|
||||
Johann Rossouw
*Redakteur
Een van die groot ironieë van Afrikaners se geskiedenis is die volgende: terwyl Afrikaners in die era van brief en skip deurgaans in gesprek was met wêreldidees en –politiek, op hoe beskeie skaal dan ook, is hulle nou in die era van e-pos en vliegtuig waarskynlik veel minder as destyds in voeling met wat vandag in die buitewêreld gebeur, afgesien natuurlik van die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf. Selfs Afrikaners in die politiek, die akademie, die sakewêreld en die kerk wat wel internasionaal op hoogte probeer bly, is kennelik hoofsaaklik afgestem op wat in die Britse en Amerikaanse wêreld gebeur. In die naam van ’n gewaande openheid sedert die einde van apartheid en die uiters doeltreffende kultuurboikot tesame met die koms van moderne kommunikasietegnologie, vind bittermin van die gesprekke en gebeure in Afrika, Europa en die res van die planeet buite die Anglo-Amerikaanse sfeer veel neerslag onder Afrikaners. Die verleiding van ’n gerieflike, individualistiese verbuikersbestaan – en al die onnoselheid en patologieë wat dít impliseer – of die moralistiese sug na selfontkenning nà apartheid dra tot hierdie parogialiteit by. Maar terwyl Afrikaners as ’n gemeenskap vandag ongetwyfeld met die moontlikheid van ontbinding en verdwyning gekonfronteer word, is hierdie parogialiteit allesbehalwe die soort luukse wat ons as gemeenskap ons kan veroorloof. Elders in hierdie uitgawe gee Deon Geldenhuys, Francois Bredenkamp en Dirk Hermann elk perspektiewe op verskillende aspekte van die internasionalisering van Afrikaners se situasie. Aanvullend hierby wil ek kyk na die kwessie van by watter ideestrominge en politieke bewegings ons vandag as gemeenskap kan aansluiting vind. Maar voor ek dit aan die orde stel, lyk dit my verstandig om net eers kortliks by twee ander sake stil te staan, naamlik wát dit is wat geïnternasionaliseer moet word en, tweedens, waarom die internasionalisering van Afrikaners se situasie ook van nasionale en selfs wêreldbelang is. Wat is dit wat Afrikaners moet internasionaliseer? Internasionalisering is natuurlik net ’n gewigtige woord vir “om die res van die wêreld van jou situasie te vertel”. Hoekom sou Afrikaners dit dan nou vandag wou doen? ´n Franse vriendin wat onlangs vir 6 weke deur Suid-Afrika gereis, en voorheen sterk anti-apartheidstandpunte gehuldig het, spreek aan die einde van haar besoek haar gevoelens so teenoor my uit: “Hoekom weet ons in Europa niks van plaasmoorde nie? Waarom hoor ons nie van die swart elite se rassisme nie? Hoekom praat niemand oor die element van swart-op-wit wraak in geweldsmisdade nie?” Inderdaad. Terselfdertyd kon sy telkens nie haar ontsteltenis verberg oor die groot rol wat ras in elk geval steeds in Suid-Afrika speel nie, of oor hoe armoede onder swart sowel as wit – om nou haar taal te gebruik – toegeneem het sedert 1994 nie. Haar opmerkings help my om te verwoord wat dit is wat Afrikaners vandag vir die wêreld oor hulself moet vertel: van die enorme vlaag geweld waaraan hulle in plaasmoorde en geweldsmisdade blootgestel is; van die vernietiging van Afrikaans as openbare taal; van die uitsluiting uit die ekonomie deur regstellende aksie. Maar daarby kan dit nie stop nie – en dit bring my dan by die kwessie van waarom wat ons aan die wêreld kan vertel ook van nasionale en selfs wêreldbelang is, naamlik dat wat met ons vandag gebeur maar een van die vorme is waarin die neoliberale wêreldwanorde mense vandag raak. Dat dieselfde wanorde ander Suid-Afrikaners op ander maniere tref: deur hulle tale en dus waardigheid en geskiedenis te bly onderdruk of as agterlik uit te beeld (behalwe as dit ingespan word om nog ’n tegnokratiese projek Afrika’rig en progressiewerig te laat klink); deur hulle in plakkerskampe of swak gehalte laekostebehuising gevange te hou; deur hulle water af te sny; deur hulle daagliks aan die tirannie van afstand uit te lewer. Want wat die wêreld behoort te verstaan, is dat Afrikaners as hooggeskoolde gemeenskap wat vandag toenemend gekriminaliseer of vergeet word deur die Anglofiliese “nierassige” elite, een van die eerste was om na 1994 die druk van die neoliberale wêreldwanorde se plaaslike tak – Ekonomiese Groei en Transformasie Bpk. – te voel. Wat geïnternasionaliseer word