|
||||
N.P. Van Wyk Louw
Ek kry ’n klein klein beiteltjie, ek tik hom en hy klink; toe slyp ek en ek slyp hom totdat hy klink en blink.
Ek sit ’n klippie op ’n rots: - mens moet jou vergewis: ’n beitel moet kan klip breek as hy ’n beitel is –
ek slaat hom met my beiteltjie en dié was sterk genoeg: daar spring die klippie stukkend so skoon soos langs ’n voeg:
toe, onder my tien vingers bars die grys rots middeldeur en langs my voete voel ek die sagte aarde skeur,
die donker naat loop deur my land en kloof hom wortel toe – só moet ’n beitel slaan wat beitel is, of hoé?
Dan, met twee goue afgronde val die planeet aan twee en oor die kranse, kokend, verdwyn die vlak groen see
en op die dag sien ek die nag daar anderkant gaan oop met ’n bars wat van my beitel af dwarsdeur die sterre loop. *Uit Versamelde gedigte, Kaapstad: Tafelberg/ Human & Rousseau, 1981. Herdruk met die goedgunstige toestemming van Peter Louw |