blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Hamas se onmoontlike taak 2006-06-12
Wendy Kristianasen

*Joernalis, hoof van die Engelse uitgawe van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

“Nog nooit was ’n regering onder soveel druk nie: ons word lamgelê. Daar is geen tyd om asem te skep of te dink nie.” Dr. Aziz Dwaik van Ramallah is voorsitter van die Palestynse wetgewende raad. As ’n gegradueerde aan Amerikaanse universiteite ken hy die Weste goed. “As laasgenoemde Hamas se ondergang soek, goed en wel. Maar dit sal nóg vrede, nóg voorspoed bevorder; ons sal ’n radikalisering van die Palestyne sien en die hele streek sal die gelag betaal.”

      Geld kom reeds kort. Hoewel die Europese Unie beloof om sy direkte hulp te hervat in ’n vorm wat nog bepaal moet word, lei die beleg wat Israel en die Weste sedert die verkiesing in Januarie 2006 afdwing op die regering wat deur die Islamitiese Weerstandsbeweging (Hamas) beheer word tot ’n dramatiese situasie op die Wesoewer en in die Gazastrook, wat herinner aan dié in Irak tydens die boikotjare. Duisende mense sit reeds sonder vloeistof, kos, medisyne en brandstof, en die hospitale staak enige niedringende behandelings. Hierdie sanksies wat afgedwing word op ’n regering wat ontstaan het uit ’n openbare verkiesing wat die Amerikaanse administrasie aangevra het, lei ook tot spanning tussen Fatah en die president van die Palestynse Owerheid aan die een kant, en Hamas aan die ander kant.

      Sewehonderdduisend mense is afhanklik van salarisse wat deur die Owerheid betaal word. “Die aantal staatsamptenare het van 120 000 tot 167 000 tussen 2000 en 2006 toegeneem,” erken Mahmoed Ramahi, sekretaris-generaal van die Wetgewende Raad. “Tienduisend is tydens die laaste drie maande van die vorige regering aangestel.” Hierdie nuwe aanstellings moes Fatah se oorwinning verseker ... Uit ’n begroting van 1,8 miljard dollar in 2005 is 790 miljoen afkomstig uit doeaneregte wat Israel moes uitbetaal – maar opgehou het om te doen –  360 miljoen uit binnelandse belasting, en die res uit buitelandse hulp.

      Die Owerheid betaal 70 000 veiligheidsmaglede, 40 000 onderwysers en 9 000 mediese personeel. “Onderwysersalarisse maak een-derde uit van die salarisse wat deur die Owerheid betaal word,” aldus Nasser Eddin Al-Shaer, adjunkpremier en minister van onderwys. “Van hulle is al nege maande lank nie betaal nie. Uitstaande betalings het opgeloop, en die ministerie het nie meer ’n dollar in sy sak nie. Die privaatsektor sukkel ook, en ons kan niks doen sonder hulp nie. Die mense kry reeds swaar, en ons weet nie hoe lank hulle geduld nog sal hou nie. Ons het alreeds te kampe met maatskaplike en politieke onrus en stakings.”

      Die nuwe regering het hom tot die Arabiese en Moslem-wêreld gewend. Egipte en Jordanië bly onbetrokke uit vrees vir die reperkussies wat ’n suksesvolle Islamities-beheerde regering by hulle te lande mag hê. Ander lande het hulp beloof, bevestig die minister van finansies, Omar Abdel-Razeq: “Vyf-en-dertig miljoen dollar het uit Algerië gekom nog voor ons bewindsaanvaarding, 10 miljoen dollar uit Rusland, wat in die gesondheidsektor aangewend sal word. Ons het 70 miljoen dollar in trust by die Arabiese Bond, 50 miljoen wat deur Qatar beloof is, 20 miljoen deur Saoedi-Arabië, 50 en dalk 100 miljoen deur Iran, en 50 deur Libië. Die probleem is om toegang daartoe te kry; die banke is onder druk, veral van die VSA, om nie geld oor te dra nie.”

