blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Onbillike “regstellende aksie” in SA geskiedskrywing 2006-05-19
Fransjohan Pretorius

*Historikus, Departement Historiese en Erfenisstudies, Universiteit van Pretoria

 

Kommer kan met reg uitgespreek word oor die feit dat Afrikaners nie in die “Nuwe Geskiedenis”-boeke figureer nie, behalwe as die sondebok en die skurk. Dit is veral die geval in die geskiedskrywing oor die negentiende eeu waar Afrikaners “uitgeskryf” word.

                Vir verreweg die meeste nie-Afrikaanse historici gaan dit om die lyding, stryd en uiteindelike oorwinning van die onderdrukte meerderheid, dit wil sê swart geskiedenis – die swart bevrydingstryd. Afrikaners word in negatiewe terme beoordeel en veroordeel. Soos wat daar in Afrikaners se nasionale geskiedskrywing ’n “naturelle-probleem” was, is daar nou ’n “Afrikaner-probleem”. Afrikaners staan in die beskuldigdebank en word summier veroordeel. Hulle het niks goeds gedoen of bereik in die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Die pendulum het anderkant toe geswaai. Vir die oorwinnaar beteken versoening skynbaar dat die meerderheidsiening getriomfeer het. Ruimte vir ander sienings is daar nie naas “die amptelike” nie.

                Hierdie onverdraagsame nuwe geskiedsbeskouing word treffend uitgebeeld deur ’n reeks van ses geskiedenisboekies wat deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening uitgegee is met die oorhoofse titel Turning points in history (1). En ons moet die drakrag van hierdie reeks nie onderskat nie. In die jongste matriekgeskiedeniseksamenvraestel (hoër graad, Oktober/November 2005) van die nasionale Departement van Onderwys is daar van leerders verwag om op ’n uittreksel uit Turning points in history kommentaar te lewer (2).

                Die beplanning van die Turning points in history-reeks het met lofwaardige bedoelings afgeskop, te oordeel aan die uitgangspunt van die voorsitter van die redaksiekomitee, prof. Bill Nasson. In teenstelling met die eensydige Afrikaner-sentriese skoolgeskiedenis in die apartheidsera is die verantwoordelikheid volgens hom nou om ’n demokratiese perspektief aan te hang “to embrace not only the experiences of different groups but also to reflect the existence of divergent historical memories in the making of a shared past.” (3)

                Maar moenie glo nie. Met uitsondering van ’n paar pogings van enkele skrywers in die reeks om die verlede-ervaring van die verskillende gemeenskappe in Suid-Afrika weer te gee, heg verreweg die meeste skrywers ’n ander betekenis aan die begrip demokratiese perspektief.

                Wat Boek 2, The impact and limitations of colonialism, betref, kyk Jeff Peires na die ongelyke ontwikkeling van kolonialisme in Suid-Afrika. Hy gee, terloops, die ontstaan van die Zuid-Afrikaansche Republiek verkeerdelik as 1858 aan en negeer daardeur die Sandrivierkonvensie van 1852. ’n Hele bladsy word uitgelig in veroordeling van die Boere se “atrocities” wat in 1854 in die “Makapansgat massacre” tussen een- en drieduisend swartes vermoor het uit weerwraak vir die moord op 28 Boere in drie afsonderlike voorvalle (4). Opvallend genoeg is daar nêrens in die reeks ’n verwysing nie na die Zoeloes se “atrocities” in Februarie 1838 op die Voortrekkerlaers by Bloukrans en omgewing óf die moord op Piet Retief en sy geselskap wat dit voorafgegaan het. Daar is trouens geen verwysing na die slag van Bloedrivier nie – nie in Boek 2 nie, en ook nie in Boek 3 nie waar die Groot Trek meer aandag kry (5).

                Twee bladsye word aan sir Harry Smith, Britse goewerneur aan die Kaap gewy, en koning Moshoeshoe van die Basothos kry aandag, maar Andries Pretorius en Piet Retief se name word in die vergeetboekie aangeteken. Oor hulle is daar niks (in Boek 3 word Andries Pretorius darem die “leader of the Transvaal Republic” genoem) (6). Ek sou reken mens sou in die huidige tydsgewrig van versoening nogal iets kon maak van Retief se uitspraak in sy manifes oor die Trekkers se begeerte om in vrede en vriendskap met die swart groepe in die binneland te leef (7). Maar dit pas kennelik nie in by die beeld wat die skrywer van Afrikaners wil skep nie.

