blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Is Van Wyk Louw se nasionalisme nog relevant? 2006-06-12
F.I.J. van Rensburg

*Skrywer van etlike boeke oor Van Wyk Louw se werk, waaronder Skering en inslag, Kaapstad: Tafelberg, 2006; emeritusprofessor in Afrikaans, Universiteit van Johannesburg

 

In Hermann Giliomee se biografie Die Afrikaners maak hy dié stelling: “Louw het in 1970 gesterf en dit is nie moontlik om te sê of hy op ’n later tydstip nasionalisme en apartheid sou veroordeel het nie.”

      Omdat apartheid om ’n beskouing van sy eie vra, word hier op sy nasionalisme gekonsentreer, nasionalisme gesien as die produk van ’n natuurlike behoefte van mense met dieselfde kulturele oriëntasie om ’n waarde-gesentreerde ruimte tot stand te bring, met grense, hetsy fisies of geestelik, wat die geaardheid van ’n membraan het: met die oog op die moontlikheid van wedersydse deurvloei van waardes.

      In Van Wyk Louw se “Vooraf” by die eerste van die twee opstelbundels wat in 1939 verskyn het, Berigte te velde. Opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse nasionale letterkunde en Lojale verset. Kritiese gedagtes by ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging, sê hy: “By die deurlees van die stukke het dit vir my voorgekom asof daar een oortuiging aan almal ten grondslag lê, ’n neiging om twee standpunte saam te vat wat anders skerp teenoor mekaar gestel word: (1) ’n geloof aan die primaat van die suiwer estetiese in die kuns, en (2) dat so ’n ‘suiwer estetiese’ kuns ’n groot, selfs ’n beslissende faktor in die lewe van ’n volk is en dat dit nie alleen met die kwaliteit van die lewe binne daardie volk te doen het nie, maar nog dieper, met die bestaansreg van die volk self.”

      Kyk ’n mens vanuit die latere tekste na dié twee stellings terug, blyk dit hoedat heelwat van die lateres, selfs van die heel laastes, hul uitbloei tot volwassenheid dank aan die saad wat in die twee beginbundels geplant is. So byvoorbeeld die tema van die bestaansreg van ’n volk op grond van wat sy skeppende geeste aan kwaliteitswerk tot stand gebring het wat met die beste van elders kan saampraat en wat aan ’n nuanse van die lewe se rykheid stem gegee het wat nog nie vantevore só verwoord is nie.

      Op die eerste gesig lyk dit of die aangehaalde stelling in verband met die kuns as begronder van die nasionalisme aan die nasionalisme maar ’n baie efemere steunbasis verskaf. Dit was waarskynlik ook die indruk wat dit gelaat het op mense met die retoriek van die vorige jaar se honderdjarige herdenking van die Groot Trek nog duidelik in hulle ore.

      Dat dit ’n onderskatting was, het duidelik geblyk uit Louw se publikasies na sy agtjarige verblyf in Europa (1950-1958). Dié periode het vir hom nuwe perspektiewe op die nasionalisme en op sy eie gegee. In daardie jare, kort na die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog, toe die wêreld “soos ’n magtige masjien sy wiele bo-oor en rondom ons gedraai het”, het vrae soos dié hulle aan hom opgedring, soos gesien vanuit die oë van ’n ander volk: “(W)ie en wat is julle Afrikaners ... een volkie tussen honderde of duisende volke; jy het jou één, kort lewe aan dié volkie onherroeplik verbind, ja, verknog – en wat is hy?... Watter eienheid het julle? Kan julle nie maar verdwyn sonder verlies vir die wêreld nie?” Toe het hy die wêreld wat hy ken, begin oordink en tot dié slotsom gekom: “’n Volk moet iets in hom hê, al is dit die fynste nuanse van die openbaring van die lewe se rykheid; dit moet ’n besondere instrument wees in die orkes van die geheel wat deur God gedirigeer word ... anders ... sê nou dit was glad nie daar nie”.