      Die Europese Unie, die VSA en ander hulpverskaffers het drie voorvereistes aan die nuwe regering voorgelê: die opsegging van geweld; erkenning van die staat Israel; en aanvaarding van verdrae wat reeds tussen Israel en die Palestyne onderteken is. Maar geen eise is aan die Israeliese regering gestel nie. “Dit is ’n wekroep dié,” verklaar Soraida Hoessein, ’n nie-godsdienstige kampvegter vir vroueregte in Ramallah. “Ons moet Westerse inmenging verwerp, en dit beteken ons moet Hamas steun. Die mense het vir hulle gestem en hulle keuse moet gerespekteer word.”

      Ghassan Khatib, ’n vorige minister en lid van die Volksparty (voorheen kommunisties), neem ’n soortgelyke standpunt in: “Mense in die buiteland verstaan nie hoe sterk die weerstand teen die VSA hier is nie. As die regering misluk, sal Hamas nog sterker uit die stryd tree, omdat hulle deur die Weste gestraf is. Hulle sal nog groter krag en legitimiteit kry, hulle sal die enigste oorwinnaars wees. Besef Washington dit?” En hy waarsku: “As Hamas wil hê die Palestynse Owerheid moet oorleef, sal hy radikale toegewings moet maak. Arafat het 20 jaar geneem om dit te doen, en Hamas sal geen uitstel kry nie. Aan die ander kant, as hy hierdie toegewings maak, loop hy gevaar om hom van ’n deel van sy basis te vervreem.”

      By die premier Ismaïl Haniyeh se kantoor in Gaza is die spanning merkbaar. Sy politieke raadgewer, Ahmad Joessef, spreek sy kommer uit oor Haniyeh se veiligheid nadat die Voorkomende Veiligheidsmag, wat deur Fatah oorheers word, hom toegang geweier het tot ’n pad wat hulle beheer, en hom verplig het om ’n klein ompaadjie te gebruik. Haniyeh baan glimlaggend sy weg deur ’n media-sirkus: die kameras flits waar hy poseer voor ’n enorme foto van die El-Aqsa-moskee wat bo sy lessenaar pryk. Hy wys na die juwele en goud wat gesinne geskenk het om die regering te help. Hy bel Romano Prodi om hom met sy oorwinning in Italië geluk te wens.

      Hy praat met omsigtigheid: “Ons sal die Israelies-Palestynse verdrae nakom as dit in Palestynse belang is.” Die inisiatief van die Arabiese spitsberaad in Beiroet in Maart 2002, gebaseer op die naasbestaan van twee state, Palestina en Israel, op die grondslag van die 1967-grense, “het heelwat positiewe aspekte. As ons voorbehoude het, sal ons dit bekendmaak sodra Israel hierdie inisiatief aanvaar het.” Is sy regering bereid om al die Verenigde Nasies se resolusies oor die Israelies-Palestynse konflik te aanvaar? “Ons is bereid om daarmee saam te werk en dit met erns te bejeën, indien dit in die Palestyne se belang is en indien Israel dit ook aanvaar.” Sluit dit resolusie 242 in? (1) “As die Israeli’s terugtrek, goed, dan aanvaar ons die werklikheid. Maar ’n unilaterale beleid wat nie vir ons in ag neem nie – en wat ook nie vir Mahmoed Abbas voor ons in ag geneem het nie – is nóg ’n billike, nóg ’n vreedsame oplossing.”

      By Ramallah gaan die minister van finansies, mnr. Abdel-Razeq, nog verder: “Ons moet eers kyk wat die Israeli’s aanbied, daarna sien ek geen beswaar teen onderhandeling nie. As Israel eensydig terugtrek en ’n onafhanklike Palestynse staat opgerig word, kan ons beding oor ’n wapenstilstand, of selfs ’n oplossing wat op twee state gebaseer is. Maar die voorwaardes moet billik wees. Dit beteken Israel se algehele terugtrekking ten opsigte van die 1967-grense, ook wat Jerusalem betref; die ontbinding van kolonies en die afbreek van die skeidingsmuur; toestemming aan vlugtelinge om terug te keer en vergoeding te ontvang, insluitend vergoeding vir ons volk se lyding onder die besetting. Dit gaan daaroor dat die werklikheid op die terrein erken moet word.”