                In die hoofstuk van Wayne Dooling in Boek 2 oor die ontwikkeling van ’n koloniale slawe-gemeenskap, is daar uitgebreide beskrywings van die ervarings van die slawe aan die Kaap (8). ’n Mens soek vergeefs in die reeks na ’n soortgelyke uitbeelding van die Voortrekkers op trek.

                In Boek 3, getiteld Migration, land and minerals in the making of South Africa, is dit Yonah Seleti se hoofstuk oor statevorming in die negentiende eeu en Timothy Keegan se hoofstuk oor imperialisme en die Unie van Suid-Afrika wat die aandag trek.

                Tereg verklaar Seleti dat die geskiedenis van die negentiende eeu in Suid-Afrika ’n geskiedenis van stryd om heerskappy en weerstand teen heerskappy was (9). En dit is lofwaardig dat hy sowel die liberale as die Cobbing-teorie oor die Mfecane of swart migrasies bespreek (10). Hierdie sewe bladsye staan egter teenoor slegs vier bladsye oor die Groot Trek (11). Opvallend is dit dat swart geweld op swart nie in detail bespreek en afgekeur word nie, maar, soos bo aangetoon, Voortrekker “atrocities” op swart mense word uitgebreid aangebied. Shaka is nie ’n moordenaar nie, maar Piet Potgieter wel.

                Dit is goed dat Seleti verskeie sienings oor die Groot Trek naas mekaar plaas. Dit is wat Bill Nasson met ’n demokratiese perspektief bedoel. Maar om te verklaar dat, oral waar die Voortrekkers gegaan het, hulle swart gemeenskappe gekry het wat beter as hulle georganiseerd was (12), is hoogs aanvegbaar. Feit is dat die Voortrekkers op trek was, en die oomblik toe hulle tot relatiewe stilstand gekom het, hul eie republieke opgerig het, wel aanvanklik broos en arm, maar met Grondwet en volksverteenwoordiging en demokratiese stemreg vir alle manlike blanke burgers, dertig jaar voor alle manlike burgers in Brittanje stemreg gekry het. Enigeen wat kla dat die Boere nie stemreg aan die swart mense gegee het nie, dink onhistories en pas ’n een en twintigste-eeuse norm op die negentiende eeu toe. Hoeveel inheemses (“Rooihuide”) het in die suide van die VSA in 1852 stemreg gehad?

                Seleti se hoofstuk is stimulerend, en hy gee darem erkenning dat beide die Mfecane en die Groot Trek die aangesig van Suid-Afrika verander het (13)  – anders as met die bekende liberale Oxford history of South Africa wat die Groot Trek tot ’n onderdeel van die ontstaan van die Zoeloe-koninkryk gerelegeer het (14).

                Timothy Keegan se revisionistiese onderrok hang ver uit. Hy het, lyk my, heeltyd 1994 in sy agterkop. In sy behandeling van die Anglo-Zoeloe-Oorlog word die veldslae van Isandhlwana en Ulundi vermeld, en daar is selfs ’n foto van eersgenoemde heuwel, maar uit die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 word geen slag genoem nie. Selfs nie eens Amajuba by die eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-1881 nie. Daar lees ons bloot: “The Boers pushed the British out again in 1881.” (15)

                Aan president Paul Kruger, wat sekerlik die Boere/ Afrikaners deur die kritieke tydperk van nasionale bewuswording en stryd om handhawing van die vryheid gelei het, staan Keegan slegs twee reëls af (p. 45), en dit negatief, met die strekking dat sy regering nie altyd simpatiek gestaan het vir die behoeftes van die mynbedryf nie. Dis al. Daarteenoor kry Cecil Rhodes heelwat aandag (pp. 45-46), plus ’n groot foto (p. 47), waarvan ’n gedeelte selfs op die voorblad van Boek 3 pryk.

                Daar is ses reëls oor die aard van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 (16), met geen vermelding nie van ’n veldslag of Boereleier in ’n vryheidstryd teen vreemde oorheersing waarmee die moderne Suid-Afrikaner hom kon vereenselwig het. Daarteenoor beslaan die volgende paragraaf oor die rol van swart mense tydens hierdie stryd nege reëls, en vertel van die baie sterftes in die swart konsentrasiekampe. Niks word gemeld van die sterftes in die blanke konsentrasiekampe nie (17). En dan is daar meer as ’n bladsy en ’n half oor die vraag watter rol swart mense gespeel het in die vorming van hul geskiedenis (18).

