blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK-nuus 2006-06-12

As kultuurpolitieke forum van die burgerlike samelewing is die FAK voortdurend met verskillende kwessies gemoeid. Drie van hierdie kwessies wat gedurende die loop van 2005 hoog op die sakelys van die FAK geplaas is, is die stand van moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse openbare skole; die posisie van Afrikaans as onderrigtaal aan die universiteite; en die voorgestelde naamsverandering van Pretoria.

      In vandeesmaand se FAK-nuus word daar bestek opgeneem van die vordering met hierdie drie kwessies. Uit die aard van die saak is die FAK nie alleen met hierdie sake besig nie en poog die FAK om so ver moontlik alliansies met ander deelnemers te bevorder, gegewe die FAK se oorkoepelende visie van ’n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe.

      Waar staan sake nou met moedertaalonderrig in Suid-Afrika se openbare skole? Dit is welbekend dat die Nasionale Departement van Onderwys vir geruime tyd na 1994 in feite nie sy eie beleid oor moedertaalonderrig behoorlik toegepas het nie. Waarskynlik die belangrikste rede hiervoor was die voorkeur wat gegee is aan toegang vir voorheen benadeelde leerlinge tot onderwys van gehalte.

      In die geval van Afrikaanse enkelmediumskole het dié beleidsvoorkeur dikwels daartoe aanleiding gegee dat skole met beskikbare plekke gevul is deur leerlinge wat nie moedertaalsprekers van Afrikaans is nie, of wat selfs nie Afrikaans verstaan nie. Talle Afrikaanse skole is in die proses op ’n pad van verengelsing geplaas, en protes daarteen is dikwels afgemaak as ’n poging om leerlinge op grond van taal eerder as ras uit te sluit en so historiese bevoorregting te handhaaf.

      Twee belangrike openbare merkers van die debat was ’n artikel in die Sondagpers vroeg in 2005 deur die voormalige presidensiële woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo, wat ’n misplaaste aanval op Afrikaanse skole uitgevoer het; asook pogings deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om Laerskool Mikro te dwing om ’n groepie hoofsaaklik Afrikaanse kinders in te neem en in Engels te laat onderrig.

      Hiervandaan het die FAK verskeie kere by wyse van openbare standpunte, mediaverklarings, gesprekke met regeringslui en ’n ope brief aan die Kantoor van die President daarvoor gepleit dat die druk op Afrikaanse skole nie net gestaak moet word nie, maar dat die Nasionale Departement van Onderwys sy eie beleid behoorlik toepas. Heelwat gesprek is ook met ander rolspelers in die burgerlike samelewing gevoer, terwyl die Vryheidsfront Plus ook by geleentheid die saak in die parlement ter sprake gebring het.

      Daar is rede om te glo dat al hierdie harde werk nou begin vrugte afwerp. Die Minister van Onderwys, me. Naledi Pandor, het haar opmerklik die jongste maande gunstiger oor die noodsaak van moedertaalonderrig uitgelaat. Klaarblyklik werk haar departement ook hard aan ’n program van moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig, wat feitelik sal beteken dat leerlinge tot in graad 6 onderrig sal word in hul moedertale, in plaas van slegs tot graad 3, soos dit tans die geval is met die oorgrote meerderheid skoolkinders.

      Ook in die Wes-Kaap is dinge aan die verander en verdien die LUR vir Onderwys, mnr. Cameron Dugmore, wat self drietalig is, ’n pluimpie vir die wyse waarop hy tans ’n veldtog voer om ouers oor die voordele van moedertaalonderrig in te lig. En in die Limpopo-provinsie verdien die provinsiale onderwysdepartement vermelding vir sy pogings om moedertaalonderrig in Pedi (Sesotho sa Lebowa) op groot skaal uit te brei.

      In die geval van Afrikaans aan die universiteite is die sukses wat behaal is nog nie heeltemal op die skaal van moedertaalonderrig op skool nie. Hier is die groot kwessie egter nie soseer die regering nie, as die hantering van die situasie binne die universiteite self. Soos Hermann Giliomee en Lawrie Schlemmer aandui in ’n verslag oor Afrikaans aan die universiteite wat eersdaags die lig sien, lyk dit asof die situasie aan die universiteite van die Vrystaat en Noordwes gestabiliseer het, grootliks omrede deeglike taalbeplanning asook samewerking tussen die universiteitsrade, die besture en die groter gemeenskap.

      In die geval van die grootste residensiële Afrikaanse universiteit, die Universiteit van Pretoria, is daar ook aanduidings van groot erns wat tans met Afrikaans gemaak word, soos blyk uit die uitstekende artikel van prof. Niek Grové, registrateur van dié universiteit, elders in hierdie uitgawe. Die belangrikheid van Grové se artikel kan moeilik onderskat word, aangesien dit in die jongste verlede die sterkste teken uit die geledere van ’n Afrikaanse universiteit se bestuur is dat die krisis gesamentlik deur die hele Afrikaanse wêreld gehanteer moet word. Die FAK sal ongetwyfeld alles in sy vermoë doen om hierdie denkrigting te ondersteun en die Afrikaanse universiteite se hand vanuit die burgerlike samelewing te sterk.

      Sover dit die voorgestelde naamsverandering van Pretoria aangaan, het volgehoue druk deur die FAK, veral in samewerking met die Pretoria Burgerlike Alliansie, ongetwyfeld bygedra tot die onlangse uitspraak van die Minister van Kuns en Kultuur, dr. Pallo Jordan, dat hy eers ’n behoorlike proses van oorlegpleging met alle betrokkenes wil afhandel voor hy ’n finale besluit neem – iets wat volgens hom met groot omsigtigheid gedoen moet word.

                In die onlangse verlede het die FAK ook hier weer sy deel gedoen. Enkele weke gelede het die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, deel gevorm van ’n groep wat ’n versoekskrif oor die kwessie aan die Kantoor van die President oorhandig het, en pas op Sondag, 4 Junie, het Goosen deelgeneem aan ’n uitsending van The Big Question op SABC2, waarin hy klem gelê het op die waarde wat Pretoria as histories anti-koloniale stad vir Afrikaners dra. Hy het ook gewys op die noodsaak van wedersydse erkenning, soos spreek uit die Tshwane-Pretoria-kompromis, as een van die maniere om demokrasie in Suid-Afrika te verdiep. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=598
Artikel nagegaan:
    -