      Hierdie saggemanierde man was nog in die tronk tydens die verkiesingsveldtog. Hy is voorwaardelik vrygelaat om sy posisie te beklee, maar moet einde Mei voor ’n Israeliese hof verskyn. Uit die 74 Hamas-parlementslede was net een nog nooit in die tronk nie.

      Die Wetgewende Raad en sy kommissies werk beide in Ramallah en in Gaza, met ’n videostelsel wat die verkose lede in die twee streke in staat stel om te kommunikeer. Die besettingsmagte verbied die meeste van hulle om die tientalle kilometer tussen die twee eenhede, wat al hoe meer van mekaar afgesny is, oor te steek.

      In Gaza verduidelik Ghazi Hamed, die regeringswoordvoerder, dit so: “Ons het vir die Europeërs gesê ons is bereid om politieke kompromieë te maak. Maar die Weste moet ophou om voorwaardes te stel. Want watter waarborg gee hulle ons? En hoe kan ons ooreenkomste aanvaar wat die Israeli’s verwerp? Ons standpunt is duidelik: as Israel die Veiligheidsraad se resolusie 242 aanvaar, sal ons dit aanvaar. Maar Israel moet die eerste skuif maak, want ons het geen grond om aan te bied nie, al wat ons kan aanbied, is veiligheid.”

      As die Palestyne vir Hamas gestem het, is dit omdat sy hande skoon is, omdat hy nie in korrupsie-aangeleenthede betrokke is nie, omdat hy ’n stewige maatskaplike basis en ’n goeie rekord van munisipale bestuur het. En ook omdat Fatah se strategie gefaal het (2). Die voorsitter van die Palestynse Sentrum vir Persoonsregte in Gaza, Raja Soerani, stel dit so: “As organisasie is Hamas sy teenstanders ver vooruit. Dit is die enigste werklike mag in die besette gebied, die ander kom ver agterna. Die mense gee Hamas die voordeel van die twyfel omdat sy leiers en verkose lede gewone mense soos ons is. Die naakte werklikheid is dit: ons leef steeds onder die besetter se duim. Hulle besluit oor die kleur van ons onderklere, oor die medisyne wat ons vir ons kinders gee. Ons versmoor. Israel het Arafat as die baas van terrorisme gebrandmerk en hom onder besetting geplaas; Aboe Mazen het hom opgevolg, en Israel het nie tyd gemaak om met hom te onderhandel nie. En nou word ons gestraf omdat ons vrylik ons mening uitgedruk het deur vir Hamas te stem. Wat is so nuut daaraan? Ons is alreeds tot vyand verklaar. Maar wat nou gebeur, berei die weg voor vir die koms van Al-Kaida.”

      Rawya Shawa, onafhanklike lid van die Wetgewende Raad en een van die min vroue in Gaza wat nie sluier dra nie, is verontwaardig: “Ek was teen Fatah gekant omdat hulle die samelewing agteruit laat beweeg het. Dit is ook waarom die mense vir Hamas gestem het. Ek sal hulle steun solank as wat hulle teen korrupsie veg. Aan ’n konserwatiewe Moslem-gemeenskap soos ons s’n verander hulle koms nie veel nie. Hulle gaan nie skielik ’n Khomeinistiese tipe regering afdwing nie.”

      Dieselfde mening word deur die uiters nie-godsdienstige Khaleda Jarrar, ’n Wetgewende Raadslid en lid van die Volksfront vir die Bevryding van Palestina (VFBP), in Ramallah gehuldig. “Die probleem vir vroue lê nie by Hamas nie, maar by Fatah. Tydens sy laaste termyn het hy uiters reaksionêre strafwette voorgelê, met verwysings na Islam of ’n maksimum vonnis van ses maande vir misdade teen vroue in die naam van eer.” ’n Gegradueerde in Moslemreg, lid van Hamas se Wetgewende Raad en minister van vrouesake, Mariam Saleh, is beslis: “Ja, ons het maatskaplike hervorming nodig: arbeidsgelykheid vir vroue en hervorming van die familiereg en wette op erflatings.”