                In Boek 4, Industrialisation, rural change and nationalism, wy Rachidi Molapo ’n bespreking van 33 reëls daaraan hoe swart mense geraak is deur migrasie na die stede  – die blankes kry agt reëls (19).

                Albert Grundlingh se hoofstuk oor Afrikaner-nasionalisme in die 1930’s en 1940’s van die twintigste eeu (20)  is, soos al sy werk, stimulerend. Sy ontledings is eerlik en skerpsinnig, en lewer ’n sinvolle bydrae tot die debat oor die Suid-Afrikaanse verlede. Ek sou sy hoofstuk as ’n aanwins vir die reeks beskou.

                Kommentaar op Boek 5: People, places and apartheid en Boek 6: Negotiation, transition and freedom, laat ek oor aan historici wat meer vertroud met die tweede helfte van die twintigste eeu as ek is.

                Die gebrek aan Afrikaanse bronne of werke deur Afrikaner-historici is in die hele reeks opvallend. Slegs enkeles haal die bronnelyste. Só bereik jy nie prof. Nasson se ideaal van ’n demokratiese perspektief nie. Die belangrikste swart skrywers is daar. Maar wanneer dit by die keuse van illustrasies en foto’s kom, skitter die reeks in sy eensydigheid. Laat mens Boek 1 oor ou beskawings en globale handel buite rekening en jy maak ’n lys van objekte uit Britse/Engelse, Boere/Afrikaner en swart geledere, is die resultaat verstommend. Daar is slegs twaalf illustrasies van Boere/Afrikaners, waarvan een dr. Beyers Naudé is. Nege Britte of Engelse maak dit. En daarteenoor is daar minstens veertig foto’s of illustrasies van swart mense, en word hulle dikwels as die uitgebuites voorgestel.

                Dit is so dat eensydige nasionale Afrikanerstandpunte in die apartheidsera ons skoolgeskiedenisboeke gekenmerk het. Dit was – afhangende van jou uitgangspunt – die Groot Leuen, of die Groot Waarheid. En dit was ’n fout. In 1994 het die demokrasie egter gekom en was daar tereg behoefte aan ’n nuwe interpretasie van die verlede, ’n demokratiese interpretasie wat die ervarings van die verskillende groepe belig, as ‘t ware ’n regstellende aksie in die geskiedskrywing. Ter wille van versoening moet die pendulum egter nou nie na die ander kant toe swaai nie. Maar die vraag is of die Nuwe Groot Leuen of die Nuwe Groot Waarheid nie eerder op hande is nie?

                In die jongste tyd het daar ’n paar stemme opgegaan wat onbedoeld met Turning points in history verband hou. Die eerste was Wilhelm Jordaan se beskouing “Van mens tot mens” in Beeld van 2 November 2005. Hy bepleit ’n geïntegreerde benadering tot die verlede, en wys op die subjektiewe verlede-voorstelling van die ou bedeling. Hy reken dat daar geen toe-eiening van die geskiedenis mag wees nie, soos dit lank met die amptelike wit geskiedskrywing van bv. die Anglo-Boereoorlog wel die geval was. Daarteenoor vra hy dat swart mense nie nou die Anglo-Boereoorlog vir hulleself kan opeis nie. Derdens vra hy dan ’n geïntegreerde geskiedenis van die geheel, terwyl groepe se verhaal parallel daaraan mag bestaan en moet voortleef. Hierdie standpunt herinner terloops sterk aan my argument in die slothoofstuk van Verskroeide aarde in 2001. Ek haal aan: “Waar Afrikanerpolitici en Afrikanerhistorici in die 20ste eeu die oorlog vir Afrikaners opgeëis het, is daar nou die geleentheid om die oorlog – met inbegrip van die verskroeide aarde-beleid – in sy totaliteit te bestudeer. Dit is egter belangrik om nie Afrikanerheldedade en Afrikanerlyding van die tafel af te vee nie. Nuwe perspektiewe moet mekaar aanvul, nie verdring nie. Dit is net so belangrik om nie nou die swart betrokkenheid en lyding as die enigste perspektief op die oorlog te beskou nie. Geen groep mag die Anglo-Boereoorlog vir homself opeis nie. Dit sou gesond wees om ruimte te laat vir verskeie perspektiewe op die oorlog – ook byvoorbeeld vir verskillende perspektiewe onder Afrikaners. Dit is inderdaad belangrik om die breë en veelfasettige perspektief aan die Suid-Afrikaanse nasie en die buitewêreld oor te dra.” (21)

