blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
’n Imperiale presidensie? 2006-06-01

Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, die SAKP, het ongeveer twee weke gelede die knuppel behoorlik in die hoenderhoek gegooi met die publikasie van ’n gespreksdokument van sy Sentrale Komitee (1). Volgens die SAKP is die dokument oor ’n tydperk van meer as ses maande se interne debat ontwikkel, en moet dit gesien word as ’n bydrae tot die nasionale debat oor die stand van demokrasie in Suid-Afrika.

                Van die belangrikste stellings in die dokument, en wat die afgelope jare al deur verskeie kommentators en instellings gesê is, sluit in: dat demokratiese oorlegpleging in SA met tegnokrasie vervang is, oftewel “tegnokratiese voorhoedisme” soos die SAKP dit noem; dat politieke besluitneming toenemend gesentraliseer is in die Kantoor van die President; dat lidmaatskap van die Mbeki-binnekring bepalend vir politieke en sakeloopbane in ANC-geledere geword het; dat die parlement ’n rubberstempel vir bepalende besluite van elders is; en, waarskynlik die ernstigste stelling van almal, dat die voortslepende armoedekrisis in SA nie soseer die gevolg van die gebrek aan ekonomiese groei is nie, maar van die soort ekonomiese groei, waar kapitaal in die hande van die staatskorporatiewe elite gekonsentreer is, in plaas daarvan dat dit na plaaslike vlak of na gemeenskappe afgewentel word. Moeletsi Mbeki se deurdringende ontleding van die “Mineraalenergiekompleks” se oorheersing van die Suid-Afrikaanse politieke ekonomie, gepubliseer in Die Vrye Afrikaan van 19 Mei, 2006, het hierdie krisis toegelig (2).

                Die SAKP-dokument is – veelseggend – vrygestel kort op die hakke van die vryspraak van mnr. Jacob Zuma op aanklag van verkragting, en is sonder twyfel ’n salvo in die debat oor pres. Thabo Mbeki se opvolger, eers as president van die ANC in Desember 2007, dan as president van die land in 2009.

                Vir ’n party wat nou al geruime tyd nie sy historiese rol as stem van die armes na bevrediging gespeel het nie, en wat volgens sy kritici in ’n staat van dekadensie verkeer, het die SAKP met hierdie dokument uitmuntende werk gedoen om sy vinger op die bedreigings vir demokrasie en ekonomiese selfstandigheid in Suid-Afrika te lê. Soos ’n mens egter van ’n kommunistiese party kan verwag, vestig hy sy hoop vir remederiënde stappe op ’n andersoortige staat en ’n versterkte ANC-party: hierdie remedies spreek eweneens van ’n gebrekkige insig in die rol van taal en gemeenskappe in die diverse Suid-Afrikaanse samelewing, om maar te swyg van die verwoestende effekte van die Suid-Afrikaanse staat op gemeenskappe in die land.

                Wat egter van groter onmiddellike belang is, is die reaksies wat die SAKP-dokument tot dusver ontlok het. Duidelik het die Mbeki-kamp sy onlangse verlamming begin afskud, en een van die eerste terugskote was ’n groep swaargewigsakelui wat Mbeki en sy kabinetsvertrouelinge die afgelope Dinsdag, 30 Mei besoek het. Volgens Business Day van 31 Mei, 2006 het dié groepe se woordvoerders, die sakeman en voorsitter van Stanlib, mnr. Saki Macozoma, en die Minister van Handel en Nywerheid, mnr. Mandisi Mpahlwa, verklaar dat Suid-Afrika ’n “sterk demokrasie” is “wat in die huidige periode op geen manier onder bedreiging staan nie”.

                Die volgende skoot het gekom na die afgelope Woensdag se kabinetsvergadering, en wel by monde van Mnr. Mbeki se regterhand, mnr. Joel Netzhitenzhe, volgens wie die kabinet aanklagte soos die marginalisering van die parlement, die sentralisering van mag in die Presidensie en ’n verglyding na diktatuur verwerp het. En, les bes, “dit weerspieël ook nie die sienings van die meerderheid Suid-Afrikaners” nie.

                Wat hier in die spel is, is niks anders nie as ’n tekenende voorbeeld van die intellektuele dekadensie en maatskaplike onverantwoordelikheid wat die Mbeki-presidensie en groot dele van korporatiewe Suid-Afrika onderskei. Wat die sakelui betref, hoef niemand verras te wees nie dat hulle die president ondersteun het, want per stuk van sake het hy al jare gelede toegegee aan hul druk om die korporasievriendelikste regering in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te skep, met winste wat hemelhoog is, “ekonomiese groei” beter as ooit – en die middel- en hoëklasse toenemend gedompel in die simboliese en geestelike ellende kenmerkend van die ryk Noorde, en die arm klasse ook nog in verdere materiële ellende. In hierdie opsig het Suid-Afrika na 1994 skouspelagtig gefaal om ’n ander modernisering te skep, waar gemeenskappe sentraal staan, en waar moedertale die sleutel tot ekonomiese ontwikkeling en ware demokrasie is.

                Wat die kabinet betref, is dit haas onvoorstelbaar dat die president se woordvoerder - ’n man van aansienlike intellek – niks beter kan doen nie as om sy opponente verdag te maak en in die naam van die meerderheid na die mond te snoer.

                Daar kan vandag geen kwessie wees nie dat die neoliberale politieke en ekonomiese beleidsrigtings wat deur die staatskorporatiewe bestel gehandhaaf word, die ernstigste bedreiging in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vir demokrasie en maatskaplike stabiliteit inhou. Waar die stryd teen apartheid voorheen die uitgeslotenes tot groot hoogtes van offervaardigheid en lotsaanvaarding gedryf het, geld daardie rem op maatskaplike onstabiliteit nie meer nie. As dit nie was vir die monopolie op vervoer en kommunikasie van die staatskorporatiewe bestel nie, sou geweld en politieke weerstand in SA al veel verder gevorder gewees het.

                Die groter krisis lê egter op intellektuele vlak: die oninspirerende prentjie van ’n debat waarin neoliberale Afro-nasionalisme teenoor die plaaslike variant van klassieke Marxisme te staan kom, sê veel oor hoe parogiaal Suid-Afrika vandag is.

                Die primêre kragte wat tans oor die potensiaal beskik om ’n verskil aan hierdie somber prentjie te maak, is daardie gemeenskappe wat verstaan dat sowel hul identiteit as die stryd om ’n meer regverdige maatskaplike orde hand aan hand gaan. In hierdie opsig is post-nasionale Afrikaners, wat na apartheid genoeg van die donker kant van die staat en SA se vampierkapitalisme verstaan, met hul geskooldheid en kollektiewe intelligensie ’n onmisbare krag vir verandering. Meer as ooit moet post-nasionale Afrikaners hulle toelê op betrokkenheid, nuwe idees en dialoog met alle rolspelers in Suid-Afrika wat reeds besef het dat, in weerwil van die propaganda en praatjies oor “transformasie”, dit nie so kan aangaan nie.

 

_________

(1) http://www.sacp.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=1487&Itemid=5

(2) “Die wit wortels van SEB”, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=573 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=587
Artikel nagegaan:
    -