|
||||
F.I.J. van Rensburg
*Emeritusprofessor in Afrikaans, Universiteit van Johannesburg
In ’n onlangse radio-onderhoud het prof. Willie Esterhuyse gegewens verstrek van ’n inisiatief in verband met vandag se viering van die dertigste jaarlikse herdenking van die 1976-Soweto-onluste. ’n Gespreksgroep van jong intellektuele vanoor die hele bevolkingspektrum wat gereeld oor landsake debat voer, het op ’n wenk van pres. Mbeki besluit om van die belangrikste jeugorganisasies in die land te nader met die oog op die betrek van Afrikaanssprekende jongmense by die jaarlikse herdenking. Dis ’n inisiatief wat potensieel positiewe meriete inhou. Die meeste mense van die verskillende bevolkingsgroepe ken mekaar slegs oppervlakkig, en verbeur as gevolg daarvan die geleentheid om eerstehands met mekaar se waardes kennis te maak, asook met die verrykende uitkomste van so ’n kennismaking. Dis egter ’n projek wat met omsigtigheid gehanteer moet word. Dit moet nie net openhartig wees nie, maar ook integer. Dit moet byvoorbeeld nie ’n bedekte strategie wees om deur koöptering krities-ingesteldes teenoor die regering se beleid van eenheid in verskeidenheid (met die klem op eenheid) oor te haal om dit te aanvaar en dit te bevorder sonder dat dit gebalanseer word deur sy natuurlike makker in ’n gesonde demokrasie en meer in die besonder ’n demokrasie met ’n samestelling soos die Suid-Afrikaanse: verskeidenheid in eenheid (met die klem op verskeidenheid). Dit moet ook hoegenaamd nie gebruik maak van koppetellery as aanduider van die graad van ondersteuning of verwerping van die verskraalde model nie. Die aksie moet in volle vryheid verloop. Dit moet ook voorsiening maak vir die wek van belangstelling in Afrikaanse historiese en kulturele manifestasies deur swart mense. In hierdie betoog word net vanuit Afrikanerhoek na 1976 gekyk. Dit wil egter nie voorgee dat dit die siening van alle Afrikaners is nie. Afrikaners moet in die gesprekke die geleentheid gegun word om openhartig te sê wat dit is wat die groot meerderheid van hulle tot dusver verhinder het om die Soweto-vierings by te woon. Die rede is dat die byeenkomste tot op datum as’t ware ’n verpligte item op die program bevat het: striemende aanvalle op Afrikaners en hul taal. Deel van die rede vir dié aanvalle is dat belangrike gegewens in verband met die gebeurtenisse op 16 Junie 1976 in die amptelike doofpot gestop is. ’n Mens kan dit tot op ’n sekere punt verstaan dat daar botsende getuienisse sal bestaan oor wat presies op dié dag gebeur het. Die onluste was oor ’n groot gebied versprei. Wat in een area gebeur het, het byvoorbeeld glad nie in ander areas voorgekom nie. Die gunstigste van twee moontlikes is deur swart mense gekies en in die “kánon van 1976” opgeneem. Baie van hierdie dinge wat in die vroegste jare van die viering in die hitte van emosie kwytgeraak is, is in latere jare net so bestendig. Soweto, 16 Junie 1976 vra in die lig hiervan hersiening en herbesinning. Belangrike feite is uitgeblok en mites het in hul plekke ontstaan. Net twee voorbeelde van hierdie verskynsel. Die eerste: dat dit in die opstand net oor Afrikaans (Afrikaans as onderrigtaal) gegaan het, nie oor politieke griewe nie. Die tweede: dat Hector Pietersen (nie Petersen nie) ’n held van die dag was en dat dit as gepas beskou is dat die jaarlikse herdenking by sy graf moet plaasvind; selfs dat die imposante gedenkkompleks wat later opgerig is, na hom vernoem is: Hector Petersen Museum and Memorial. Die skole wat aan die optog op 16 Junie deelgeneem het, het plakkate met bewoordings soos die volgende gedra: “Away with Afrikaans”, “We are