      Dit is ’n insig wat onder meer gevoed is deur wat hy in die studentekafees in Parys waargeneem en ervaar het: baie Franse, maar ook Viëtnamese, Senegalese, Algeryne en van baie ander nasies, meestal groter as syne, maar elkeen hulleself. Dit het die vraag opnuut laat ontstaan: “Watter soort lewe het my volk wat vir hom iets apart tussen die ander maak?”

      Daardie uniekheid het hy gevind – en dit verras weer deur die skynbare geringheid daarvan – in die volksversies wat oor baie jare heen ontstaan het op dansbane en dorsvloere soos dié van sy Roggeveldse wêreld. Daarin het hy “’n eie nuanse van lewe” gesien wat hy “uit geen wêreldletterkunde leer ken het nie”.

      Van Wyk Louw se nasionalisme en sy nasionalisme-konsepte het vir ’n belangrike gedeelte ontwikkel in ’n landsituasie wat teen ’n buitengewone tempo verander het. In die 64 jaar van sy lewe (1906 tot 1970) het die land verander soos in weinig ander periodes van gelyke duur in die geskiedenis daarvan. Daar was twee volledige staatstruktuurveranderinge (van ’n unie na ’n republiek); twee wêreldoorloë waarby Suid-Afrika aktief betrokke was en wat skadelike gevolge vir nasionale gesindhede gehad het; ’n rebellie waartydens Afrikaners na mekaar gekyk het oor die lope van gewere; ’n grootskeepse verandering in die demografiese profiel van die land: ’n massale verskuiwing van die platteland na die stad, met ’n gepaardgaande groei in welvaart van ’n klein groepie maar ook van ’n ontstellende groei van ’n armblankedom, wat gelei het tot die botsing van arbeid en kapitaal (die gewelddadige staking van 1922) en die groei van ’n Suid-Afrikaanse sosialisme wat vreemd was aan die heersende nasionalisme. Die tempo is oortref deur wat op die gebied van taal en letterkunde plaasgevind het. Afrikaans is in ’n ongelooflike kort tyd gestandaardiseer. Dieselfde het in die geval van die letterkunde gebeur, wat op pikante wyse deur die volgende geïllustreer word: twee maande na Van Wyk Louw se geboorte (11 Junie 1906) moes D. F. Malherbe Afrikaners nog verseker dat Afrikaans ’n taal is en nie ’n dialek nie, en met sy afsterwe op 18 Junie 1970 is sy werk en dié van ’n paar ander skrywers deur bevoegde buitelandse kenners daarvan beskou as gelykwaardig aan van die beste van hul kontemporêre buitelandse eweknieë.

      ’n Paslike strategie vir die hantering van ’n situasie soos hierdie het dié insig by hom tuisgebring: dat sekere lewensaangeleenthede strategiese veranderinge van invalshoek soms sinvol maak. Hy verduidelik dit aan ’n jong Engelstalige korrespondent van hom wat ’n probleem gehad het met wat hy as intellektueel vroeër oor die Afrikaanse nasionalisme (sou) gesê het (dat dit vir die Afrikanerjeug “’n godsdiens is”). Hy doen dit aan die hand van ’n parallel uit die politiek: “Wanneer dit gaan om ’n volk wat verdruk word, ’n groep aan wie nasionale regte – veral taal- en kulturele regte – ontsê word, is die redelike mens geneigd om nasionalis te word; wanneer hy egter binne ’n volk gebore is wat soos ’n selfsugtige mens alleen sy eie regte laat geld – ook teenoor ander volkere – word hy internasionalis; ... wanneer hy ekonomiese ongelykheid en onderdrukking gewaar, is hy geneigd om sosialis van een of ander soort te wees; maar wanneer hy merk dat die groot massa – selfs ’n arm en onderdrukte massa – in sy stryd om bestaan die vryheid van aparte lede van die massa bedreig, word hy individualis of liberalis. Telkens, waarskynlik, sal hy van front verander, al na gelang van die gevaar wat vir hom op dié oomblik die dringendste lyk” (“Rondom die begrip ‘nasionaal’”). En tog sal hy geen manteldraaier of opportunis wees nie. “Hy is alleen soldaat op ’n ver uitgeskowe pos en weet dat die vyand van alle kante omring”. Omdat daar nog altyd bedreigde volke en bedreigers is, ekonomiese nood en massa-oorheersing, sal die denkende mens sorg dat ál vier -ismes in hom lewendig bly.

