blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die internasionalisering van Afrikaners se situasie: Grieke en Afrikaners in hul Diáspora: die langtermyn- internasionalisering van ons kultuurbelange 2006-05-19
Francois Bredenkamp

*Spesialis in Middeleeuse Bisantynse politiek en vertaler van Markus Aurelius se Bepeinsinge

 

Al te dikwels tower die gedagte van ’n Afrikaanse gemeenskap in die buiteland, in verskeie groot wêreldstede, by ons ’n hopelose wankelmoedigheid op oor ons eie toekoms en voortbestaan. Sal ons kinders en familie wat hulle vryheid in die buiteland gaan soek het binne een geslag van ons almal vergeet, en sal ons bloed dan maar soos water deur die vingers loop, sodat van al die dierbare dinge en gemeenskapsbande wat ons saam hier in Suid-Afrika gesmaak het, daar uiteindelik niks oorbly nie?

                Dit is egter nie nodig dat dinge noodwendig so moet wees nie. Daar bestaan verskeie voorbeelde in die geskiedenis van gemeenskapslede wat, as gevolg van ongunstige politieke ontwikkelinge, hulle heil elders, in die buiteland, moes gaan soek en dan steeds die belange van hul gemeenskappe oor die jare heen bly dien het.

                ’n Taamlike goeie voorbeeld hiervan is die situasie waarin die Griekse volk in al sy gemeenskaplike geledinge verkeer het na die Turkse verowering van Konstantinopel. Die positiewe interaksie oor driehonderd jaar heen van die Griekse gemeenskap-in-ballingskap met die benadeeldes tuis in Griekeland het trouens die voortbestaan van die Grieke as groep en gemeenskap tot vandag toe verseker. Daar lê inderdaad ’n aantal lesse vir ons opgesluit in die Grieke se ervaringe in hierdie verband.

                Die keiserlike hoofstad van die duisend jaar oue Grieks-Bisantynse Ryk, die stad van Konstantyn aan die Bosporus, het voor die aanslag van die Ottomaanse Turke geswig op 29 Mei, 1453. Teen dié tyd was die Griekse ryk volledig uitgeput. Meer as twee eeue se grond- en plaasbesettings en sistematiese rowery en stroping deur die Islamitiese Ottomane het die Bisantynse staat se belastingvoet volledig ondergrawe, dit van militêre weerbaarheid ontneem en die eens uitgebreide gemeentelike netwerk van die Ortodokse Kerk oor die vastelande van Klein-Asië en Europese Griekeland afgetakel.

                Grieke het met uiteenlopende ervarings weggekom van die skokkende slagting en verlies van Konstantinopel. Talle Griekse aristokratiese families, wat tradisioneel grootskaalse grondeienaars was, het stelselmatig onder die Turke ingetrou in ’n poging om hul voordeel van landbesit te behou; hulle het sodoende bloot verislamifiseer. ’n Ander deel van die aristokrasie, wat die Griekse regime in die stad steeds ondersteun en orent gehou het, het swaar geboet tydens die Turkse oorname: diegene wat nie met hulle lewens geboet het nie, is meestal saam met die ander voormalige inwoners van die stad weggevoer en elders, ver weg, hervestig, sommige as slawe.

                ’n Beduidende hoeveelheid Grieke uit Griekeland en Asië het al oor die dekades wat die Val van die Stad voorafgegaan het die politieke skrif aan die muur gesien: die voormalige Bisantynse Ryk en sy magsisteme was nou ’n leë dop, en dit was duidelik dat sy tyd besig was om uit te loop. Diep onder die indruk van hul gewaarwording, het talle van hierdie Grieke besluit om na Europa te emigreer en in hierdie proses by Venesië ontskeep en, vanweë die vriendelikheid waarmee die Venesiane hul ontvang het, hulself juis daar gevestig.

                Die maritieme staat van Venesië was toe reeds vir meer as tweehonderd jaar doenig in die breëre Middellandse Seegebied. Sedert die Vierde Kruistog van 1204, waarin die Venesiane ’n onontbeerlike logistieke rol gespeel het, het hulle dominante handelskonsessies vir hulself in die Adriatiese-, Egeïese-, Kretensiese- en Ioniese Seë beding. Saam met hul uitmergelende konsessies, en namate die invloedsfeer van die Ortodoksie ineengekrimp het, het hulle die invloed van die Rooms-Katolisisme veral langs kusgebiede en op talle van die menigte betrokke eilande uitgebrei. Betrekkinge tussen Grieke en Venesiane was gemoedelik, ondertrouery volop en talle Venesiane het die Griekse kleremodes aanvaar en Griekse woorde in die Venesiaanse dialek ingevoer.

