|
||||
Kleinjan Schietekat
“Word ons gepaparazzifiseer?” Dit is die vraag wat die afgelope weke op talle Suid-Afrikaners se lippe is, nadat verskeie buitensporige insidente van steelfotografie landswyd voorgekom het. Die jongste voorval het plaasgevind toe ’n bekende boer van die Standerton-distrik, mnr. Martin de Grootte, onlangs ’n fotograaf van die plaaslike koerant, Die Standerton Standaard, toegetakel het nadat dié hom probeer afneem het waar hy ’n brood en melk by die dorpskafee koop. ’n Ontstelde De Grootte sê, “Ek kan nie verstaan waarom hulle my nie eerder op my Massey Ferguson kom afneem het nie as dit dan nou moet!” Die redakteur van Die Standerton Standaard, me. Maatjie Majila, sê dat hulle sirkulasie van 74 na 83 gestyg het vandat hulle begin het om bekende inwoners van die omgewing in hulle daaglikse doen en late af te neem: buite die skoolhek, in ’n tou by die bank of by ’n vendusie. “Ek kan nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie,” sê sy. “As Amerikaanse bekendes afgeneem word waar hulle ’n winkel verlaat of ’n sonbril aanpas, vind niemand dit snaaks nie.” In nog ’n voorval is ’n akteur wat 27 jaar gelede laas op TV was, Ben de Koker, onlangs afgeneem waar hy sy ou Volksie se deur toesluit in die parkeerterrein van die bekende Tygervallei-winkelsentrum in Durbanville. Wat die foto nog meer ongehoord maak, is dat die tydskrif Old Heat wat die foto geneem het, dit op hulle voorblad geplaas en ’n kompetisie uitgeskryf het waarin die eerste persoon om De Koker te identifiseer ’n romantiese naweek in Las Vegas kan wen. Konsternasie het ontstaan toe ’n 83-jarige ouma van 19 kleinkinders, wat voortdurend in en uit rehabilitasie vir haar dobbelverslawing is, die prys gewen het. Prof. Silas Khumalo, hoogleraar in mediasielkunde aan die University of Stellenbosch, skryf die paparazzifikasie van die Suid-Afrikaanse media aan verskeie faktore toe. “In essensie is die paparazzi ’n persverskynsel, mens kry dit nie juis op TV nie. Omdat die pers se sirkulasie deesdae in vrye val is, moet die mense natuurlik planne maak om steeds koerante en tydskrifte te verkoop. En hei, local is lekker! Ons het nog altyd ons eie variasie van wêreldtendense geskep. Maar ek moet sê dat dinge nou ’n bietjie ver gaan. Die oorsaak lê dalk by die nuwe koers wat Die Nuusblad ingeslaan het.” Volgens Khumalo was dit onvoorstelbaar dat dié gerespekteerde en geliefde Afrikaanse koerant ooit van ’n nuusblad na ’n fotoblad verander. “Dis interessant om te sien hoe hulle die hele ding van plaaslike paparazzi begin het. Daar’s een of twee vryskutfotograwe wat heeldag lank tussen kroeë, winkelsentrums en restaurante rondswerf. Dié ouens het elkeen ’n portefeulje van elke Suid-Afrikaner wat al ooit vir kommersiële redes voor die kamera was, selfs meisies wat Mej. Kleuter-kompetisies op Grabouw gewen het. As een van hulle dan raakgesien word, word sy afgeneem waar sy aan mineraalwater suig, met ’n uitgebreide onderskrif, sodat ons seker is die koerantleser voel nie onnosel nie omdat hy heeltemal tereg nie die vaagste benul het wie die ‘bekende’ op die foto is nie. Die werk van subredakteurs is hier van kardinale belang, want as hulle die onderskrif verkeerd kry, moet die ombudsman weer ingryp.” Nog ’n mediakenner, die rubriekskrywer Heila Potgieter, skryf die verskynsel toe aan die groeiende vrees van joernaliste om iemand mis te kyk wat hulle eintlik behoort te ken. “Daar was ’n tyd wat gevrees is dat joernaliste ’n nuuskwessie gaan mis, maar al nuus is nou bekendes se kwessies: Brangelina se baba, Prins Harry se uitkeerparade, Bono se regte naam. Aan die ander kant voel mense veral op plaaslike vlak dat hulle hul eie bekendes moet hê. Daar’s ’n gevoel van ‘ons is wragtag nie so agterlik nie’.” Potgieter se verklaring werp miskien lig op ’n ander onlangse steelfoto-insident, naamlik toe ’n tweedehandse motorwerktuigkundige van Secunda daarop aangedring het om afgeneem te word waar hy besig is om ’n bout in ’n Toyota Tazz se enjin vas te draai. Toe die fotograaf verkies het om dit nie te doen nie, het die werktuigkundige hom met ’n bobbejaansleutel gedwing. “Dis ’n geval van outopaparazzifikasie, wat Freudiaans met outomobiel verbind kan word,” sê Potgieter. “Kan jy dink wat die rasse-implikasies van die bobbejaansleutel sou wees as albei mans nie wit was nie?” |