blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die internasionalisering van Afrikaners se situasie: Le Monde diplomatique: Maatskaplike forums: waarheen volgende? 2006-05-19
Samir Amin en Francois Houtart

*Onderskeidelik president van die Wêreldforum vir Alternatiewe en President van die Trikontinentale Sentrum (CETRI) van Louvain-la-Neuve. Uit die Frans vertaal deur Christel Cattin, [email protected]

 

Kontinentale (1), nasionale en tematiese maatskaplike Wêreldforums (MWF) bied almal geleenthede vir ontmoeting en debatvoering aan elkeen wat, volgens die bewoording van die Porto Alegre-Manifes (2), “gekant is teen neoliberalisme en wêreldoorheersing deur kapitaal en teen enige vorm van imperialisme, en wat hom/haarself daaraan wy om ’n planetêre gemeenskap op te bou wat rondom die mens gesentreer is”.

         ’n Kwarteeu nadat die “Konsensus van Washington (3)” uitgewerk is, vyftien jaar na die ineenstorting van die Berlynse muur, vind die groeiende samevloei van weerstand uitdrukking in hulle protes teen die groot planetêre sentrums van besluitneming: Wêreldhandelsorganisasie (WHO), Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds (IMF), G8, Europese Rade, spitskonferensies van die Amerikas, Davos. Seattle het in Desember 1999 op ’n manier gedien as matriks. Daarna, vanaf Porto Alegre (4) in Januarie 2001, het die Maatskaplike Wêreldforums hulle verskyning gemaak, ruimtes vir samekoms en vir koördinering van hierdie weerstand op interkontinentale skaal.

        Hierdie konfigurasie het wel voorlopers gehad: om net enkeles te noem, die People’s Power 21 (“Populêre mag vir die 21ste eeu”) wat nieregeringsbewegings en -organisasies van Asië verenig; die “intergalaktiese” Ontmoeting van die Zapatiste in die Chiapas in 1996 en die “Ander Davos” wat in Zurich gehou is terselfdertyd as die “ware” een in Januarie 1999.

        Die neoliberale fase van die kapitalisme, waarna die Porto Alegre-Manifes verwys, is gebore in die 1970’s met die uitputting van drie pilare van die wêreldekonomie wat die Keynesiese model uitgemaak het: samewerking tussen kapitaal, arbeid en die staat; die sogenaamde “egte” sosialisme;  en die model van Bandoeng – andersyds nasionale ontwikkeling – van derdewêreldlande. Hierdie nuwe fase word gekenmerk deur ’n versterking, op planetêre skaal, van dit wat Karl Marx vasgelê het as arbeid se ondergeskiktheid aan kapitaal binne die produksieproses as sodanig. Maar aangesien die oorgrote meerderheid van die wêreldbevolking nie ’n salaris verdien nie, vind hierdie ondergeskiktheid van alle maatskaplike groeperings – kleinboere, vroue, informele stedelike sektore, inheemse volke, middelklas, ensovoorts – op ander wyses plaas as deur middel van ’n salaris. Byvoorbeeld deur finansiële meganismes – terugbetaling van skuld, die gebruik van belastingtoevlugsoorde – of wetlik (norme wat deur die IMF, die Wêreldbank, die WHO afgedwing word) wat die finansiële logika as eksklusiewe maatstaf vir ontwikkeling aanwend.

        Alle ondergeskikte maatskaplike groepe gaan in hulle alledaagse lewe gebuk onder die handeldrywing waarmee onderrig en gesondheidsorg deesdae gepaard gaan, die privatisering van water en openbare dienste, die vermindering in belegging in infrastruktuur, die prysverlagings van landbouprodukte. Om op te som, hulle gaan gebuk onder die universele oorheersing van die mark en van die geldwese, en onder die konsentrasie van ekonomiese besluite in die hande van transnasionale maatskappye. Aan die spits van die wêreldstelsel vorm die Verenigde State ook die bolwerk van die sekuriteit daarvan deur kontrole op militêre wyse te waarborg – en die gevolg daarvan is vermorsing van die wêreld se natuurlike hulpbronne. So verhaas hulle die ekologiese uitputting waarvan die dramatiese afmetings nie net die arm klasse raak nie – wat nog altyd in ’n omgewing van verwaarlosing geleef het – maar die samelewing in sy geheel. Dit is waarom die destruktiewe eienskappe van die kapitalisme binne ’n toenemende aantal sektore deesdae die kreatiewe aspek van goedere en dienste – wat in elk geval steeds ongelyker verdeel word – toenemend oorskadu. Vandaar die vermenigvuldiging van weerstandsaksies wat dit as ’n gemeenskaplike teenstander beskou.