      Toegepas op die situasie van die Afrikanervolk, klein en jonk, met ’n kort kultuurgeskiedenis tot sy krediet en geplaas tusssen aan die een kant ’n gemeenskap met ’n gerespekteerde wêreldtaal en ’n lang en ryk kultuurtradisie tot sy beskikking en aan die ander kant ’n swart gemeenskap met ’n diversiteit van kulture maar tesame een met ’n massiewe getalsoorwig en die deurslaggewende potensialiteit daarvan vir besluitneming, was die aangewese strategie vir voortbestaan die verskuiwing van verdedigings- en aanvalstellings, al na gelang van die front waar die gevaar die akuutste is.

      Nasionalisme het hy as ’n universele verskynsel gesien. Dit is nie iets net vir of van klein volke nie. Dit kom ook in die grootste en sterkste volke voor. By hulle het dit in die loop van die tyd, nadat hulle hulleself beveilig het, net maar na die onderbewuste afgesak, vanwaar dit soms weer kragtig na vore kan tree: wanneer hulle militêr bedreig word. Dan word die vaandels weer uitgehaal en die trompette laat sketter “for King and Country.”

      Omrede dié universaliteit van die nasionalisme, het Van Wyk Louw in “Rondom die begrip ‘nasionaal’” dié gedagte geopper: dat dit die trotse taak van die kleiner volke mag wees dat hulle die nasionalisme as intellektuele stelsel uitwerk en dat hulle dit aan die wêreld verkondig as een van die groot beginsels van ’n juiste ordening van die mens se saamleef op aarde.

      In ’n vroeër stuk, “Gedagtes oor die nasionalisme en die kuns”, het hy op ’n ander aspek van die gedagte van die wyer geldigheid van die begrip gewys. Dit is dat die abstrakte nasionalisme hom nie op dieselfde manier in alle volke openbaar nie omrede die verskillende geskiedenisse en situasies van volke. Wat hy in sy werk gedoen het, was om aan te toon wat ’n spesifiek Afrikaanse nasionalisme vir die Afrikanervolk beteken.

      Kenmerkend van verskillende van sy vroegste stukke het hy in jeugdige geesdrif dit soos volg geformuleer: “Die Afrikaanse nasionalisme is vir ons jongeres ’n mag wat die volstrekte eise aan ons stel as ’n godsdiens, wat ons dwing om die hele persoonlikheid in diens van ’n ideaal en van ’n menslike gemeenskap te stel, en wat aan ons ’n volledige en mooi lewe voorlê om te volg.” Dis ’n stelling, só geformuleer, wat ’n jong Engelse korrespondent onder die indruk gebring het dat Van Wyk Louw bedoel dat die nasionalisme “’n godsdiens is”.

      Dat die korrespondent so ’n gedagte kon vorm, kan hom nie kwalik geneem word nie. Louw het immers in “Gedagtes oor die nasionalisme en die kuns” geskryf: “Die literatuur wil die uiting van ’n volledige menslike lewe wees. Die volledige menslike lewe, al reik dit uit na die lig van skoonheid en waarheid wat bokant die bloot-sosiale roer, is alleen binne ’n konkrete kultuurgroep te vind.” Die woord “alleen” maak daarvan ’n onhoudbaarheid.