      In Gaza klink menige vyandige stem op teen Fatah. Soefian Aboe-Zeida, voormalige minister belas met gevangenes in Israel, ontvang ons in sy huis naby die Jabaliyya-kamp. Sal Fatah van hierdie geleentheid gebruik maak om sy binnetwis op te klaar en te hervorm? “Ongelukkig nie, dink ek.” Die geluid van bomme klink hier nader. Hulle val veral in die omtrek van die stowwerige stroke grond wat deur die Fatah-burgermagte en die Islamitiese djihad gebruik word om Qassam missiele – wat meestal in die see val – op die Joodse staat af te vuur. Israel se teenaanval, buite verhouding en ononderbroke, tref die gebiede rondom Beit Hanoen en Beit Lahya langs die pad na die Eretz-grenspos.

      Nie ver daarvandaan nie, in Soedaniya, aan huis van Khaled Al-Jazji, voormalige adviseur vir Arafat en adjunkminister van binnelandse sake onder Abbas, skeur ’n oorverdowende ontploffing die stilte. Die telefoon lui kort: ’n vliegtuig of robotvliegtuig, geen kinders is dood nie. Die gesprek hervat. “Ek het Fatah nie verlaat nie; hy het homself in die voet geskiet. ’n Klein groepie het ons verraai. Dit is tyd dat hy padgee. Fatah is nie in staat om die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) te hervorm nie, dus kom ons laat dit aan Hamas oor.”

      Hamas wil dalk ’n einde maak aan die geweld, veral die aanvalle wat uit Gaza geloods word en wat, erken sy leiers agter geslote deure, nutteloos en selfs skadelik is. Vir meer as ’n jaar al hou hy hom streng by ’n tahdia (tydperk van kalmte). Jamil Hilal, ’n sosioloog en onafhanklike lid van die Palestynse Nasionale Raad, dink dit is tyd dat “Hamas omskryf wat hy bedoel met weerstand, en in die besonder standpunt inneem aangaande selfmoordaanvalle en diegene wat die teikens daarvan is.” Op 18 April 2006 is meer as tien mense dood in Tel-Aviv in die dodelikste selfmoordaanval sedert Augustus 2004. Hoewel Abbas dit as ’n “weersinwekkende” daad veroordeel het, verduidelik die Hamas-woordvoerder Sami Aboe-Zuhri aan die BBC dat dit “’n daad van selfverdediging was (...) ’n natuurlike antwoord op Israeliese aggressie ... Die Palestyne sal hulle weerstand voortsit, maar dit moet tot die militêre en die besettingsmagte beperk word.”


 

      Hoekom het hy nie gesê dat dit die Islamitiese djihad was en nie Hamas wat die aanval gedoen het nie, en dat laasgenoemde hom by die tahdia hou nie? By ondervraging twee dae later verduidelik hy: “Dit het nie vir ons wenslik gelyk om te sê dat ons ten gunste van kalmte is nie.” Want Hamas het nie amptelik geweld afgesweer nie. Dit is ook waar dat ’n twintigtal Palestyne die vorige week in Gaza deur die Israeliese weermag doodgemaak is.

      Die beweging het nietemin ’n ver pad gekom, van ’n gewapende stryd tot ’n strategie van eenheid onder alle Palestyne teen die Oslo-verdrae wat “Palestina verkoop het” (3). Dit het Hamas jare geneem om die politieke arena te betree, ’n manier om die Palestynse Owerheid wat deur die einste Oslo-verdrae geskep is, te erken, en om daarna nie alleen aan munisipale verkiesings deel te neem nie, maar ook aan dié vir die Wetgewende Raad wat in hierdie verband geskep is.