deur Afrikaners, behoort dus ook met verwysing na ander Suid-Afrikaners se ervarings gedoen te word, ook en veral om die illusie van ’n “gemeenskap wat nie van magsverlies herstel het nie” die nek in te slaan. Maar by watter ideestrominge en politieke bewegings kan Afrikaners vandag internasionaal aansluiting vind? Wat idees betref, bestaan daar vandag niks anders nie as ’n idee-oorlog tussen die liberale tradisie en sy teenstanders, laasgenoemde self synde ’n uiteenlopende versameling mense. As ’n mens oor die liberale tradisie praat, moet jy dit natuurlik versigtig doen – nie net omdat dié tradisie self verskillende aksente dra nie, maar ook omdat, soos openbare kritiek op Die Vrye Afrikaan onlangs weer uitgewys het, Afrikaners wel ’n geskiedenis het van politici wat hul kiesers almal in dieselfde kraal wou jaag en mobiliseer deur met skuim om die mond uit te vaar teen “die liberale (gevaar)”. Laat ek dus my kaarte op die tafel plaas deur aan te dui teen watter vorm van die liberale tradisie ek dit vandag het: dit is daardie vorm wat die mens allereers as ’n individu (gestroop van alles wat hom individu maak, soos sy gemeenskapsverband) beskou, wat die politiek verstaan as ’n kwessie van die respektering van regte (en die gepaardgaande juridifikasie van politieke verskilpunte, waar alle geskille deur die hof beslis moet word), en wat die mark beskou as die finale arbiter van waardes (met sy gepaardgaande beeld van die mens as nie veel meer nie as ’n dier wie se lewensbetekenis afhang van hoeveel gerief, genot en vermaak hy kan kry). Hierdie vorm van die liberale tradisie is tans verteken tot sy neoliberale vennoot, wat uiterste vorme van winsneming, kulturele kolonisasie en vuil imperiale oorloggies aanneem. Die Suid-Afrikaanse tak hiervan is reeds in Die Vrye Afrikaan se onlangse dossier oor “Die neoliberale groeimite in Suid-Afrika” ontleed, en word elders in hierdie uitgawe deur Moeletsi Mbeki beskryf as die “Mineraalenergiekompleks”. Die wyse waarop Suid-Afrika se liberaal-demokratiese Grondwet en die Mineraalenergiekompleks se mite van ekonomiese groei vandag deur die Suid-Afrikaanse staatskorporatiewe elite en hul media (dit wil sê amper alle Suid-Afrikaanse media) ingespan word om hul keiharde magsbelange en obsene winste ten koste van inheemse taalgemeenskappe, armes, werkers en die middelklas te legitimeer, is so doeltreffend dat die meeste (Suid-)Afrikaners salig onbewus is van die wêreld se eerste planetêre politieke beweging, naamlik die alterglobaliseringsbeweging. (Tekenend van hierdie onbewustheid en onkunde was die wyse waarop die Suid-Afrikaanse hoofstroommedia die alterglobaliseringsbeweging se belangrikste jaarlikse byeenkoms, die Maatskaplike Wêreldforum, in Moembaai, Indië twee jaar gelede volledig geïgnoreer het, terwyl hulle bladsye en ure gewy het aan regter Siraj Desai se beweerde buite-egtelike sekskapade by dié forum; of selfs die volslae stilswye oor vanjaar se byeenkoms van die forum se Afrika-been in Bamako, Mali, waaroor feitlik net Die Vrye Afrikaan berig het.) Die alterglobaliseringsbeweging is hoogs uiteenlopend, in so ’n mate dat ’n mens moeilik van een ideologiese stroming kan praat. Die beweging bestaan vandag uit ’n losse koalisie van verbruikersaktiviste, oud-sosialiste en sosiaal-demokrate, onderdrukte minderheidsgroepe, kleinboere, feministe, taalaktiviste, groenes, en so meer. Dit is ’n beweging wat reeds vanaf die vroeë 1980’s, en veral sedert die Val van die Berlynse Muur en danksy moderne kommunikasie- en vervoertegnologie op dreef gekom het. Die gemene deler in die beweging is konsensus oor die algehele onwenslikheid van die neoliberale wêreldwanorde met groeiende geweld en ekologiese verwoesting. Wat idees betref, word die inslag van die alterglobaliserinsbeweging waarskynlik die beste saamgevat deur die sogenaamde Porto Alegre-Manifes. (Porto Alegre is die Brasiliese stad wat wêreldbekend is vir sy deelnemende demokrasie, wat insluit dat die inwoners van die stad self deurlopend besluit hoe die begroting bestee sal word, en waar die Maatskaplike Wêreldforum die afgelope jare telkens etlike miljoene deelnemers getrek het.) Op 29 Januarie vanjaar word die volgende 12 punte in die Manifes geformuleer deur leiersfigure in die Maatskaplike Wêreldforum (1): 1. Dat die skuld van die arm suidelike lande van die planeet afgeskryf moet word, aangesien dit reeds verskeie kere afbetaal is as rente. 