blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Waar die dood vandaan kom, ’n Boesmanverhaal 2006-05-19

*Vertaal deur Waldemar Gouws uit W.H.I. Bleek en L.C. Lloyd se Specimens of Bushman folklore, Londen: George Allen, 1911, II, 22 

 

                Daar is ’n storie oor die rede waarom ons sterf en dan nie meer verder hier is nie.

Lank gelede het die maan gesê dat ons wat mense is, ook weer lewendig sal terugkeer nadat ons doodgegaan het. Ons sou almal net soos die maan self gewees het. Jy weet mos met hoeveel vreugde mens na die gesig van die nuwemaan kyk as jy hom weer daar bo sien, nadat hy gesterf het. Ja, almal weet dat dit die maan se gewoonte is om nie dood te bly nie, maar om weer lewendig terug te kom.

                Dit was die Haas wat vir die Maan daaraan herinner het dat dit hy was wat gesê het mense sal lewendig terugkeer as hulle doodgegaan het. Die Haas het gesê hy gaan nie meer stilbly nie, omdat sy ma nooit weer sou terugkeer nie, aangesien sy heeltemal dood was. Dus, het hy gesê, had hy wel reg om sommer baie te huil oor sy ma se dood.

                Die Maan het hierop geantwoord en vir die Haas gesê dat hy moet ophou huil, want sy ma was nie heeltemal dood nie. Sy was van plan om weer lewendig terug te kom. Maar die Haas het geantwoord dat hy nie meer bereid was om langer stil te bly nie, want hy was daarvan seker dat sy ma nie weer lewendig sou terugkom nie. Sy was tog heeltemal  dood.

                En die Maan het toe kwaad geword omdat die Haas van hom verskil het. Hy het vir Haas met die vuis geslaan - op die mond - sodat die Haas se lip oopgekloof was.  Jy moet onthou, die Haas was ook mos eers ’n mens. Die Maan het hom met die vuis getref en uitgeroep: “Hierdie persoon, sy mond lyk nou só. Hy sal vir altyd ’n merk op sy mond dra - ook wanneer hy heeltemal ’n Haas is.” Die Maan het toe beveel dat hy geheel-en-al ’n Haas moet wees. (En vorentoe sou daar later van ’n haaslip gepraat word).

                Verder het die Maan gesê: “Hy (die Haas) sal wegspring, maar hy sal heen-en-weer hardloop. Die honde sal hom jaag. Hulle sal, as hulle hom gevang het, al bytend vir hom uitmekaarskeur. Hy sal heeltemal doodgaan.”   

                “En hulle wat mense is, hulle sal heeltemal weggaan wanneer hulle sterwe. Haas was mos nie bereid om met my saam te stem toe ek gesê het hy moenie oor sy ma huil nie. Hy het ewe vir my kom vertel sy ma sou glad nie weer lewendig terugkeer nie. Ek het hom gesê dat mense soos ek sal wees. As ék doodgaan, kom ek weer lewendig terug. Hy het my egter weerspreek toe ek hom daarvan vertel het. Dit was my voorneme dat alle mense soos ek moet wees. Ek wou vreugde aan ’n ieder en ’n elk gee. En kyk nou wat het Haas gedoen. Hy het my so kwaad gemaak toe hy nie wou erken dat sy ma maar net aan die slaap was nie. As hy dit maar net wou erken het dat sy ma weer binnekort sou opstaan!”

                Jy kan nou verstaan dat dit die Haas se skuld is dat die Maan só kwaad geword het, dat hy ons vervloek het om heeltemal dood te moet gaan. Hy het voorts ook beveel dat Haas op ’n kaal plek op die grond moet gaan lê wanneer hy wil slaap, waar die luise en goggas hom kan beetkry. Die luise sal altyd op hom saampak en hom byt daar waar hy op die kaal plek lê. Daarom is  dit die Haas se gewoonte om aanmekaar sy kop eers te skud nadat hy opgespring het van sy lêplek. Hy moet sy kop so skud om die vreeslike klomp luise wat daaraan hang, te probeer afkry.

                Dit is dan die storie van waar die dood vandaan kom.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=586
Artikel nagegaan:
    -