daardie lande veroorsaak word, kan onvermydelik tot verdelingskonflikte lei; derdens, die optrede van die ongeveer 35 000 Amerikaanse transnasionale korporasies wat met ’n groot mate van onafhanklikheid, en selfs onverantwoordelikheid, wêreldwyd optree en nie tot demokratiese rekenskap geroep kan word nie, kan ontspoor; vierdens, die delikate finansiële en ekonomiese balans wat tussen die VSA en Sjina bestaan, waarvolgens Sjina steeds meer goedkoop verbruikersgoedere en steeds groter lenings aan die VSA verskaf sodat die VSA sy hoë lewenstandaarde kan handhaaf, kan onaanvaarbaar word vir die 3 miljard mense (waarvan die meerderheid in Asië woon) wat van minder as $2 ’n dag moet leef; vyfdens, die reusagtige buitelandse en federale skuld van die VSA kan te midde van ’n internasionale krisis daartoe lei dat die wêreld vertroue in die VSA verloor; en sesdens, die ekologiese probleme en die uitputting van onvervangbare produksiefaktore kan meebring dat grondstofoorloë – soos die huidige oorlog in Irak – in verskeie dele van die wêreld uitbreek. Al daardie miljoene mense wat daagliks die versugting uitspreek dat die Amerikaanse empire net soos die Britse empire moet verkrummel, behoort egter – nadat alles in oorweging geneem is – hulle misnoeë te temper met die wete (of vrees) dat, indien hierdie empire tot ’n val sou kom, dit waarskynlik groter ontwrigting, meer bloedige oorloë en groter ellende sal veroorsaak as wat die wêreld in die eerste 30 jaar ná die val van die Britse empire ervaar het. |