|
||||
Abraham Philips
*Skrywer van Die erfenis van die noodlot (Kaapstad: Tafelberg, 1994)
By ’n vorige geleentheid het ek gesê dat Afrikaans die beste geplaas is vir versoening en nasiebou. Ek voel egter dat ons nou by daardie tydperk verby is waar ons Afrikaans as’t ware moet verkoop en moet soebat vir die voortbestaan van Afrikaans. Ek stel nie radikale gedrag voor nie, maar dink u nie die tyd het aangebreek dat ons aan ons self ’n paar kritiese vrae stel nie? Hoe ernstig is ek werklik oor Afrikaans, of anders gestel, hoe na aan die hart lê Afrikaans vir my werklik? Die meeste Afikaanssprekende mense sal natuurlik positief hierop antwoord. Ook sal u natuurlik wonder of hierdie vraag relevant is. Natuurlik is dit relevant. Kyk maar na ons uitsprake, ons argumente en ons stilswye vir en oor Afrikaans die afgelope twaalf jaar teenoor die owerhede wat Afrikaans stadig maar seker doodwurg. Byna 100% van die Afrikaanssprekende se uitsprake en argumente word met voorbehoude gedoen. Hiermee wil ek nie voorgee dat die kwessies wat die Afrikaanssprekende mens bysleep wanneer hy of sy vir Afrikaans in die bres tree nie bestaan of bestaan het nie. Maar regtig, in enige mens se lewe is daar sekere dinge wat vir hom of haar ononderhandelbaar is. Afrikaans moet vir die Afrikaanssprekende so ’n kwessie wees. Ek besef dat dit swaar is vir baie van ons om verby die bagasie van Afrikaans te kyk. Dat dit nog moeiliker vir die owerhede is, maar soos reeds gesê, die tyd om verby mekaar te praat, mekaar te beledig of om in vrees te leef vir jou huidige status in die nuwe Suid-Afrika is verby. Ek sê nou vir u hier, Afrikaans is moreel en eties verdedigbaar. Dit dra ’n enorme potensiaal van maatskaplike en ekonomiese vooruitgang vir baie van sy arm sprekers met hom saam. Ons mag nie meer swyg, of moet ek sê, vrees nie. Afrikaans moet van alle politieke denke en persepsies bevry word. Die rol van Afrikaans moet sonder vrees in sy volle konteks aan die owerhede in ’n vrye en demokratiese Suid Afrika gestel word.
Kom ons kyk na die voorbehoude en stilswye waarna verwys is. In werklikheid is Afrikaans ’n inheemse taal. ’n Skat wat vir Suid-Afrika bewaar moet word. ’n Baie groot deel van sy sprekers lewe in armoede en ellende. Hierdie mense verstaan nie en kan nie Engels praat nie. Die beskuldigings is dat die blanke mense net wil terugkeer na die verlede. Die vraag is egter, wat van daardie mense wat in armoede en ellende lewe. Kom ons noem hulle maar by die naam. Arm bruin en swart Afrikaanssprekende mense, veral dié op die platteland. Hierdie mense en ek self het nie gevra om in hierdie posisie met Afrikaans te wees nie. Dis egter hoe sake staan en moet in daardie konteks gesien word. Vrae wat hier opduik is waarom word hierdie feite nie raakgesien nie. As dit wel raakgesien word, waarom word daar links en regs verby hierdie kwessie gepraat en as daar wel oor hierdie kwessie gepraat word, waarom sleep hy of sy ander dinge saam, byna of hy of sy bang is wat aan hom of haar gedoen kan word? Geen wonder Afrikaans bevind hom in die posisie nie. Kom ons kyk na die Afrikaanssprekende deur die oë van sy teenstanders. Wat sien hulle? Hulle sien mense wat gedurig onder mekaar baklei, mekaar beledig en bespotlik maak. Hulle sien mense wat net oor die wetenskaplike en tegniese kwessies rondom Afrikaans in die skole en universiteite praat, maar nie die lewensbelangrike feit van die arm bruin en swart Afrikaanssprekende mense noem of raaksien nie. Soos reeds gesê, as dit wel genoem word, word voorbehoude voorbehou. Liewe hemel, ons lewe nou onder ’n vrye en demokratiese stelsel! Daar kan nie langer daarmee saam gelewe word as gesien word hoe ’n groot deel van hierdie land se mense gestraf en in armoede gedompel word, bloot omdat die taal wat hulle praat deur die meerderheid verwerp word nie. Dis ongelooflik dat die blanke Afrikaanssprekendes keer op keer diegene laat wegkom wat hulle daarvan beskuldig dat hulle deur Afrikaans net blanke oorheersing en die vergrype van die verlede najaag. Die apatie en stilswye van die nie-wit Afrikaanssprekendes word dus gruwelik uitgebuit. Dit gebeur ten koste van Afrikaans. Nogtans, kan u hulle verkwalik as hulle dit sê? Die hoogwaardigheid teenoor minderwaardigheid kom alte dikwels in die Afrikaanse taalgemeenskap voor. Kyk byvoorbeeld net na die uitgewersbedryf, waar die mark voorgehou word as rede waarom daar nie boeke oor die geskiedenis