|
||||
Neville Alexander
*Taalaktivis en direkteur van PRAESA, Universiteit van Kaapstad
Baie dankie aan die SBA en veral aan Christo vir die uitnodiging en vir die geleentheid om ’n paar gedagtes met u oor hierdie onderwerpe te ruil. Ons praat alreeds vyftien jaar lank oor dieselfde goed, en in my eie geval strek die betrokkenheid by die taalvraagstuk oor die laaste 50 jaar, dit wil sê, vanaf die inwerkingstelling deur die Nasionale Party van sy beleid oor moedertaalonderwys in die skole van die land. Dit is dus nie maklik om iets nuuts oor so ’n deurgetrapte kwessie te sê nie. Nogtans glo ek dat onlangse verwikkelinge ten opsigte van die taaldebat – nie net op die kampus van die Universiteit van Stellenbosch nie – ons dwing om sekere fundamentele oftewel beginselvrae weer op te soek. Ek wil dit dus baie duidelik stel dat al die dimensies van die taaldebat eers sin maak as ons die vraag: Watter soort samelewing, watter soort staat wil ons in die nuwe Suid-Afrika help vorm en realiseer? beantwoord het. Omdat ons van ’n demokratiese bestel praat, kan dit in wese net oor een van twee moontlikhede gaan. Die eerste van hierdie twee alternatiewe is die liberale demokrasie wat op individuele regte gebaseer is. Die meeste mense glo dat die post-apartheid staat hierdie demokratiese regeringsvorm aangeneem het. Die ander moontlikheid is dit wat die Hollanders die Suiledemokrasie noem, ’n konsep van die demokratiese samelewing wat op groepregte gebaseer is. Dit is baie duidelik dat hierdie idee in die nuwe Suid-Afrika glad nie kan werk nie, omdat dit ons te na aan die verlede sal laat staan en kleitrap en omdat die bevrydingsstryd reeds teen die etniese moment, wat die eintlike vertrekpunt van hierdie stelsel is, geloods en met ’n mate van sukses gewen is. Ek glo nogal daaraan dat ons die historiese ruimte gegun is om die soort staatsbestel wat ons wil hê, in ’n groot mate self te kan bepaal en dat dit iewers op die kontinuum tussen hierdie twee vorms van die moderne demokrasie gestalte behoort te neem. Dit behoort ook moontlik te wees om by geleentheid – hoofsaaklik deur die onafhanklike regsbank – die presiese punt waar die skeidslyn tussen die primaat van individuele regte en dié van groepregte getrek moet word, by veranderende omstandighede aan te pas. Eers wanneer ons duidelikheid oor hierdie vraag bekom het, kan ons rigting vind, en sal die legitimiteit en billikheid van ons eise vir en in verband met Afrikaans vir almal aanvaarbaar wees. Ten opsigte van hierdie vraag wil ek graag na ’n stelling van een van my studente verwys waarvolgens dit binne die konteks van ’n veeltalige, multikulturele en nierassige Suid-Afrika verkiesliker is om op “solidariteitsregte” vir spesifieke gemeenskappe aan te dring as om net vir die eie groep sekere regte te eis. In die geval van ’n taalgemeenskap soos die Afrikaanse sou dit beteken dat ons dié regte eis – byvoorbeeld die reg op moedertaalonderrig – wat vir alle ander Suid-Afrikaanse taalgemeenskappe geld. Ek meen dit sou ’n goeie idee wees om iemand te vra om ’n bietjie dieper in hierdie soort vraag na te vors. My tweede vertrekpunt hang saam met die onweerlegbare feit dat elke individu ’n veelheid aan identiteite het. Sonder om op teoretiese aspekte van die identiteitspolitiek in te gaan, wil ek dit duidelik stel dat ek sowel Afrikaanssprekende as baie ander dinge is en kan wees, en dat al daardie ander dinge glad nie of net in baie beperkte sin met my Afrikaanssprekendheid te doen het. Dit wil sê, ons moet wegbeweeg van die anakronistiese opvatting waarvolgens die begrip “kultuur” op een of ander wyse ’n hele magdom van belange en verbintenisse in ’n enkele ondeelbare subjek saamvoeg. Dit is ’n reïfikasie en ’n vereenvoudiging wat meer met die 19de eeu as met ons eie millennium te doen het. Volgens die moderne sosiologie en maatskaplike sielkunde spruit identiteite uit belange en netwerkprosesse. Daarom kan ek byvoorbeeld met “Afrikaners” en ander Afrikaanssprekendes vir die belange van die Afrikaanse taal saamwerk sonder om ook ’n Calvinis of ’n lid van die VF+ te wees; ek kan terselfdertyd my ateïstiese en sosialistiese sienswyse handhaaf, dit wil sê, my party-politieke identiteit bly behoue sonder dat ek gekompromiteer