      Interne debat word nog verder bemoeilik deur die feit dat die beweging se bestuur versprei is tussen verskeie sentra: in Gaza, waar Hamas aan die begin van die eerste Intifada (1987) tot stand gekom het en wat sy leiersposisie wil handhaaf; op die Wesoewer; en laastens in die buiteland (eers in Amman, daarna in Damaskus). Die verkiesingsoorwinning, wat Hamas nie te wagte en derhalwe nie op voorbereid was nie, het hulle verplig om ’n deel van die Palestynse Owerheid oor te neem. In munisipaliteite het hulle pragmatisme aan die dag gelê en nie hulle visie van ’n Islamitiese samelewing in werking gestel nie. Maar oor die toekoms bly hulle vaag ...

      Die gematigde Haniyeh is as premier verkies bo die meer radikale dr. Mahmoed Zahhar, huidige minister van buitelandse sake en die enigste oorlewende uit die vorige bewind (sjeik Ahmad Jassin, Abdelaziz Rantisi en Ismaël Aboe-Shanab is deur die Israeli’s om die lewe gebring). Op 43-jarige ouderdom leef hy beskeie in die Shati-vlugtelingkamp in Gaza.

      Maar hoewel Hamas sy geheime strukture behou, beklee talle van sy bestuurslede nou amptelike binnelandse poste. Die politieke buro vir buitelandse organisering, onder leiding van Khaled Meshal, praat namens – en met – Palestyne wat die land moes verlaat. Binnelands en buitelands het hulle dus afsonderlike kantore, wat ’n sekere vaagheid in die hand werk. Die beweging sluit byvoorbeeld nie die moontlikheid uit om sy handves te wysig of met Israel te onderhandel op grond van die 1967-grense nie. Maar wat hy in die toekoms sal doen, bly nog onduidelik.

      Nietemin is die huidige prioriteite die internasionale boikot en binnelandse spanninge tussen Fatah en Hamas. Een van die struikelblokke in die weg van voordelige saambestaan spruit uit die feit dat Hamas nie by die PBO kon aansluit nie. Maar hoewel die organisasie nie lid daarvan is nie, behoort al die lede van die Wetgewende Raad regtens aan die Palestynse Nasionale Raad (PNR), die hoogste liggaam in die PBO ... So vul Hamas 10% van die setels in die PNR sonder dat hy lid daarvan is. Vir ’n geruime tyd het die organisasie die PBO se aanspraak op die titel “enigste regmatige verteenwoordiger van die Palestynse volk” betwis, maar sedert die Kaïro-verklaring wat op 17 Maart 2005 deur 13 Palestynse bewegings onderteken is (4), erken hy die PBO en eis hy 40% van die setels in die PNR.

      ’n Voormalige minister, onafhanklike parlementslid en moontlike minister van buitelandse sake in ’n nasionale eenheidsregering, Ziad Aboe-Amr, sê dat hy ’n “een-derde stem” verteenwoordig. In sy kantoor in Gaza, met die geluid van bomme in die agtergrond, spreek hy sy verbasing uit oor die nuwe regering se standpunte: “Dit is ironies dat Hamas die PBO as enigste regmatige verteenwoordiger van die Palestyne erken het toe hulle nog maar ’n beweging was, maar noudat hulle ’n regering is, verseg om dit te doen. Gewoonlik is ’n regering meer gematig as ’n party.” Hy praat weer oor die mislukte pogings om ’n nasionale eenheidsregering tot stand te bring: “Die struikelblok is Hamas se politieke agenda. Die leiers sou bereid wees om belangrike poste af te staan, op voorwaarde dat dit nie hulle agenda kelder nie. Wanneer hulle van magsdeling praat, wil hulle nie hulle besluitnemingsmag aan bande lê nie. Hulle wil aan die politiek ’n dimensie van outentisiteit gee. Hulle vind dit oneerbaar om met dekadente nasionaliste saam te werk. En met die oorwinning wat hulle in die verkiesing behaal het, het hulle – altans in die eerste weke – dit nie nodig gevind nie.” En tog, gaan ons gespreksgenoot voort, “kon hulle met so ’n groot oorwinning toegewings gemaak het”.

