|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
Vanaf 9 Junie tot 9 Julie gaan ons planeet verswelg word deur ’n sonderlinge getygolf: dié van sokker, waarvan die laaste fase van die Wêreldbeker in Duitsland plaasvind. Dit is die universeelste sport- en TV-gebeurtenis. ’n Geakkumuleerde gehoor van tiene miljarde kykers gaan die 64 uitdunwedstryde tussen 32 nasionale spanne, wat die ses vastelande verteenwoordig, volg. Die konfrontasie sal sy maksimumintensiteit bereik op Sondag, 9 Julie, wanneer die twee laaste spanne die eindronde betwis in Berlyn se Olimpiastadion (deur Hitler opgerig vir die Olimpiese Spele van 1936). Op hierdie tydstip sal meer as twee miljard mense – een-derde van die mensdom – hulle voor hul skerms bevind in 213 lande (terwyl die Verenigde Nasies slegs 191 state tel). En niks anders sal vir hulle saak maak nie. Die kompetisie sal dan soos ’n enorme skerm funksioneer wat alle ander gebeure oorskadu. Tot die groot verligting van sommiges. Byvoorbeeld in Frankryk: mnre. Jacques Chirac en Dominique de Villepin, onderskeidelik President en Premier, reken ongetwyfeld op hierdie hipnotiese, kollektiewe aandagafleier om mense van die onderduimse Clearstream-skandaal te laat vergeet. En ’n wyle asem te skep. Vir sommige ’n “emosionele pes” (1), vir ander ’n “verheffende passie” (2), is sokker die nommer een internasionale sport. Maar dit is onteenseglik meer as bloot ’n sport. Anders sou dit nie so ’n orkaan van kontrasterende gevoelens ontlok nie. “’n Totale maatskaplike feit” het die groot essayis, Norbert Elias, dit genoem. Ons kan ook sê dat dit ’n metafoor van die menslike toestand is. Want volgens die antropoloog, Christian Bromberger, laat dit ons sowel die onsekerheid van individuele en kollektiewe status sien as die grille van geluk en die noodlot (3). Dit begunstig ’n besinning oor die rol van die individu en spanwerk, asook hartstogtelike debatte oor wat voorgegee word, kullery, die arbitrêre en onregverdigheid. Soos in die lewe is die verloorders in sokker meer as die wenners. Dit is waarom hierdie sport nog altyd dié was van nederiges wat bewustelik of onbewustelik ’n versinnebeelding van hul eie lot daarin sien. Hulle weet ook dat om hulle klub lief te hê, is om lyding te aanvaar. In geval van ’n neerlaag is die belangrike saak om verenig te bly, om bymekaar te bly. Danksy hierdie gedeelde passie is ’n mens seker daarvan dat jy nooit weer geïsoleerd sal wees nie. “You will never walk alone” sing die ondersteuners van die Engelse werkersklasklub, Liverpool FC. Sokker is dié politieke sport by uitstek. Dit lê by die kruising van kardinale vraagstukke soos lidmaatskap, identiteit, die maatskaplike toestand en selfs – deur sy offervaardige, mistieke kant – die religie. Dit is waarom die stadions hulle so goed leen tot nasionalistiese seremonies, lokalismes en identiteits- of stamopwellings wat soms uitloop op geweld tussen fanatieke ondersteuners. Om al hierdie redes – en ongetwyfeld om vele ander wat meer positief of feestelik is – fassineer hierdie sport die massas. Laasgenoemde interesseer nie net demagoë nie, maar bowenal adverteerders. Want meer nog as ’n sportsoort is sokker vandag ’n televisieskouspel vir ’n baie groot publiek met sy sterre wat astronomiese bedrae verdien. Die handel in sokkerspelers is ’n goeie weerspieëling van die toestand van die mark te midde van liberale globalisering: rykdom kom voor in die Suide, maar word verbruik in die Noorde, wat alleen beskik oor die middele om dit te koop. En hierdie mark (dikwels van misleides) lei tot moderne vorme van mensehandel. Die finansiële middele wat ingespan word, is waansinnig. As Frankryk vir die eindronde kwalifiseer, sal die prys vir ’n TV-advertensie van 30 sekondes 250 000 euro (nagenoeg 2 miljoen rand) haal, oftewel 15 jaar se verdienste van iemand op ’n Franse staatswelsynstoelaag! En die Internasionale Sokkerfederasie (FIFA) gaan nie minder nie as 1,172 miljard euro (nagenoeg 10 miljard rand) ontvang vir uitsaairegte en borgskappe van die Wêreldbeker in Duitsland. Hierbenewens word advertensiebesteding tydens die toernooi op meer as 3 miljard euro gereken. Sulke bedrae dryf ’n mens tot raserny. ’n Hele skare konkelaars sirkel om die ronde bal. Hulle beheer die mark van speleroorplasings en sportweddenskappe. Ten einde oorwinning te verseker, huiwer sommige spanne nie om te kul nie. Die bevestigde gevalle is legio. Soos bewys is deur die skandaal wat Italië tans skud. En wat daartoe kan lei dat die mitiese Turynse klub, Juventus, wat daarvan beskuldig word dat hulle skeidsregters omgekoop het, na ’n laer liga gerelegeer kan word. So gaan dit in hierdie boeiende sport. Verskeur tussen sy weergalose prag en sy slyk waarvan die effek soms lyk soos dié van modder op ’n waaier. Almal word daardeur bemors.
_________ (1) Jean-Marie Brohm, La Tyrannie sportive. Théorie critique d’un opium du peuple, Parys: Beauchesne, 2006. (2) Pascal Boniface, Football et mondialisation, Parys: Armand Colin, 2006. (3) Christian Bromberger, Football, la bagatelle la plus sérieuse du monde, Parys: Bayard, 1998.
|