|
||||
Deon Geldenhuys
*Professor in politieke studies, Universiteit van Johannesburg, en skrywer van onder meer Internasionale Isolasie: Suid-Afrika in vergelykende perspektief
Afrikaners is een van tientalle minderheidsgroepe wat deur hulle nasionale regerings afgeskeep of benadeel word. Terwyl Afrikaners steeds wroeg en weifel oor ’n gepaste reaksie, agiteer etniese minderhede elders baie hard om hulle situasie te verbeter. Hierdie aktiviste benut twee groot kragte wat in die wêreld vaardig is: globalisering en lokalisering. Dis hoog tyd dat Afrikaners hierdie waardevolle bondgenote behoorlik inspan. Globalisering, wat gekenmerk word deur die internasionale beweging van goedere, kapitaal, mense en idees, lei tot die groter eenwording van die wêreld in terme van die politiek, ekonomie, kommunikasie en selfs kultuur. Die mensdom word toenemend in ’n gedeelde lot saamgebind binne ’n enkele globale samelewing. Die draers van globalisering sluit in interregeringsorganisasies soos die VN, multinasionale maatskappye, internasionale nieregeringsorganisasies, transnasionale bewegings (veral godsdienstig en ideologies), die internet en ook miljoene individue wat daagliks oor nasionale grense beweeg. Die meeste van hierdie groeperings vorm deel van die globale burgerlike samelewing. Lokalisering beklemtoon daarenteen lokale of nasionale eiesoortighede en belange, soos tradisionele lekkernye in plaas van McDonald’s se universele eenvormigheid; inheemse klere teenoor Amerikaanse handelsmerke, of Bollywood se flieks teenoor dié van Hollywood. Lokalisering vra voorts dat subnasionale groepe soos kulturele minderhede, asook geografiese streke en selfs stede, direk met die buitewêreld mag praat, nie net deur hul nasionale regerings nie. Sulke entiteite wil regstreeks met die buitewêreld kommunikeer om hul eie belange beter te bevorder as wat die “sentrum” dit kan doen. Die tradisionele opvatting dat ’n nasie met ’n enkele stem – dié van die sentrale regering – met die buiteland moet praat om ’n verenigde front voor te hou, strook ook nie met die wye erkenning van pluralisme nie. ’n Ander betekenis van lokalisering is die teenoorgestelde van sentralisering, en verwys na die afwenteling van politieke mag van sentrale na streeks- en plaaslike vlakke of na subnasionale gemeenskappe. Die politieke dimensie van globalisering behels in wese demokrasie en menseregte, iets waarop alle mense deesdae geregtig is. Demokrasie is ’n gesagsvorm bestaande uit ’n verteenwoordigende burgerlike regering wat populêr verkies word by wyse van gereelde vrye, mededingende verkiesings, en wat gebaseer is op die erkenning van die oppergesag van die reg en van basiese menseregte. Alhoewel dit dikwels net met individuele politieke en burgerlike regte geassosieer word, omvat algemene menseregte ook minderheidsregte. Volgens gegewens van die Verenigde Nasies huisves die wêreld se bykans 200 state nagenoeg 5 000 etniese groepe. Twee-derdes van hierdie state het minstens een beduidende minderheid, dit wil sê ’n etniese of godsdienstige groep wat minstens tien persent van die totale bevolking verteenwoordig. In baie lande eis minderheidsgroepe groter amptelike erkenning van hul regte. Leiers van onafhanklike Afrikastate het meestal geweier om etniese minderhede amptelik te erken en vir hulle minderheidsregte soos kulturele en politieke outonomie te gun. Die vrees was dat dit die weg sou baan vir die afskeiding van minderheidsgroepe en dus die territoriale verbrokkeling van baie Afrikastate. Eerder as die beskerming van nasionale minderhede, het Afrikaleiers die weg van nasiebou gevolg; eenheid en selfs eenvormigheid is ten koste van verskeidenheid nagejaag. Dit het tipies met die onderdrukking van etniese identiteite gepaard gegaan. Dis daarom veral Afrikastate wat ag behoort te slaan op die Human Development Report van 2004, vrygestel deur die Ontwikkelingsprogram van die Verenigde Nasies. Dit dra die insiggewende subtitel Cultural Liberty in Today’s Diverse World. Alhoewel die bevindinge en voorstelle in die verslag nie nuut is nie, behoort die VN se outeurskap te verseker dat dit wêreldwyd ernstige aandag sal kry. Volgens die verslag beleef die wêreld vandag die opkoms van identiteitspolitiek. Enersyds mobiliseer mense op alle vastelande rondom ou griewe wat saamval met etniese, godsdienstige, rasse- en kulturele skeidslyne. Hulle eis dat hul identiteite deur die breër samelewing erken, gerespekteer en geakkommodeer sal word. Andersyds het globalisering tot gevolg dat individue, gemeenskappe en state vrees dat hul plaaslike kulture verswelg word. Hulle wil hul eiesoortigheid in die globaliserende wêreld verseker. Hierdie twee tendense word aangevuur deur die verspreiding van demokrasie, wat aan “identiteits”-bewegings ruimte skep vir politieke protes. Globalisering bied mense groter geleenthede as ooit om internasionaal rondom ’n kwessie te mobiliseer en die probleem aan die groot klok te hang. Dít weer, is deel van die opkoms van ’n globale burgerlike samelewing. Die VN se verslag waarsku dat as hierdie stryd om kulturele identiteit nie behoorlik gehanteer word nie, dit ’n ernstige bron van onstabiliteit binne en tussen state kan word en broodnodige ontwikkeling kan knou. Anders gestel, geen staat of die internasionale gemeenskap kan in hierdie era van globalisering dit bekostig om eise