not Boers”, “We shall not use Afrikaans as medium of instruction”, “Beware Afrikaans as the most dangerous drug for the future”, “50-50 Afrikaans and 50 Zulu for Vorster”, “If we must do Afrikaans, Vorster must do Zulu”, “Afrikaans will spoil our future”. In sy verslag oor die onluste in Soweto het regter P.M. Cillié bevind dat die Black Peoples Convention besluit het dat die South African Students Movement en ander Swartbewussynsbewegings die gedwonge oplegging van Afrikaans moes uitbuit om die swart gemeenskap daarvan bewus te maak en tot verset te beweeg. Dit word bevestig deur ’n pamflet wat aan die einde van 1976 deur ’n groep van die ANC in Dar-es-Salaam gepubliseer is en waarin gesê is: “Never before had the objective conditions been so right for the beginnings of an armed struggle in SA. Credit for the June 16 Soweto Movement must go to the Black Consciousness Movement spearheaded by the South African Students’ Association (SASO), The South African Students’ Movement (SASM) and the Black Peoples Convention (BPC).” Dit word indirek ook bevestig deur die feit dat van die sewe skole wat die optog gelei het, ses Engelsmediumskole was, en in die sewende slegs een vak, Geskiedenis, in Afrikaans aangebied is. Verskillende feite wat hier genoem is, kom uit die omvattende verslag wat regter Cillié oor die onluste uitgebring het, ’n taak wat hom byna drie jaar besig gehou het. Omdat dit ’n amptelike verslag was, is dit vanuit swart geledere totaal verwerp, omdat dit “vanselfsprekend is” dat dit eensydig sou wees. Die verslag is baie duidelik deur min gelees, anders sou hulle geweet het van die regter se verdoemende kritiek oor byvoorbeeld die onderwysadministrasie se hantering van sensitiewe sake. Met die oog op die regstelling van skadelike persepsies oor Soweto is dit noodsaaklik dat die verslag weer deeglik onder die loep en onder die aandag van die publiek gebring moet word. Anders gaan ons maar weer doodtevrede met halwe waarhede die toekoms in. Wat egter ’n nog vreemder verhaal is, is die promovering van Hector Pietersen tot ikon van die dag se gebeure en uiteindelik van die hele struggle. Die twaalfjarige seun het glad nie aan die optog deelgeneem nie. Hy het net kom kyk wat in die straat waarlangs die prosessie beweeg, gebeur toe hy deur ’n dwaalkoeël getref is. Hy was volgens ’n betroubare outoriteit ook nie die eerste slagoffer van die dag nie, maar Hastings Ndhlovu, een van die leiers van die optog. Die mitisering van Hector Pietersen is klaarblyklik te danke aan twee faktore. Die een is die foto van sy sewentienjarige suster wat met hom in haar arms in die straat afgehardloop het. Die foto is prominent in talle plaaslike en internasionale koerante gepubliseer. Dit het vir mense die struggle vir gemeenskappe opgeroep soos geen ander dit sou kon doen nie. Die tweede was die jeug van die seun. Dis ’n alombekende feit dat hoe jonger ’n kind is wat leed aangedoen word, hoe heftiger die emosionele reaksie daarop. ’n Sterk sprekende fokuspunt van Soweto 1976 is in die gestalte van die jong seun gevind. Die gevolg van dit alles was dat die jaarlikse herinnering aan die struggle by Hector Pietersen se graf plaasvind. Toe die imposante gebou later opgerig is, om die struggle te gedenk, is dit dan ook na hom vernoem. Die aksie wat die gespreksgroep van wit en swart jongmense in verband met vanjaar se Soweto-herdenking moet loods, kan ’n geleentheid wees om hul probleme en dié van hul gemeenskappe met mekaar so openhartig as moontlik op die tafel te lê, en wel nie net om daaroor te praat nie, maar ook en veral om iets daaraan te doen of te laat gebeur. Die