2. Dat internasionale belastings gehef moet word op finansiële spekulasie, op regstreekse buitelandse beleggings, op die winste van multinasionale maatskappye, op wapenverkope en op aktiwiteite wat kweekhuisgasse afskei. 3. Dat alle fiskale, juridiese en bankparadyse afgetakel moet word, ten einde hierdie kanale van georganiseerde internasionale misdaad te sluit. 4. Dat elke inwoner van die wêreld ’n werk, maatskaplike beskerming en pensioen moet hê. 5. Dat regverdige handel bevorder moet word, en dat onderwys, gesondheid, maatskaplike dienste en kultuur glad nie deel mag vorm van die Wêreldhandelsorganisasie se Algemene Verdrag op Handel in Dienste nie. Die UNESCO-verdrag oor Kulturele Diversiteit tans in onderhandeling moet aan kultuur voorkeur bo handel gee. 6. Dat alle lande voedselsekuriteit moet geniet, met klem op binnelandse kleinboerdery. 7. Dat alle patentering van kennis en lewensvorme asook die privatisering van openbare goedere, veral water, verbied moet word. 8. Dat die politieke, ekonomiese en kulturele regte van alle inheemse gemeenskappe erken moet word. 9. Dat alle vorme van ekologiese verwoesting dringend tot ’n einde gebring moet word. 10. Dat alle buitelandse militêre basisse gesluit word, en buitelandse troepe terug na hul lande gestuur word, buiten in die geval van VN-gesanksioneerde sendings, beginnende by Irak en Palestina. 11. Dat vrye inligting vir burgers gewaarborg moet word, wat onder meer die klem op nie-winsgewende media plaas. 12. Dat die verskillende internasionale organisasies hervorm en gedemokratiseer word, insluitende die IMF, die Wêreldbank, die VN en die Wêreldhandelsorganisasie. Ingeval die VSA volhou om internasionale regsnorme te skend, behoort die VN se hoofkwartier verskuif te word vanaf New York na verkieslik ’n suidelike land. Dit is duidelik dat demokratiese, post-nasionale Afrikaners wat selfstandigheid eerder as rykdom najaag, wat die ekologie as voorwaarde van alle ander dinge beskou, wat verbind is tot die bewaring en vernuwing van hulle taal en kulturele tradisie (saam met almal wat daarby belang het, beginnende by alle Afrikaanssprekendes, vir sover dit Afrikaans betref), wat ’n etiese lewe vanuit hulle sterk godsdienstigheid voorstaan, en wat ’n trotse tradisie van armoedeverligting het, breedweg by die Porto Alegre-Manifes kan aansluit. Maar wat van die politieke handeling wat met hierdie ideologiese voorkeur gepaard moet gaan? Dit lei geen twyfel nie dat die neoliberale wêreldwanorde vandag oor geweldige militêre en finansiële mag beskik, met die Amerikaanse staatskorporatiewe elite (Demokrate sowel as Republikeine) as leier van dié magsblok. Nietemin is daar bemoedigende tekens dat hierdie magsblok die afgelope jare begin wankel. Voorbeelde hiervan sluit in: hoe lande van die Suide verlede jaar saamgestaan het in Cancun, Mexiko teen die klub van ryk lande in die Wêreldhandelsorganisasie; die geweldige morele neerlae wat dié wanorde veral in die Midde-Ooste gely het, en steeds ly; die konsensus wat verlede Oktober teen die kommersialisering van kultuur by UNESCO se beraad oor kulturele diversiteit in Parys gevind is; die string verkiesingsoorwinnings van linkse politieke partye in Latyns-Amerika, asook die nuwe maatskaplike rigting wat hierdie lande inslaan en waarin president Hugo Chavez van Venezuele ’n belangrike rol speel, en talle ander. Maar die oorlog teen die neoliberale wêreldwanorde is nog ver van gewen. In Suid-Afrika slaag die staatskorporatiewe alliansie vandag daarin om danksy die mitologie van die stryd teen apartheid asook ekonomiese groei sowel die neoliberale wêreldwanorde as die alterglobaliseringsbeweging se guns te wen. As inheemse en die bes opgeleide gemeenskap in Afrika is Afrikaners uniek geposisioneer om hierdie leuen te ontbloot, en om hulle rol saam met ander groeperinge, hetsy armes, werkers, of ander etniese en taalgemeenskappe te speel om die alterglobaliseringsbeweging plaaslik uit te bou. ´n Ander wêreld ís moontlik. _________ (1) Die volledige teks van die Porto Alegre-Manifes is in Engels te lese by http://www.zmag.org/sustainers/content/2005-02/20group_of_nineteen.cfm |