      ’n Teken van wrywing was die ooreenkoms oor die beheer van die Rafah-grenspos tussen Gaza en Egipte, waarop die Europese Unie se toesighouers aangedring het. Hamas het die besluit aanvaar, maar nie die manier waarop dit geneem is nie: “Ons het dit deur die koerante verneem,” verduidelik een van sy amptenare. Said Siam, minister van binnelandse sake, se besluit in April om ’n mag van 3 000 man op die been te bring om die polisie en veiligheidsmagte by te staan, het ’n verdere bron van spanning geskep. As leier het hy Jamal Aboe Samahadanah aangestel, ’n kommandant van volksweerstandskomitees wat deur die Israeli’s gesoek word. Abbas het onmiddellik dié besluit as “onwettig en ongrondwetlik” bestempel. Hierdie mag het nietemin op 17 Mei in werking getree.

      In Gaza, omring deur sy lyfwagte, beaam die woordvoerder van die minister van binnelandse sake, Khaled Aboe Hilal: “Ons het ’n landwye agenda. Ek self het uit die Al-Aqsa Brigades (5) bedank om woordvoerder van ’n Hamas-minister te word, sonder om Fatah te verlaat. My vrou is Hamas, my swaer is FPLP. Maar ons is almal teen korrupsie gekant.” Hy gaan voort: “Die mag wat ons op die been bring, sal begin deur openbare grondgebied te herwin wat in die anargistiese klimaat wat ons beleef, verbrokkel geraak het. Ons benodig die ondersteuning van die groot families, stamgroepe en moekhtars (plaaslike burgemeesters) om onwettige wapens te konfiskeer. Ons wil ons gemeenskap weer opbou nadat nie net die besetting nie, maar ook ’n deel van Fatah dit verwoes het.”

      Die spanning het nog ’n ent toegeneem toe Khaled Meshal die president van die Palestynse Owerheid daarvan beskuldig het dat hy met die VSA en Israel heul om die regering te ontwrig (6). Fatah-voorstanders het in die strate betoog, botsings het op universiteite plaasgevind, en ’n veertigtal is in skermutselings beseer, wat Abbas genoop het om ’n optog deur Fatah-burgermagte te kanselleer. Op 23 April beset lede van dié beweging die munisipale hoofkantoor in Naploes asook dié van die minister van gesondheid in Gaza, wat aangekondig het dat uitgawes met 2 miljoen dollar per maand besnoei gaan word.

      In Ramallah het twee ministers hulle ondubbelsinnig van Hamas gedistansieer. Die adjunkpremier en minister van onderwys, mnr. Shaer, bevestig: “Ons moet duidelik staan. Hamas moet buitelandse medewerkers hê, maar die taal wat ons hier praat, is binnelands. Ons het nie vir Khaled Meshal nodig nie. Hy verteenwoordig nie die regering nie.” Op sy beurt verduidelik Abdel-Razeq: “Meshal se verklaring is uit verband geruk; hy het dit slegs op ’n sekere groep persone gemik. Maar dit was nie die regte oomblik om dit te sê nie en van die dinge wat hy gesê het, was foutief.”

      Op 8 Mei, terwyl skermutselings in Gaza voortgeduur en drie mense dood en elf beseer gelaat het, ontmoet Abbas en Haniyeh mekaar vir besprekings. Die gees van versoening was ook merkbaar in die gesamentlike verklaring wat op 11 Mei deur die gevange leiers van al die Palestynse organisasies, insluitend die Islamitiese Djihad, en in die besonder deur Marwan Barghoeti, leier van die Fatah op die Wesoewer, en sjeik Abdel Halek Natshe van Hamas onderteken is. Die verklaring handel oor die aanvaarding van ’n onafhanklike Palestynse staat op al die gebiede wat in 1967 beset is, die aangehoudenes se reg om vrygelaat te word, en die hervorming van die PBO. Dieselfde dag in Qatar doen Meshal ’n beroep om eenheid tussen Fatah en Hamas, maar op ’n (ander) basis van “Palestynse bevryding en die vryheidstryd” (7).