        As gevolg hiervan openbaar die maatskaplike Forums ’n diversiteit wat ook hulle rykdom is: geografies (alle vastelande), sektoraal (landbouers, inheemse volke, fabriekswerkers, vroue, ekoloë, intellektuele), organisatories (maatskaplike bewegings, nieregeringsorganisasies [NGO’s]), ideologies (voorstanders van die humanisering van kapitalisme of die oorskryding daarvan). Hulle word ook gekenmerk deur hul nie-hiërargiese bestuur. ’n Forum bestaan uit ’n ruimte van verwelkoming en dienste, ’n plek vir ontmoeting en uitruiling en is nie ’n entiteit wat kollektiewe besluite kan neem nie. Met duisende bewegings en organisasies van oor die wêreld, en tienduisende deelnemers, sou so ’n moontlikheid onvermydelik tot die uiteenspatting daarvan lei, tegelyk om praktiese redes (die tyd wat nodig is om oor prioriteite ooreen te kom) en om ideologiese motiewe: die verskeidenheid van opsies op die lang termyn.

        Die groot vooruitgang waarvoor die ses MWF’s wat tot dusver gehou is (vier in Porto Alegre, een in Moembaai en die laaste, van 2006, wat op “polisentriese” wyse in Bamako, Caracas et Karatsji georganiseer is) erkenning moet kry, is naamlik dat hulle in die kollektiewe bewussyn die feit geanker het dat neoliberalisme nie ewig is nie, maar met alternatiewe maatreëls teengestaan kan word, en dat laasgenoemde utopies óf kort- óf middeltermyn van aard is. Die forums het ook bygedra tot die samestelling of tot die versterking van internasionale netwerke vir die stryd om hierdie alternatiewe in die mees uiteenlopende sfere te bevorder: buitelandse skuld van ontwikkelende lande; globale belasting; belastingtoevlugsoorde; die Vrye Handelsgebied van die Amerikas (FTAA), die WHO se Algemene Ooreenkoms vir Handel betreffende Dienste (General Agreement on Trade in Services - GATS); water; geneties gemanipuleerde organismes (GMO); soewereiniteit en sekuriteit van lewensmiddele rondom die Vía Campesina (wêreldwye beweging vir die koördinering van kleinboere), ensovoorts. So het die bestaan van forums op sigself ’n politieke feit geword, en het hulle op ’n wêreldwye grondslag nuwe hoop geskep.

        Na hierdie fase van versterking en konsolidasie moet die Forums nou uitdagings trotseer waarvan die belangrikste is om oor te gaan vanaf die uitbouing van ’n kollektiewe bewussyn na die opstelling van kollektiewe rolspelers ten einde ’n nuwe historiese agent te laat verrys. Die werkersklas word uiteraard ingesluit, net soos in die 19de en 20ste eeue, maar saam met hulle ’n veel breër spektrum van rolspelers en maatskaplike bewegings. Binne die raamwerk van die Forums en ten einde hierdie ontwikkelingsgang aan te moedig, het ’n Vergadering van maatskaplike bewegings jaarliks byeengekom om dokumente, tydroosters en voorstelle vir aksie voort te bring.

        Dit is hierdie vergadering wat in Januarie 2003 uitgeloop het op die projek vir ’n wêreldwye betoging teen die oorlogsvoorbereidings in Irak en wat daarna, op 18 Maart, sowat 15 miljoen mense in 600 wêreldstede byeengebring het. Onder die voorstelle vir aksies in die komende maande, ’n uitvloeisel van die vergadering wat tydens die MWF in Caracas in Januarie 2006 gehou is: steun aan Russiese bewegings wat die protesaksies teen die G8-beraad in Sint Petersburg (Julie 2006) organiseer, en ’n internasionale dag van aksie teen die Wêreldbank en die IMF voor hulle kantore dwarsoor die wêreld (September 2006).