      In Louw se antwoord aan hom wys hy daarop dat hy nie gesê het dat die nasionalisme ’n godsdiens is nie, maar dat dit “dieselfde eise as ’n godsdiens stel.” Hy wou alleen die absoluutheid van die eis aandui. Hy sou ook kon gesê het dat die eis so volstrek is as wat die soeke na die wetenskaplike waarheid aan ons stel. Hy het die godsdiens se eise genoem omdat dit die vorm van absoluutheid is waarmee sy lesers die beste bekend was. Die woordjie “dieselfde” was dus vir die misverstand verantwoordelik. “’n Godsdiens is nie nasionalisme nie”, en as hy êrens iets gesê het wat die teenoorgestelde beweer, het hy “iets verkondig wat nie juis is nie.”

      Dieselfde korrespondent het ook ’n tweede saak in verband met die nasionalisme geopper, een wat egter nie op ’n misverstand berus het nie, maar op ’n oortuiging. Hy skryf: “Ek as jong Engelssprekende kan die mening wat u uiteengesit het, taamlik goed begryp, en in ’n mate selfs nog, vir ’n Afrikaner, billik. Maar ek moet erken dat ek hierdie standpunt as wêreldbeskouing tog te eng vind. Dit is myns insiens geen voldoende basis vir ’n groot letterkunde of vir die geesteslewe van ’n hele groep nie.”

      Die opvatting dat die nasionalisme as sodanig ’n eng lewensbeskouing is, is een wat redelik wyd gedeel word, op die oomblik ook deur baie Afrikaners na aanleiding van wat in die naam van ’n bepaalde opvatting daarvan (rigiede apartheid) gedoen is.

      ’n Belangrike prikkel in verband met dié saak was genl J.C.Smuts, ’n groot protagonis van “broadmindedness”.


      Woorde van Smuts na aanleiding van die Katolieke monsignor F.C.Kolbe se positiewe reaksie op sy Holism and Evolution het Van Wyk Louw nooit losgelaat nie: dat dit lof was van iemand “in this far-off corner of the world”. In “Uithoek en middelpunt”, waarmee Liberale nasionalisme open, sê hy dat as ’n mens van ’n uithoek praat, veronderstel jy onbewus dat daar êrens ’n middelpunt is; praat jy van die “uithoeke” van ’n land, veronderstel jy ’n hoofstad of hoofgebied as sentrum; en as jy van ’n land praat as “hierdie verste uithoek van die wêreld” glo jy dat die wêreld êrens ’n middelpunt het. Dit veronderstel ook ’n waardeoordeel: die sentrum is die hart of brein, die uithoeke is daaraan ondergeskik; die sentrum is primêr, die uithoeke sekondêr; die sentrum is spontaan en het inisiatief, die uithoeke is derivatief. So het geslagte Suid-Afrikaners – goeie vaderlanders – oor hul land se kultuur gevoel. Dit is vir hom kenmerkend van die koloniale kultuurbewussyn. Dit veronderstel dat daar êrens op die wêreld ’n kultuurtradisie is wat wel sy strale tot in die donkerste uithoeke uitbrei, maar tog sy ligbron, sy grootste helderheid op een plek het. Vir die ouer geslag Suid-Afrikaners was die sentrum altyd “êrens in die buurt van Londen, Cambridge, Oxford”. Later verwys hy daarna as die “Yster Driehoek”, waarskynlik gedagtig aan die verwoestende uitwerking wat Engelse kolonialisme en imperialisme vir baie jare in die vorm van ’n koloniale mentaliteit in Suid-Afrika en elders agtergelaat het.