                ‘n Tweede stem wat met Turning points in history verband hou, was Z.B. du Toit se voorbladberig in Rapport van 6 November 2005 met hoofopskrif “Regstel-aksie vasgevat”. Dit vertel dat wiele aan die rol is vir ’n praktykkode om onbillike rassediskriminasie oftewel buitensporige regstellende aksie in werkplekke in Suid-Afrika uit te roei. Die veldtog spruit uit ’n gesprek op 20 Augustus 2005 toe ’n senior regeringsafvaardiging onder leiding van dr Essop Pahad, minister in die kantoor van pres. Mbeki, met ’n groep Afrikaner-leiers, gelei deur mnr F.W. de Klerk, oor wesenlike knelpunte beraadslaag het. Op die beraad het die twee afvaardigings volgens Rapport in ’n gesamentlike verklaring ooreengekom dat ’n goeie praktykkode vir die billike toepassing van regstellende aksie ontwikkel moet word. Rapport haal mnr Dirk Herman, woordvoerder van die vakbond Solidariteit, aan, wat sê een van die hoofoogmerke met die beoogde billike praktykkode is om die vervreemding van sommige Suid-Afrikaners (lees Afrikaners) teen te werk deur nuwe vorme van rassediskriminasie nek om te draai.

                Die derde stem wat met Turning points in history verband hou, was Beeld se hoofberig van 8 November 2005 met die opskrif “Regstelkode”. Hierin word kommentaar gelewer op die inisiatief om ’n praktykkode op te stel teen onbillike regstellende aksie in werkplekke in Suid-Afrika. Dit kritiseer die oorywerige toepassing van regstellende aksie van sommige maatskappye wat hulself op hierdie wyse skuldig maak aan ’n nuwe vorm van diskriminasie. “Dit is daarom belangrik”, skryf Beeld, “dat deurgaans benadruk word dat die onbillike toepassing van regstellende aksie, soos apartheid, die slagoffers marginaliseer en dat Suid-Afrika nie kan bekostig om terug te keer na die praktyke van die verlede nie.”

                Hoe hou hierdie drie stemme verband met Turning points in history? Die punt is dat Suid-Afrika, naas ’n poging om onbillike regstellende aksie in die werkplek te stuit, ook onbillike “regstellende aksie” in die nuwe geskiedskrywing behoort te vermy. Anders gaan daar vervreemding en marginalisering kom. Is dit reeds daar? Is die Afrikaanse geskiedskrywer reeds op die kantlyn? Turning points in history dui daarop. Maar waar toeskouers by ’n sportgeleentheid op die kantlyn die luidrugtigste is, gaan luidrugtigheid Afrikaanse geskiedskrywers niks baat nie. Hulle moet in die konferensiekamers en in die gedrukte media hul stem dik maak en bewys lewer van objektiewe, onbevange oordeel oor die verlede. Dáár lê hulle taak.

 

_________

(1) Turning points in history, Book 1-6, met Bill Nasson as voorsitter van die redaksiekomitee, is ’n gesamentlike inisiatief van die South African History Project in die Departement van Onderwys en die Educating for Reconciliation Programme van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening (Johannesburg, 2004).

(2) Departement van Onderwys, Republiek van Suid-Afrika, Geskiedenis Vraestel 1, Addendum, Hoër Graad, Oktober/November 2005, 503-1/1 A, p. 2.

(3) Bill Nasson, Turning points in history, Preface van elke volume, p. 9.

(4) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 2, The impact and limitations of colonialism, pp. 15, 16.

(5) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa.

(6) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 29.

(7) F.A. van Jaarsveld, Honderd basiese dokumente by die studie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis 1648-1961 (Johannesburg, 1972), p. 54, uit The Graham’s Town Journal, 2 Februarie 1837.

(8) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 2, The impact and limitations of colonialism, pp. 43-49.

(9) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 11.

(10) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, pp. 17-23.

(11) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, pp. 27-30.

(12) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 28.

(13) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 33.

(14) M. Wilson en L. Thompson (eds), The Oxford history of South Africa, vol. I. (Oxford, 1969), pp. 334-390.

(15) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 40.

(16) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 46.

(17) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, p. 46.

(18) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 3, Migration, land and minerals in the making of South Africa, pp. 48-49.

(19) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 4, Industrialisation, rural change and nationalism, pp. 20-21.

(20) Bill Nasson (ed), Turning points in history, Book 4, Industrialisation, rural change and nationalism, pp. 46-61.

(21) Fransjohan Pretorius (red), Verskroeide aarde (Kaapstad, 2001), p. 281. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=571
Artikel nagegaan:
    -