                Die vernaamste invloei van Griekse immigrante in Venesië het dus plaasgevind onder die dreigende gevaar van die Turkse verowering. In die vyftig jaar wat Konstantinopel se val voorafgegaan het, was daar ’n geleidelike toename in die getal van vlugtelinge na die Italiaanse stad op soek na hul vryheid van die Turkse dwingelandy, en na die Val was daar ’n ware stortvloed van immigrante na Italië. Heelparty van hulle was vaardige ambagslui (vandag se ‘tegnici’) en menigeen was goed geleerd vir daardie tye. Teen die einde van die vyftiende eeu het Grieke die vernaamste groep uitlanders in die stad Venesië uitgemaak; vanuit die oogpunte van die politiek, die ekonomie en hul intellektuele kaliber was dit die mees betekenisvolle minderheid in die stad.

                Grieke is voorheen veral beïndruk deur die skoonheid en welvaart van hierdie stad van strandmere. Die Venesiane se groot agting vir die Grieke se vaardighede en gewoontes het hulle veral getref en hulle aangemoedig om hulself daar te vestig. Bessarion, ’n voormalige aartsbiskop van Nicaea, het die Roomse konfessie aanvaar en is daarna tot Roomse kardinaal verkies. Hy was nie alleen ’n onvermoeibare pleitbesorger vir die verbetering van die lot van die Grieke wat in Griekeland agtergebly het nie, maar het ook sy status as een van die groot humaniste van die Renaissance verower deur die  skenking van sy private versameling van dokumente, waarvan sowat vyfhonderd (nog handgeskrewe) manuskripte in Grieks was. Dit was die grootste enkele versameling van Griekse manuskripte in die Renaissance-periode; Bessarion se gebaar was ’n manifestasie van die groeiende bewuswording van die belangrikheid van die teenwoordigheid van die Grieke en hul taal in Venesië.

                En waar die Grieke aanvanklik onder druk geplaas is om die Unitariese belydenis (dws. samesmelting met die Roomse belydenis, erkenning van die pouslike onfeilbaarheid en behoud van die Ortodokse ritus in die erediens) te aanvaar, het hulle met verloop van tyd – na gelang hul ekonomiese en politieke situasie verbeter het – die moed bymekaargeskraap om hul lippediens aan die Patriarg van Venesië af te lê en hul afhanklikheid van die Patriarg van Konstantinopel openlik te bely. Die Grieke se trou en lojaliteit aan die Ortodokse belydenis van hul voorgeslagte loop trouens soos ’n goue draad deur die Venesiaanse geskiedenis van die vyftiende en sestiende eeue: as vlugtelinge sonder ’n tuisland en eie staat het die Grieke verbete aan hulle tradisionele godsdiens gekleef. Nadat hulle selfs vir ’n aantal jare geheime eredienste in private woonhuise gehou het, is in 1470 die gebruik van ’n sy-kapel van die San Biagio-kerk in Venesië aan hulle toegestaan. Vroeg in die sestiende eeu het Pous Leo die Tiende aan die Griekse gemeenskap verlof toegestaan om stadsgrond aan te koop vir die vestiging van ’n eie kerkgebou en van ’n Griekse begraafplaas. Daar is selfs planne vir ’n Griekse ‘tuisland’ in Toskane, te Maremma, gesmee, maar dit is laat vaar toe agtergekom is dat die hele gebied eintlik ’n moeras is.

                Die Griekse kolonie in Venesië was reg in die hartjie van die stad geleë, digby die kerk van San Giorgio dei Greci. Hier het teen 1500 ongeveer vyfduisend Grieke gewoon en later sowat tienduisend (sowat 9,1% van die totale bevolking van 100 000 van Venesië). Hierdie gemeenskap het bestaan uit ’n wye maatskaplike spektrum van handelslui, intellektuele en kunstenaars, soldate (veral ’n liggewapende ruitery, die sg. Stradioti, wat groot suksesse vir die Venesiane behaal het), seevaarders, skeepseienaars en -kapteins, kleremakers, yster-, goud- en silwersmede, algemene werkers, vroue wat as huishoudsters vir welgestelde Venesiaanse gesinne gewerk het en hier en daar ook ’n regter en ’n mediese dokter, tolke en selfs spioene.