      Nadat hy aan die hand van voorbeelde aangetoon het hoeveel “middelpunte en uithoeke” daar in die wêreld is, elkeen met betrekking tot ’n ander lewensterrein (finansieel, kultureel, religieus, hetsy watter) sluit hy af met dié onvergeetlike woorde: “Geen nasionale kultuur – selfs nie die kultuur van die magtigste – is die kulturele middelpunt van die wêreld nie ... elke nasionale kultuur staan onmiddellik teenoor God ... Geen volk hoef homself te voel as ’n randgebied, as ver van die spontaan-skeppende krag van ’n sentrum buitekant homself nie; elke nasionale kultuur is self ’n sentrum ... Die pot kook oral; oral kom daar strale borrels op – nie net in ’n ‘sentrum’ nie. ’n Volk wat uit die koloniale bewussyn loskom – aan watter muf klein wêreld ontsnap hy!”

      Dat Van Wyk Louw se wêreld nie klein of muf en dus eng was nie, blyk uit een van sy vroegste stukke in Berigte te velde oor die nasionalisme en die kuns: “Die nasionale is nie die eng-plaaslike nie. Die nasionalisme het sy wortels in ’n besondere aarde, maar hy staan óp in die wind wat deur alles waai, hy beweeg selfs met daardie wind saam, net nie los en magteloos soos die waaigras beweeg nie.” Dis ’n stelling wat in die res van sy werk net toenemend gefasetteer is.

      Intussen is dit ironies dat dit vir ’n jong Engelssprekende korrespondent moontlik was om ’n mate van regverdiging vir Van Wyk Louw se Afrikaanse nasionalisme te sien, maar dat dit vir ’n groot Afrikaner in die tweede helfte van sy lewe nie moontlik was nie.

      Hoe Louw oor sy mede-Suidafrikaanse volke gedink het, blyk waarskynlik op sy duidelikste uit sy SABRA-rede op die twaalfde jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede aan die begin van ’n nuwe Suid-Afrikaanse staat, die RSA, in 1961.

      Louw het reeds vroeg die opmerking gemaak dat ons Afrikaners (onder andere hyself as Wes-Kapenaar) oor die swartmense praat sonder dat ons hulle ken. Hy het later aktiewe pogings aangewend om dié leemte te verklein, omdat dit jare neem om ’n volk goed te leer ken. Hy het ’n studie gemaak van Sotho, Xhosa en Zulu en kon hom met sommige van hulle behelp, onder meer as voorbereiding vir sy gereelde gesprekke met swart intellektuele. As goed ingeligte lewenslange lid van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (SABRA) het hy by geleentheid van die oorgang na die nuwe staatsorde ’n rede met as titel “Die ontwikkeling van ’n Suid-Afrikaanse nasionale karakter” gelewer. Hierin het hy wat hy genoem het “’n stel reëls” aan die hand gedoen vir alle individue en volksgemeenskappe in die land, “reëls van wat mense kan sê of doen sonder dat hulle wanaangepas is binne hulle groep en binne ons Suid-Afrika met sy veelheid van volke.” Die reëls sal ook relevansie hê vir die twee alternatiewe toekomsscenario’s wat hy in die rede geïdentifiseer het: “Of ons, soos ek uit my hart hoop, hier ’n groep vrye, bevriende volke kry wat later uit eie beweging iets soos ’n Gemeenskaplike Mark, ’n Bond van Volke, of wát ook al vorm; en of ons, deur geweld, of deur ons eie, ons Blankes se traagheid en oneerlikheid ’n volksbredie kry waarin die minderhede opgelos en langsaam vernietig word ... watter van die twee paaie ons ook al gaan kies, dié stel basiese reëls sal ons nodig kry”.             

      Ten spyte van simpatieke reaksie van die kant van swart intellektuele op sy gesprekke en dié rede was die gevoel in breë swart geledere duidelik dat sy visie vir die toekoms van Suid-Afrika vir hulle op ’n vorm van magsdeling sou neerkom, wat die grootste bate waaroor hulle beskik, naamlik volstrekte getalsoormag, sou kompromitteer.