voel of objektief so gesien kan word. Afrikaans is ’n Afrikataal met beduidende en voortgesette bande met Nederlands en dus met Europa. Dit is dan ook ’n brugtaal tussen hierdie twee vastelande wat onder meer deur kolonialisme en imperialisme, deur slawerny en globalisering ten goede en ten slegte aan mekaar geketting is. Alhoewel dit ’n bastertaal is, is dit ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal omdat dit – naas isiXhosa, isiZulu, Sesotho en die ander inheemse tale - sy geskrewe standaardvorm in hierdie land bekom het. Net soos in die geval van Engels simboliseer die oopheid en die gemengsel van Afrikaans die primaat van die hibriditeit in die moderne wêreld. Hibriditeit, en nie suiwerheid nie, is vandag die norm. Daarom is Afrikaans nog steeds so “cool” in ’n nuwe Suid-Afrika, waarin die taal sterk ondermyn word, omdat die gebruik daarvan in belangrike staats- en ander funksies minderhede, sogenaamd, en baie ander mense sou uitsluit. Afrikaans is die taal van baie en baie diverse sprekers en gemeenskappe. Dit is nie net die taal van die (sogenaamde) Afrikaners nie, alhoewel hierdie absurde bewering vandag nog dikwels sy kop uitsteek. Binne die veeltalige konteks het Afrikaans ’n deurslaggewende bemagtigingsfunksie wat dit moet vervul deur onder meer bewus as model vir die ander inheemse tale bevorder en uitgebou te word en as lingua franca op spesifieke domeine – soos die kuns, musiek, dans, die platteland, ensovoorts – te fungeer. Die rol van die Afrikaanssprekende mens moet nie met die strewes en optredes van die Afrikaner verwar word nie. Soos baie van ons male sonder tal gesê het: Afrikaans as taal moet van die wel en weë van Afrikanernasionalisme losgemaak word, alhoewel ons, uit die geskiedkundige hoek gesien, vanselfsprekend die betekenis van die Afrikanernasionaliste se etniese fokus op en beheptheid met die handhawing en uitbou van Afrikaans as hoëfunksietaal aanvaar. Dit neem ons wel ’n entjie van koers af wanneer ek daarop wys dat die historiese kategorie “Afrikaner” vandag nog vir baie Afrikaanssprekende mense belangrik is, maar reeds daarom is dit nodig om hierdie aspek van die taaldebat effens te belig. Vir my is die ontstaan en wording van hierdie kategorie so nou verbonde aan die rasgebaseerde verdrukking van swart mense – en nie net met die stryd teen die Britse imperialisme nie – dat ek onmoontlik daaroor kan praat of dink sonder om hierdie skadukant van die begrip by my te laat verskyn. Ek meen dus dat die wysgere en die historici wat hierdie begrip vir alle Suid-Afrikaners in ’n positiewe lig wil laat voortleef baie hard aan die projek sal moet werk. Die Suid-Afrikaanse Grondwet verskaf die ruimte vir so ’n herverkenning en herwaardering van die Afrikanerdom se plek in ons geskiedenis. Dit is in elk geval so dat die spanninge en teenstrydighede van die sogenaamde identiteitspolitiek alle Suid-Afrikaners se diverse identiteite sal bepaal en herbepaal na gelang van die veranderende omstandighede. Alhoewel dit altemit ongevraag is, sou ek die Afrikaners aanraai om nie op anakronistiese wyse te probeer om ander Afrikaanssprekende mense by hulle aan te las nie. Hulle sal ook daarvoor moet waak dat hulle hulself nie in ’n soort Taal-Orania (laat) vaspen nie. In hierdie verband is dit ook ter sake om dit weereens duidelik uit te spel dat nie net Afrikaners oor die Afrikaanse taal met passie en gevoel dink en praat nie. Taal is nooit ’n blote kommunikasiemiddel soortgelyk aan ’n siellose selfoon nie. Natuurlik is die literêre werke van ’n Eugene Marais, ’n Louis Leipoldt, Breytenbach, Krog en so baie andere ook vir my ’n onskatbare bron van insigte, metafore en subtiliteite wat ek skaars in ’n ander taal op dieselfde manier sou kon beleef, selfs nie in my gunsteling- literêre taal, Duits, nie. Enige Afrikaanssprekende persoon kan emosioneel oor Afrikaans wees sonder om Afrikaner te wees. Dit is hoog tyd dat die Super-Afrikaners hierdie eenvoudige stelling ter harte neem. Iets waaroor ons nie te veel hoef te sê nie is die feit dat Afrikaanssprekende mense, veral wit Afrikaanssprekendes, onder die apartheid van die Natte en onder die Sappe van die Smuts-Hertzog-tydvak baie taalverwante vaardighede aangeleer en aan