                Maar Venesië se groot bydrae tot die welstand van Grieke aldaar en in ou Griekeland self, was geleë in die beskerming en aanmoediging wat die stad aan die Griekse intellektuele en humaniste van die tyd gebied het. Die Venesiane was leergierige lesers, en met die vestiging van die gemeganiseerde boekdrukkuns het talle Grieke as tolke, kopiïste, grafiese ontwerpers, setters en uitgewers tot die bedryf toegetree. Die vooraanstaande uitgewer van Venesië, Aldus Minutius, het juis talle Griekse geleerdes in diens geneem en ’n projek om alle restante Klassieke Griekse werke, waarvan die meeste nou in manuskrip-omloop in die stad gekom het, in boekformaat uit te gee. Die groot skat van die Grieke het dus so in Italië en Europa tereggekom; tegelyk is talle vername werke vanuit Latyn na Grieks en vanuit Grieks in Latyn en Italiaans vertaal. Die groot Westerse hermeneutiese oefening is daarmee aan die gang gesit en gepopulariseer, ook toe Grieke self, soos Kalllierghis en Vlastos hul eie uitgewerye aan die gang gesit het.

                Aldus Minutius het ook rondom homself ’n uitgelese groep Westerse en Griekse geleerdes vergader in ’n Neakademia. By hul vergaderings mog daar slegs Grieks gebesig word. Manuskripte en idees is daar uitgeruil en selfs die deurlugtige Desiderius Erasmus was ’n gereelde besoeker by samekomste.

                Die Griekse gemeenskap het besondere erkenning verwerf deur die toekenning, laat in 1494, van die reg deur die Venesiaanse owerhede om ’n raad, die Broederskap van die Griekse Volk (Scuola e Nazione greca), te stig om na hulle filantropiese en sosio-religieuse behoeftes om te sien. Dit was ongetwyfeld die vernaamste gebeurtenis in die geskiedenis van die Griekse kolonie, aangesien dit ’n teken was dat die Griekse gemeenskap nou volwaardige status as korporatiewe liggaam voor die Venesiaanse reg geniet het. Aanvanklik is die lidmaatskap daarvan tot 250 manspersone (vrouens en kinders uitgeslote) beperk en is daar ’n Grondwet, soortgelyk aan die Venesiaanse, opgestel waarin stemreg en -prosedures, verteenwoordiging en die vorming van die raad omskryf is. Die president, die Gastaldo, is gesalarieer deur die gemeenskap, dog het onder die toesig van die Venesiaanse regering gestaan.

                Indien ’n mens dan na die totale verskynsel van die Grieke in ballingskap kyk, is daar talle sake met geïmpliseerde ooreenkomste en gevolge vir ons eie Afrikaanse gemeenskapslewe. Die vernaamste daarvan was sekerlik die hawe van veiligheid en verdraagsaamheid (die groot visioen van vryheid) wat ’n lewe in Venesië vir die vervolgde Griek en veral vir sy taal gebied het. Grieke was trots op hulle taal en kultuur in die vreemde en het hul kultuurprodukte met trots aan hul kinders in Venesië, in Griekeland onder Turkse juk en onder internasionale geleerdes gedissemineer. Ten tweede, die klimaat van kulturele verdraagsaamheid en geborgenheid wat Venesië gebied het, het aan Griekse vaklui (die destydse ‘tegnici’) en intellektuele ’n geleentheid tot geïmpliseerde weerstand teen die artistieke, godsdienstige en intellektuele onverdraagsaamheid van die Islam tuis gebied en ruimtes oopgemaak om hul lewensbrood regverdig – en met welverdiende akklamasie, wins en luister – te verdien. Derdens, die Griekse gemeenskapsinstink het homself veral in sy diepgesetelde Ortodokse godsdienssin en in die ritus van sy Kerk uitgespeel. Dit het sy gemeenskapslewe georden en psigiese sekerheid in ’n wêreld vol potensiële bedreiging en tydelikheid gebied. Die Ortodoksie het die struktuurgewende basis vir die voortplanting van die Griekse taal en kultuur oor die volgende driehonderd jaar geword. Laastens moet ’n mens daarop wys dat die Grieke-in-ballingskap – betreklik gering soos wat hulle getalle gebly het – nooit van hul familie en vriende in Griekeland vergeet het nie, maar steeds in kulturele simbiose met daardie Grieke gebly het, geleenthede aan jong mense daarvandaan gebied het, altyd maar op hoogte gebly het van die lotgevalle van hul familie in Griekeland en, waar moontlik, vir hul belange ingetree het. Griekeland het altyd deel van hulle historiese bewussyn gebly.