      Dui dit alles op ’n soort magsdeling wat ’n ineenstorting moet keer? Abdel-Razeq is optimisties: “Ons sal samewerking tussen hierdie regering en die president bewerkstellig, en dit sal ons uiteindelik by ’n nasionale eenheidsregering uitbring as ons geduldig is en ideologiese toegewings maak. Die regering sal dan in staat wees om buigsamer standpunte in te neem, iets wat Hamas as ’n organisasie nie kan doen nie.”

      Hierdie scenario is verkieslik. Maar as die finansiële krisis die hoof gebied word, sal Hamas en Fatah in staat wees om die nodige toegewings te maak? Professor George Giacaman, stigter van die (burgerlike) dinktenk Moewatin wat in Ramallah gesetel is, dink anders: “Nie een van die twee kante is bereid om dit te doen nie.” Sy oplossing? ’n Regering van tegnokrate met ’n sterk persentasie onderwyspersoneel kan ’n middeweg-oplossing wees (8). Nog ’n scenario, dalk waarskynliker, sou wees om ’n tree in die rigting van ’n nasionale eenheidsregering te gee deur een of twee ministers prys te gee.

      En as dit alles misluk? “Dan sal ons op eerbare wyse bedank,” verklaar Ghazi Hamed, die regeringswoordvoerder. Soos Abdel-Razq opmerk: “As die regering val, sal Hamas nog steeds magtig wees, en die Wetgewende Raad en die besetting sal steeds daar wees. Maar die politieke stelsel sal in duie stort.” Israel sal dan regstreeks die Palestynse gebiede moet regeer. Hierdie vooruitsig sit opnuut die debat oor die Owerheid se rol aan die gang. Op ’n tydstip dat die vredesproses tot stilstand gekom het, wat is sy rol, indien nie om staatsamptenare se salarisse te betaal nie? Wat die toekoms ook al mag inhou, Hamas sal nie verdwyn nie.

 

_________

(1) ’n Resolusie wat deur die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad op 22 November 1967 aanvaar is, ses maande na die Sesdaagse Oorlog. Dit bepaal onder meer die erkenning van die twee state se onafhanklikheid en onskendbaarheid van gebied.

(2) Lees Hussein Agha en Robert Malley, “Un pouvoir palestinien à bout de souffle” , Le Monde diplomatique, Januarie 2006.

(3) Lees onder meer “Islamistes palestiniens, la nouvelle génération” en “Douloureux réveil pour Hamas”, Le Monde diplomatique, onderskeidelik Junie 1995 en September 1996.

(4) Lees die verklaring in Engels:

http://domino.un.org/UNISPAL.nsf/1ce874ab1832a53e852570bb006dfaf6/69b9d56df48732c4/. Vir ’n ontleding van die teks, lees Graham Usher, “The calm before the storm?”, Al-Ahram Weekly, Kaïro, 24-30 Maart 2005, http://weekly.ahram.org.eg/2005/735/re1.htm/.

(5) Die Al-Aqsa martelaarbrigades is ’n gewapende burgermag wat aan Fatah verbonde is, en wat geskep is ná die tweede Intifada in 2000 uiteengespat het; hulle leiers kom hoofsaaklik uit Tanzim, ’n groep jeugdige Fatah-militante. Hulle het gewapende aanvalle geloods op beide Israeli soldate én burgerlikes.

(6) Jerusalem Post, 23 April 2006.

(7) Palestinian Information Centre, 13 Mei 2006, http://www.palestine-info.co.uk/am/publish/article_18196.shtml/.

(8) Daar is ongeveer 40 000 onderwyspersoneellede wat min of meer gelykop tussen Fatah en Hamas verdeel is.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=590
Artikel nagegaan:
    -