hul kinders as erfenis nagelaat het. Ons behoort die verskeie projekte soos die WAT of SAVI waardeur byvoorbeeld leksikografiese, vertalings- en algemeen opvoedkundige en tegnologiese vaardighede van sulke bevoordeeldes aan belangstellende benadeeldes oorgedra word tot ’n natuurlike, organiese bemagtigingstrategie te verhef. Daarbenewens moet ons vanselfsprekend toesien dat Afrikaans ’n middel tot bemagtiging en armoedeverwydering vir stedelike en landelike armes word. Oor die ingewikkelde gebeure op die kampus te Stellenbosch wil ek net drie baie eenvoudige stellinge maak. Ten eerste: wanneer teenstrydighede en konflikte te voorskyn kom tussen ’n groep mense wat gewoonweg met mekaar oor die meeste dinge saamstem, is dit baie belangrik dat ’n mens jouself afvra of die probleem antagonisties of nie-antagonisties van aard is. As dit antagonisties is, is die meeste van ons uiteindelik gereed om ander mense vir “die saak” dood te maak of te laat doodmaak. Ek self is hoegenaamd nie gereed om vir Afrikaans te moor nie, veral nie in ’n demokratiese land waar die Grondwet meer as genoeg ruimte laat om sulke probleme op ander maniere uit te spook nie. Hoe ’n mens te werk gaan om iets soos die warmpatat van die taaldebat op Stellenbosch te hanteer, hang in ’n groot mate daarvan af of ons die kwessieas antagonisties of as nie-antagonisties van aard benader. Ten tweede: in ’n demokratiese Suid-Afrika waar, volgens Artikel 31 van die Grondwet, dit duidelik gestel word dat elke (taal)gemeenskap die reg het om sy kulturele praktyke in sy eie taal uit te leef, behoort ons nie eers die vraag te stel of dit reg of verkeerd is om ’n oorwegend Afrikaanse universiteit voor te staan en in die werklikheid op te bou en te handhaaf nie. Dit is tog vanselfsprekend. Met die argument dat ons op hierdie manier baie nie-Afrikaanssprekendes uitsluit, kan ek niks aanvang nie. Dis doodgewoon belaglik. Wie by so ’n instelling wil gaan studeer, veral op voorgraadse vlak, behoort die nodige taalvaardigheid aan te leer as hy of sy dit nog nie het nie en die universiteitsowerhede moet daarvoor sorg dat hulpmaatreëls vir diesulkes beskikbaar is, net soos op ons Engelse kampusse onproblematies “Academic Support Programmes” gratis aangebied word! In ’n gebied waarin daar vier universiteite is, waarvan net een sogenaamd Afrikaans is, is dit meer as belaglik om hierdie “rede” aan te voer. Op die ander argumente wat meer te doen het met akademiese uitmuntendheid en met ons vermoë om op internasionale vlak te kan wedywer wil ek by hierdie geleentheid nie ingaan nie. Maar ek wys graag daarop dat die voertaal op nagraadse vlak, waar hierdie oorwegings wel ter sake is, sover ek weet tans nie ter sprake is nie. Ten derde: om pedagogiese en taalbeplanningsredes moet Afrikaans (of enige ander Suid-Afrikaanse taal wanneer dit van ’n beduidende aantal mense in die relevante taalgemeenskap geverg word) as voertaal minstens op voorgraadse vlak gehandhaaf word. Deur Herman Giliomee en andere se onlangse publikasies is die redes vir hierdie stelling alreeds welbekend. Die openbare, hoëstatusfunksies van die taal sal net behoue bly as die registers en die wetenskaplike diskoers daagliks groei en aangepas word. Hierdie soort werk geskied hoofsaaklik by tersiêre instellings. Die toekoms van Afrikaans as wetenskaptaal is nie net vir Afrikaanssprekendes en vir die algemene belang van die handhawing van kulturele diversiteit belangrik nie, dit is net so belangrik vir die toekoms van die ander Afrikatale in Suid-Afrika. Wanneer dit daartoe kom, en dit gaan daartoe kom, dat byvoorbeeld Zoeloesprekende mense ’n oorwegend Zoeloe-mediumuniversiteit op voorgraadse vlak verlang, dan sal die “voortrekker-” rol van Afrikaans ons ’n klomp geld en hartseer bespaar. Ten slotte wil ek graag net sê dat ek natuurlik vandag net ’n paar kort opmerkings oor ’n paar van die relevante onderwerpe gemaak het. Dit behoort duidelik te wees dat ons diep sal moet gaan dink oor sekere vrae wat vandag hier aangesny is, en ek hoop dat hierdie forum vir ons die ruimte sal skep om deur die loop van die volgende maande en jare dit op ons gemak te kan doen. Alle voorspoed en sterkte aan ons almal. ’n Regverdige saak kan nooit verslaan word nie.
|