        Die tweede uitdaging het te make met die lewensvatbaarheid van die Forums in sigself, die praktiese grondslag waarop hulle funksioneer en hul interne organisasie. As in ag geneem word dat die aantal deelnemers konstant toeneem en dat hernuwing oor geslagte heen plaasvind, kan daar nie gesê word dat die risiko van uitputting tans bestaan nie. Maar probleme te make met administrasie, tyd en finansiële beleggings, asook struikelblokke met organisasie, is ’n realiteit. Voeg hierby die gesukkel om die werkersklasse te laat deelneem en die gevaar om te konsentreer op die organisasies se permanente lede wat oor voldoende hulpbronne beskik.

        Derde uitdaging: die posisie wat ingeneem moet word teenoor instellings en regerings waarvan die beleidsrigtings deur die Forums veroordeel word, maar wat semantiese ondermyning op vernuftige wyse aanwend deur dieselfde konsepte van “burgerlike samelewing”, “deelnemende demokrasie”, “stryd teen armoede”, ensovoorts in ’n totaal ander konteks en in diens van dominante maatskaplike groepe gebruik; wat poog om die organisasies en aktiewe lede wat hulle bespeur, te “koöpteer” (finansiering van aktiwiteite of projekte, uitnodigings na Davos, deelname aan inisiatiewe van internasionale finansieringsorganismes). En terselfdertyd kriminaliseer sekere van hierdie regerings die maatskaplike bewegings en progressiewe NGO’s, verskerping van wetsgeskille in die sogenaamde stryd teen terrorisme, word werkersklasleiers gevange geneem of slagoffers van sluipmoorde.

        Die voortsetting van die Forums (5) is dus onlosmaaklik van die opstelling van toegewyde kollektiewe rolspelers hier en nou, eweseer op nasionale en kontinentale (veral Europese) as op internasionale vlak, in hulle aksie ten gunste van beleidsrigtings wat die eerste buitelyne van ’n “ander moontlike wêreld” uitstip. Die Pleidooi van Bamako (6) wou tot hierdie doelstelling bydra. Die inhoud daarvan is die resultaat van werk wat gedoen is deur ’n netwerk van organisasies, maatskaplike bewegings, ondersteuningsentra tot hul diens, en wat saam vergader het op die dag voor die gedesentraliseerde MWF se sessie van 2006 in Mali om die 50ste Konferensie van Bandoeng te herdenk. Dit vul die Manifes van Porto Alegre (7) aan, waarvan die eerste weergawe van Januarie 2005 gepoog het om ondervindings van vorige forums op samehangende wyse te formuleer in ’n dosyn “trosse” van strukturerende maatreëls. Die debat rondom die toekoms en vooruitsigte van maatskaplike Forums wat tydens die Europese Maatskaplike Forum in Parys/Saint-Denis in 2003 aangepak is, word nou ’n sentrale vraag. Eerstens, maar nie uitsluitlik nie, binne hulle eie geledere.

 

(1) Na Florence (2002), Parys/Saint-Denis (2003) en Londen (2004), is dit Athene wat van 3 tot 7 Mei 2006 die vierde Europese Maatskaplike Forum gaan verwelkom.

(2) www.forumsocialmundial.org.br/main.php?id_menu=4&cd_language=3

(3) Die “konsensus van Washington” verwys na die tien oriëntasies met liberale karaktertrekke wat in 1990 uitgestippel is en deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank vereis word van lande wat om finansiële hulp aansoek doen. Dit wissel van die besnoeiing van begrotingstekorte tot die vermindering van die progressiwiteit van belasting, sowel as die liberalisering van handel en die privatisering van staatsmaatskappye.

(4) Lees Bernard Cassen, Tout a commencé à Porto Alegre, Parys: Mille et une nuits, 2003.

(5) Die volgende Maatskaplike Wêreldforum sal in Januarie 2007 plaasvind in Nairobi (Kenia).

(6) Die Pleidooi van Bamako is beskikbaar in verskeie tale op die webwerwe van die Derdewêreld Forum en die Forum vir Alternatiewe: forumtiersmonde.net; www.forumdesalternatives.org

(7) Die teks van die Porto Alegre-Manifes is in Engels te lese by http://www.zmag.org/sustainers/content/2005-02/20group_of_nineteen.cfm

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=579
Artikel nagegaan:
    -