|
||||
Margaret Legum
* Gemeenskapsekonoom en skrywer van It doesn’t have to be like this! A New Economy for South Africa and the World, Kaapstad, Kenilworth: Ampersand Press, 2002
’n Persoonlike teleurstelling, en ’n verlore saak, in ’n klein maar pragtige hoekie van ons land het my opnuut laat dink aan wat agter die sporthiërargieë lê. Dié hiërargieë is, soos alle ander dinge, gekoppel aan die ekonomiese stelsel wat ons verkies het om te omarm. Soos die ekonomie is, so is die mens. In die bekoorlike mond van die Vishoekvallei lê die geskiedkundige Clovelly-Buiteklub. Binnekort gaan dié klub sy tennis- en sy rolbalafdeling sluit, en eersgenoemde was juis jare lank die appel van my ontspanningsoog. Daardie klein deeltjie van Clovelly se grond wat die gedoemde afdelings beslaan – daardie breukdeel van een persent – is bestem om die gholffasiliteite te verbeter deur die byvoeging van ’n oefenbaan. Ons het daarteen baklei – en verloor. Omdat die Klub ’n ruimhartige weldoener in die persoon van Raymond Ackerman het, gaan ons weg met ’n pakket wat ons in staat sal stel om iets anders te stig – ingrypend minderwaardig, maar beter as niks, en dit sal darem ’n paar van ons in staat stel om bymekaar te bly. Clovelly het ’n roemryke geskiedenis. Ackerman het dit begin toe hy, as Jood, van ander Kaapstadse gholfinstellings uitgesluit is: gholfspelers is immers ten minste eksklusief. In daardie tradisie het hy, selfs tydens apartheid, aangedring op die reg om swart lede voor te stel. Op die oomblik is ’n groot transformasieproses aan die gang, wat ’n junior gholf-“akademie” vir swart jeugdiges insluit – en dit is juis, minstens ten dele, in hulle behoeftes dat die nuwe oefenbof moet voorsien. Dit is moeilik om so ’n prysenswaardige bedoeling teë te gaan. En om te waarheid te sê, as ek nie so persoonlik hartseer was oor die verlies aan my tennisgeleentheid nie, sou ek die hele ding seker beskou het as ’n twis tussen welgestelde mededingers om hulpbronne. En in sekere sin is dit ook. By dieper nadenke het ek gewonder hoekom gholf as sport toegelaat word om die beste stukke grond in die toeganklike wêreld oor te neem. Hoekom is daar geen debat oor die kwessie van een sportsoort wat so baie grond en so baie hulpbronne monopoliseer nie – hulpbronne waarvan talle, soos water, toenemend ernstig beperk raak? Is daar nie iets oneweredigs aan die feit dat soveel natuurskoon vir een sportsoort afgesteek word nie? Daar kan gesê word dat byvoorbeeld tennis – wat maar ’n onbenullige oppervlakte grond beset – ’n uitstekende, en baie goedkoper, sport is waarin minder bevoorregte jeugdiges afgerig en ontwikkel kan word. Waarom moet dit spandabelrige gholf wees? ’n Mens kan seker sê dit is voor die hand liggend waarom gholf so baie grond kry om te gebruik. In die eerste plek behels dit mense wat ’n bal so ver slaan as wat hulle kan – en daarvoor is ruimte nodig. In die tweede plek beteken die wette van vraag en aanbod dat enigiemand wat vir iets kan betaal, dit kry, of mens nou daarvan hou of nie – en gholfspelers was nog altyd bereid om baie te betaal vir hulle sport en die nodige toebehore. Daarenteen het ons tennisspelers, hoe ryk ons ook al mag wees, nie miljoene hektaar grond nodig nie en daarom sal ons ook nie daarvoor betaal nie. Dit is wel waar, maar nie genoeg nie. Daar is iets dieperliggends. Dit behels die feit dat gholf, in die industriële era, die voorkeursport van die topleiers en bestuurslui in die handel, nywerheid en regering geword het – miskien omdat hulle oor die algemeen middeljarige of ouer mans is wie se goue jare van agter ’n bal aan hardloop getaan het. Of miskien is dit omdat dit ’n plesier is om doelgerig in ’n pragtige omgewing te loop, en op die koop toe stem dit ooreen met die dokter en die fiksheidsinstrukteur se voorskrifte. Miskien is dit omdat gholfspelers buite hoorafstand van andere speel, twee-twee of vier-vier en teen ’n rustige pas; gholfbane het dus die plek geword waar transaksies heimlik beklink word in ’n pragtige omgewing en die rokende pistool maklik weggesteek kan word. Dit is miskien ’n paar van die redes waarom dit begin het, en nou dat dit aan die loop is, hou sy eie momentum hom aan die gang. Lidmaatskap van gholfklubs het de rigueur geword vir ambisieuse bestuurslui. En dit sluit allerhande soorte mense in wat ’n mens sou verwag intens verveel sou word deur die rustige tempo en die gebrek aan adrenalien en opwinding. Gholf vereis gewis vaardigheid, maar dit is beswaarlik vinnig en vurig. Die “verhoogde status”, die voorkeurstatus, van gholf het dus weinig te doen met sport. Dit gaan oor toegang tot mag. Dit is die moderne ekwivalent van die landgoedere van die landadel van Europa, waarop die grondbesitters in die geselskap van hulle gelykes gejag, geskiet en gehengel het en almal kon uitsluit wat hulle onder wou hou. Daardie klas mens het sport met perde en honde die begeerlikste van alle soorte sport gemaak, en om daaraan te kon deelneem, moes ’n mens toegang tot groot stukke grond hê. Hulle kon daardie grond in die hande te kry omdat hulle geld geërf het – en dit is die manier waarop sulke goed hulleself perpetueer. Jag en skiet en hengel is steeds ’n misterieuse vorm van bevoorregting in dele van Europa, veral die Britse Eilande. Maar gholf is die moderne ekwivalent daarvan. Dit is hoekom die argument dat grond op onbillike wyse aan gholf toegeken word, sonder enige begrip aangehoor word. Dit is hoekom die arme klein tennisafdelinkie nooit ’n kans gestaan het nie, al was sy eise maar gering. Binne die hiërargie van ekonomiese mag vervul sport sy rol. In elke era is daar ’n sport wat toegang tot mag beperk. En hoe vervelig dit ook al vir sommige mag lyk, gholf is die sport van uitvoerende hoofde, die moderne weergawe van konings. En die rede waarom gholf op so baie grond beslag kan lê, is dat die moderne konings selfs ryker is as wat die oues was. |