en lewe van die bruinmense uitgegee word nie. Dit is natuurlik vals en ook ’n struikelblok in die pad van diegene wat eerlik en opreg vir die voortbestaan van Afrikaans veg. ’n Goeie voorbeeld is Die Son, ’n koerant wat daagliks hier in die Wes-Kaap uitgegee word. Bruinmense koop die koerant, ’n bewys dat hulle smag na iets waarmee hulle hulself kan identifiseer. Kom ons hou op om ’n stok vir die teenstanders van Afrikaans te gee om ons mee te slaan. Kom ons hou op om skuldig te voel omdat ons vir die voortbestaan van Afrikaans veg. `n Voorbeeld hiervan is dat die ander inheemse tale gedurig bygesleep word as daar oor Afrikaans gepraat word. Moet my nie verkeerd verstaan nie, natuurlik is die ander inheemse tale net so belangrik soos Afrikaans, maar laat ek dit maar hier sê, waarskynlik word dit ook deur die teenstanders van Afrikaans as `n bybedoeling beskou. Dit is voor die hand liggend, die sprekers van daardie inheemse tale verroer nie `n vinger tot die bevordering van hul eie tale nie. Waarom sou hulle? Die meerderheid verkies Engels. Ook lag die teenstanders van Afrikaans sekerlik in hulle mou, wanneer die Afrikaanssprekende gedurig die ander tale in hul argumente wil help, terwyl hul eie taal skaars kan oorleef. Dink u nie dit is beter om net eers op Afrikaans te konsentreer om seker te maak Afrikaans behou sy status in die skole, universiteite, televisie en die private en openbare sektor voordat die ander tale gehelp word nie? Oor die stilswye van die arm, bruin Afrikaanssprekende mense is al baie gesê, maar wat van diegene wat in gesagsposisies is? Kom ons kyk weer deur die oë van diegene wat Afrikaans teestaan, wat sien hulle. Hulle sien dat hierdie mense, die intellektuele wat hulle as die ware stem van die bruinmense beskou, huiwerig en met voorbehoud praat. Dat baie van hulle stilbly oor die rol wat Afrikaans in die lewe van die bruinmense behoort te speel. So waarom sal hulle vir hulle daaraan steur, oor die feit dat daar byvoorbeeld geen programme in Afrikaans hoegenaamd vir die bruinmense op televisie is nie? Hulle gee daarmee te kenne dat daar geen stories oor die bruinmense te vertel is nie, dat daar geen geskiedenis oor die bruinmense bestaan nie. Dit en die ongeletterdheid onder die bruinmense wat die uitvloeisel is van bogenoemde stelling kan nie langer so voortduur nie. As die Afrikaanssprekende sy geloofwaardigheid wil behou of uitbou moet hierdie feite onder oë gesien word. Die benadering rondom Afrikaans moet dus verander word. Dit is nie nodig om Afrikaans te bemagtig nie. Afrikaans self is die instrument tot bemagtiging vir miljoene van sy sprekers. Die belangrikheid van Afrikaans moet meer en harder beklemtoon word. Die kwessie rondom die skole en universiteite moet saam met die van die televisie en die private en openbare sektor genoem word. Die een kan nie sonder die ander voor geveg word nie. Daarvoor is die pyn en lyding van sy arm sprekers net te veel. Soos reeds gesê behoort niemand in vrees te lewe omdat hy of sy opstaan vir Afrikaans nie. In die verlede het die destydse owerhede apartheid vergoedelik. Vir baie van u hier was dit moreel en eties verkeerd. Apartheid moet gaan, dit was ononderhandelbaar. Daardie selfde gesindheid oor Afrikaans moet nou by u begin posvat. Stop die uitfasering van Afrikaans, dis moreel en eties onaanvaarbaar. Hierdie oproep is geregverdig. In `n vrye en demokratiese land is daar net een reël wat vir u behoort te geld. Die van geregtigheid. Net een boodskap waaraan u trou behoort te sweer. Die boodskap wat my ma my van Jesus Christus geleer het. Wat jy nie aan jou gedoen wil hê nie, moet dit in hemelsnaam nie aan ander doen nie. Ja, die kwessie van Afrikaans en dit wat hom met baie van sy sprekers verbind, lê diep. Baie diep. Dit het `n krisispunt bereik. Afrikaans het die potensiaal tot versoening en nasiebou, maar hy het ook die potensiaal om die land verder te verdeel en te verskeur, as hy nie reg bestuur en benut word nie. Dit is geen oordrywing nie. Kyk maar na die swaarkry, die armoede, die werkloosheid, die ongeletterdheid en die dwelm en drankmisbruik van baie van sy sprekers. En kyk maar wat ook aan die gang is in die woonstelle, die woonbuurtes en die plakkerskampe op die Kaapse vlaktes en die platteland. Afrikaans is die lewensboei van hierdie mense . Die instrument om hierdie mense te bereik, te verlos en te bemagtig. Dit begin werklik lyk na `n mensgemaakte tragedie. |