|
||||
In ’n onlangse uitgawe van Rapport rig Tim du Plessis hom in gees en inhoud vanuit ’n liberaal individualistiese hoek teen die veelbesproke Native Club. Hoewel ek skynbaar ook nie vir lidmaatskap kwalifiseer nie, het ek ’n ietwat ander benadering as syne op skrif gestel en vir publikasie in die briewekolom aangebied. Daar is dit egter redaksioneel verkort deur iemand wat óf nie die verwysingspunte en verskille verstaan nie, óf my tot ’n soort onhandige ondersteuning van Du Plessis se standpunt wou sensureer. Aangesien ek dink dat Du Plessis se dwarsklap na die anti-neoliberale houding ook op Die Vrye Afrikaan gemik is, bied ek die brief in sy oorspronklike formaat nou vir u aan: Tim du Plessis stel in Rapport (21 Mei 2006) voor dat Mbeki se swart broederbond as't ware afgelag moet word. So lekker as wat dit sou wees om met ’n eenvoudige lag van jou onverkwiklikste vooruitsigte ontslae te raak, oortuig sy argument ongelukkig nie en wel om die volgende redes. Politieke bewegings wat deur groepvorming gedryf word, is die reël eerder as die uitsondering, of dit nou op ekonomiese belang (bv. werkers), op geloof (die nasie van Islam), op ras (swart bemagtiging), of op taal en kultuur (Koerde in Turkye of Baske in Spanje) berus. Sulke groepe en hulle belange het ’n lewe van hulle eie, ’n gegewe wat die neoliberale idee dat groepe slegs tydelike alliansies van vrye individue behoort te wees, eenvoudig nie verreken nie. Daarby is pogings deur sulke groepe om hulle belange te bevorder en beskerm ook nie vreemd nie. Dieselfde liberale benadering wat van die politiek ’n neutrale speelveld, vry van groepsbelange wil maak, doen dit juis sodat eiebelang op ekonomiese gebied vryelik en sonder politieke inmenging nagejaag kan word. Dit verklaar dan waarom die reeds welvarende sektor van elke samelewing tot die liberale ideologie aangetrokke voel. Om die Native Club met spoke van die Broederbond of van uitsluiting te probeer diskrediteer, hou nie rekening met die suksesse wat die Broederbond in sy hoogbloei beleef het nie. Die modernisering van Afrikaners, deels danksy die Broederbond, is vir enige opkomende bevolking ’n navolgenswaardige voorbeeld. Verder kan ’n buitestaander die nie-swart lede van die nuwe elite waarskynlik min van binne-groep sentimente wat hulle uitsluit, vertel. Dis ’n soort beroepsrisiko vir assimileerders en hulle word op ander maniere goed genoeg beloon. Du Plessis kan probeer om die neo-liberale nie-politieke sentiment tot morele maatstaf vir Suid-Afrika se politiek te verhef, maar hy sal toenemend vind hy is die een wat ’n mes trek in ’n skietgeveg. Die ander moontlikheid is om groepvorming, in ons geval rondom taal en kultuur, as gegewe te aanvaar en ’n magsewewig van selfstandige gemeenskappe aan die hand van grondwetlike reëlings, konsolidering van belange en onderlinge aansluiting waar gedeelde belange dit moontlik maak, na te streef. |