|
||||
Vandag, dertig jaar gelede, het ’n landswye vlaag betogings deur skoliere en studente begin wat die apartheidsbedeling tot in sy fondamente geskud het. Soweto, 1976 staan vandag nie net aangeteken as een van die bakens in die stryd teen apartheid nie, maar ook as een van die dae waarop Afrikaans miskien die diepste wond in haar geskiedenis toegedien is: as Afrikaans voor Soweto, 1976 nog Jan Rabie se woorde van “Suid-Afrika se grootste nierassige prestasie” kon laat weerklink, sou Afrikaans se verbintenis met rassisme daarna noodlottig vir die taal wees. Elders in hierdie uitgawe (p.19) beoefen prof. F.I.J. van Rensburg ’n noodsaaklike stukkie historiese hersiening van die mitologie van Soweto, 1976. In die proses wys hy daarop dat Hector Pietersen (nie Petersen nie), wie se foto verdoemend vir die apartheidsbedeling was, eintlik ’n toevallige omstander van die betogings was. Eweneens was Afrikaans in nie een van die sewe skole wat die Soweto-betoging begin het, die medium van onderrig nie. En tog is dit ook waar dat die donker kant van die verstaatliking van Afrikaans ook in 1976 in skerp reliëf gestaan het. Want die feit van die saak is dat taal en politiek in ’n diverse samelewing soos Suid-Afrika onlosmaaklik van mekaar is. Hierdie feit is deur talle historiese bakens gedemonstreer, waaronder Somerset se verengelsingsbeleid aan die Kaap in die eerste dekades van die 19de eeu, die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875, en Soweto, 1976, ’n eeu later. Wat uit hierdie bakens duidelik word, is dat geen Suid-Afrikaanse regering tot dusver daarin kon slaag om met ’n billike, universeel aanvaarbare taalbedeling na vore te kom nie. Gegewe die taalrykdom van Suid-Afrika, is hierdie oordeel eintlik verstommend, indien nie erg neerdrukkend nie. Die feit dat Suid-Afrika steeds vandag na twee eeue onder ’n koloniaalontwerpte staat nog heelwat van haar taalrykdom kon behou, is begeesterend. Net soos ’n eeu se kommunisme nie die Ortodokse kerk in Rusland kon vernietig nie, of dit kon keer om vandag skouspelagtig te herleef nie, so kon die koloniale staatsmasjien tot dusver ook nog nie sy oorlog teen ons inheemse tale wen nie. Maar die gevaartekens is daar: in sy artikel verwys prof. Van Rensburg na plakkate in Soweto, 1976 wat geëis het dat die destydse premier, mnr. John Vorster, Zoeloe moet leer. Toe swart studente in Maart 2005 teen Afrikaans as medium van onderrig aan die Universiteit van Johannesburg betoog het, was geen eis om onderrig in tale buiten Engels te hoor of te sien nie. In die geval van Afrikaanse studente is daar nou eers, na ’n dekade van die agteruitgang van Afrikaans as universiteitstaal, tekens van protes. Om jou voor te stel dat Afrikaanse middelklaskinders teen die kruipende verengelsing van die samelewing in opstand kom, is haas ondenkbaar, gegewe die gebrek aan politieke opvoeding wat die meeste van hulle vandag het. Tot dusver was die huidige regering natuurlik slimmer as sy voorgangers voor 1994: taaldiskriminasie word eerder by wyse van “neutrale” sistemiese faktore gepleeg, as by wyse van openlike beleide wat daarop gerig is om een taal – Engels – af te dwing. Daarmee saam word Engels natuurlik ook aangehelp deur die enorme invloed van die Anglo-Amerikaanse kulturele sfeer, wat dit eintlik nie vir die regerende elite nodig maak om sy Engelse voorkeure self sterk te dryf nie. In hierdie verband het Antjie Krog in ’n onderhoud met Die Burger op Vrydag, 2 Junie gespekuleer oor die moontlikheid dat die beskuldigings van plagiaat waaraan sowel sy as William Mervin Gumede onlangs deur Suid-Afrikaanse Engelse moedertaalsprekers blootgestel is, ’n soort reaksie uit daardie geledere is op die “betreding” wat tweedetaalsprekers van Engels op die moedertaalsprekers se terrein pleeg. Hierdie hele betoog kan saamgevat word deur te sê dat een van die belangrikste doelwitte van ’n plurale, demokratiese samelewing Suid-Afrika steeds bly ontglip, naamlik die beëindiging van ’n hegemoniese verhouding tussen die elitetaal van die oomblik en die ander inheemse tale. Eers Engels (1806 – 1948), later Afrikaans (1948 – 1994) en toe weer Engels (1994 en daarna) het telkens die posisie van hegemoniese taal beklee, magstaal eerder as brugtaal. Opvallend is dat sowel Engels as Afrikaans telkens van hul beste geestelike, kulturele en estetiese opbrengste gelewer het wanneer hulle nie magstale was nie, maar in verset teen die magstaal. Die twee belangrikste hindernisse in die weg na taalbevryding vandag is steeds die Suid-Afrikaanse staat en die korporatiewe sektor, wat verkies om spieëlbeelde van hul eweknieë in ondemokratiese of homogene samelewings te wees, eerder as om die uitdaging van plaaslike heruitvinding aan te pak. Mag en wins bly steeds vir hulle belangriker as bevryding en skepping. En tog is daar rede tot hoop. Versiende Afrikaners soos Van Wyk Louw, wat in hierdie uitgawe gedenk word, het dekades gelede al gewaarsku dat Afrikaans eendag die prys vir politieke magsmisbruik sou betaal. In Afrikaanse geledere is daar besliste tekens dat bruin en wit mekaar begin vind, wat Jan Rabie se woorde kan laat herleef. Ironies genoeg vind hierdie groter toegeneentheid juis plaas uit die geledere van Afrikaners en bruinmense wat hulle identiteit eerder erken en verantwoordelik hanteer, as om dit te ontken en agter individualistiese gemeenplasighede verdoesel. Dertig jaar na Soweto, 1976 kan Afrikaans die besweerder van Soweto, 1976 se spook word. Die sukses hiervan sal afhang van almal wat in Afrikaans ‘ons’ sê. |