      Die SABRA-rede was een van dié dokumente wat as ’n beredeneerde alternatief vir dr. Verwoerd se oorhoofse plan vir Suid-Afrika sou kon geld. Die toon daarvan verskil heeltemal van dié van die drie ander dokumente wat ernstige reaksie aan die minister ontlok het: sy voorwoord tot eerwaarde D.P.Botha se Opkoms van ons derde stand (oor die bruinmense), “Prof. F.R. Tomlinson se besoek aan Nederland” (oor die Tomlinson-kommissie se verslag oor die grootskaalse ontwikkeling van ’n lewensvatbare ruimte vir die swart volke) en Die Pluimsaad waai ver (oor sy Republiekfeesdrama met sy openingsvraag “Wat is ’n volk?”). Hulle was geskryf in die volle besef van die risiko’s daaraan verbonde, maar wat hy ter wille van sy intellektuele integriteit nie kon verswyg nie. Daar was ’n uitgebreide georkestreerde kampanje in die hoofstroommedia teen die drama, ook teen homself. Dit was ’n ontsenuende ervaring vir hom en was voelbaar in sy laaste jare.

      Soiets laat die vraag ontstaan: Wat het met Van Wyk Louw se denkbeelde oor die nasionalisme na sy dood in 1970 gebeur?

      Op politieke gebied is hulle deur ’n tsoenami getref. Een met twee golwings.

      Die eerste was die Regeringsverandering in 1994 en wat dit alles meegebring het.

      Dat dit ’n sterk impak sou wees, was voorspelbaar. Van Wyk Louw se visie van die volkere-situasie van die land kan getipeer word as verskeidenheid in eenheid, met die klem op die verskeidenheidsfaktor; die Regering s’n eenheid in verskeidenheid, met die klem swaar op eenheid. Die Regering se oorkoepelende doel met die land was om ’n sentralistiese staat tot stand te bring. In so ’n opset was daar geen plek vir Afrikanernasionalisme nie. Gesien die krag wat dit aan die dag gelê het in die dekades voor 1994, moes dit in soveel stukke verbrokkel word dat dit nooit weer tot een stuk bymekaargebring sal kan word nie. Die Afrikaner se taal, sy belangrikste bindmiddel, wat vir meer as sewentig jaar een van die twee amptelike tale van die land was, met al die slypingsgeleenthede daaraan verbonde, moes, met gebruikmaking van allerlei strategieë wat ’n wettige aanskyn gehad het, afgeskaal word tot een van tien “inheemse tale”, dus tot ’n tweedeliga-speler teenoor die eersteliga-speler, die internasionale taal Engels. Engels het in dié klimaat uitgegroei tot die taal van ontwikkeling en aspirasie, met allerlei gevolge daarvan vir Afrikaans, veral in onderwysverband en byvoorbeeld op gebiede soos wetenskaplike publikasies. Afrikaanse skole moet vég vir ’n reg wat die Grondwet aan hulle toesê (moedertaalonderrig), terwyl Afrikaanse wetenskaplike publikasies besig is om die zero-grens te nader.

      Die tweede golwing was in ’n sekere sin ingrypender: die onthullings voor die Kommissie vir Waarheid en Versoening van wat gedoen is in die naam van ’n beleid wat ’n verwringing was van ’n gesonde nasionalisme soos wat Van Wyk Louw dit gevisualiseer het. Een van die gevoeligste uitvloeisels daarvan was die afsweer deur baie Afrikaners van hul Afrikanerskap en hul geestelike emigrasie na ander volke, ironies genoeg sonder om te besef dat dit gaan om volke wat self bloed aan hul hande het.

      ’n Besondere gevaar het vir Van Wyk Louw hiérin geskuil: dat ’n volk se intellektuele hulle rug op hom kan draai as dit iets boos geword het, byvoorbeeld deur te meen dat ’n volk wat in ongeregtigheid teenoor andere optree, ’n voortbestaansmoontlikheid het. Ook wys hy op die feit dat een man wat kan dink en skryf, maklik ’n duisend mense se leier kan wees.