                Terwyl die grootskeepse emigrasie van Afrikaanssprekendes na Londen, Vancouver, Melbourne en die VSA maar ’n betreklik onlangse en nuwe verskynsel is, met pynlike bygevolge, lyk dit tog asof daar ’n aantal aksies is wat ons kan onderneem en stimuleer om die beste uit ’n slegte situasie te haal. Hierdie aksies is feitlik deur die bank kommunikasiehandelinge.

                Dit is belangrik dat die Afrikaanse gemeenskap van alle moontlike middele gebruik maak om kulturele kontak met sy subgemeenskappe en lede in die buiteland te behou. ’n Mens sou dink dat veral die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) hom daarop moet toelê om Afrikaanse lede in die buiteland te werf en om hul voortgesette betrokkenheid by, en bydrae tot, die plaaslike intellektuele lewe en plaaslike onderwys te verseker. Ons kan kennelik nie klaarkom sonder daardie mense se inspraak in ons armlastige geestesklimaat nie. Hierdie argument geld beslis ook vir ander organisasies soos die ATKV, die Afrikanerbond, en selfs die Voortrekkers. ’n Mens sou ook graag die Afrikaanse kerke hierby wou insluit, alhoewel dit ook duidelik is dat talle van ons invloedryke kerklui alles moontlik wil doen om ons kerke se kultuuropgaaf te ontduik of te vermy; ’n versekulariseerde Afrikaanse gemeenskapslewe skyn inderdaad ons voorland te wees.

                Insgelyks sou ’n mens wou sien dat van ons groter Afrikaanse gemeenskappe in die buiteland hulleself op ’n gekoördineerde grondslag oor die langer termyn begin organiseer om gemeenskapsake aldaar en hier plaaslik aan te pak. Die voortgesette propagering en gebruik van Afrikaans as moedertaal en ’n voortgesette kennis onder ons mense van die Afrikaanse geskiedenis kan gerus daar die aandag geniet. Die FAK en die Akademie sou bes moontlik hierin ook hul rolle kon speel met die ontwikkeling van ’n organisatoriese model, en die reëling van die uitwisseling van geleerdes en kundiges tussen vastelande. Sulke kontakte sal vir die saak van Afrikaans van onskatbare belang oor die lang termyn wees.

                Bowenal sou ’n mens Afrikaners in die buiteland uiteindelik wou sien voorspraak maak vir die saak van ’n lewe in Afrikaans en vir die belange van die totale Afrikaanse gemeenskap, ook dié een in Suid-Afrika. Dit is trouens belangrik dat Afrikaners, soos hulle aan die buitewêreld blootgestel word en toeneem in internasionale ervaring en kennis, hul selfrespek herwin (Leopold Scholtz, Beeld, 6 Mei 2006) en as vervulde en aktualiserende mense hul lewensplek volstaan.

 

_________

Bronne:

Geanakoplos DJ, Byzantine East and Latin West: Two worlds of Christendom in Middle Ages and Renaissance (Studies in Ecclesiastical and Cultural History), Oxford: Basil Blackwell, 1966.

Idem, Greek Scholars in Venice: Studies in the Dissemination of Greek Learning from Byzantium to Western Europe, Cambridge, Mass.: Harvard University Press, 1962.

Idem, Interaction of the “Sibling” Byzantine and Western Cultures in the Middle Ages and Italian Renaissance (330-1600), New Haven & Londen: Yale University Press, 1976.

Idem, Constantinople and the West: Essays on the Late Byzantine (Palaeologan) and Italian Renaissances and the Byzantine and Roman Churches, Madison, Londen: University of Wisconsin Press, 1989.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=580
Artikel nagegaan:
    -