vir “kulturele vryheid” – die begrip wat die verslag verkies – te ignoreer nie. Kulturele vryheid is volgens die verslag ’n basiese reg wat mense die vryheid gee om hul identiteite te kies en die soort lewe te lei wat hulle verkies – sonder om as gevolg daarvan benadeel te word ten opsigte van sake soos onderwys, gesondheid en werksgeleentheid. Multikulturele beleide is daarop gerig om kulturele vryheid te vergroot en die inperking van dié vryheid deur die meerderheid of dominante groep te bekamp. Dit vereis dat state in hul Grondwette, ander wette en instellings uitdruklik erkenning gee aan kultuurverskille. ’n Kritiek belangrike terrein waarop kulturele vryheid bevorder behoort te word, is politieke deelname. Die VN-verslag beveel hier ’n multikulturele opvatting van demokrasie aan ten einde doeltreffende magsdeling tussen kultureel diverse groepe te verseker. Een moontlikheid is ’n federale bedeling, soos in Maleisië, Spanje en Kanada; ’n ander is selfregerende geografiese gebiede, soos vir die Inuïte in Kanada. Verdere beleidsareas waarin kulturele vryheid doelbewus deur state bevorder behoort te word, is volgens die verslag godsdiensvryheid, die regswese (om bv.vir inheemse reg voorsiening te maak), taal (bv. in die openbare sektor en onderwys) en op sosio-ekonomiese terrein (om ongelykheid ten opsigte van bv. inkomste, onderwys en gesondheid uit te skakel). Aan die hand van die VN se Human Development Report vir 2004 kan ’n paar take aangestip word wat Afrikaners in Suid-Afrika en elders op die vasteland sou kon verrig. Die Afrika-taak is eintlik die logiese verlengstuk van die binnelandse taak. Albei is gebaseer op die veronderstelling dat Afrikaners ’n groep mense is met ’n onderskeibare kulturele identiteit wat hulle graag wil bewaar, maar dit nie in isolasie kan of wil doen nie. Binne Suid-Afrika behoort Afrikaners kulturele vryheid te bevorder, nie net vir hul eie groep nie maar vir alle ander met dieselfde behoefte. Daar is internasionaal beproefde vorms van lokalisering waarna ons opnuut kan kyk. Hierdie eerste inisiatief vereis dat die breë Afrikaanse gemeenskap oor kleurgrense heen gemobiliseer word. Dit sal die binnelandse legitimiteit van die strewe na kulturele vryheid verhoog. Getalle-oorwegings noodsaak ook ’n inklusiewe taalbeweging om vir die saak van Afrikaans in die bres te tree. Kenners van minderheidspolitiek aanvaar dat ’n polities beduidende minderheidsgroep in ’n heterogene samelewing minstens tien persent van die totale bevolking behoort te verteenwoordig. Volgens skattings het blanke Afrikaanssprekendes in 2000 slegs 2,5 miljoen mense uit die totale landsbevolking van 45 miljoen verteenwoordig – skaars 5,5 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking. Die proporsie moet vandag nog kleiner wees. Daarteenoor verteenwoordig die totale getal Afrikaanstaliges (van alle kleurgroepe) tussen 13 en 15 persent van die land se mense. Die tweede taak is om kulturele vryheid elders in Afrika, spesifiek in demokratiese state, te probeer bevorder. Natuurlik is dit ’n taak wat die Afrikaanse gemeenskap slegs in noue samewerking met kultuurgroepe elders in Afrika kan onderneem. Dis noodsaaklik dat so ’n inisiatief bemark sal word as ’n poging om die jong demokrasieë van Afrika te help konsolideer, mense te bemagtig en, soos die Human Development Report dit by herhaling stel, menslike ontwikkeling te bevorder. Dit sluit goed aan by president Thabo Mbeki se verbintenis tot die vestiging van ware en stabiele demokrasieë in Afrika as voorvereiste vir volhoubare menslike ontwikkeling. En as die leiers nie gehoor wil gee aan redelike vertoë nie, kan ontevrede groep hulle wend tot die Pan-Afrika Parlement en die Afrika-unie se Kommissie vir Mense- en Volkeregte. Saam met mede-Afrikane kan ons dan die geleenthede wat globalisering bied in terme van die universalisering van demokrasie en menseregte – met inbegrip van minderheidsregte – ontgin. Sodoende kan ons saam probeer om die enorme rykdom van Afrika se menslike diversiteit te bewaar. Die eerste twee take behoort saam te val met nouer skakeling tussen Afrikaners en ander nasionale minderhede buite Afrika. In hierdie era van globalisering staan ons nog heeltemal te eenkant. Enersyds behoort ons aansluiting te vind by daardie komponent van die globale burgerlike samelewing wat gemoeid is met minderheidsregte. Baie min van die betrokke organisasies in die buiteland is bewus van of het enige redelike begrip van Afrikaners se behoefte aan kulturele vryheid. Andersyds kan internasionale organisasies se forums vir die hantering van klagtes oor menseregte op die proef gestel word. Onder die moontlike internasionale aksies is dan die aanknoop van betrekkinge met taal- en kultuurbelangegroepe elders, soos die Federale Unie van Europese Nasionaliteite en die Organisasie vir Onverteenwoordigde Nasies en Volke; skakeling met die buitelandse media, akademici, politici en ander meningsvormers; die rig van vertoë tot organisasies soos die Afrika-unie en die VN; en die aanstel van ’n reisende Afrikaanse taalambassadeur in die buiteland. Na buite vereis Afrikaners se strewe na groter kulturele vryheid dat oordeelkundige kulturele diplomasie oftewel slim internasionale netwerkpolitiek bedryf word. Die binnelandse teenhanger is ’n hernieude aandrang op gepaste vorms van politieke lokalisering. |