      Gelukkig is daar genoeg intellektuele wat nie deel wil uitmaak van dié wat hulle uit leedvermaak daarin verlustig om hul gemeenskap ongenadiglik in die openbaar af te takel nie. Dis naamlik intellektuele wat daarin slaag om ’n balans tussen kritiek en aanmoediging te handhaaf. Dit geld ook lankbestaande kultuurliggame wat hulleself radikaal hervorm het en verbeeldingryke projekte aan die gang gesit het wat geesdriftige reaksie ontlok.

      Daar is dan ook talle terreine waarop Van Wyk Louw se vernaamste konsepte nie deur die tsoenami’s verswelg is nie. Net soos wat die geval was in heelwat dekades voor sy dood, is sy konsepte lewendig gehou in die hoofstroom-kommunikasiemedia. Daar was tye dat daar haas geen week verbygegaan het dat sy konsepte nie in een of ander verband in besprekings betrek is nie. Dit het na sy dood verminder, maar dis nog steeds springlewendig, nou alleen meermale in toetsende verband. Hierdie durende belangstelling in die denkkonsepte van ’n digter-skrywer is iets unieks in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

      Verdere bewyse daarvan is dinge soos die jaarlikse Van Wyk Louw-gedenklesing wat ’n jaar na sy dood aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit ingestel is. Dit beleef vanjaar sy ses-en-dertigste bestaansjaar. Ook dit is iets unieks vir ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Omdat dit vanjaar Van Wyk Louw se honderdjarige geboorteherdenking is, sal die lesing die vorm aanneem van referate deur ’n paneel van vyf kundiges. Al die lesings wat na die eerste elf wat in Oopgelate kring (1982) verskyn, gepubliseer is, word later in die jaar in bundelvorm vrygestel. Verder is prof. Mark Sanders, professor in Engels aan die Universiteit van New York, wat die lesing van verlede jaar gelewer het, besig met ’n vertaling van al Van Wyk Louw se stukke oor die intellektueel, wat ook vir verskyning vanjaar beoog word. Dit sal beteken dat sy besinnende werk ook aan ’n internasionale gehoor bekend gestel sal wees.

      Die feit dat Van Wyk Louw se konsepte in individue voortleef, is een van die sterkste getuienisse van die aansprekingskrag daarvan en ’n besondere bewys van die relevansie daarvan. Net twee voorbeelde. Dit gaan om twee persone wat in ’n sekere sin beskou kan word as verteenwoordigers van hul onderskeie nasionale gemeenskappe. In sy gedenklesing van 1976 verwys prof. Guy Butler, doyen van die plaaslike Engelse literêre- en taalgemeenskap, na Van Wyk Louw as “the greatest poet our complex society has yet produced and one of the most sensitive and conscientious thinkers on such key issues as the relationship between language, culture and nationalism.” In sy huldeblyk na Van Wyk Louw se dood in die Afrikaans-Joodse tydskrif Buurman, het die Joodse joernalis Henry Katzew dié persoonlike getuienis afgelê vir wat Van Wyk Louw vir hom as Jood beteken het: “Ek het ’n Afrikaner nodig gehad wat in sy denke en uitkyk die oortuiging gehad het dat al dié dinge (dis ’n verwysing na die apartheidsera) ’n vervlietende skadu is, en op ’n dag sal moet plek maak vir ’n sagter, mensliker toneel”. Hierdie man was Van Wyk Louw. Sonder Louw se liberale nasionalisme sou sy eie Suid-Afrikanerskap “net pyn gewees het.” Louw het die pyn omskep in hoop en strewe.

                Uit al hierdie dinge blyk dit dat Van Wyk Louw se denke deel was en nog steeds is van die nasionale psige. Ook dit is iets unieks vir ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Dit is omdat sy drie groot konsepte: die oop gesprek, lojale verset en voortbestaan in geregtigheid ’n onverwoesbare universaliteit simboliseer. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=588
Artikel nagegaan:
    -