blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Redakteursbrief 2006-06-12

Geagte leser,

As unieke blad op die Suid-Afrikaanse mediatoneel is Die Vrye Afrikaan enkele maande van sy tweede verjaardag af ’n instelling wat voortdurend evolueer. Hierdie evolusie word deur ’n verskeidenheid faktore gevoed, waarvan u terugvoer as leser een is – en ’n baie belangrike een daarby. Wat voorkoms betref, het ons uitlegredakteur, Hermien Brits (24), die uitleg op u versoek die afgelope uitgawes skoner en eenvoudiger gemaak. Danksy ons nuwe drukformaat by Caxton geniet ons kunstenaar, Elsabe Milandri (25), nog meer skopus, soos byvoorbeeld haar voortreflike reeks Van Wyk Louw-illustrasies na William Kentridge by ons Van Wyk Louw-dossier in hierdie uitgawe wys. Verskeie lesers het gevra vir ’n behoorlike kuns- en kultuurafdeling, wat terselfdertyd ons gebruiklike ernstige dieet politiek en ekonomie so ’n bietjie afwissel (ofskoon Kleinjan Schietekat reeds vir ’n vale lostrek), en daarom vind u vanaf hierdie uitgawe meer na die agterkant van die koerant ons voortaan gereelde afdeling, Hoor en sien, wat in die komende maande verder ontwikkel sal word. En van erns gepraat: sommige van u reken ons is nogal stroef. Gewis is dit so, maar dis ons beskeie verset teen die breinlose sug na aanvaarding en wins wat so kenmerkend van ons tyd is. Wat ons nie minder ondermynend maak nie. Geniet dus ook hierdie uitgawe, baie soos ’n fikse atleet ’n marathon, of ’n lewensgenieter ’n naglange banket. En stuur steeds vir ons u terugvoer. – Red. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=593
Artikel nagegaan:
    -