blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


In antwoord op dr. Corné Mulder (LP, Vryheidsfront+) in Die Vrye Afrikaan van 19 Mei 2006 skryf Koos Malan van Pretoria 2006-06-12

In die algemene verkiesing van 1999 is die Vryheidsfront twee derdes van sy eertydse ondersteuning kwyt. Ofskoon die party ’n nuwe leier gekry het en ná die inlywing in sy geledere van die Afrikaner Eenheidsbeweging en die KP gedurende 2003 die Vryheidsfront Plus geword het, het die party in die algemene verkiesing van 2004 en nou weer in die 2006-munisipale verkiesing sy kreeftegang voortgesit. Wat die mislukking van die VF+ te meer opvallend maak, is dat dit gebeur in weerwil van aansienlike mediadekking wat die party in sowel die elektroniese as die gedrukte media te beurt val.  Die redes vir die VF+ se herhaalde stem-mislukkings is debatteer. Die basiese feit, naamlik dat die party by die stembus misluk, is egter voldonge en onontkenbaar. Dis net so ’n feit dat die DA klaarblyklik daarin geslaag het om ’n lojale ondersteuningsbasis by die stembus in die geledere van Afrikaners te vestig. Verskeie kommentators het die afgelope tyd na die sonderlinge sukkelgang van die VF+ verwys. Onder hulle tel Tim du Plessis, Jan-Jan Joubert en Carel (iv) Boshoff, lid van die VF+ in die Noord-Kaapse wetgewer. Natuurlik begryp ek dat die stagnasie van die VF+ dr. Mulder ontstel. Mulder se nouliks bedekte ad hominem-aanval op my in Die Vrye Afrikaan van 19 Mei 2006 is egter op sy beste ’n erg ondeugdelike poging om daardie ontsteltenis te salf. Veral treffend is die feit dat Mulder in die proses die een na die ander verdraaiing en wanvoorstelling ingeryg het.

      Eerstens haal hy besonder selektief aan uit ’n deel van ’n gevolgtrekking van ’n artikel van my wat in Januarie 2002 verskyn het. Deur die opsetlike verswyging van die voorafgaande ondersteunende argumentasie, maak Mulder hom skuldig aan ’n blatante verdraaiing. Bowendien het die artikel met ’n geheel ander onderwerp (die destydse depresiasie van die rand) gehandel en is dit derhalwe volledig irrelevant vir die doel van die onderhawige tema.

      Tweedens skryf Mulder dat ek verkeerd is wanneer ek sê dat swart kiesers in die Kaapse metropool ’n minderheid teenoor die blanke en bruin kiesers is en gaan dan voort om te sê dat swart kiesers nou die meerderheid in die Wes-Kaap is. Mulder maak hier ook ’n wanvoorstelling, want hy gee voor dat ek na die bevolkingsamestelling van die hele Wes-Kaap verwys terwyl ek dit baie pertinent net oor die Kaapse metropool gehad het. Hierdie wanvoorstelling van Mulder is so ooglopend dat dit voorkom dat dit nie doelbewus was nie, maar eerder die gevolg is van onnoukeurige glylees en slordige formulering.

      Derdens verklaar Mulder dat ek ’n oproep op Afrikaners doen om die DA te steun. By die deurlees van die artikel sal enige leser opmerk dat dit volkome onsin is en dat Mulder hiermee dus sy derde wanvoorstelling maak.

      Mulder sluit af deur te sê dat my standpunt dat belange-organisasies en –instellings veel belangriker geword het as tevore om Afrikaner-belange te behartig, ongeldig is, en dat hy geen teken daarvan sien nie. Die stelling is werklik verbasend. Weet Mulder nie van die werk van byvoorbeeld Solidariteit en die Rapport Onderwysfonds nie, en het dit nog nie by hom opgekom dat hy sy brief aan Die Vrye Afrikaan, wat deur die FAK uitgegee word, gerig het nie?

                Ofskoon dit dr. Mulder vrystaan om op welke manier ook al in die openbaar op te tree, is dit jammerlik dat die openbare domein met die soort van bedenklike taktiek wat Mulder se brief deurspek, geskaad word. Dis alombekend dat baie Afrikaners hulle rug op die politiek en openbare sake keer. Dit strek tot ons almal se nadeel onder meer omdat dit ons vermoë om na ons belange as ’n minderheidsgemeenskap om te sien, kortwiek. Dit is derhalwe ons gemeenskaplike verantwoordelikheid om die integriteit van die openbare domein onder Afrikaners te rehabiliteer en die openbare diskoers nie met dinge soos verdraaiings, wanvoorstellings en irrelevanthede te skend nie. Dr. Mulder is ’n senior politikus wat boonop in die regte gedoktoreer het, en behoort soos ons almal mede-verantwoordelikheid hiervoor te neem. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=596
Artikel nagegaan:
    -