vraag is of die onverdiende argwaan teen Afrikaans nie so sterk in die gees van die meeste swart mense gewortel is dat dit nie meer uitgeroei sal kan word nie; onder meer ook vanweë die politieke dividende wat dit afwerp. Die swart lede van die gespreksgroep, en via hulle die regering, moet sensitiwiteit hê vir die trauma wat Afrikaners in verband met hulle taal moes deurmaak na 1994. Vir byna ’n eeu was Afrikaans een van die twee amptelike tale van die land. Soos dit met ’n amptelike taal gaan, was dit blootgestel aan ’n wye spektrum van situasies aan die hand waarvan dit al waardevoller geslyp geraak het. Dit het niks met bevoorregting te doen gehad nie, iets waarvan dit beskuldig word en wat as argument of as stilswyende motivering gebruik word om die stand en status daarvan af te skaal, op sy knellendste in die onderwys. As mede-ampstaal van Afrikaans het Engels presies dieselfde voorregte geniet. Dit moet dus bevoorreg gewees het. Dis omdat Afrikaners met Afrikaans die pad vanaf kombuistaal tot gerespekteerde amptelike taal geloop het dat hulle graag wil sien dat die plaaslike Afrikatale dieselfde geleenthede gegun word om hul potensialiteite te verwesenlik. Dit sal geen afbreuk doen aan hul aspirasie om Engels behoorlik te bemagtig nie. Afrikaners van baie geslagte in die verlede het dié feit proefondervindelik geïllustreer. In die Afrikaanse skole is Afrikaans as medium van onderrig vir alle vakke bestudeer en Engels as vak. In die blanke gemeenskappe het hulle verreweg die tweetaligste mense geword. Dit verklaar byvoorbeeld die oorwig wat hulle vir baie jare gehad het in die belangrike sektor van die staatsdiens met sy vereiste van tweetaligheid. Hulle beheersing van Engels is buite die skoolopset versterk deurdat ’n groot deel van die elektroniese media, wat die filmwese insluit, asook die ekonomie oorheersend Engelstalig is. Hulle het Engels op informele manier deur alle porieë ingekry. Hierdie ervaring verklaar baie denkende Afrikaners se argwaan oor die feit dat die bestaansreg van Afrikaansmediumskole op allerlei maniere afgeskaal of selfs geblokkeer word. Dit gebeur dikwels deur ’n machiavelliaanse uitleg van Grondwetbepalings in verband met taalregte. As die hoofsin van ’n sin wat ’n reg verwoord, deur ’n bysin gevolg word waarin ’n beperkende kwalifikasie gestipuleer word, word die bysin as deurslaggewend gehanteer en kom daar van die hoofsin se injunksie niks tereg nie. Of neem ’n ander strategie, dié keer in verband met ’n enkelvoudige sin, dus sonder ’n beperkende bysin. ’n Voorbeeld hiervan is dat die Grondwet in alle ondubbelsinnigheid bepaal dat daar op nasionale en provinsiale vlakke minstens twee amptelike tale gebruik moet word, maar“gebruik” word gehanteer as: Engels in 90% van die gevalle en 10% vir die ander amptelike tale, byvoorbeeld Afrikaans. Op dié manier is Afrikaans prakties van die openbare verhoog verwyder, om van die tale van die swart mense nie eers te praat nie. Dit kan moedertaalgebruikers van ander tale as Engels nie verkwalik word as hulle hierdie tipe omgang met taalbepalings in verband bring met die Regering se totstandbrenging van ’n eenheid-in-verskeidenheid-staat, naamlik deur ook van taal, en wel een taal, gebruik te maak vir eenheidskepping. Dit beteken erodering van verskeidenheid en ’n verskraling van die bevolking se potensiële geestelike rykdom. ’n Hersiening van Soweto 1976 behoort nie onmoontlik te wees nie. Die Afrikaners het hierdie soort pad van hersiening al self geloop: in die geval van hul perepsies oor wat voor, tydens en later in verband met die Bloedrivier-gebeure plaasgevind het. |